Wasdag

September 27, 2017 in Poësie

broer
sy hang vandag wee
ons skif lakens uit

hulle bol en ruk en
ons walvispajamas
woer lastig ommie lyn

verstrengel
innie ou antie se
tee-net

ma’ wanne sy
die mandjie
inbring

kyk my slippers
straat-op vi daai wa
wa-in jy weg is

my slippers raak dun, broer
ek wil loop gaan
wa jy is.

Die Versoek

September 27, 2017 in Uncategorized

Dominee staan op die rant:
-die graf van PR der Sand.
Onder gebed gee die aarde mee;
Ds moes desnoods oor die gaping tree
en sê sy ‘amen’ aan die anderkant.
So paar maande later lui die foon:
Dag Pastoor, u ken my nie
maar my skoonmoeder Breda
het in haar sterwensuur gevra
dat u groot asseblief, wanneer sy sak
(soos by die graf van ou Pierre)
ook die triomfanklike sprong
na die ewigheid,
sal kom demonstreer.

Blyspel in Bruin

September 27, 2017 in Poësie

Stofskopmaats, skommelmaatjies
in al die skakerings van bruin
bevolk die skoppelmaai wêreld
woza futhi udlale!

‘n mini-kunstefees ontvou

Koljanderdansers bok uitbundig so deur die bos
woerts onder die gemmer en kaneel arm-bogie
skommelmaatjies sing in nuwe kombuistaal
die speelgrondlied van ‘n tevrede generasie

‘n plaas word gebou

waar die bande halfgeplant uit die stof opstaan,
vorm hulle saamspan handjies
primitiewe mure in die sand,
stokkieskrale vir die bees

en ‘n dam word gegrou

langs handpalms wat nuwe paaie stoot.
Friendly vingers trek vore vir koring,
druiwekorrel- en mieliekoppies werk sy aan sy
om die nasie te voed want umngan’wami for eva

en bredies word gebrou

oor koraalblomvlamme waar
haasbekkies kruisbeen klets om die kole
en boombas-speserye meng terwyl eenbeenspringertjies
takkies versamel om die vuur te stook.

Hulle vermy die skadu waar gister se winterblare
vergader in ‘n vaal ou hoop
eish – qaphela inyoka!
dis waar die eensame adder loop.