Vyf brode en ‘n blik vis – Die verhaal van ‘n straatkind

April 2, 2010 in Sonder kategorie

“Hulle sê die Jirre was vandag opgehang. Mos daar op die kruis. Nou wat ek nie verstaan nie, is hoekom het hy dan nie homself losgemaak nie. Hulle sê dan die Jirre kan alles doen.”

“Dissie die Jirre nie. Dit was Djesis. Die Jirre se bambino.”

Die twee seuns sit reg langs Shoprite se hek waar die aflaaitrokke altyd staan.  As die dorp so stil is soos vandag, is daar altyd ‘n kans dat daar iets van die trokke afval of breek. Dan moet jy jou gryp ken.

Vir ‘n Vrydag is die middestad besonder stil. Dit is nou juis hieroor wat die twee sit en bespiegel.

“Nou wat dan van Josef? My ma sê my pa se naam was ook Josef, maar hy het gaan seep koop,”  sê-vra die een met ‘n langbroek wat eens rooi was. Dit is nou ‘n harde bruin en het ook al meer gate as lap.

“Josef was nie vererig Djesis se pa nie. Hulle moet ma net so gesê’ it want ‘n kind moet ‘n pa het. Maar dit was die Jirre wat vir Djesis in Maria gesit’ it,” vertel die een in die denim broek en onpaar tekkies.

“Kyk, soos my ma sê die tokolos het my in haar maag gesit. Toe djaag my pa ons weg van sy shantie af. Toe gaan bly ons by ‘n anner man,maar hy het my mos altyd geslaan, en toe loop ek weg.”

‘n Kar met kerkmense stop by die verkeerslig op die die hoek en die twee spring op. Kerkmense is nog vol van die gees. Hulle gee altyd.

‘n Sekonde lank is daar oogkontak en ‘n vuil hand wat wuif, maar die man agter die stuurwiel draai die venster op. Die vrou langs hom lyk of sy gehuil het. Agter sit ‘n meisiekind met ‘n pop. Haar ma se handsak is langs haar en die venster is oop.

As hy mooi time kan hy die handsak gryp as die robot net oopmaak.

Dan lag die meisiekind met hom en die kar trek weg.

” Jy check daai keer toe ek by Tannie Rebecca se kinderhuis gebly het?”

Die rooibroek knik en die twee kry weer hul sit by die hek. Al is Shoprite oop, is daar is nie ‘n trok in sig nie. Net die reuk van hot cross buns hang dik in die lug.

 “Nou daai tyd toe kom daar so ‘n pastoor. Toe vertel hy vir ons van hoelat Djesis moet gebandiet het. Mos vir die dat hulle hom opgehang het. Hulle het hom eers moeg gemaak, toe gee hulle hom nog asyn ok nog om te drink.”

Die tokolos-kind spoeg in straal deur die lug.

Die dag gaan stadig as die verkeer so stil is. Dit is amper een uur toe die twee net genoeg het vir ‘n klein blik vis.

Hulle wag tot net amper amper een uur  wanneer Shoprite toe maak voor hulle ingaan, want die mense kyk hulle altyd snaaks aan.

By die till kom vra ‘n man of hulle vriende het vir wie hulle die onverkoopte hot cross buns kan gee.

Want daar het meer as twaalfdosyn oorgebly.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.