Blyspel in Bruin

September 27, 2017 in Poësie

Stofskopmaats, skommelmaatjies
in al die skakerings van bruin
bevolk die skoppelmaai wêreld
woza futhi udlale!

‘n mini-kunstefees ontvou

Koljanderdansers bok uitbundig so deur die bos
woerts onder die gemmer en kaneel arm-bogie
skommelmaatjies sing in nuwe kombuistaal
die speelgrondlied van ‘n tevrede generasie

‘n plaas word gebou

waar die bande halfgeplant uit die stof opstaan,
vorm hulle saamspan handjies
primitiewe mure in die sand,
stokkieskrale vir die bees

en ‘n dam word gegrou

langs handpalms wat nuwe paaie stoot.
Friendly vingers trek vore vir koring,
druiwekorrel- en mieliekoppies werk sy aan sy
om die nasie te voed want umngan’wami for eva

en bredies word gebrou

oor koraalblomvlamme waar
haasbekkies kruisbeen klets om die kole
en boombas-speserye meng terwyl eenbeenspringertjies
takkies versamel om die vuur te stook.

Hulle vermy die skadu waar gister se winterblare
vergader in ‘n vaal ou hoop
eish – qaphela inyoka!
dis waar die eensame adder loop.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *