Jy blaai in die argief vir 2009 Julie.

Wyfiekat – Nocturne

Julie 30, 2009 in Sonder kategorie

“Ek’s jammer”
Haar mascara maak dik strepe onder haar oë soos dit gesmudge het in die nagtelike ure.



Sy sit kruisbeen op die bed langs my en bekyk haar hand.



” Dis fucked. Ek dink dis gebreek.”



Die hand is geswel. Die pinkie en ringvinger kan nie buig nie. Verder op teen haar arm is dit gekneus. Sy druk-druk met haar wysvinger op die vlesige pappery en haar gesig trek effens.



“Kyk asseblief,” soebat sy.



Halsbandjie of hondjie. Maak op jou mind.



Ek het geweet iets aan die aand sal vreemd uitdraai. Dit was toe ons by die skoeneplek instap om hakkies op ons boots te sit dat ek dit gedink het.



Die skoen-ou was eintlik al toe, maar net vir ons en R102 sal hy gou ons boots regkry vir walking.



Noukeurig staan hy daar en werk met geisha-rige musiek in die agtergrond. Klokkies en Xylofone en hees panfluite hou hom triestig geselskap terwyl hy elke skoen sorgvuldig neem en bekyk.



En ek dink aan iewers wat ek gelees het: “don’t judge a man untill you’ve walked a mile in his shoes. After that who cares? He’s a mile away and you’ve got his shoes.”



Met Lize Beekman in ons midde het ons saam sorgvuldig mascara opgesit. Jasmyn- en appelgeure gespuit.




Wyfiekat los haar geur.


Lippies gebalsem.


Die nag het geroep.


Wyfiekat op die prowl.


Die nag is goed aan die wat Haar gehoorsaam.


Wyfiekat gee die mating call.


Wyfiekat wyf en trek ‘n skuif.


Wyfiekat hoog op Nag.


Wyfiekat bespring sag.




Teefkat baklei woes.


Teefkat skree ‘ma se poes’.




“Praat met my, asseblief,” soebat sy weer.



“Ek weet jy’s kwaad vir my.”




Who cares? Ek het alleen die 10km terug huis toe gery. Met jou boots in my kar.

Jean-Pierre Fick

Julie 10, 2009 in Sonder kategorie

 

Ek sou nogal like om te glo Roodepan is die gewone buurt met gewone mense.

Die soort wat Saterdagmiddag heeldag met rolers in die hare saam met die son om die huis skuif. Die soort wat vannaand ‘n swirlkous om die hare sit sodat die hare straight kan wees vir kerk môre. Of die soort wat glo Sondag en hoenderkerrie is sinoniem.

Mense wat die plek ken cringe as hulle hoor ek het hier grootgeword.

Nou die dag soek ek Roodepan op Google. Die soektog lewer goed op soos “Roodepan woman stabs fianceé to death” en “Roodepan teenager rapes granny”.

Vanoggend neurie ek vir myself Jan Pierewiet toe ek ‘n beker Bodum-koffie kamer toe bring.

“Goeie môre my vrou, hier’s ‘n soentjie vir jou.

“Goeie môre my man, daar’s koffie in die kan.”

Met die liedjie in my agterkop, gaan ek bad.

Jean-Pierre Fick.

Dis hoe ons hom in Roodepan sou noem. Of dalk JP of Japes of Master Fick.

Jean-Pierre se ma sou ‘n juffrou by Roodepan Hoër gewees het en sy sou die naam in ‘n movie gehoor het.

Maar Jean-Pierre is nou ‘n groot merchant, met goue ringe in elke vinger, pers Nike-tekkies en JP in goud in sy twee voortanne.

Arme juffrou Fick het glad al pakket gevat om haar seun wéér uit te bail. Dis nou na sy verlede jaar ‘n bond op die huis uitgehaal het toe JP laat vang is vir agterstallige papgeld.

JP bly nou saam met sy girlfriend in Roodepan flats. Besigheid is goed. Die girlfriend is pregnant en Saterdae as sy moan oor JP se tjommies so gesuip en dik gerook daar visit bliksem hy haar goed.

“Jy kan hoog skop, jy kan laag skop,

Maar vir my skop jy nie,”

… Of kom my Roodepan-agtergrond nou te sterk uit?

‘n gebedsaak

Julie 9, 2009 in Sonder kategorie

 

My kop is deurmekaar.

Ek staan voor die fridge in ‘n vreemdeling se huis. Eintlik nie regtig ‘n vreemdeling nie, want ons is in dieselfde gemeente. Die kerksusters het so ‘n klein social by haar huis gehad.

Ant Susan.

“Die is my dogter. Sy het selfmoord gepleeg vier jaar gelede,” het sy gesê en na ‘n kiekie in ‘n Mickey Mouse-magneetraampie op die fridge gewys.

Die hele familie was daar. Die selfmoorddogter tussen haar ma en pa. Met die ander dogter op die buitenste hoek en die twee jongste spruite op die gras.

“Sy het ‘n miskraam gehad en ‘n paar maande later pleeg sy selfmoord. In die einste huis…”

Ant Susan draai om en gaan bedien die ander gaste in die sitkamer met tee.

Ek staan nog so ‘n rukkie en kyk.

Eintlik sou die nuus van die dogter my nie so ontstel het nie. Dit het net ontkant en heel buite konteks gekom.

Toe ant Susan ‘n paar oomblikke gelede gevra het wie tee soek, vra ek vir ‘n glas water. Heel aand let al op sy trap-trap so rond as ek naby is.

Dit was toe haar kans. Ek moet haar gaan help in die kombuis het sy vriendelik versoek.

Kraan oop. Kraan toe.

Koppies uithaal.

“Maak gou die suikerpot vol asseblief,” vra sy.

En toe, so met die afdroogdoek in die hand: “Hoekom is jy so op jou eie? Moet ek nie dalk vir jou bid nie?”

Haar gesig spreek van opregte besorgdheid.

Lank staan ek daar na haar en kyk voor ek antwoord.

Die swart eyeliner beklemtoon haar kraalogies. Haar hare is ‘n Inecto-rooi gedye en stokstyf gestraightner. Die wortels groei al uit en maak sulke kort stoepsitters om haar voorkop. Haar onderste vier snytande staan effens uitmekaar vorentoe.

Kortwol viertand ooi.

“Hier is oulike broers in die gemeente. Ek sal bid dat die Here jou die sal oorsien nie.”

Ek wonder altyd hoekom, sodra die Here betrek word, word daar in ‘n formele taal gesels.

Hoe sê ek vir die die anty gebed sal nie help nie? Dat die Here nie vir my ‘n man sal gee nie, want hy weet ek het geen nut vir een in my lewe nie.

Kan mens ‘n goedgunstige gebed van die hand wys. My ma het my geleer jy sê nie needankie vir geskenke nie. Maar as jy nie die geskenk sal gebruik nie, kan jy dit sekerlik gaan terugruil vir ‘n voucher by Game.

“O. Ok.” Antwoord ek maar lafhartig.

Toe draai sy om en stel haar dooie dogter aan my voor.

In Memoriam

Julie 8, 2009 in Sonder kategorie

 

Die begrafnis was groot. Nie soveel van ‘n gedoente nie, maar net groot. Almal wou daar wees. Almal wou sien of sy kinders, sy gewese vrou en ander familie ook daar sal wees.

Sy vrou was nie daar nie, Sy het nie lus gevoel vir ‘n bohaai op haar kop nie. Sy kinders was wel daar. Trots het hulle in die ry net agter hulle pa se kis gesit…

‘n Vriendin in my geboortedorp se pa was ‘n selferkende pedofiel.

Hy is tydens sy tronkstraf dood. Of laat ek eerder sê hy het soos Shaik vroeg uitgekom en regtig dood gegaan.

“Die rooi siek,” het die vroue in egte plattelandse styl gefluister.

Na vele verkragtings in die gevangenis het is hy uiteindlik met MIV gediagnoseer. Sy dogter het toe by die provinsiale hospitaal haar praktiese jaar medies gedoen. Sy moes altyd ‘n dag of twee afvat as sy haar geboeide pa in die hospitaalgange raakgeloop het.

By die begrafnis moes sy die bedankings doen.

Kop omhoog het sy net haar pa bedank vir die wonderlike pa wat hy vir haar, haar suster en hul broer was . . . en begin huil. Haar ma was nie daar om haar ‘n drukkie te gee nie.

Dit was toe dat daar ‘n stilte oor die begrafnisgangers neersak. Die man, afgesien van sy foute, was vir iemand ‘n wonderlike pa.

Die wêreld het van Michael Jackson die week afskeid geneem. Die vlakke van corny het gewissel op ‘n skaal van 5 tot 10.

“There was nothing strange about your daddy. It was strange what your daddy had to go through” was die wenstelling van die aand. Dink weer. Daddy was ‘n bietjie strange. Daddy het strange goed gedoen as hy nie konsert hou nie. En of Daddy regtig skuldig was aan kinderlollelery sal niemand weet nie. Maar vir iemand was hy Daddy.

Paris “just wanted to say, Daddy was the best father ever…” en het begin huil. Haar ma was nie daar om haar ‘n drukkie te gee nie. Sy het nie lus gehad vir die bohaai nie.

Die begrafnis was ‘n groot gedoente. Almal wou daar wees. Almal wou sien of sy kinders, sy gewese vrou en ander familie ook daar sal wees.