Genade en vergifnis bring hoop vir die Paradys en vreugde en blydskap!
Maan 30 Aug 2010, 05:55 4 Kommentaar Rapporteer MisbruikEk soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene, en ek begin met die Naam van Allah, die Alomgenadige, die Genadigste.
Koran 17:97 "En diegene wat deur Allah gelei word is reg gelei. En wie Allah laat afdwaal, vir hulle sal jy nooit enige helpers kan vind behalwe Allah self, nie. En Ons sal hulle op die Oordeelsdag bymekaarmaak met hulle hangende gesigte, blind, stom en doof. Hulle woonplek is die Vuur. En wanneer die Vuur begin uitbrand, dan vermeerder Ons weer die vlamme vir hulle."
Die een onderwerp waaroor ek baie moeilik gesels is die onderwerp van die plek waarheen ons sal moet gaan indien Allah dit so wil hê.
Ek probeer my beste om so besig te wees met die goeie dinge dat daar nie eers gedagtes aan hierdie vreeslike plek by my opkom nie en dat ek gladnie daaroor hoef te dink nie. Ek probeer om Allah heeldag te loof en te prys en so aan Hom gehoorsaam te wees dat daar nie 'n oomblik van die dag is wat ek aan die verskriklikste plek hoef te dink nie.
Tydens my vertaling van die Koran, moet ek uiteraard die woorde en gedagtes wat Allah in die Koran gegee het om hierdie skrikwekkende plek te beskryf vertaal, ek moet daaroor dink en ek moet Allah se woorde na die beste van my vermoë oor hierdie ondenkbaar afgryslike plek oordink en in Afrikaans weergee... en dit vul my met afgryse.
Maar, dis nou Ramadan... aanbiddingstyd... feestyd... vreugdetyd... en gedurende die eerste deel van Ramadan het ons gefokus op Allah se genade. Iets wat Mufti Menk oor en oor sê in sy lesings is: "Moenie ooit hoop verloor in die genade van Allah nie!" Alle lof kom Allah toe.
En ons jubel en juig en lewe, 'n lewe van oorwinnaars in Allah se genade. En ons glo dat Allah ons vergewe het: ja ons hou vas aan Sy vergifnis en loof en prys Hom daarvoor.
Nou, gedurende die laaste tien dae, kan ons by Hom pleit en ons kan op grond van Sy genade en die feit dat Hy ons vergewe, ook vra dat Hy ons sal verlos en sal red van die Vuur van die Hel...
Maar ons mag nooit beangs raak en hopeloos vasgevang raak in die verskrikking van die Vuur van die Hel nie. Nee, ons moet altyd as oorwinnaars oor die sonde, as diensknegte van Allah die Alomgenadige, die Genadigste met berusting in die wete dat Allah die beste weet, vir Hom vra... altyd met hoop en blydskap en vreugde en geloofsekerheid.
Dan verskuif my gedagte na die Paradys... na die ewige lewe, die Hiernamaals saam met Allah in die "Hemel."
Dan kan ek nie anders nie as om bly te word, om kinderlik te weet dat die Koning, my Skepper, Voorsiener en Onderhouer ook die hoop van die Opstandingsdag, die Oordeelsdag in my hart plaas as dag van vreugde en blydskap.
Dan word die laaste tien dae van Ramadan vir my tien dae van belydenis dat ek glo dat daar geen ander god is nie, en dat Allah die Enigste en die Een God is wat ek ook aanbid. En dan loof en prys ek Allah omdat ek ook kan hoop op die Paradys... en dat ek Hom kan aanbid met my hele lewe deur gehoorsaam aan Hom te lewe... soos Allah wil.
Gebed: O my Allah, dankie dat ek in U genade en in U vergifnis kan lewe. Dankie dat ek ook in die hoop kan lewe van 'n Ewige Lewe saam met U in die Paradys. Dankie dat ek kan hoop en kan glo en kan getuig en kan bely dat U God is, dat U reeds ook nou hier op aarde in my lewe besig is en dat ek aan U kan behoort. Amen
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: genade en vergifnis bring hoop vir die paradys en vreugde en blydskap!
Glo Allah se vergifnis, vat dit vir jouself, en word vry om te lewe en te lag!
Maan 30 Aug 2010, 05:52 0 Kommentaar Rapporteer MisbruikEk soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene, en ek begin met die Naam van Allah, die Alomgenadige, die Genadigste.
Koran 99:7&8 "So, wie in geloof iets goeds doen in navolging van wat Allah as 'n goeie daad erken, al is dit so klein en so lig soos 'n stofdeeltjie, sal dit daardie Dag sien. 'n Goeie daad wat nie in geloof in Allah gedoen is nie word nie erken nie, en sal ook nie in die Hiernamaals beloon word nie, alhoewel dit in hierdie wêreld beloon mag word. Geloof in sigself word dus beskou as 'n goeie daad, en dit neem slegs een goeie daad: die daad van geloof om vir genade en beloning in aanmerking te kom. En wie iets doen wat nie goed is nie, en nie dit berou, bely en om vergifnis daarvoor vra nie, selfs al is dit so klein en so lig soos 'n stofdeeltjie, sal dit ook sien."
Wat beteken, dat al het jy iets verkeerd gedoen so groot soos 'n berg, as jy dit berou, en bely en om vergifnis daarvoor vra, sal jy dit nooit weer sien nie... want Allah het dit vergewe! Is dit nie wonderlik nie, alle lof kom Allah toe.
Het jy al iets in jou lewe gedoen wat jy wens jy kon ongedaan maak. Is daar iets wat jy die afgelope jaar gedoen het wat jy wens jy liewer nie gedoen het nie. Miskien het jy vir iemand iets gesê wat jy liewer nie moes gesê het nie...
...en nou voel jy bitter sleg daaroor en wens jy kon dit terugvat... maar dit is woorde wat gesê is en dinge wat dalk baie seergemaak het. Dalk is dit iets waaroor jy so bitter spyt is... ek ken nie jou hart nie, jy ken jou hart en jy weet wat is dit wat jou van binne af opvreet...
Selfvergifnis is een van die fasette van vergifnis.
As jy wil hê dat Allah se vergifnis en ander mense se vergifnis vir jou 'n werklikheid word, dan sal jy nou ook jouself moet vergewe... en as dit moontlik is sal jy die ander persoon moet vra om jou te vergewe... en dan beleef jy die vergifnis van Allah.
Die volgende tien dae van Ramadan is spesiaal vir vergifnis. Ja, ons kan regdeur die jaar ook om vergifnis vra by Allah, maar hierdie tien dae is spesiaal.
Gedurende hierdie tien dae kan ons fokus op al die fasette van Allah se vergifnis en ons harte deursoek vir die onafgehandelde en onvergeefde dinge in ons lewens. En dan kan ons voor Allah neerkniel en daardie dinge voor Allah bely met berou en Hom vra om ons te vergewe.
Maar jy sien die geheim van vergifnis hier op aarde is dat ons ook onsself sal vergewe en dat ons sal glo dat Allah ons vergewe het. Want vrymaking van die las van skuldgevoelens kom alleen as ons ook onsself vergewe en as ons glo dat Allah ons vergewe het.
As Allah die Een is wat almal gelyktydig regoor die wêreld kan vergewe en as Hy die Genadigste van almal is, hoe kan jy dan nie glo dat as jy Hom vra om jou te vergewe dat Hy jou nie sal vergewe nie?
So, vat Sy vergifnis vir jouself, maak dit jou eie en begin om Hom te loof en te prys vir Sy vergifnis vir jou. Word 'n vry mens, stap weg van die dinge wat jy verkeerd gedoen het en begin om te lewe.
Lewe met 'n glimlag op jou gesig en lofprysing en aanbidding in jou hart want as Allah jou vergewe het dan kan jy jouself vergewe en kan jy vry word. Niemand kan jou meer beskuldig van iets wat jy verkeerd gedoen het as Allah jou vergewe het.
Mag Allah jou gedurende hierdie tien dae van Ramadan so diep in jou hart aanraak met Sy liefde en Sy vergifnis dat jy heeltemal vry sal word van skuldgevoelens en dat jy sal lewe soos 'n ware vry dienskneg van die Allerhoogste God.
Gebed: O my Allah, ek is so jammer, en ek vra dat U my sal vergewe, vir daardie dinge wat ek gesê en gedoen het wat verkeerd is, en vir die goeie dinge wat ek nie gedoen het nie... help my om myself ook te vergewe en maak my vry van skuldgevoelens en leer my hoe om te lewe soos 'n oorwinnaar... plaas 'n glimlag van vryheid van skuldgevoelens op my gesig en laat my lag van vreugde in U vergifnis en U genade... want U is die Alomgenadige, die Genadigste. Amen
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: glo allah se vergifnis vat dit vir jouself en word vry om te lewe en te lag!
Is Ramadan vir jou 'n Aanbiddingsfees, Vreugdefees, Toewydingsfees?
Maan 30 Aug 2010, 05:45 0 Kommentaar Rapporteer MisbruikNr. 42/1 Dinsdag / 10 Augustus 2010
Dagstukkies uit die Koran met gedagtes van bemoediging deur S'aad en Sadia
Ramadan... vastyd... feestyd... aanbiddingstyd... alle lof kom Allah toe!
Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene, en ek begin met die Naam van Allah, die Alomgenadige, die Genadigste.
Koran 2:183. "Gelowiges, die voorskrif oor die vas, wat as 'n daad van aanbidding beskou word en waartydens julle, julself doelbewus voorneem om sonder onderbreking van dagbreek tot sononder nie te eet, te drink en seksuele omgang te hê nie, is aan julle voorgeskryf soos aan die mense voor julle, vanaf Adam tot by Mohammed en hulle gemeenskappe, sodat julle Godvresend mag wees, want vas help mens om jou te weerhou van die sonde deurdat dit jou leer om jou begeertes en behoeftes te beheer: en dit is die basis vir 'n heilige ontsag en respek vir Allah."
Vas doen ons suiwer net vir die Plesier van Allah. Alle ander dinge wat ons doen wat goed, en mooi en reg en gehoorsaam is, doen ons ook vir die Plesier van Allah, maar ons sal ook daarvoor beloning ontvang in die Hiernamaals, soos Allah wil. Maar vas is anders, vas is suiwer net vir Allah. As jy dus voel jy wil graag uit dankbaarheid teenoor Allah iets vir Hom doen wat net vir Hom is, dan neem jy jou voor om tydens hierdie Ramadan met die grootste toewyding te vas en alles te doen wat jy kan om dit die mees onvergeetlike Ramadan te maak. Want Ramadan is nie net vas nie: Ramadan is Aanbiddingsfees... vreugdefees... toewydingsfees... Tydens Ramadan kan jy in jou hart jubel en juig en bly wees dat jy 'n Moslem is en die voorreg het om Allah te aanbid deur met jou hele lewe vir Hom te lewe, en so diep binne in die Genade van Allah inkruip: jy kan jouself verlustig in die wete dat Allah jou liefhet en dat Hy sien hoe jy heeltemal vrywillig vas en hoe jy jouself weerhou van dit wat gewoonlik heeltemal toegelaat is om te geniet. En dan weet jy diep in jou hart dat Allah baie van jou hou, en dat Hy dink jy is wonderlik om jouself die hele dag met vas en saans so met Aanbidding aan Hom toe te wy... soos Allah wil. En as dit kom by die Laataandaanbidding(Tarawee), dan skakel jy die TV en die Radio en alles wat jou aandag kan aftrek af, en jy raak stil voor Allah en dan gaan Aanbid jy die res van die aand in die Moskee of in jou kamer... en jy Aanbid en jy lees die Koran en jy geniet elke oomblik daarvan want jy doen dit vir jou Allah. Sadia en ek bly op die plaas vêr van 'n Moskee af... maar die Laataandaanbiddingstyd is vir ons so spesiaal wanneer ons oor en oor neerkniel en Aanbid en lees en so naby aan Allah, Hom as die Enige God aanbid en liefhet... Allah wil jou ook aanraak gedurende hierdie Ramadan: Hy wil ook graag jou Aanbidding geniet vir Sy Plesier en Hy wil jou hart seën met Sy vrede en liefde en die wete dat jy Syne is. As jy struikelblokke in jou pad het wat jou wil keer om hierdie Ramadan baie te geniet, bid dat Allah jou sal help om dit te oorkom. As jy dalk nie so opgewonde is oor hierdie Ramadan nie, weet dan dat Allah baie opgewonde is oor jou en dat jy vir Hom baie, baie spesiaal is en dat Hy ook graag jou Aanbidding wil geniet... soos Allah wil. Dink jy jou Aanbidding maak 'n verskil vir Allah? Ek dink so, want jy is ook mos Sy dienskneg en Hy het jou spesiaal geskape en Hy het jou baie lief! Mag hierdie Ramadan vir jou die beste Ramadan ooit wees... omdat jy dit suiwer vir die Plesier van Allah kan doen.
Gebed: O my Allah, Ramadan is net vir U. Ek wil U so graag hierdie Ramadan aanbid net vir U Plesier. Help my, lig my op en dra my op U hande sodat ek diep binne in U genade U oor en oor kan aanbid as die Een, Enigste en Enige GOD. Waarlik U is Allah, U is die Een wat aan alle mense gelyktydig ewe veel Genadig kan wees en U is die Genadigste. Ek loof en prys U Naam. Amen
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: is ramadan vir jou 'n aanbiddingsfees vreugdefees toewydingsfees?
Waar kry ek die storie vandaan dat die Christendom in SA besig is om in duie te stort?
Dond 11 Feb 2010, 10:13 20 Kommentaar Rapporteer MisbruikIslam Aktueel (2)
deur S'aad Bekker
Miskien het jy dit al raakgesien of dalk wonder jy waar kom ek aan die storie dat die Suid Afrikaanse Christen-Wêreld besig is om in duie te stort en die Christene haweloos en kerkloos gelaat word. Wel, dalk is ek meer bewus daarvan omdat ek uit daardie wêreld kom, toe ek in 2007 'n Moslem geword het. Dalk ook is dit hoekom ek die behoefte raaksien en besef dat as ons as Moslems nie doelbewus gaan uitreik na die Christene om ons, en hulle uitnooi om Moslems te word en by ons aan te sluit nie, hulle baie seer gaan kry en waarskynlik "godloos" gaan opeindig in die waan dat alles wel is terwyl ons as Moslems weet daar kom wel 'n Oordeelsdag: 'n dag waarop elke mens geoordeel gaan word ten opsigte van: of hy of sy die Een, Enkele, Enige God: Allah, gedien en aanbid het of nie.
Kom ek gee vir jou drie aanhalings uit die Media en een uit die Geloofsbelydenis van die algemene Gereformeerde Kerke, ter verduideliking:
1. Kyk byvoorbeeld na die volgende aanhaling uit die artikel: "Kritiese-en nare-blik op die skrif" in Beeld van 2010-02-01 deur die historikus: At van Wyk, waarin hy 'n resensie gee van 'n nuwe geskiedenisboek wat gepubliseer is en wat die "...nuwe geskiedenis van die vroeë Christendom..." beskryf.
Hierdie gewaardeerde artikel deur At van Wyk word gelees deur Christene uit alle vlakke van die samelewing wat elkeen op eiesoortige wyse daarop gaan reageer afhangende van aan watter Kerk hulle behoort of nie, en van hoe wetenskaplik hulle, hul Godsdiens bedryf.
Die onderstreepte gedeelte stel dit duidelik dat Jesus nie altyd as God beskou was nie maar dat hy met die tyd saam, god gemaak is deur die vroeë Christene. Die probleem is dat 'n eerlike stelling soos hierdie ruk en pluk aan die sekuriteit van die gewone Christen wat nie in sy of haar daaglikse bestaan wetenskaplik met Jesus omgaan nie, maar wat geheel en al vir hulle aardse welsyn en veilige aankoms in die Hiernamaals op Jesus vertrou:
"’n Probleem van die vroeë Christene was om ’n plek vir Jesus te kry langs of gelyk aan God. Petrus sien Jesus as mens (Engelse Bybel, Handelinge 2:22), Markus en Lukas stel hom laer as God en in Mattheus sê Jesus sy dissipels moet bekeerdes doop in die naam van die Vader, Seun en Gees – sonder klaarheid of die drie figure gelyk is of ’n hiërargie vorm."
Volledige artikel te vinde by: http://www.beeld.com/Content/Vermaak/Nuus/1924/81bcdda058574e50bd2b32eedf57428f/01-02-2010-03-07/Kritiese_%E2%80%93_en_nare_%E2%80%93_blik_op_Skrif,_kerk
3. Die laaste artikel wat ek graag vandag as voorbeeld wil gebruik is: "God-loos word ons siek..." en ek haal aan:
Volledige artikel te vinde by:
http://www.beeld.com/Content/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/2149/6897423c818f4fdd8dcb15e
d51df08f3/27-12-2009-09-42/God-loos_word_ons_siek_
4. Om die intensiteit waarmee sulke artikels in die Suid Afrikaanse samelewing ontvang word, te verstaan, sal dit jou help as jy die diepte van die emosionele betrokkenheid van onder andere die Gereformeerde Christen in Suid Afrika verstaan. Ek verduidelik:
Tot op die ouderdom van omtrent 18 woon elke kind Katkisasieklas by of Sondagskool soos dit algemeen bekend staan, en een van die Leerstellings, indien nie die mees basiese nie, wat die kinders geleer word en wat diep in die hart van elke so 'n Katskisant gelê word, is die inleiding tot die Heidelbergse Kategismes wat soos volg lui:
"Sondag 1.
1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort... "
(Aanhaling met waardering uit: http://www.gksa.org.za/geloof/HBK.htm#_Toc504796661)
Sovêr die aanhalings.
Opsomming:
Ek kan getuig dat hierdie belydenis vir my persoonlik die aller-alles in my lewe was en dat toe ek 'n Moslem geword het, dit vir my die hartseerste gedagte was dat ek nie meer die pragtige belydenis kon bely nie.
Nou as jy dit verstaan: dan verstaan jy waarom ek sê dat die Suid Afrikaanse Afrikaanssprekende Christen in 'n krisis is en ons, Moslems se hulp nodig het.
Ek ontvang graag u kommentaar hierop en op my Blog of waar ek ook al hierdie artikels gaan plaas.
Alle dank en lof kom Allah toe.
S'aad Bekker
Potchefstroom - 10 Februarie 2010
DIE MEDIA ARTIKELS:
Tussendeur.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe:
Sagte ineenstorting van die Christendom en Verwelkoming van ontredderde Christene as Moslems
Vry 25 Des 2009, 05:42 120 Kommentaar Rapporteer MisbruikIslam Aktueel (1)
deur S'aad Bekker
Hoe gereed is Moslems, dis nou jy en ek, in Suid Afrika, om die Christene wat na 'n nuwe Geestelike Tuiste soek, in Islam te verwelkom en te akkommodeer, met die dat die Geloofswêreld van die Christene, soos wat ek dit ervaar het en in die Suid Afrikaanse Media beleef, al meer en meer uitmekaar val?
Hierdie is 'n onderwerp wat ek sedert ek 'n Moslem geword het baie oor nadink en voortdurend mee gekonfronteer word en dit raak my diep omdat my wortels in hierdie wêreld van die Suid Afrikaanse Gereformeerde en Charismatiese/Pinkster/Wedergeboorte Christen lê en omdat dit jou en my as Moslems en ons roeping tot Sending(Dawah), direk raak.
Ek het ook gewonder hoeveel Moslems weet hiervan? Het jy hiervan geweet? Wel as jy nie eintlik die Afrikaanse Koerante lees nie, sal jy nie hiervan weet nie en is dit baie belangrik dat jy nou hiervan kennis neem, dink ek.
Daarom het ek besluit om te begin om gereeld aan almal wie se epos adresse ek het, hierdie Media artikels te stuur met die doel om vir jou as Moslem of as nie-Moslem bewus te maak daarvan dat, soos ek dit sien:
1. Sekere Christelike Teoloë(Ullama) al meer en meer in die Media die gewone Kerklidmate onder andere bewus maak daarvan dat: Jesus nie God was nie, dat Jesus nie aan die kruis gesterf het vir ons almal se sondes nie en dat Jesus nie uit die dood opgestaan het nie.
2. Ander Christene deelneem aan die gesprekke waarvan sommige natuurlik saamstem en ander verskil, wat te verstane is en baie, baie belangrik is.
3. Christene voor keuses gestel word om een van twee dinge te doen: of van Godsdiens te verander of Ongelowiges te word: met ander woorde ander opsies soos die Wetenskaplike Oplossings of die Evolusieleer(sonder God) as standpunte aan te neem of om Moslems te word.
4. Dat Islam as die Geloof van die Moslems eintlik die enigste werkbare, stabiele opsie en heenkome bied vir Christene wat nie Ongelowig wil word nie, maar aan 'n "Kerk" wil behoort wat wêreldwyd gevestig is, teen 'n redelike tempo groei, en midde in eiesoortige uitdagings, die antwoord besit en aan Christene wil bied.
5. Sodat Moslems hulleself meer kan oriënteer om te verstaan wat in die Christelike wêreld aan die gebeur is en met empatie met hulle Christen vriende en kollegas kan begin gesels oor hierdie seer en baie sensitiewe onderwerp vir Christene, sodat Christene gehelp kan word om veilig te begin voel met en in Islam.
Onthou : Baie Christene is soos baie Moslems goedgelowige mense en het al die jare as opregte gelowiges geglo wat hulle kerkleiers en die Bybel aan hulle oorgedra het. So, hierdie mense, soos die Christelike Teoloë van ons dag, wat ook eens goedgelowige Christene was voordat hulle al hulle kennis versamel het, is midde in hul eie krisis wat by die dag groter word en wat so goed as moontlik deur alle betrokke partye binne die Christendom beheer word teneinde nie die Christene van Suid Afrika in 'n baie traumatiese Geloofskrisis en emosionele krisis te laat verval nie. Want dit gaan hier oor die psige van 'n volk.
Kom ek gee jou 'n voorbeeld: (en mag God ons almal beskerm...) Stel jou voor Moslems moet hoor dat die profeet Mohammed (vvh) bo alle twyfel nie waarlik die profeet was, wat ons almal glo hy is, nie. Kan jy jou indink hoeveel trauma dit by Moslems sal veroorsaak! Nou, as jy dit verstaan, dan sal jy weet watter enorme krisis die huidige debat en bekentenisse in die Christelike Kerk en Media oor Jesus by Christene veroorsaak.
Christene is potensiële Moslems wat meestal nog nie die volle feite oor Islam gehoor het nie en nog nie die geleentheid gekry het om 'n keuse vir die Boodskap van die Koran te maak nie. Vandag se Christen is dalk, soos Allah wil, die Moslem wat more saam met jou in die Moskee gaan aanbid. Dit is dus baie belangrik dat ons almal aan Christene begin dink as ons toekomstige Moslembroers en -Susters, wat deur ons liefdevol gehelp moet word om hul keuse te maak. En indien hulle dan sou besluit om teen Islam te kies, moet ons steeds liefdevol en met respek en verdraagsaam teenoor hierdie mense optree: want vandag se nee kan more ja wees! Soos Allah wil.
Allah roep ons dus op tot diens: om as Moslems binne die Suid Afrikaanse konteks namens Hom met baie liefde en deernis uit te reik na ons Christenvriende, Christenkliënte, Christenkollegas en wie ook al ons pad kruis as mede reisigers op die lewenspad.
Ek ontvang graag u kommentaar hier en op my Blog of waar ek ook al hierdie artikels gaan plaas.
Alle dank en lof kom Allah toe.
S'aad Bekker
Potchefstroom - 23 Desember 2009
DIE MEDIA ARTIKELS:
Sien die aangehegte artikel hierbo of kliek op die volgende verwysing om dit direk in die Media te lees:
1. In die volgende artikel: "Nuwe Wyn Nuwe Sakke" sal u onder andere sien hoe die feite rondom Jesus beskou word: kliek op die volgende verwysing:
2. Hierdie artikel: "God bepaal klimaatsverandering..." wys hoe ryp die Christendom is ten opsigte van een van die Geloofsartikels van Islam en dit is dat God nie onbetrokke* is by Sy Skepping nie(*Sien ook: "Wat glo Moslems" by www.koraninafrikaans.com). Kliek op die volgende verwysing vir artikel:
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: sagte ineenstorting van die christendom en verwelkoming van ontredderde christene as moslems
Prof. Spangenberg sê vanbinne die Christendom wat Moslems al vir jare vanbuite sê.
Son 4 Okt 2009, 18:50 40 Kommentaar Rapporteer MisbruikMoslems probeer al vir eeue van buite die Christendom vir Chistene sê wat Prof. Spangenberg van binne die Christendom vir Christene probeer sê. Daarom het ek as Moslem wat vir die grootste deel van my lewe as Christen met die drie-eenheid geworstel het groot waardering vir die Prof. Ek glo God gebruik Prof. Spangenberg om die Christendom van binne af oop te breek sodat Sy Liefdesboodskap en Genadeboodskap vir Christene ook, soos vir Moslems, n realiteit sal word sonder dat iemand hoef doodgemaak te word of sonder Hy, God as hierdie wreedaardige God wat bloedvergieting in ruil vir aanvaarding vereis, uitgemaak hoef te word. En hiermee gee ek erkenning aan antwoorde wat Christenteoloë regoor die spektrum deur die jare aan Christengelowiges probeer gee het op worstelvrae. Ek dink die nuwe boek van Prof. Spangenberg is maar net deel van die baie lektuuur wat ons nog gaan sien in die jare wat kom, as dit die Wil van God is, waardeur God stadigaan en soos wat ons dit kan verteer, die waarheid rondom Jesus, aan opregte en ander gelowiges gaan openbaar. En dit is dat Jesus, soos wat Moslems glo, net maar eietydse Boodskapper van God af was, en dat Jesus nooit die Godslasterlike rol van Seun van God vervul of sou durf aanneem nie. Nee, vir Jesus was God die enige God waarheen hy altydmaar gelowiges heengewys het.
Daarom gee Moslems so n groot erkenning aan Jesus: juis omdat Moslems hom as een van die baie Profete beskou en glo dat Hy getrou aan sy roeping sy rol vervul het.
Mag Christene baie genade van God ontvang om hierdie geweldige waarheid te kan hanteer soos wat dit al duideliker vir hulle gaan word. En mag God ook vir Prof. Spangenberg lei om die enige God, Skepper, Voorsiener en Onderhouer van die wêrelde as sy God te vereer en daarmee sekerheid van die Hiernamaals te verkry.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe:
Ek wonder hoekom is die Moslemstem so stil in sosiale gesprek
Dond 24 Sep 2009, 11:14 17 Kommentaar Rapporteer MisbruikEk het nou al baie gewonder hoekom die Moslemstem so stil is in enige gesprek of kommentaar in veral Beeld wat ek probeer om daagliks op die Internet te lees.
Kan dit wees omdat Moslems nie die Beeld lees nie, of is dit omdat Moslems nie belangstel om n bydrae te maak tot gesprek nie. Ek is n Sunni Moslem en ons het n baie mooi en ek glo belangrike bydrae om te maak tot enige sosiale gesprek of dit nou op sake vlak of gewoon op sosiale vlak is. Of is dit omdat Beeld dalk nie die kommentaar en deelname van Moslems publiseer nie, wat ek natuurlik betwyfel want hoekom sou Beeld en sy susterkoerante dit nou doen, of is dit omdat nie-Moslems dalk nie belangstel in die bydraes van Moslems nie omdat "ons en hulle" skynbaar eintlik in twee geisoleerde wêrelde beweeg en nie-Moslems dalk eenvoudig net nie die krag het om die Moslemsiening en -bydraes na waarde te beoordeel en ruimte te gee nie. Dalk as gevolg van die ekstrimistiese beeld wat die nuusmedia van Islam weerspieël en dalk ook heeltemal tereg so.
Ware Islam, die Islam van die Koran is nie n ekstrimistiese godsdiens nie en ek dink daarom dat Suid Afrilaanse Moslems met groot vrymoedigheid tot enige gesprek kan toetree, soos ek graag sou wou.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe:
Gebruikersprofiel
S'aad Bekker
click to update status
| Geslag: | Male |
|
Stuur Boodskap |
| Stad: | Potchefstroom | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | South Africa | ![]() |
Blok gebruiker |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 3 intekenaar(s)
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 1728 |
| Kommentaar: | 207 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Kentekens
- Genade en vergifni...2010/08/30 05:55:23
- Glo Allah se vergi...2010/08/30 05:52:28
- Is Ramadan vir jou...2010/08/30 05:45:28
- Waar kry ek die st...2010/02/11 10:13:52
- Sagte ineenstortin...2009/12/25 05:42:00


