‘n Briefie vir my dierbare klein Boet

Januarie 10, 2012 in Sonder kategorie

 

Jy was nog altyd ons spesiale klein boetie. Van die begin af was jy anders, maar baie spesiaal. Jy het baie gespot en verkleinering verduur, maar nooit ter eniger tyd het die glimlag van jou gesig af verdwyn nie. Jy kon almal altyd vierkantig in die oë kyk en met trots jou man staan. Daar was baie min goed in die lewe wat jou kon onder kry.  Niks was ooit te veel moeite of n las vir jou nie. Enige taak is met opgewondenheid en entoesiame aangepak. Tou opgooi was nie deel van jou woordeskat nie.

 

Jy het skaars jou tiener jare in gestap, toe die ongeluk jou lewe drasties verander het. Die dokters het jou heup gelas met n ysterplaat en moes jy weer leer loop. Dit het egter nie jou vuur en gees gedemp nie. Inteendeel baie dae dink ek het dit van jou n sterker mens gemaak. Baie sterker en meer vasberade as enige mense wat ek ken. Die wil en opgewondenheid , om jou toekoms te ondersoek en die meeste uit die lewe te haal, het uit jou gestraal. Jy het ongelooflike baie stuikelblokke op jou herstelpad oorkom, maar nooit ophou probeer nie. Jy het weer fiets gery, ge-ysskaats en die lewe saam met jou vriende geniet.. My seuns het altyd opgekyk na jou. Hulle bewondering vir jou deursettings vermoë en liefde vir die lewe het baie besprekings uit gelok.

 

Stelselmatig het die onbekende jou bekruip sonder dat ons geweet het wat dit is en waar dit vandaan kom. Na baie besoeke aan dokters en spesialiste was die bevinding: ‘n Virus wat die rugmurg aftakel. Ons almal was stomgeslaan. Op die verduidelikings van die mediese kenners was ons ingelig dat jy die virus in die hospitaal tydens een van jou operasies opgedoen het. Daar is nie veel wat hulle kan doen nie. Elkeen in ons gesin het deur n warboel van emosies geworste. Pappa en moeder het van dokter tot dokter gegaan, op soek na hulp en antwoorde.   Soos wat dit maar in die mediese wetenskap gaan, het elke ou sy standpunt probeer maak en pille en nogmaals pille voorgeskryf.

 

Die Virus het egter oorhand gekry en jou stelselmatig begin aftakel. Ons het magteloos gesit en toekyk hoe jy aanvanklik jaar na jaar verswak. Toe dit op die stadium kom waar jy permanent in ‘n rolstoel jou lewe moet deurbring, was almal kwaad behalwe jy. Steeds het die vriendelike groet , die geselsies en die bree glimlag my elke keer op my kniee gedwing. Ek het Jesus gesmeek om jou gesond te maak, jou nog ‘n kansie te gee, al was dit net om weer te kon loop. Ons het gekla en gekerm, jy nooit. Steeds was daar nie veel wat jou kon onder kry nie. Jy het met die geloof van n kind aanvaar Jesus het ‘n ander doel met jou. Jy het hierdie “pakkie” van jou gedra met ‘n glimlag en vonkel in jou oë.

 

Vandag amper 30 jaar na jou ongeluk, het alles sy tol ge-eis. Jy herken ons nie meer nie, lag nie meer nie en die geveg met die onbekende het jou vuurtjie verflou. My liefste boetie, soms wonder ek of ek genoeg vir jou gesê en gewys het hoe lief ek vir jou is. Hoe baie belangrike deel jy van my / ons lewens is. Jy het ons almal geleer om dankbaar te wees vir elke oggend wat ons die son sien opkom. Om te waardeer vir wat ons het en met andere te deel. My grootste les wat ek by jou geleer het was om elke oggend as ek wakker word te kan glimlag en sê: “ Bring it on world, I don’t fear!”

 

Ek bid elke dag, dat Jesus jou pyn en lyding sal weg vat. Hy alleen weet hoeveel Hy na jou kant toe gestuur het en jy het Hom nooit teleurgestel nie. Ek bid dat Hy sy genade oor jou sal uitstort en jou die sonskyn op jou gesiggie sal gee wat jy so baie verdien. Jou donkerkop, die sprankelende donker oë en die bree glimlag sal ewig by my bly.

 

Ek LIEF jou baie

 

Ekke

8 antwoorde op ‘n Briefie vir my dierbare klein Boet

  1. louisna het gesê op Januarie 10, 2012

    Pragige stuk, meesterlik uit die hart geskryf.

  2. 😉 .. thx!

  3. Ai mens…. sterkte vir julle xx

  4. Ag hel!

    Sterkte!

  5. erikavz het gesê op Januarie 11, 2012

    Sterkte vir jou en jou familie.

  6. Sjoe, jou liefde vir jou boetie spring sommer so uit na ‘n mens! Baie sterkte vir julle.

  7. Dankie julle. Hy is vandag weer beter. Die smile wil-wil deurkom 🙂

  8. loudavisi het gesê op Maart 27, 2012

    Ek kom nou eers hier.
    Mag God julle krag wees!
    xx

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.