Jy blaai in die argief vir 2010 Februarie.

Roodepan updates2: Hou jou ding uit gate…

Februarie 12, 2010 in Sonder kategorie

“Charl daar van Jasminestraat was mos weer in die hof. Vir papgeld soos gewoonlik.

Seker nou al die agste vrou. Hy spog mos altyd hy het 12 kinders wat hy van weet. En die meeste tweelinge. Soms is hy sommer vir twee verskillende vrouens se papgeld op een dag in die hof.”

Ai, hoe lekker lag ek vir die papgeld-drama’s.

“Die ergste is, Charl het ‘n vrou. Getroud en getjap. Met twee tweelinge en ‘n kind. Ja vyf kinders by sy vrou. Die kind is nou 5 die twee tweelinge is 10 en drie. Die anner kinners is almal 10 jaar en jonger. Ook, nou moet ek sê die wat hy van weet. Wys jou net hy het sy hoerdery begin toe hy met Carol getrou het.”

Ant Babie sit en maak pakkies tjips op vir die huiswinkeltjie op die stoep. Spicy tomato. Haar vingers is al permanent gestain en haar kos en tee en koue jungle oats proe alles na spicy tomato.

“Die l’ at hy so gesummons word vir papgeld. Want daai kinders van hom by sy vrou kry mos net die beste. Nee, Carol sorg daarvoor. Nike tekkies, de lot.

Die twee wat nou drie geword het, het glads ‘n Manchester united-paartie gehad in Spur.”

‘n Ry miere skarrel oor die Diamond Fields Advertiser wat sy pas gelees het. Iets oor die president se weetie-hoeveelste kind.

“Ek hoor toe kom Sharon, van Colville, daar met haar tweeling met net sulke vuil wessies en geskeurde kortbroekies aan. Hy’t mos meisiekind-tweelinge by haar. Nog gesê die kinners het die reg om by hulle broer se paartie te wees en as hy nou geld gestuur het, sal sy vir hulle darem nuwe klere kon gekoop het, maar sy sien die verjaarsdag-tweeling se paartie het baie geld uithom gejaag.”

Haar tandlose mond maak ‘n oomblik ‘n groot spelonk soos sy lag.

“Ek hoor Sharon se tweetjies het daai burgers en ice cream en Manchester koek so een kyk gegee en onmiddelik ingespring. Vuil gevrete en al. Wat kan Carol doen? Sy bly met sy stront so sy kan seker ook nie sê sy het’ie geweet’ie. Sharon het natuurlik gedink sy kan hulle ‘n ding wys, maar daai Carol het haar net daar in die bek geruk”

Net so kom Charl se kind by ant Babie tjips koop. Vyf pakkies en ‘n los sigaret vir sy pa.

“Gaan sê vir jou pa ek verkoop’ ie sigarette aan kinders nie,” sê-skel ant Babie soos wat sy die een Rothman vir die kind gee.

“Shame, kyk die arme kind. Sit in die middel van die tweelinge die dat hy so verwaarloos is. Maar hy kry nog meer as die ander kinders. Dianne van Maureen hier langesaan, werk mos by die hof. Sy sê laas week sê Charl in die hof hy het nie geweet van die kind nie, maar hy sal maar nie afstry nie, want niemand anders sal vir daai vrou kans gesien het nie. Maar hy stem toe in om R100 ‘n maand te gee. Dianne van Maureen sê die magistraat – nogal ook ‘n vrou – het hom net daar uitgesit en gesê sy is nou moeg van hom gevreet en hy moet R250 gee soos wat hy vir al die ander kere ooreengekom het – én nog nooit betaal het’ ie”

Weereens kom daar ‘n gorrellag uit die spelonk.

“Ai ek wonder die president wat nou so oralster los kinders het, hoeveel papgeld en of hy papgeld betaal. Die dat my pension net R50’tjies ‘n jaar opgaan. Ek is sê jou hier en nou, daai kinders lewe soos klein godjies en ek moet tjips verkoop. Maar daai vrouens is almal ewe sleg om vir ‘n getroude man te staan en stillê. Hou jou ding uit gate, dan bly jou gat uit ding. Pas jouself op Rytjie.”

Ek is daar weg met Ant Babie se wyse woorde nog in my ore. Net vir die interest, ry ek toe in Charl-hulle straat af. Charl en Carol staan in die straat en kyk vir hulle huis.

“Pay your maintainance you bastard,” is in rooi op die muur geverf.

(EK het die afgelope week saam met my ma by haar beton tuinstel gesit en kuier. Eindelose glase Oros het die wonderlikste verhale opgelewer. Soms het ons kliphard geskaterlag vir Roodepan se Days of our Lives. Dan moes ons maar weer bietjie sagter skinner. Soms het ons net in die stilte vir haar tuindwergies gekyk. Ek sal hier van ‘n paar van die gebeurtenisse vertel en sover moontlik die ware toedrag van sake probeer skets. Maar soos almal weet, die lewe is nie ‘n sepie nie.)

Roodepan updates1 – Rustelose jare

Februarie 10, 2010 in Sonder kategorie

Bronkie se pa sit met sy gat in die tronk. Van Woensdagaand af. Vrydagoggend het hy voorgekom en is aangekla.

Ek het al hier iewers van Bronkie se pa geskryf (lees ‘n meneer se Meneer -5Augustus 2009).

Dit was van die keer toe sy vrou mos sy hele manskap so met warm suikerwater verbrand het toe sy van sy gehoerdery uitvind.

Bronkie se pa was mos in die hospitaal ook. Toe is Bronkie maar pas in die skool.

“Die dokter sê dis stress, maar my mammie sê dit is plein jagsgeit,”  het Bronkie nog oor sy pa se siekte kom vertel.

Nou na daai, toe word Bronkie se pa mos laat vang vir supporting. Twee kinders by ander vroue ook daar in Roodepan. Plus sy eie drie by sy vrou.

Kort na daai, hoor ons die een middag net ‘n skoot klap. Bronkie se pa het homself deur die kop geskiet daar in Bronkie se kamer op die bed.

Maar hy het effens skuins geskiet en sal dit darem maak.

Die mure vol bloed.

Na lank in die hospitaal, kom hy daar uit. Minus sy een oog en blind in die ander, ‘n duik in sy kop en ‘n erg getraumatiseerde Bronkie.

So het Bronkie se ma besluit, klaar is klaar. Sy skei van die man. Blind en spuls het sy nie voor tyd nie.

Gelukkig kon Bronkie se pa by die polisie aanbly en is maar tot matige admin werkies beperk.

Anyway. Sal ek nou die week met verlof by die huis met my ma gesels. Hoe gaan dit met die ene en daai ene?

Bronkie vaar goed op hoërskool. Sy ma gaan weer trou en Bronkie se pa is glo baie gefrustreed oor sy blindgeit.

So sal ek in die straat loop die Woensdagmiddag en daar staan Bronkie se pa op die voorstoep.

Ek dink maar nie om te groet nie, want hy kan my mos nie sien nie. Maar kyk ek toe so en daar staan die man sowaar en airtime op sy foon indruk. En bowenal, hy het geskrik toe hy sien ek kyk hom.

“Nee,” sal my ma sê.

“Sover almal weet is hy blind soos ‘n mol. Daar was sprake dat sy sig gedeeltelik kan herstel, maar ons sou tog al iets gehoor het.”

Die Woensdagaand het die polisie hom by sy huis in hegtenis geneem vir ‘n bedrogverwante aanklagte as ek nou op die Roodepan-nuustak moet staatmaak.

Maandag, oppad terug na die Johannesburgse dolle gejaag, sien ek ‘n koerantplakaat: Roodepan cop shoots himself.

‘n Foto op die voorblad en ‘n korterige beriggie op bl.2 wat net sê die man se naam kan nie bekend gemaak word nie.

Nee, dit was toe darem nie Bronkie se pa nie.

(EK het die afgelope week saam met my ma by haar beton tuinstel gesit en kuier. Eindelose glase Oros het die wonderlikste verhale opgelewer. Soms het ons kliphard geskaterlag vir Roodepan se Days of our Lives. Dan moes ons maar weer bietjie sagter skinner. Soms het ons net in die stilte vir haar tuindwergies gekyk. Ek sal hier van ‘n paar van die gebeurtenisse vertel en sover moontlik die ware toedrag van sake probeer skets. Maar soos almal weet, die lewe is nie ‘n sepie nie.)