Jy blaai in die argief vir 2009 Julie.

Ek is getik

Julie 30, 2009 in Sonder kategorie

Vier wit mure, ‘n venster, ‘n lig, ‘n lessenaar en ‘n bed kyk my verveeld aan. Vier dik handboeke pleit iewers onhoorbaar, verborge in die lessenaar. ‘n Vinger, in ‘n stel van vyf, tik tik tik..tik tik tik. Ek is getik.

Goddelike goddeloses

Julie 29, 2009 in Sonder kategorie

As ek kon sou ek dit seker nie verander het nie. Dis soms net so moeilik om te kies. Ek wil ontneem word van alle keuses en dit aan iemand oorhandig waar ek van ‘n afstand magteloos kan toekyk en geen verantwoordelikheid hoef te dra nie.  Wie het die god geskep wat almal oordeel en hoekom aanbid ons hom? Daar waar die materialistiese sadistiese afgod sweef ,ruk hy sy lewenslange maatstaf uit.Daar is niks so siek soos mense wat neerkyk op ander nie en tog is ons almal skuldig aan die siekspul. Hoeveel trappies het jou troon, hoe lyk die landskap wat daar ver onder jou strek? Ek het al gesien dat die goddelike goddeloses die aller-magtigste neerslag tref. Pas op. As jy te ver na onder koekeloer is die kans goed dat jy self gaan neer moer.

Salf jou onderbroek

Julie 27, 2009 in Sonder kategorie

Ek vrees dat hy daardie donker 42minute eendag sal oopvlek. Die skandaal. Die vernedering. Die pyn. Hoe verlig was ek nie toe my naam nie verskyn het in sy biogafie nie, alhoewel menigte mense vermoed ek is (K). Ek is tans besig om ‘n boek te skryf oor ek en (S) se riool rendez-vouz, 1998 Aardklop, om daai 42minute te verwerk. As sy stem hom vaal kan hy gerus ‘n uitgewerswese begin vir al sy minaresse se bieg-bundels. Toe ek die dag uitvind van sy gefuifery met Van der Fuifer was daar steeds hoop op die kennel wat hy my beloof het, soos vir al sy ander tewe. (S) se nuwe minares moet dalk die uiters moderne raad van Gretha Wiid volg, en sy onderbroeke skelm bedwelm met sonneblomolie. Die salwingsproses reinig glo mans wat met pornografiese gedagtes besete is.

Soos riool sonder rot is ek sonder steve.

Smoorverlief

Julie 23, 2009 in Sonder kategorie

My immer trillende geesdrif wil nie bedaar nie! Ek was lank terug so opgewonde- uitstekende nuus hierdie hele week al ontvang. Eerstens, is al my verwagtinge oortref. Die onproduktiewe siel wat ek is het toe beter gevaar as wat ek ooit sou kon dink en was toe al die tyd nie so onproduktief nie. Met die einde van die jaar in sig sal ek wel weer op een of ander wonderbaarlike manier daar uitkom. Hopenlik tevrede met genoeg kritiek om te absorbeer om verbetering te maak. Ja, dis weer tyd vir halfjaar-resolusies-nuwe-ambisies. Hulle is gelukkig makliker om te bereik.

1.Ek weet nou al dat ek nie voor die einde van die jaar gaan ophou rook nie- resolusie hou op ophou probeer. Probeer Aspen- goedkoper as marlborows (alhoewel dit spoedig gaan veroorsaak dat ek nie gou weer kleingeld gaan aftel vir sigarette nie.)

2.Spaar baie dringend vir Desember. BAIE DRINGEND.

Twee uitstekende resolusies!                                                    As alles in die lewe tog net so eenvoudig was soos ek.
Oppi-Koppi is om die draai (smoorverlief)!!!!!!! Waarvan die hart van vol is loop die woord van oor…

Die Onsettendes Ons in my lewe

Julie 14, 2009 in Sonder kategorie

Satan en sy trawante dans met ‘n pas op my skouer. Ek is uiters onproduktief, onkreatief, ongemotiveerd en binnekort in ‘n ongelooflike groot penarie as gevolg van my ongeloof in myself.
 
Potensiaal het ‘n vervaldatum.

Werk het ‘n sperdatum.

Ek het ‘n probleem.

on’s het ‘n samesweerdery agter my rug en my drome is tydelik ‘n klug.

Verlore Paradys

Julie 13, 2009 in Sonder kategorie

Die hol veselglas-vergroeisel is erected as ‘n simbool van vroulikheid in Orania. Ek kyk op na die koeksistermonument wat neerkyk op my en wonder waar kom ons hulp vandaan?  Met 10 ora in my hand stap ek later weg van die petrolstasie en wonder watse doel dien die unieke geldeenheid in die plekkie wat so hard probeer om hulself af te sonder om ‘n klein paradys te skep.    

In alle opsigte

Julie 7, 2009 in Sonder kategorie

Kan iemand mens in elke opsig vervul? Ek het reeds die gevolge gedra daarvan om geen verwagtinge in vorige verhoudings te koester nie. Die resultaat sou geen teleurstelling wees nie. WRONG. Dit was geen vooruitsig.

Ek het my uitkyk totaal verander. Die vereistes is gestel en as geen voldoen nie sal geen deug nie. Proefmaramot 1 het wel my hok betree. Oulike dingetjie. Fraai gesiggie. Verstand. Nou le die gediertetjie en hiberneer onder saagsels. Fluffy is cute. Hy byt nie. Hy praat nie. Hy maak sy ogies toe as ek hom soen. Die ding met Fluffy is dat hy uiters skaam is en maar selde die lewe buite die hokkie sal aanpak.

Hy weet ons verskil. Hy probeer. Hy sit alles in. Daar is niks wat hy nie vir my sal doen nie en tog doen hy dit net nie vir my nie. Die gekriewel binne my het hy vanaand perongeluk gekrap. “Kan jy nie net ‘n bietjie spontaan wees nie?” Dis vreemd hoe dit te veel gevra is. Spontaniteit kan mens nie afdwing nie en deur dit te vra gaan dit nie spontaan van hom kom nie. Ons het albei bietjie tranerig geraak. Ek omdat dit rerig vir my belangrik is, en hy omdat dit vir hom onmoontlik is.

Ek haat dit om alles gereguleerd en met roetine uit te voer. Eks impulsief, leef my in die oomblik in en uiters passievol. Aanraking is skraal. Klinies. Beperk. Soms voel ek of ek uitgestrek op ‘n metaalblad le wanneer hy my soos ‘n dokter met handskoentjies aanpak. Ek glo nie in ‘best of both’ broodjies nie. Jy moet kies-wit of bruin. ‘n Plesierige broodjie of ‘n gesonde broodjie. Eks gelukkig, ek het ‘n gesonde brood met verstand. Soms begeer ek net ‘n snytjie witbrood. Net ‘n snytjie.

“Passion is antithetical to stability an dies in the face of routine.”- Susan Squire