Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

Ek praat die taal… (Ngikhuluma izilimi…)

Junie 8, 2010 in Sonder kategorie

Dis soos ‘n baba wat leer praat.

Eers vorm die vokale in jou mond, dan sit jy ‘n konsonant of twee vooraan die vokaal en kry so per ongeluk ‘n woord uit. Later is jy braaf genoeg om ‘n regte woord te sê en jy kan wys na uSisi, uMama, uBaba en uButhi.

Maar dit is nog net woorde.

In my vierde Zoeloe-les heers daar ‘n vreemde opgewondenheid. Almal het nou klaar mekaar uitgeruik en nader geskuif. Belangriker nog: Almal kan hulself voorstel en van hulself vertel.

Dit is amper asof almal hul identiteit tussen die mede aspirant-Zoeloes ontdek het.

In die klas is ek. ‘n Bruin vrou uit afrikaanse Kimberley waar my ma my verwysingsraamwerk kleurblind probeer hou het. Maar die vroeë negentigs het die prentjies vir my in skakerings van ‘ons’ en ‘hulle’ en ‘witmense’ ingekleur. Toe ek my hoërskool by die afrikaanse Hoërskool Diamantveld begin, was die meulsteun ‘boerboetie’ outmaties om ons gehang. Darem nie vir lank nie (want daai navy blazer was ‘n status simbool).

In die klas is daar Natalie met haar Afrikadonker vel oor wie ek baie verbaas was. O. Sy sal seker baie vinnig leer, het die voorveronderstelling tot my skaamte opgeduik. Natalie is van Kongo. Jammer Natalie.

Neil, van Kaapstad, spog met vier tale op sy tong. Gayle (‘n universele gay-taal) is een van hulle.

Emily is ‘n Franssprekende Japanees. Haar navrae in Engels in so gebrekkig soos haar kennis van Zoeloe. Maar die hoop beskaam nie.

Iris is franssprekend Frans en die onnie moet af en toe in Frans oorslaan om iets vir haar te verduidelik.

Jackie en Vanessa, twee Midrandse vriendinne is baie ernstig oor die lesse. Vanessa wil deel wees van die meer as 30% mense in Suid-Afrika wat Zoeloe praat.

Jackie, met haar swart aangenome kinders het ‘n dieper, mooier storie:

“In winkels praat die mense met hulle Zoeloe. Dan staar die kinders net, want hulle het engelsprekend grootgeword. Ek het eendag ‘n vrou byna te lyf gegaan toe sy my beskuldig oor hulle nie Zoeloe kan praat nie.”

Chris, Colleen en Sheree kom almal van Amerika. Hul amerikaanse ‘twang’ slaan erg deur, maar hulle lag lekker daaroor.

Waldimar, Marida, Johannes en André is, soos ek, Afrikaanse joernaliste wat te goed besef dat taal dikwels in die pad van ‘n goeie storie staan.

“Sanibona,” sê die onnie toe hy by die klas instap.

“Sawubona, unjani?” kom dit in ‘n koor van die studente.