Jy blaai in die argief vir 2012 Julie.

Die dag toe ek nie vir Mandela ontmoet het nie.

Julie 23, 2012 in Sonder kategorie

Almal deel hul vertellings van die dag toe hulle oud-Pres. Nelson Mandela ontmoet het. Saam met ‘n foto nogals.

Ek het hom nie ontmoet nie,maar vir my was dit ewe life chaging. Op 12 jaar oud.

Wel so is Mandela nou al amper vier jaar lank uit die tronk uit. Antie Mirriam, wat bompies (ysies) en masala verkoop, se stories oor die anti-Chris uit die see het opgedroog. Die groot opgewondenheid en ewe groot vrees in Roodepan het tot bedaring gekom en stadig maar seker het ouma Ferris begin vrede maak dat elke tweede man van donker gelaat, nie haar huis wil kom vat nie.

Toe kom daar ‘n nuwe storie al met die Roodepan-telegram langs.

Mandela staan vir president.

Daar was plakkate – ‘Houses and Jobs for all’

Daar was vergaderings – ‘Mense, onse tyd om te regeer het aangebreek’.

En nog meer stories – ‘Hulle gaan nou onse huise kom vat,”

Dit was in die tyd dat Mister Rosen se huiswinkeltjie oopgemaak het. Mister Rosen was in Tony Leon se party en mister Rosen het dit op homself geneem om die boodskap van verdoemenis te versprei. Nogal subtiel op sulke pampiertjies wat hy sy winkel se specials geadverteer het.

Rosen specials

DP for change Meety hamper R20

Chicken livers, Chicken chunks, 1 paket meety bones, 1 paket mins

DP Times hamper R15

1xbaked beans

1xpeas

1xblikkie fish

1xblikkie mix veg

Fresh frute en vegies by Rosen (me) for cheap.

Stock now for dark days

 En eendag kom die nuus. Mandela kom Roodepan toe.

Saterdag by die Roodepan Sekondêre skool (geel gyms soos dit in die Roodepan-mond bekend staan)

Ek het my ma gevra of ek maar ook kan gaan kyk, want ek wil graag die man sien wat die nuus elke aand oorheers.

“Nee. Ek soek jou nie daar naby nie,” het my ma met groot oë gesê.

“Dit is nie ons besigheid nie en nog minder kinders s’n.”

My 12-jarige brein kon dit nie begryp nie. Sy laat my dan elke aand voor die tv sit om die politieke gebeure op die nuus te kyk, “… want dis geskiedenis die.”

Wel, as iets nie my besigheid is nie, MAAK ek dit eenvoudig my besigheid.

Die spesifieke dag van Mandela se besoek, reken ek: As hy Geel gyms toe gaan, moet hy verby ons straat ry. Sy roete was reeds voor mister Rosen se huiswinkel verby.

Ek gaan op die hoek staan en vir hom kyk as hy verby kom.

Ek het my suster – toe maar net vier jaar oud – die dood voor die oë gesweer dat sy nie my ma moet vertel nie,want sien op daai stadium moes my suster mos oral saam trens.

Ons het reeds vroegmiddag op die straathoek gaan wag, maar toe sê iemand hy kom eers 16:00. Toe het ons maar in die vyeboom agter ons huis gaan wag – netnou kom hy vroeg verby.

So kort voor 16:00 is ons terug straathoek toe. Steeds niks.

En nes ons wil omdraai, kom daar mense in die straat afgehol oppad na die skool waar die byeenkoms plaasvind. Hulle skree en sing en dans. Daar was ‘n kar tussen die skare mense. EK kon net ‘n grys kolletjie van die kar uitmaak.

“Nya is dit hy?” wou my suster weet.

Ek was onseker.

Ons is terug na ons vyeboom waar ons Mandela (of so dink ons) se stem ver oor luidsprekers effens kon hoor.

Sondag in die kerk kom die afkondiging. Miesies Hopley is dood. Sy is mister Rosen se buurvrou en toe Mandela se mense in die straat afkom met die lawaai het sy ‘n hartaanval gehad.

Intussen het Mandela se naam verander. Hy’s nou Madiba.

Daar’s stories. Al met die Roodepan-telegram langs

Daar’s plakkate wat steeds huise en werk beloof.

En mister Rosen se specials adverteer nou ook ANC

 

“Bloemfontein se ordentlike kleurlinge…”

Julie 2, 2012 in Sonder kategorie

Ek het lanklaas geskryf. Of laat ek eerder sê ek het lanklaas HIER geskryf.

Maar vandag MOET ek. Ek het hulp en lyding (nee die leiding nie) in my nuwe beproewing nodig.

EK het nie te lank terug die wilde wakker Johannesburg verruil vir Bloemfontein.

Ja. Ek het.

Na al die vorige ervarings van vasgemesselde kleurgrense het ek tog besluit om te kom kyk hoe werk die smeltpot van transformasie (soos wat Bloem deesdae gedoop word) nou weer.

Enkele insidente het die laaste ses maande afgespeel. Niks noemenswaardig nie. Net goed soos ‘n eiendomsagentskap wat vir my hoogswanger vriendin en haar man sê: “Jammer, ons kan nie die woonstel aan kleurlinge verhuur nie.” Dit na hulle hul deposito en ‘n maand vooruit betaal het en al hul sake onder hul Afrikaanse van telefonies afgehandel het.

O ja dan was daar ook die keer toe jong mans in ‘n kar langs my en ‘n vriendin stop een aand, die ruit afdraai en duidelik wil flirt. Toe hulle so mooi kyk, sê die een: “ag toemaar. Dis k@***rs.”

Ek het maar aanvaar hulle praat nie van my nie, al was daar geen ander siel by die verkeerslig nie. Want sien, ‘n mens word slegs beledig as jy die belediging jou eie maak.

So sit ek en twee vriende Saterdagaand in ‘n kuierplek wat ‘n lekker mix van Afrikaans, Euro en Kwaito musiek speel. Ons het net ons eerste ronde drankies bestel toe ‘n 40 going 60 reguit na ons aangestap kom.

Sy lyk soos die rukkie-geskei-busy-reclaiming-my-life-vrou met gebleikte tande en ‘n oranje Karibiese-gloed wat gewoonlik uit ‘n blikkie kom.

 

“Haai, julle kom van Heidedal nê,”  (Heidedal is die gebied Bloemfontein waar 90% van die bruinmense hier gegroepeer is.)

 

Ek draai onmiddelik om, want ek vererg my vir die vrou toe net daar.

 

Maatjie langs my stamp my knie, wat ek toe ek weet beteken hy het ‘n plan. Speel maar saam en kyk waar eindig dit.

 

“Nee, ons is nie van hier rond,” antwoord hy en sonder om op hom te laat wag gee hy so ‘n kort verklaring dat ons ook nie van die Kaap of Johannesburg is nie.

 

“O” sê die vrou. Met die roep sy haar vriendin.

 

“Liefie, kyk. Die is nou Bloem se ordentlike kleurlinge”, seg sy en besluit om my wang te vryf.

 

My burger-aandete stoot onmiddellik op.

 

Die maatjie (MannetjieWoef is ‘n bevoeglike naamwoord wat ek aan kan dink vir haar) kom nader.

 

“Haai, kyk hoe ordentlik is hulle.”

 

Die desperate housewife: “Ons is tog so lief vir hulle, nê liefie.”

 

MannetjieWoef: ” Polokwane het bitter min kleurlinge ” (en sy hou haar vingers soos wanneer jy sou maak as jy se voilla!). “Ja bitter min, en ek is so lief vir julle”.

 

My vriend het my lankal in die steek gelaat en net daar sy geselskap na ons vriendin (wat op die verste hoek sit) gevestig. Dus is dit net ek.

 

Ek moes my whisky down (om my burger binne te hou).

 

Desperate Housewife het nog met haar perfek gemanikuurde naels ‘n paar sekondes lank op my wang gevryf.

 

Ek wou daai kloue van haar arms afskeur.