Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

Van Roodepan tot Roodepoort

Oktober 10, 2009 in Sonder kategorie

(Vir Andrew Benjamin – al ken ek hom nog nie)

My ma sê ant Charlotte van 4de straat se toffee apples kos nou R2,50 elk. Ant Charlotte sukkel nou glo, want die suiker is duur, die appels is skaars en die die stroop kokery put haar koopkrag uit.

Dit is die dat ek nou so vir so belustig vir ‘n toffee apple is. Nee, nie Fruit en Veg s’n met die selophane plestiek en die sosatie stokkie nie.

Ek lus ant Charlotte se toffee apples.

Daai wat sy op die taxi rank verkoop het. Rooi, groen, rooi, groen is die rye op die geroeste skinkbord uitgepak. Met ‘n gebreekte tamatiekis plankie vir ‘n vashoustokkie. Later krap jy die stukkies appelskil uit jou tande met die stokkie.

Die 20minute se stap van die skool na die Roodepan taxi rank was die moeite werd as daai toffee apples, sag van die dag in die son staan, vir jou wag. R1 elk. Is dit al 10 jaar?

Maar ant Charlotte het my gelike.

“Jy groet dan altyd so mooi, kind. Hierso, vat sommer maar ‘n groene ook.”

Later eet ek twee een toffee in die taxi huis toe. Die taai toffee maak sulke drade as jy dit byt. Eenkeer het my porselein stopsel ook sommer saam in die toffee vasgesit.

” Shame. Ant Charlotte verloor nou eintlik met die toffee apples, want sy kry die arme kinders so jammer wat dit nie kan bekostig nie. Sy gee dit sommer verniet weg,” praat my ma verder.

Ouma Aysa by Roodepan mark het ook toffee apples verkoop. En masala en garlic en ginger en bompies. Maar my ma het self eendag gesien hoe Ouma Aysa haar blaaie krap en met daai selle hande die stokkies in die appel druk.

Ant Mirriam en ant Vlekkie het bompies verkoop. Sulke stroop soet aanmaak koeldrank ysies in sakkies gevries. Maar ons het net by ant Vlekkie bompies gekoop, want ant Mirriam het die bompiesakkies met haar mond oopgeblaas en sy het vrot tanne.

Ant June het ook bompies gemaak. Melk bompies, maar my ma het gesê sy sit toorgoed in dit sodat ons net by haar bompies moet koop.

 Ant Vlekkie het ook fudge verkoop. Pienkes en wittes, maar antie Bybie het windchips verkoop. Tamatie, BBQ en Spicy.

Ant Grace het gekleurde popcorn gemaak, maar ek het verniet gekry oor ek nog met haar seun gevry het, daai tyd.

Die antie oorkant die laerskool skool by nr. 5 het kookswiets en melk fudge verkoop. Maar in std. 4 toe is daar ‘n begrafnis by haar huis en ons het almal pouse oorgehol en die lyk gaan kyk. Nou spook die swiets en die fudge en het haar besigheid later ‘n stille dood gesterf.

“Ant Charlotte het gesê as jy weer huis toe kom gaan sy vir jou ‘n boks toffee apples maak,” dra my ma die boodskap oor.

Roodepoort het nie toffee apples nie. Daar is ook nie ‘n ant Charlotte of ‘n ant Mirriam of ‘n ouma Aysa nie.