Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

Gedeelde swaarkry is halwe swaarkry

Februarie 1, 2011 in Sonder kategorie

Verlede week, amper maand-end en al die Roodepanners wag paydag in. Maandagaand by my ma se huis is ‘n klop aan die deur.

“Ma sê gedeelte swaarkry is halwe swaarkry,” sê die kind by die deur.

Kettie in die een hand en ‘n bord pap en blikkievis in die ander.

Heinie van antie Bekka was duidelik nog aan die speel toe sy ma hom roep om die bord swaarkry om te bring.

Dis kort voor einde van die maand en antie Bekka het twee tamaties gevra vir die pot. Later kom ‘n skoongewaste Heinie om ‘n paar snytjies brood te vra vir more se skool in ruil vir ‘n koppie jam, want antie Bekka het ‘n groot blik jam met haar laaste sente gekoop.

Vroeër het antie Josephine vier vetkoeke gestuur. In Roodepan is vetkoek stapelvoedsel. Al dans die kat op die stoof, sal daar altyd koekmeel, yeast en olie in ‘n Roodepan-huis wees. In ruil hiervoor stuur my ma ‘n stukkie lamslewer vir antie Josephine, want “dis nou al wat daar is, maar maand end kan ons weer blinkbek eet”

Ant Soes se meisiekind het kom stukkie botter vra, want hulle supper maar brood en eiers vannaand.

Ant Margie stuur aartappels uit haar huismarkie. “Die goed loop uit, want die mense het nie geld om aartappels te koop nie.”

Meidjie van daar onder het ‘n ‘please call me’ gestuur. Toe my ma bel vra sy het my ma nie R50 vir haar nie, want haar koopkrag is klaar en die kind het nie melk nie. Sy sal regmaak as die kind se pa die papgeld in betaal het Vrydag.

Baie mense kan redeneer dit is slegte finansiële bestuur. Maar in ‘n gemeenskap soos Roodepan is dit dié rondlenery wat vriendskappe vleg.

Roodepanmense kan nie kwaad bly vir mekaar nie, want iewers sal jou eie swaarkry jou inhaal. Die wie nie swaarkry nie, of wil weghol van dit, het lankal dorp toe getrek.

Nou ek sê nie ek het swaar en arm grootgeword nie. Wat ek wel sê is dat in woonbuurte soos die, is ryk en arm en minder arm kon mekaar nog altyd in die oë kyk. Al is daar soms ‘n agteraf geskinder as Russels die nuwe 6-stuk sitkamerstel kom aflaai.

Dit is die swaarkry wat maak dat huismiesies en buurvrou en huishulp saam in die sonnetjie op die stoep kan sit en uit die Shoprite-pamflette kan dagdroom van wat hulle alles paydag gaan koop.

Op paydag kom daai einste Heinie om, steeds met ‘n kettie in die hand, maar die keer met ‘n bord met regte kookkos. “Ma sê gedeelde vreugde is dubbele vreugde”.