Ou dier

Mei 4, 2009 in Sonder kategorie

Haar geweekte wange hang pap terwyl sy deur die foto-album blaai. Van die foto’s is verrineweer en klam groen muf kleef aan die blaaie, terwyl sy hulle een vir een afskeer. Die album is deur diepwater meegesleur toe die geyser ñ paar maande terug gebars het in die stoorkamer. Hoe kan sy op haar ouderdom nog jaloers wees op ñ babadogtertjie? Die ondeunde groen oë en swart krul bos met die pruil lippies, staar uitdagend na haar terug. Is dit die potensiaal wat sy toe beskik het, of die manier hoe haar ouers toe nog na haar ondeunde oë gekyk het?

Sy was vyftien toe sy die album nog so benader het. Vandag lê hy iewers in ñ boks en disintegreer in die stoorkamer. Op sewe-en-dertig het sy, die kluisenaar, besef dis beter om sinies te dink as om naïef te wees. Die enigste menseverhouding wat sy op die stadium gebou het was met die opsigter, meneer Badenhorst. Iewers agter in die bedrukte woonstelkamertjie kan jy hoor hoe sy vir die opsigter preek: “ñ bitter pil, gaan lees maar self Openbaring, daar lê die verklaring.” Hy neem ñ trek van sy Dunhill filter en trek die woonstelkamer se deur toe. Terwyl hy wegloop kan hy hoor hoe sy vir haarself prewel. “ñ Ou gewoonte, seker die eensaamheid” redeneer hy met homself. Soos ñ ou hond wat vrek, het sy gesterf. Geen merkwaardige merk gelos nie, behalwe die bloedplas op vlak 1 nie. Die wederkoms het nie gou genoeg na haar sin gekom nie. Drie lange jare het sy met haarself geworstel en Openbaring probeer ontsyfer, voordat sy neergeslinger het. Eers by Denmar in, toe by die woonstel uit.

Hy het nie opgelet hoe sy by die dag weg kwyn nie. Sy was ñ lojale vriendin kan jy seker maar sê, maar haar verminkte gees het how dikwels gepla. Om nie te praat van sy eens smettelose stoepie nie, hy sal die meid moet gaan roep om daar te gaan skrop. “Arme dier, mens voel die leemte van haar teenwoordigheid aan al is dit nou nie haar dierbare persoonlikheid wat hy mis nie.”
 
Die kruietuintjie voor op haar stoep wag nog geduldig vir die pietersielie om te ontkiem. Dit, en die volgepropte kaste met blikkies en kerse was alles deel van haar voorbereiding op die anti-chris… want jy sien die wederkoms is hier. Die merk van die dier sou sy nooit op haar polse durf nie, daarvoor het sy heeltemal teveel integriteit gehad. Al sou sy nie haarself ñ voorbeeldige Christen noem nie. Die gemeenskap van die heiliges, los sy vir die heilges. As hulle haar wil uitsluit uit die uitverkore volk, moet hulle maar sonder haar oor die weg kom. Buitendien het sy nog nooit een van die heilige wesens teegekom nie.

Sy is meteens weer in die kerk, die gemeenskap van die heiliges. Sy hoor die gepoletoerde geelhout banke kraak, en voel hoe hang die skadu van ‘n kers oor haar. Nog nooit van tevore was sy so naby aan die altaar om om die kers te ruik brand nie. Dis ‘n nuwe reuk. Sy besef skielik dat sy 20 jaar gelede laas haar voete in die kerk gesit het, en dat sy hulle vandag hier neerlê. Die kerklok weergalm teen die koel blaaie van die swart kis, eensaam vasgekluister in die duister.”My Heer, waarom het U my verlaat?”

1 antwoord op Ou dier

  1. JWinAus het gesê op Junie 25, 2009

    Dit raak stil in my terwyl ek hierdie lees. Mooi geskryf. Maar baie hartseer …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.