Jy blaai in die argief vir 2010 Mei.

My naelstring is in Kimberley…regtig

Mei 18, 2010 in Sonder kategorie

Ek het begin transformeer. Eintlik is dit 25 jaar te laat, maar tog.

Binnekort, nee gouer as binnekort, gaan ek nie meer met ‘n bek vol tande sit nie as iemand my vra: “hoe gaan dit?”

In Zoeloe.

Kyk, Rytjie se Zoeloe-kennis het gestrek tot daai een mensie daar in Diepkloof wat ‘n liefde vir rooi bra’s het. Selfs dan het ons ons kwart brood en polony en atchar (polony kota) in engels geëet en in engels in sirkels gepraat voor die vrypoging aangewend is.

Nou loop ek trots en sê vir almal, met en sonder kleur: “Sawubona Sisi” of “heita Mfwetu”.

“Unjani” kom die antwoord die laaste week glimlaggend terug.

Vermakerig antwoord ek “Ngiyaphila, wena Unjani?”

Dit is lekker as uMama by Pick ‘n Pay se till vir my sê “Yebo, we ngane yami”

Want skielik is ek ook ‘n kind van haar. Ek praat haar taal.

Die eerste les sit ek daar vol verwagting om die taal te praat wat ek glo deure vir my kan oopmaak.

Twee lesse later het ek meer geleer as net om jou, haar/ hom en hulle te groet. Ek het meer wys geraak as om net myself voor te stel.

Nee, ek het iets anders geleer. Ek kan nog nie sê wat nie, maar dit is beslis iets mooi.

Byvoorbeeld sal iemand vir jou vra: ‘Unjani?’ is die mees algemeenste antwoord ‘Ngiyaphila’.

Letterlik vertaal beteken dit ‘ek leef’. Hoe wonderlik is dit nie om te kan sê jy leef as iemand vra hoe gaan dit nie?

Nog een is dat as jy uMama of uBaba aanspreek, praat jy nie net met haar of hom nie. Nee. Jy praat in die meervoudsvorm, want jy spreek terselfdertyd jou ancestors ook aan.

Ek sit daar en dink, hoe pragtig mooi is dit dan nie. G’n wonder uMama by Pick ‘n Pay het my as haar kind aanvaar toe ek vir haar sê Sanibona.

Die week gebeur dit weer.

Ek moet leer hoe om te sê waar ek woon: – Ngihlala eGoli

En waar ek vandaan kom: – kodwa inkaba yami eKimberley.

“Kodwa inkaba yami…” soos die tutor verduidelik is baie diep plattelands. Maar dit is toe juis wat dit vir my so mooi maak.

Letterlik vertaal, beteken dit ‘die plek waar my naelstring begrawe is’.

Die mooigeit van die sentimentele ding laat my toe so ampertjies huil, want in my pa se hangkas, in twee glas Purity bottels, is twee droë stuk velletjies aan plastiek pennetjies. Dit is ek en my suster se naelstringoorblyfsels wat hy besluit het om te hou. En so grillerig soos wat dit klink, vergewe ek hom maar, want inkaba yami eKimberley.