Jy blaai in die argief vir 2012 Augustus.

Pophuisie is nie kinderspeletjies nie

Augustus 20, 2012 in Sonder kategorie

Nono bly by haar antie Lolla en antie Dilla. Hulle is haar ma se susters.

Nono is in die skool die dag toe ek by die huis ‘n draai gaan maak.

Die anties is aan’t timmer en kap om ‘n nuwe kamer vir Nono in te rig.

Die sitkamer word in twee gedeel en die twee anties rig die prefab-muur op met alles wat hulle het: geroeste spykers, ‘n bietjie modder, bakstene en bruin kleefband.

” ‘n Meisieskind moet haar eie kamer hê,” sê Dilla met die beswaardheid van ‘n ou vrou wie al meer as genoeg in die lewe ervaar het.

“En ons het nie manne nodig nie,” sê Lolla.

“Ons maak ons se eie goeterse reg. Manne is net hier vir probleme,” verklap Lolla ook haar ervaring.

Die 11-jarige Lolla en Dilla lyk ietwat bespotlik in hul eenderse Hana Montana-klere waar hulle staan en timmer aan die binnekant van die sink pophuis.

Dis skoolvakansie, so nou speel die driestuks vriendinne te lekker pophuisie elke dag. Maar Nono moet elke dag die ‘kind’ wees in ‘n verbeelwêreld is daar nie skoolvakansie nie.

Nono se ‘kamer muur’ val om en die twee lag uitbundig.

‘n Stuk van die ceilingboard wat as Nono se kamermuur moet dien, breek af en spat in duisend stukkies in die skemerte.

“O ho. Ons sal seker maar ‘n slootjie moet grawe en dan die plank daarin moet sit,” bereken Lolla ‘n nuwe plan.

“Kan ek maar koooooooom? Is die skool al uit,” gil Nono van om die hoek van die huis waar haar ‘skool’ is.

“Neeeeeeeeeee” skree die ‘anties’ saam.

‘n Graaf is intussen nadergesleep.

“Nou sien nê. Ek was getroud” sê Lolla hande in die sye.

“Nono se ma het by my gebly. Maar toe slaap sy met my man en kry vir Nono. Toe sit ek hulle altwee uit. Die skei is twee jaar gelede deur.”

Lolla vat die graaf oor en grou bietjie verder. Aan die kant van die sloot waar ek sit, kan ek my rustig uit die vriendinne se huissake hou.

“Ek en my boyfriend het by Lolla kom bly toe hy geretrench is,” hervat Dilla die storie.

“Toe is Nono se ma verlede jaar dood en Nono kom bly by ons.”

Dilla se gesigsuitdrukking verander na jammerkry.

“Maar toe het my boyfriend vir Nono gemosel-, gemosle-…” die gewraakte woord kom nie so lekker oor haar tong en sy klank dit saggies vir haar self.

“Molesteer!” sê sy en klap haar vingers.

“Toe sit ons hom uit. Sy saak kom reeds volgende maand voor. Shame arme Nono.”

Hulle grou nog dieper tot waar die sand donker-sag raak en lig die ceilingboard versigtig in die sloot.

Die muur staan. Nono het haar eie kamer.

“WIIIIEEEEEEEEEEEEE!” maak Lolla ‘n skoolsirene na. Nono kom om die hoek gedraf.

Maar net toe sy by haar nuwe kamer instap, val die muur weer om.