Daai dag in die tempel … illustrasies uit die kinderbybel

November 29, 2012 in Uncategorized

My ma sê mos Jesus het ge-overreact die dag toe hy daar in die tempel kom en sien hoe die mense handel dryf.

“Dobbel,” sê my Rintas

“Ha?”

“Hulle het gedobbel. Dit is hoekom dobbel ‘n sonde is.”

Ek is bietjie verward. Ek het geleer dat daar die dag handel gedryf is in die tempel. Toe kom Jesus daar in en is baie ongelukkig en jy sien net tafels waai en munte spat en duiwe en kwartels skarrel. Of so het my kinderbybelprentjies gewys. Daar keer die liewe Jesus die tafel om. Sy gesig steeds so vol deernis soos toe hy die kindertjies geroep het.

Nee, meen Rintas, dit was beslis dobbel. Haar kinderbybelprentjie het gewys hoe hy die poker-tafel omgooi en dis net kaarte en poker chips waar jy kyk. Daar is nog een man wat skelm ‘n sak munte onder sy mantel wegsteek.

Dit is stil in die kar. Ons het pas uit die kerk gekom en het net begin gesels oor hoe verskillende dominees verskillende boodskappe uit dieselfde teksvers sou kry. Die onthulling in bybelse wysheid het ons al baie keer alternatiewe bronne laat nadersleep om te kyk, wat meen watter navorser eintlik gesê was.

Soms gaan lees ek ‘n vers in question in my Duitse Lutherse bybel. Dalk is Duits ‘n nader vertaling aan wat die Hebreeuse geskrifte was.

Ek onthou iewers in die 80’s, toe daar ‘n nuwe vertaling uitkom, het ‘n klomp stoere bybellesers geglo die vertaling dra nie die boodskap reg nie. Veral nie die deel oor die kruisiging nie.

“Man, for all I care kan die bybel maar sê Jesus is met ‘n machine gun geskiet. Ek glo wat ek glo,” het my ma nog gesê

 “Hoe lyk sy gesig? Jesus s’n in jou tempelverhaal,” vra ek in die hoop om iets ooreenstemmend met my kinderbybel te vind.

“Nee ek weet nie. Ek het net gewonder hoekom gaan dobbel die mense nie by die hotel waar my pa gaan dobbel het nie.”

My ma, ‘n kannie dood onderwyseres in rekeningkunde (oftewel ekonomiese bestuurswetenskappe) meen daai dag in die tempel was soos enige ander dag in ‘n gewone bank of mark. Mense moes hul lewende hawe of vars produkte daar kom verkwansel om geld te kry om huisgoed – soos linne en olie en die goed wat hulle nie self kon maak nie – te koop. Baie gesonde ekonomie reeds lank voor geld die wêreld oorgeneem het.

 “Nou wat is die les in daai weergawe? Jy mag nie handel dryf nie…” daag Rintas my weer uit.

“My weergawe se les is darem jy mag nie dobbel nie.”

Ek antwoord nie…

Pophuisie is nie kinderspeletjies nie

Augustus 20, 2012 in Sonder kategorie

Nono bly by haar antie Lolla en antie Dilla. Hulle is haar ma se susters.

Nono is in die skool die dag toe ek by die huis ‘n draai gaan maak.

Die anties is aan’t timmer en kap om ‘n nuwe kamer vir Nono in te rig.

Die sitkamer word in twee gedeel en die twee anties rig die prefab-muur op met alles wat hulle het: geroeste spykers, ‘n bietjie modder, bakstene en bruin kleefband.

” ‘n Meisieskind moet haar eie kamer hê,” sê Dilla met die beswaardheid van ‘n ou vrou wie al meer as genoeg in die lewe ervaar het.

“En ons het nie manne nodig nie,” sê Lolla.

“Ons maak ons se eie goeterse reg. Manne is net hier vir probleme,” verklap Lolla ook haar ervaring.

Die 11-jarige Lolla en Dilla lyk ietwat bespotlik in hul eenderse Hana Montana-klere waar hulle staan en timmer aan die binnekant van die sink pophuis.

Dis skoolvakansie, so nou speel die driestuks vriendinne te lekker pophuisie elke dag. Maar Nono moet elke dag die ‘kind’ wees in ‘n verbeelwêreld is daar nie skoolvakansie nie.

Nono se ‘kamer muur’ val om en die twee lag uitbundig.

‘n Stuk van die ceilingboard wat as Nono se kamermuur moet dien, breek af en spat in duisend stukkies in die skemerte.

“O ho. Ons sal seker maar ‘n slootjie moet grawe en dan die plank daarin moet sit,” bereken Lolla ‘n nuwe plan.

“Kan ek maar koooooooom? Is die skool al uit,” gil Nono van om die hoek van die huis waar haar ‘skool’ is.

“Neeeeeeeeeee” skree die ‘anties’ saam.

‘n Graaf is intussen nadergesleep.

“Nou sien nê. Ek was getroud” sê Lolla hande in die sye.

“Nono se ma het by my gebly. Maar toe slaap sy met my man en kry vir Nono. Toe sit ek hulle altwee uit. Die skei is twee jaar gelede deur.”

Lolla vat die graaf oor en grou bietjie verder. Aan die kant van die sloot waar ek sit, kan ek my rustig uit die vriendinne se huissake hou.

“Ek en my boyfriend het by Lolla kom bly toe hy geretrench is,” hervat Dilla die storie.

“Toe is Nono se ma verlede jaar dood en Nono kom bly by ons.”

Dilla se gesigsuitdrukking verander na jammerkry.

“Maar toe het my boyfriend vir Nono gemosel-, gemosle-…” die gewraakte woord kom nie so lekker oor haar tong en sy klank dit saggies vir haar self.

“Molesteer!” sê sy en klap haar vingers.

“Toe sit ons hom uit. Sy saak kom reeds volgende maand voor. Shame arme Nono.”

Hulle grou nog dieper tot waar die sand donker-sag raak en lig die ceilingboard versigtig in die sloot.

Die muur staan. Nono het haar eie kamer.

“WIIIIEEEEEEEEEEEEE!” maak Lolla ‘n skoolsirene na. Nono kom om die hoek gedraf.

Maar net toe sy by haar nuwe kamer instap, val die muur weer om.

Die dag toe ek nie vir Mandela ontmoet het nie.

Julie 23, 2012 in Sonder kategorie

Almal deel hul vertellings van die dag toe hulle oud-Pres. Nelson Mandela ontmoet het. Saam met ‘n foto nogals.

Ek het hom nie ontmoet nie,maar vir my was dit ewe life chaging. Op 12 jaar oud.

Wel so is Mandela nou al amper vier jaar lank uit die tronk uit. Antie Mirriam, wat bompies (ysies) en masala verkoop, se stories oor die anti-Chris uit die see het opgedroog. Die groot opgewondenheid en ewe groot vrees in Roodepan het tot bedaring gekom en stadig maar seker het ouma Ferris begin vrede maak dat elke tweede man van donker gelaat, nie haar huis wil kom vat nie.

Toe kom daar ‘n nuwe storie al met die Roodepan-telegram langs.

Mandela staan vir president.

Daar was plakkate – ‘Houses and Jobs for all’

Daar was vergaderings – ‘Mense, onse tyd om te regeer het aangebreek’.

En nog meer stories – ‘Hulle gaan nou onse huise kom vat,”

Dit was in die tyd dat Mister Rosen se huiswinkeltjie oopgemaak het. Mister Rosen was in Tony Leon se party en mister Rosen het dit op homself geneem om die boodskap van verdoemenis te versprei. Nogal subtiel op sulke pampiertjies wat hy sy winkel se specials geadverteer het.

Rosen specials

DP for change Meety hamper R20

Chicken livers, Chicken chunks, 1 paket meety bones, 1 paket mins

DP Times hamper R15

1xbaked beans

1xpeas

1xblikkie fish

1xblikkie mix veg

Fresh frute en vegies by Rosen (me) for cheap.

Stock now for dark days

 En eendag kom die nuus. Mandela kom Roodepan toe.

Saterdag by die Roodepan Sekondêre skool (geel gyms soos dit in die Roodepan-mond bekend staan)

Ek het my ma gevra of ek maar ook kan gaan kyk, want ek wil graag die man sien wat die nuus elke aand oorheers.

“Nee. Ek soek jou nie daar naby nie,” het my ma met groot oë gesê.

“Dit is nie ons besigheid nie en nog minder kinders s’n.”

My 12-jarige brein kon dit nie begryp nie. Sy laat my dan elke aand voor die tv sit om die politieke gebeure op die nuus te kyk, “… want dis geskiedenis die.”

Wel, as iets nie my besigheid is nie, MAAK ek dit eenvoudig my besigheid.

Die spesifieke dag van Mandela se besoek, reken ek: As hy Geel gyms toe gaan, moet hy verby ons straat ry. Sy roete was reeds voor mister Rosen se huiswinkel verby.

Ek gaan op die hoek staan en vir hom kyk as hy verby kom.

Ek het my suster – toe maar net vier jaar oud – die dood voor die oë gesweer dat sy nie my ma moet vertel nie,want sien op daai stadium moes my suster mos oral saam trens.

Ons het reeds vroegmiddag op die straathoek gaan wag, maar toe sê iemand hy kom eers 16:00. Toe het ons maar in die vyeboom agter ons huis gaan wag – netnou kom hy vroeg verby.

So kort voor 16:00 is ons terug straathoek toe. Steeds niks.

En nes ons wil omdraai, kom daar mense in die straat afgehol oppad na die skool waar die byeenkoms plaasvind. Hulle skree en sing en dans. Daar was ‘n kar tussen die skare mense. EK kon net ‘n grys kolletjie van die kar uitmaak.

“Nya is dit hy?” wou my suster weet.

Ek was onseker.

Ons is terug na ons vyeboom waar ons Mandela (of so dink ons) se stem ver oor luidsprekers effens kon hoor.

Sondag in die kerk kom die afkondiging. Miesies Hopley is dood. Sy is mister Rosen se buurvrou en toe Mandela se mense in die straat afkom met die lawaai het sy ‘n hartaanval gehad.

Intussen het Mandela se naam verander. Hy’s nou Madiba.

Daar’s stories. Al met die Roodepan-telegram langs

Daar’s plakkate wat steeds huise en werk beloof.

En mister Rosen se specials adverteer nou ook ANC

 

“Bloemfontein se ordentlike kleurlinge…”

Julie 2, 2012 in Sonder kategorie

Ek het lanklaas geskryf. Of laat ek eerder sê ek het lanklaas HIER geskryf.

Maar vandag MOET ek. Ek het hulp en lyding (nee die leiding nie) in my nuwe beproewing nodig.

EK het nie te lank terug die wilde wakker Johannesburg verruil vir Bloemfontein.

Ja. Ek het.

Na al die vorige ervarings van vasgemesselde kleurgrense het ek tog besluit om te kom kyk hoe werk die smeltpot van transformasie (soos wat Bloem deesdae gedoop word) nou weer.

Enkele insidente het die laaste ses maande afgespeel. Niks noemenswaardig nie. Net goed soos ‘n eiendomsagentskap wat vir my hoogswanger vriendin en haar man sê: “Jammer, ons kan nie die woonstel aan kleurlinge verhuur nie.” Dit na hulle hul deposito en ‘n maand vooruit betaal het en al hul sake onder hul Afrikaanse van telefonies afgehandel het.

O ja dan was daar ook die keer toe jong mans in ‘n kar langs my en ‘n vriendin stop een aand, die ruit afdraai en duidelik wil flirt. Toe hulle so mooi kyk, sê die een: “ag toemaar. Dis k@***rs.”

Ek het maar aanvaar hulle praat nie van my nie, al was daar geen ander siel by die verkeerslig nie. Want sien, ‘n mens word slegs beledig as jy die belediging jou eie maak.

So sit ek en twee vriende Saterdagaand in ‘n kuierplek wat ‘n lekker mix van Afrikaans, Euro en Kwaito musiek speel. Ons het net ons eerste ronde drankies bestel toe ‘n 40 going 60 reguit na ons aangestap kom.

Sy lyk soos die rukkie-geskei-busy-reclaiming-my-life-vrou met gebleikte tande en ‘n oranje Karibiese-gloed wat gewoonlik uit ‘n blikkie kom.

 

“Haai, julle kom van Heidedal nê,”  (Heidedal is die gebied Bloemfontein waar 90% van die bruinmense hier gegroepeer is.)

 

Ek draai onmiddelik om, want ek vererg my vir die vrou toe net daar.

 

Maatjie langs my stamp my knie, wat ek toe ek weet beteken hy het ‘n plan. Speel maar saam en kyk waar eindig dit.

 

“Nee, ons is nie van hier rond,” antwoord hy en sonder om op hom te laat wag gee hy so ‘n kort verklaring dat ons ook nie van die Kaap of Johannesburg is nie.

 

“O” sê die vrou. Met die roep sy haar vriendin.

 

“Liefie, kyk. Die is nou Bloem se ordentlike kleurlinge”, seg sy en besluit om my wang te vryf.

 

My burger-aandete stoot onmiddellik op.

 

Die maatjie (MannetjieWoef is ‘n bevoeglike naamwoord wat ek aan kan dink vir haar) kom nader.

 

“Haai, kyk hoe ordentlik is hulle.”

 

Die desperate housewife: “Ons is tog so lief vir hulle, nê liefie.”

 

MannetjieWoef: ” Polokwane het bitter min kleurlinge ” (en sy hou haar vingers soos wanneer jy sou maak as jy se voilla!). “Ja bitter min, en ek is so lief vir julle”.

 

My vriend het my lankal in die steek gelaat en net daar sy geselskap na ons vriendin (wat op die verste hoek sit) gevestig. Dus is dit net ek.

 

Ek moes my whisky down (om my burger binne te hou).

 

Desperate Housewife het nog met haar perfek gemanikuurde naels ‘n paar sekondes lank op my wang gevryf.

 

Ek wou daai kloue van haar arms afskeur.

Gedeelde swaarkry is halwe swaarkry

Februarie 1, 2011 in Sonder kategorie

Verlede week, amper maand-end en al die Roodepanners wag paydag in. Maandagaand by my ma se huis is ‘n klop aan die deur.

“Ma sê gedeelte swaarkry is halwe swaarkry,” sê die kind by die deur.

Kettie in die een hand en ‘n bord pap en blikkievis in die ander.

Heinie van antie Bekka was duidelik nog aan die speel toe sy ma hom roep om die bord swaarkry om te bring.

Dis kort voor einde van die maand en antie Bekka het twee tamaties gevra vir die pot. Later kom ‘n skoongewaste Heinie om ‘n paar snytjies brood te vra vir more se skool in ruil vir ‘n koppie jam, want antie Bekka het ‘n groot blik jam met haar laaste sente gekoop.

Vroeër het antie Josephine vier vetkoeke gestuur. In Roodepan is vetkoek stapelvoedsel. Al dans die kat op die stoof, sal daar altyd koekmeel, yeast en olie in ‘n Roodepan-huis wees. In ruil hiervoor stuur my ma ‘n stukkie lamslewer vir antie Josephine, want “dis nou al wat daar is, maar maand end kan ons weer blinkbek eet”

Ant Soes se meisiekind het kom stukkie botter vra, want hulle supper maar brood en eiers vannaand.

Ant Margie stuur aartappels uit haar huismarkie. “Die goed loop uit, want die mense het nie geld om aartappels te koop nie.”

Meidjie van daar onder het ‘n ‘please call me’ gestuur. Toe my ma bel vra sy het my ma nie R50 vir haar nie, want haar koopkrag is klaar en die kind het nie melk nie. Sy sal regmaak as die kind se pa die papgeld in betaal het Vrydag.

Baie mense kan redeneer dit is slegte finansiële bestuur. Maar in ‘n gemeenskap soos Roodepan is dit dié rondlenery wat vriendskappe vleg.

Roodepanmense kan nie kwaad bly vir mekaar nie, want iewers sal jou eie swaarkry jou inhaal. Die wie nie swaarkry nie, of wil weghol van dit, het lankal dorp toe getrek.

Nou ek sê nie ek het swaar en arm grootgeword nie. Wat ek wel sê is dat in woonbuurte soos die, is ryk en arm en minder arm kon mekaar nog altyd in die oë kyk. Al is daar soms ‘n agteraf geskinder as Russels die nuwe 6-stuk sitkamerstel kom aflaai.

Dit is die swaarkry wat maak dat huismiesies en buurvrou en huishulp saam in die sonnetjie op die stoep kan sit en uit die Shoprite-pamflette kan dagdroom van wat hulle alles paydag gaan koop.

Op paydag kom daai einste Heinie om, steeds met ‘n kettie in die hand, maar die keer met ‘n bord met regte kookkos. “Ma sê gedeelde vreugde is dubbele vreugde”.

Ek praat die taal… (Ngikhuluma izilimi…)

Junie 8, 2010 in Sonder kategorie

Dis soos ‘n baba wat leer praat.

Eers vorm die vokale in jou mond, dan sit jy ‘n konsonant of twee vooraan die vokaal en kry so per ongeluk ‘n woord uit. Later is jy braaf genoeg om ‘n regte woord te sê en jy kan wys na uSisi, uMama, uBaba en uButhi.

Maar dit is nog net woorde.

In my vierde Zoeloe-les heers daar ‘n vreemde opgewondenheid. Almal het nou klaar mekaar uitgeruik en nader geskuif. Belangriker nog: Almal kan hulself voorstel en van hulself vertel.

Dit is amper asof almal hul identiteit tussen die mede aspirant-Zoeloes ontdek het.

In die klas is ek. ‘n Bruin vrou uit afrikaanse Kimberley waar my ma my verwysingsraamwerk kleurblind probeer hou het. Maar die vroeë negentigs het die prentjies vir my in skakerings van ‘ons’ en ‘hulle’ en ‘witmense’ ingekleur. Toe ek my hoërskool by die afrikaanse Hoërskool Diamantveld begin, was die meulsteun ‘boerboetie’ outmaties om ons gehang. Darem nie vir lank nie (want daai navy blazer was ‘n status simbool).

In die klas is daar Natalie met haar Afrikadonker vel oor wie ek baie verbaas was. O. Sy sal seker baie vinnig leer, het die voorveronderstelling tot my skaamte opgeduik. Natalie is van Kongo. Jammer Natalie.

Neil, van Kaapstad, spog met vier tale op sy tong. Gayle (‘n universele gay-taal) is een van hulle.

Emily is ‘n Franssprekende Japanees. Haar navrae in Engels in so gebrekkig soos haar kennis van Zoeloe. Maar die hoop beskaam nie.

Iris is franssprekend Frans en die onnie moet af en toe in Frans oorslaan om iets vir haar te verduidelik.

Jackie en Vanessa, twee Midrandse vriendinne is baie ernstig oor die lesse. Vanessa wil deel wees van die meer as 30% mense in Suid-Afrika wat Zoeloe praat.

Jackie, met haar swart aangenome kinders het ‘n dieper, mooier storie:

“In winkels praat die mense met hulle Zoeloe. Dan staar die kinders net, want hulle het engelsprekend grootgeword. Ek het eendag ‘n vrou byna te lyf gegaan toe sy my beskuldig oor hulle nie Zoeloe kan praat nie.”

Chris, Colleen en Sheree kom almal van Amerika. Hul amerikaanse ‘twang’ slaan erg deur, maar hulle lag lekker daaroor.

Waldimar, Marida, Johannes en André is, soos ek, Afrikaanse joernaliste wat te goed besef dat taal dikwels in die pad van ‘n goeie storie staan.

“Sanibona,” sê die onnie toe hy by die klas instap.

“Sawubona, unjani?” kom dit in ‘n koor van die studente.

My naelstring is in Kimberley…regtig

Mei 18, 2010 in Sonder kategorie

Ek het begin transformeer. Eintlik is dit 25 jaar te laat, maar tog.

Binnekort, nee gouer as binnekort, gaan ek nie meer met ‘n bek vol tande sit nie as iemand my vra: “hoe gaan dit?”

In Zoeloe.

Kyk, Rytjie se Zoeloe-kennis het gestrek tot daai een mensie daar in Diepkloof wat ‘n liefde vir rooi bra’s het. Selfs dan het ons ons kwart brood en polony en atchar (polony kota) in engels geëet en in engels in sirkels gepraat voor die vrypoging aangewend is.

Nou loop ek trots en sê vir almal, met en sonder kleur: “Sawubona Sisi” of “heita Mfwetu”.

“Unjani” kom die antwoord die laaste week glimlaggend terug.

Vermakerig antwoord ek “Ngiyaphila, wena Unjani?”

Dit is lekker as uMama by Pick ‘n Pay se till vir my sê “Yebo, we ngane yami”

Want skielik is ek ook ‘n kind van haar. Ek praat haar taal.

Die eerste les sit ek daar vol verwagting om die taal te praat wat ek glo deure vir my kan oopmaak.

Twee lesse later het ek meer geleer as net om jou, haar/ hom en hulle te groet. Ek het meer wys geraak as om net myself voor te stel.

Nee, ek het iets anders geleer. Ek kan nog nie sê wat nie, maar dit is beslis iets mooi.

Byvoorbeeld sal iemand vir jou vra: ‘Unjani?’ is die mees algemeenste antwoord ‘Ngiyaphila’.

Letterlik vertaal beteken dit ‘ek leef’. Hoe wonderlik is dit nie om te kan sê jy leef as iemand vra hoe gaan dit nie?

Nog een is dat as jy uMama of uBaba aanspreek, praat jy nie net met haar of hom nie. Nee. Jy praat in die meervoudsvorm, want jy spreek terselfdertyd jou ancestors ook aan.

Ek sit daar en dink, hoe pragtig mooi is dit dan nie. G’n wonder uMama by Pick ‘n Pay het my as haar kind aanvaar toe ek vir haar sê Sanibona.

Die week gebeur dit weer.

Ek moet leer hoe om te sê waar ek woon: – Ngihlala eGoli

En waar ek vandaan kom: – kodwa inkaba yami eKimberley.

“Kodwa inkaba yami…” soos die tutor verduidelik is baie diep plattelands. Maar dit is toe juis wat dit vir my so mooi maak.

Letterlik vertaal, beteken dit ‘die plek waar my naelstring begrawe is’.

Die mooigeit van die sentimentele ding laat my toe so ampertjies huil, want in my pa se hangkas, in twee glas Purity bottels, is twee droë stuk velletjies aan plastiek pennetjies. Dit is ek en my suster se naelstringoorblyfsels wat hy besluit het om te hou. En so grillerig soos wat dit klink, vergewe ek hom maar, want inkaba yami eKimberley.

Ballade van ‘n gangster

April 3, 2010 in Sonder kategorie

Mary is pregnant

 

Jy moet worry.

Jy’s met’ ie lyf.

Wanne’ ga’t jy jou ma sê?

En jy, wie’sie kind se pa?

Ek hoop ma for your sake

dissie ’n jongetjie nie.

Jy weet wat word van hulle.

Jesaja 9:5 (Mary se smart)

 

Uit my is ’n kind gebore

Vir my is die kind gegee.

Wat sal sy naam wees?

Saint, King, Master?

En hy sal rule

innie ghetto’s se strate.

Elke sale byrie hoek

is nog ‘n spyker in sy kis.

Judas Iskariot

 

Een van julle n@@iers onder ons

Sal my nog double cross.

Sal so ewe met my operate.

Nog uit dieselle bottel suip.

Net so, draai jy vir die Gattas¹ uit.

Staan nou op, jou meid.

Territorial Supper – die laaste keer

Die is my getjapte body,

geskiet en gesteek vol gate.

Dit was my bloed,

wat geloop het in die strate.

Ma’ vreet en wees vrolik,

want ek provide vir julle.

Eli, Eli, lemá sabagtani – In Memoriam

My got, my God

waar was jy?

Toe daai anne’ merchant se atjoesters²

die Gattas na my jaart toe bring.

Hulle het my hoeka gejaloers.

Oorlat ekke groter territory het.

Oorlat ekke die King is.

Oorlat my disciples beter besigheid doen.

Maar my manskap gaan aan met my werk,

want hulle weet ek kom t’rug.

¹ Polisie

² Makkers, bendelende

Ballade van ‘n gangster

April 3, 2010 in Sonder kategorie

Mary is pregnant

 

Jy moet worry.

Jy’s met’ ie lyf.

Wanne’ ga’t jy jou ma sê?

En jy, wie’sie kind se pa?

Ek hoop ma for your sake

dissie ’n jongetjie nie.

Jy weet wat word van hulle.

Jesaja 9:5 (Mary se smart)

 

Uit my is ’n kind gebore

Vir my is die kind gegee.

Wat sal sy naam wees?

Saint, King, Master?

En hy sal rule

innie ghetto’s se strate.

Elke sale byrie hoek

is nog ‘n spyker in sy kis.

Judas Iskariot

 

Een van julle n@@iers onder ons

Sal my nog double cross.

Sal so ewe met my operate.

Nog uit dieselle bottel suip.

Net so, draai jy vir die Gattas¹ uit.

Staan nou op, jou meid.

Territorial Supper – die laaste keer

Die is my getjapte body,

geskiet en gesteek vol gate.

Dit was my bloed,

wat geloop het in die strate.

Ma’ vreet en wees vrolik,

want ek provide vir julle.

Eli, Eli, lemá sabagtani – In Memoriam

My got, my God

waar was jy?

Toe daai anne’ merchant se atjoesters²

die Gattas na my jaart toe bring.

Hulle het my hoeka gejaloers.

Oorlat ekke groter territory het.

Oorlat ekke die King is.

Oorlat my disciples beter besigheid doen.

Maar my manskap gaan aan met my werk,

want hulle weet ek kom t’rug.

¹ Polisie

² Makkers, bendelende

Vyf brode en ‘n blik vis – Die verhaal van ‘n straatkind

April 2, 2010 in Sonder kategorie

“Hulle sê die Jirre was vandag opgehang. Mos daar op die kruis. Nou wat ek nie verstaan nie, is hoekom het hy dan nie homself losgemaak nie. Hulle sê dan die Jirre kan alles doen.”

“Dissie die Jirre nie. Dit was Djesis. Die Jirre se bambino.”

Die twee seuns sit reg langs Shoprite se hek waar die aflaaitrokke altyd staan.  As die dorp so stil is soos vandag, is daar altyd ‘n kans dat daar iets van die trokke afval of breek. Dan moet jy jou gryp ken.

Vir ‘n Vrydag is die middestad besonder stil. Dit is nou juis hieroor wat die twee sit en bespiegel.

“Nou wat dan van Josef? My ma sê my pa se naam was ook Josef, maar hy het gaan seep koop,”  sê-vra die een met ‘n langbroek wat eens rooi was. Dit is nou ‘n harde bruin en het ook al meer gate as lap.

“Josef was nie vererig Djesis se pa nie. Hulle moet ma net so gesê’ it want ‘n kind moet ‘n pa het. Maar dit was die Jirre wat vir Djesis in Maria gesit’ it,” vertel die een in die denim broek en onpaar tekkies.

“Kyk, soos my ma sê die tokolos het my in haar maag gesit. Toe djaag my pa ons weg van sy shantie af. Toe gaan bly ons by ‘n anner man,maar hy het my mos altyd geslaan, en toe loop ek weg.”

‘n Kar met kerkmense stop by die verkeerslig op die die hoek en die twee spring op. Kerkmense is nog vol van die gees. Hulle gee altyd.

‘n Sekonde lank is daar oogkontak en ‘n vuil hand wat wuif, maar die man agter die stuurwiel draai die venster op. Die vrou langs hom lyk of sy gehuil het. Agter sit ‘n meisiekind met ‘n pop. Haar ma se handsak is langs haar en die venster is oop.

As hy mooi time kan hy die handsak gryp as die robot net oopmaak.

Dan lag die meisiekind met hom en die kar trek weg.

” Jy check daai keer toe ek by Tannie Rebecca se kinderhuis gebly het?”

Die rooibroek knik en die twee kry weer hul sit by die hek. Al is Shoprite oop, is daar is nie ‘n trok in sig nie. Net die reuk van hot cross buns hang dik in die lug.

 “Nou daai tyd toe kom daar so ‘n pastoor. Toe vertel hy vir ons van hoelat Djesis moet gebandiet het. Mos vir die dat hulle hom opgehang het. Hulle het hom eers moeg gemaak, toe gee hulle hom nog asyn ok nog om te drink.”

Die tokolos-kind spoeg in straal deur die lug.

Die dag gaan stadig as die verkeer so stil is. Dit is amper een uur toe die twee net genoeg het vir ‘n klein blik vis.

Hulle wag tot net amper amper een uur  wanneer Shoprite toe maak voor hulle ingaan, want die mense kyk hulle altyd snaaks aan.

By die till kom vra ‘n man of hulle vriende het vir wie hulle die onverkoopte hot cross buns kan gee.

Want daar het meer as twaalfdosyn oorgebly.