‘n Nuwe skets geskryf vir (en gepubliseer deur) Litnet

Oom Toon en tannie Rienie

1982. Dit is die jaar wat ek oom Toon en tannie Rienie ontmoet. Dit is ook die jaar wat my bababoetie gebore is. Die twee gebeurtenisse is vir ewig aan mekaar verbind, maar dit is die oom en die tannie oor wie ek wil praat.My broer se geboorte was die begin van die einde vir my familie. RB is met ’n defek gebore en moes inderhaas Bloemfontein toe vir rugoperasies, breinoperasies en weke en weke in die hospitaal. Die dokters het (verkeerdelik) voorspel dat hy ’n 100% normale lewe sou lei. Etters.

Daar was nie geld in die familietjekrekening vir weke en weke se verblyf in Bloem nie. Ook het ons niemand in Bloem geken nie. My ma was egter vriende met die hele Kroonstad. (Sy bel absoluut almal op hul verjaarsdae. Of jy nou al afgeskei is, moeilikheid gemaak het, of lelik was met haar, sy sal jou op jou verjaarsdag bel.) Kort voor lank vind ons uit ons ken wel iemand in Kroonstad wat iemand in Bloem ken. Ja, oom Toon en tannie Rienie.

Kort na my boetie Bloem toe is, kom my ma dus te stane voor die voordeur van onbekende vriende hoog aanbeveel deur bekende vriende. Toon en Rienie neem haar in en gee vir haar blyplek, kos, tannie Rienie se kar en hul albei se vriendskap. No questions asked.

Halfpad deur die drama word ek en my sussie ingelig ons moet gaan groet. RB is sterwend. So kom ons ook te staan voor Toon en Rienie se voordeur. Ek onthou daardie eerste kuier soos gister. (By the way, my bababoetie het dit toe deurgehaak.)

Oom Toon was ’n panel beater wat na jare sy eie panel beating-besigheid kon begin. Hy was vir my negejarige brein ’n sewe voet lange reus. Sy hare was teruggekam met grease, sy vel opgevreet deur porfirie, maar daar was drie ander dinge omtrent oom Toon wat my eindeloos beïndruk het: (1) Die tatoe van ’n meisie in ’n baaikostuum op sy voorarm! (2) Volgens legende is sy bynaam Toon oor sy groottoon af is. Die legende het nie vertel hoe hy die toon verloor het nie. (3) Sy sagte glimlag as hy hulle TV-speletjies vir hierdie armgatkind moes opstel. Ek het hulle Pacman op, op gespeel.

Tannie Rienie was kort en koeëlrond en ’n huisvrou van formaat. As sy op ’n kleur vir ’n kamer besluit, het sy besluit. Dan was alles, van die lakens tot die mat, van die mure tot die meubels, pers en net pers. Ek het ’n paar benoude oomblikke gehad, laat in die nag, wanneer ek moes kamerverlaat en alles is pers in die pers kamer of groen in die groen kamer. Dit kon oorweldig.

Tannie Rienie het nie gespeel met ontbyt nie. Die tafel moes wankel. (Jare later het ek verneem die vrygewigheid was nie ’n uitsondering nie. Nico, hul enigste, en Toon het elke dag so geëet.) Daar was spek en eiers. Wors en tjops. Pap natuurlik. Sampioene, tamaties, en ek verbeel my aartappel ook. Alles het gedryf in botter of vet. Ons was bepaald naar na so ‘n ontbyt, want jy kan nie ongeskik wees en nie iets van alles probeer nie.

Oom Toon en tannie Rienie was groot aanhangers van Cora Marie. My ouers was meer Rina Hugo-, Gé Korsten0tipes. Tog as ons in die sitkamer sit en Toon en Rienie die Cora Marie-plate uithaal, het my ma en pa met erns saam geluister. Laat ek net waag om my oë te rol, dan kry ek ook daardie kyk van my ma wat sy al die buurtkinders mee banggemaak het.

In elk geval, mettertyd moes my ma terugkom Kroonstad toe. Ek en my sussie het vermoedelik my pa mal gemaak. My ma kon met ’n geruste hart kom kuier, want Rienie het ingestaan vir haar. Na werk het sy RB elke dag in die hospitaal gaan bad en vir hom die skoon kleertjies aangetrek wat sy gewas, gestryk en gebring het. Wanneer sy by die huis kom, het sy dadelik gebel en verslag gelewer oor watter pakkie hy dra, hoe pienk hy was en of hy al enigsins gereageer het op enigiets.

Oor die jare was daar talle opvolgondersoeke in Bloem. Ons het nooit weggery van die plot af sonder ’n kattebak vol groente nie. Nooit het die twee mense enigiets in ruil daarvoor gevra of verwag nie. Dit sou inderdaad ’n belediging, asook ’n onbegonne taak, wees om hulle te probeer vergoed vir hulle vryheid van gees.

Oom Toon en tannie Rienie is Sondagaand vermoor. In die plaashuis wat hulle gehuur het. Vir ’n bakkie. Miskien ’n TV.

‘n Kortetjie

Vir die neef wat ek so sleg ken

 

Ek het polisiefamilie. Familie wat in die polisie is. My oom en tannie is al afgetree. Volgens oorvertelling kon my tannie ʼn konstabel met die plathand oor ʼn lessenaar klap. Alhoewel ek dit nie met my eie oë gesien het nie, het ek dit as wys beskou om nie met haar skoor te soek nie.

My twee niggies, verstaan ek, doen nogal goed. Hulle is die tipe mense wat ons in die polisie wil hê. Dit is nie net ʼn job vir hulle nie. Hulle glo in reg en geregtigheid. My nig in die berede eenheid het twee dae gery op soek na ʼn kleuter wat uit ʼn township uit verdwyn het. Die vreugde was groot toe hulle haar, bietjie gedehidreer, maar lewendig opspoor.

Hulle kleinboet is ʼn trokdrywer. Hy kan enige trok enige plek in reverse. Hulle skills sal iets beteken in ʼn oorlog.

Nou stel julle voor hoe verskil ons wêrelde van mekaar. Ek stal foto’s, en nou ook video, uit in galerye in die noordelike voorstede van Johannesburg en skryf tans aan ʼn tweede queer roman wat hopelik weer by die Stellenbosch Woordfees bekendgestel sal word. Ek resenseer kunsfilms en is ʼn vrou getroud met ʼn vrou. Ek Tweet, Instagram en verkoop my boek op Amazon. Ahem.

Tog het ons ʼn wedersydse respek vir mekaar. Hulle verwelkom my en my vrou by enige familiefunksie. Ek weet as ek 3uur die oggend in groot moeilikheid is, bel ek hulle. Maak nie saak hoe lank terug ons mekaar gesien het nie. Hulle is die tipe mense wat sakke inkopies aflaai, toe my ma in die nood was. Hulle is die tipe wat op ʼn Sondag opdaag en genoeg vleis saambring én braai om my ma en boetie die hele week te hou. Op polisie en trokdryf salarisse. Sout van die aarde, is wat ek hulle noem.

 

Vir my niggies en tannie ken ek die beste. In 1981 het my oom hulle, saam met hul koffers, in die middel van die nag by ons afgelaai in Kroonstad. Dit was oor tussen hom en my tannie. Hy het terug Laingsburg toe vertrek.

Ek was 8 jaar oud. Wat het ek verstaan van hoe misplaas hulle moes gevoel het? Ek en my ouer sussie, wat dalk beter moes geweet het, het my niggies gas gegee. My kwaai tannie het ons gereeld hieroor ingeklim. Vir haar en haar stem (en die gerugte van die plathand aksie) was ek vrek bang. Sy het wel eendag daardie selfde stem verhef toe my sussie se seunsvriende, vier jaar ouer as ek, my onder die water hou in die swembad. Die laities se swembroeke het gebewe en vir die res van die dag kon ek hulle terroriseer nes ek wil. Ek het back up gehad.

Kort na hulle by ons gedeponeer is, het ʼn ligte Karoo reëntjie groot hartseer veroorsaak. Die samevloei van die Baviaans en Buffelsrivier het ʼn ses meter hoë muur van water deur Laingsburg gestoot. Volgens familie legende het my tannie-hulle se huis weggespoel. As hulle tuis was, was hulle dood. My oom het hulle weer kom haal. Dit was ʼn wonderwerk, het my ma gesê.

My neef, wie se bynaam Swartkop is al het hy rooi hare en sproete, is gebore na hulle verblyf by ons. Dus ken ons mekaar die slegste van almal.

Die sterkste herinnering wat ek aan Swartkop het, is die dag voor my pa dood is. Hy en my tannie het diens gedoen, want dit is wat familie doen, om langs ʼn bewustelose man te sit sodat hy nie alleen doodgaan nie.

Swartkop en sy vrou het natgereën op pad tehuis toe. Swartkop het eenvoudig die knope oor sy Afrikanerboepensie losgemaak, sy hemp uitgetrek en oor die voetenent van my pa se sterfbed gehang. Dit is dan nat. Voor ons kon keer het hy die kleine handdoekie uit die gastetoilet gehaal en begin om sy kort, stewige lyf daarmee af te droog. Dit is nou nie wat ek of my groepie noordelike voorstedelinge sou doen nie, maar nou ja, dit is prakties as jy logies daaraan dink. En baie snaaks.

 

Ek en Swartkop het mekaar gister vir die eerste keer in jare gesien. Alhoewel ek hom die slegste ken, niks, maar niks van kerk hou nie en boonop geen clue het wat om vir hom te sê nie, het ek die begrafnis bygewoon van sy ses maande oue seuntjie wat eenvoudig ʼn paar dae terug ophou asem haal het.

Want is dit nie wat jy doen vir ander nie? Jy trek jou beste skinny jeans en oorle ouma se serp aan en kry jou ma op pad Vanderbijlpark toe. Jy druk nou neef in die parkeerarea tot hy ophou huil, jy druk jou niggies en tannie. Jy maak dit deur die NG diens en jy koek en tee na die tyd in die kerksaal tot meeste mense gegroet het.

Letterbomb (Short story/sketch)

My sister, four years older than me, has not spoken to me in 12 years. (Of course it is a euphemism for surgically cutting me out of the fibre of her life.) She blames my love for women. She is of the opinion that it is infectious and consequently a threat to her young. I, of course, do not hold such an opinion.

 

At the outset of the excommunication, birthdays and holidays turned into thorny issues. The other days of the year I was free to disregard her. But on a momentous occasion? Do I congratulate? Commiserate? Wish her a merry whatever? Or show her the depth of my discontent with a measured silence. My mom, the endlessly hopeful peacemaker, as expected, insisted that I keep my side of the story spotless. To prevent blame from falling on me. But then blame had already been placed on me.

My approach turned out to be a knit one, slip one affair. It depended on my mood, how forgiving I felt.

Truth be told, after 12 years the mood is now unchanging. Absence does not make the heart grow fonder, in this case. One tends to adapt to your circumstances, your heart bonds with those you are surrounded by. My heart has adapted to a life without her. So much so, that I truthfully feel like an only child. (I do have a baby brother, but that is the subject for another day.)

 

With my birthday approaching this year, I understandably did not imagine receiving any well wishes, cards or calls from Ousus. When my mom phoned to say a letter addressed to me in my sister’s handwriting had just been delivered to her home, I had a few thoughts.

Utter dread in the pit of my stomach, was the first. You see, the last letter addressed to me in my sister’s handwriting and delivered to my mother’s house 12 years ago, was in fact a three page condemnation to hell written in all bold capitals. Based on the content of the letter it was safe for me to assume that she knew bold capitals amounted to screaming, and that three pages of it meant screaming with force. I was much younger and still thin-skinned at the time. I allowed it to hurt me so deeply that the mere mention of a letter addressed to me in my sister’s handwriting could 12 years later instantaneously fill me with dread.

My second thought was, letter bomb. Kapow, and all the evidence is gone.

My third thought was, anthrax. I would succumb to the poison, and possibly take a few innocent bystanders such as my mom and brother (guilty parties in my sister’s opinion) with, but at least there would be enough evidence left that could lead to her arrest.

My fourth thought was, a legal document of some sort. But then there was nothing that I needed to be restrained from. There was nothing she could sue me over. Or did she need to legally remove me as godmother to her son?

My last thought was, reconciliation? What if it was birthday wishes, or the tentative beginning of a dialogue? What the fuck would I in fact do then? Embrace her? Show her the door? Address her in bold capitals?

 

I decided to stop wondering and told my mom I would see her in the morning. I am sure my mother was tempted countless times in the dark of night to steam open the envelope, scour the contents for love, or for forgiveness and carefully glue everything back together again. Apart from the fact that my mom is a bit of a sleuth, she was excommunicated 12 years ago alongside me. Reconciliation between her two daughters, even if it was without her, would give her such joy.

 

In the morning I drove the required half an hour, casually picked up the letter and took it into the bathroom. It turns out, it was not condemnation, a letter bomb, anthrax, legal papers or reconciliation, but just a fucking estate agent with a handwriting similar to my sisters who wanted to wish me a fucking happy birthday. I tore it up.

 

I am much older now, and a little bit more thick-skinned. Yet I had hope.

www.reneywarrington.co.za

twitter

facebook

My two cents

I was in Sweden when I heard about Nelson Mandela’s death.

 

I felt disconnected. All around me there were images of him on TV and on front covers of papers and magazines, but I couldn’t understand what was being said or written. My friends and family were going to his house in Houghton and attending the Soccer City service.

 

A few days later I went to a small town in North East Germany.

 

I spent some time on YouTube watching Obama, Tutu and of course the now infamous memorial signer. My brother in law sent me a video clip of women singing late at night outside Madiba’s house.

 

To clear my head from a week of writing I wondered through the freezing streets of Schoppingen hoping for the fog to clear.  I hadn’t seen sun in days. I had visited all the touristy spots, bought all the exotic wine and pastries I could bear (which is a lot). I spotted a refrigerated truck selling fish in the town square.

 

The much dreaded ‘conversation’ started. The Germans don’t speak English. Fifty percent of them are rude on top of it. Luckily the fishmonger fell in the other 50%. Although we could not speak, the pointing and holding up of 5Euros was met with a smile. This is the broken conversation that followed.

“Kunstledorf?”

If you cannot speak English in this town, you must be an art fart from the foundation. “Yes.”

Then some complicated German followed. I shook my head and lifted both shoulders. I had no clue.

The monger focused, took a deep breath and then slowly asked, “Where are you from?”

“South Africa.”

“Nelson Mandela.”

“Sad.”

Onder die dekmantel

My 30-jarige boetie is al ses dae in die hospitaal. Dit beteken my ma sit al 6 dae lank regop langs hom. Hy kan nie praat nie. Hy is gestremd.

Vanoggend oortuig ek haar om haar pos te verlaat en te gaan slaap. Oor middagete arriveer die hospitaalkos wat R.B. met groot smaak al vir ses dae eet. Hy loer na die skinkbord en skud sy kop met mening. Nou R.B. se kop skud, is nie grappies nie. Dit is wet.

Wat ook saam met middagete arriveer is die antibiotika vir sy sukkelende longe en die instruksies dat hy eers moet eet. R.B. skud sy kop vir die pille ook.

My ma gaan ek nie wakker bel en terugroep nie. Nee. Eers probeer ek my bangmaakstem. R.B. skrik egter nie vir koue pampoen nie. Hy val ook nie vir my smeekstem nie. Uit desperaatheid grawe ek in die sak lekkergoed wat ‘n gawe vriendin van my ma aangedra het. Ek lig ‘n pakkie sout-en-asyn Lays op en my broer knik gretig daarvoor, asook vir die pakkie Liquorice Allsorts.

Ek dag, dit is beter as ? leë maag en voer die pakkie Lays vir hom. Steeds skud hy sy kop, met bietjie ekstra mening, vir die antibiotika. Nou ja, sy longe is op die spel en aan’n beter plan kan ek nie dink nie. So ek haal die boonste helderkleurige lagie af, druk die pil in posisie en bedien ? Liquiorice AllSorts antibiotika-cocktail op as poeding.

Moet ek verder hieraan skryf? Huh? Wat dink julle?

Die huis ruik na suurdrank, die voordeur staan oop as hartlike verwelkoming. Die alarm was nooit aan nie, die buiteligte is nog nie af nie. Die tuinstel word omring deur ? stille gehoor van bottels en stompies. ? Meter of wat verder dobber ? eensame skoen in die swembad. Die buurhond se blaf is al hees, sy eienaars se moerigheid swart ingelê soos nastergalkonfyt.

Tasya weet van fokol. Sý slaap in gisterheeldag se skinny jeans en gisterheeldag se T-hemp op die 1950’s deco bank waar haar bloedsuiker haar begewe het, Jules slaap geheel en al kaal in die 1950’s deco bed waar Tasya haar sonder veel afskeidsangs gelos het. Die res van die oproerige party het volgens 2012 protokol gedeurnag en voordag uitgepeul op soek na spek, eiers, brood en swart, bitter koffie.

‘Oktober’ geresenseer in Rapport.

Dankie aan Prof Human vir die opbouende kritiek en ‘careful reading‘.

“Aanklag teen vooroordele wat al moes gesterf het

2012-05-05 12:25


Thys Human


By die eerste optel van Réney Warrington se debuutroman, Oktober, val ’n paar dinge my op: die bladuitleg is besonder lesersvriendelik en die formaat is effens breër as ander romans.

Die boek rus ook voelbaar swaarder in die hand vanweë die gehalte van die papier waarop die swart-en-wit foto’s aan die begin van elke hoofstuk en die kleurafdrukke daarvan in die middel van die roman gedruk is. 

In die kolofon lees ek Warrington, ’n bekende fotograaf, het nie net die foto’s in die fotodeel van die roman geneem nie, maar ook die twee foto’s wat vir die omslag gebruik is.

En dan besef ek skielik wat my oog van die begin af getrek het: die twee vadoeke op die voorblad en die skelrooi voorskoot op die agterblad.

Hoe interpreteer mens vandag vadoeke en voorskote op die romanomslag van ’n vroueskrywer? As moedswillige verwysing na die kombuis as bestrede terrein? 

Feministiese afrekening van die uitbeelding van die vrou as vloerlap of kaalvoet en swanger voor die Kenwood? Dalk as postfeministiese hertoeëiening van ’n eens veragte ruimte?

Gelukkig is dit die skrywer self wat tot my hulp kom. In ’n onderhoud lees ek Warrington het die foto’s laatmiddag in haar eie kombuis geneem en dat sy dit as simbool beskou van ’n warm, liefdevolle huis, ’n plek waar jy veilig en beskermd voel. Sy noem ook pertinent dat dit die soort verhouding is wat sy in Oktober wou oordra. 

Omdat daar eintlik ’n verskeidenheid verhoudings in die roman uitgebeeld word, neem ’n mens aan Warrington verwys hier spesifiek na die ontluikende liefdesverhouding tussen Jo Bester, ’n Suid-Afrikaanse fotograaf, en Leigh Osbourne, ’n Amerikaanse popsanger, wat mekaar in Johannesburg ontmoet.

Dié twee se ouwêreldse hofmakery, wat deur die uitgewer as “’n liefdesverhaal vir die 21ste eeu” beskryf word, vorm die hartklop van die roman.

Wanneer Jo ná ’n onsmaaklike familietwis alle kontak met haar susterkinders ontsê word en na Londen uitwyk, loop sy Leigh weer raak.

Omdat elkeen haar eie duiwels het om te besweer, begin hulle ’n verhouding met ’n baie besliste vervaldatum. Maar soos ons almal weet, word die hart nie sommer deur ’n datum voorgesê nie.

Gaan die steelfoto’s van Jo en Leigh wat in ’n Britse Sondagkoerant verskyn het, hul verhouding voortydig kelder? Of is hulle die gelukkige einde van ’n konvensionele liefdesverhaal beskore?

Binne die raamwerk van dié byna idilliese verhouding tussen Jo en Leigh word ’n verhaal van hartseer en gemis blootgelê aan die hand van die twintigtal foto’s waarmee elke hoofstuk begin.

Want Jo is veel meer as net ’n vrou wat verlief raak op ’n vrou; sy is ook ’n dogter wat moet toekyk hoe haar ma onder jare se hartseer vou, ’n suster wat nie weet hoe lank die gebroke lyf van haar broer gaan hou nie, en ’n tannie wat enigiets sal gee om haar susterkinders weer vas te hou.

Op Leigh se aanbeveling begin Jo foto’s neem van die dinge wat haar op die een of ander manier aan Jonathan en Ruby herinner: “Take photographs for them of the things they might like, or might have seen had they been with you. I don’t know, think of a theme. Exhibit these pictures. Make them public. Like a public photo album you keep for them. Something to find when they Google or Facebook you one day.”

Jo stel hierdie foto’s inderdaad ook later in haar werkgewer se Londense galery ten toon. Anders as die skerp gefokusde foto’s op die romanomslag is die meeste van die foto’s wat Jo ten toon stel uit fokus. Dit word op aangrypende wyse ’n testament van haar verwarring en ontreddering.

By geleentheid merk sy byvoorbeeld teenoor Leigh op: “Dit is die naaste wat ek aan hulle kon kom. Die kamers waarin hulle gespeel en geslaap het. Die vensters waaruit hulle gekyk het op die lewe.”

As skrywer is Réney Warrington op haar beste wanneer sy aan die hand van ’n paar oordeelkundig gekose woorde ’n hele verhaal of versweë geskiedenis te kenne gee.
So verkry die kort romandele ge­titel “Brian”, “Jonathan se geboorte”, “Ruby se geboorte”, “Jonathan se doop”, asook die aangrypende derde en vierde hoofstuk van die roman, ’n deurleefdheid en oortuigingskrag wat soms elders ontbreek.

Warrington het gewis ’n oor vir karakteropenbarende dialoog. 

Daar­om is dit nogal steurend dat die verteller, Jo – veral tydens die eerste ontmoeting met Leigh – haar eie woorde so duidelik vir die leser interpreteer en so eksplisiet kommentaar lewer op dit wat haar gespreksgenoot te sê het.

Die leser is, myns insiens, heeltemal slim genoeg om Jo se “galge­humor” uit haar dialoog af te lei, of om te besef wanneer iets ’n “flou grappie” is of skalks bedoel word. 

Hier en daar val Jo se anglisistiese taalgebruik ook hinderlik op die oor.

Dit is egter bysaak in ’n roman wat daarin slaag om in woord en beeld gestalte te gee aan die verskillende fasette van die liefde wat mense aan mekaar kan verbind. En terselfdertyd ook aanklag te wees teen die soort vooroordele wat ’n mens gehoop het lankal gesneuwel het!

* Prof. Thys Human is hoof van die departement Afrikaans aan die UJ.”

Essay oor die gebruik van bloed in films.

Geskryf vir en gepubliseer deur Litnet

Ons is geneties aanmekaar gesit om op bloed te reageer. Goed, party meer as ander. Ek is vies daarvoor as ek van my bergfiets afval, verlam daardeur as dit my geliefdes s’n is en hartseer wanneer dit op die pad langs die motorfietsryer poel.

Bloed is dus ’n ideale medium om filmgangers se bloeddruk mee op te jaag. Dit is nie bloot die rooi, dikkerige vloeistof nie, maar ook die moord, ongeluk of drama wat tot die vergieting daarvan gelei het, wat die impak maak.

Die gebruik van bloed om ’n storie te vertel kom in menige vorme voor. Vir my is daar vier hoofkategorieë: gewoon, onnodig, as ’n medium en die afwesigheid daarvan.

Die gewone gebruik van bloed is die koeëlgat in die maag, die gebreekte neus of die sny aan die voorkop wat ons almal al in die standaard-aksiefilm gesien het. Dit dui op ’n ongeluk, ’n moontlike dood, maar definitiewe drama. Dit doen nie afbreuk aan die film nie, maar dra ook nie veel daartoe by nie. Met ander woorde, dit is nuttig, tog nie revolusionêr nie, maar hoofstukke beter as die onnodige liters bloed wat spuit of klonterige breins teen die muur.

’n Gepaste voorbeeld is die ongelooflike The Hunger Games (2012)’n film wat ek verwag het gaan erg bloedig en gewelddadig wees. Die regisseur gebruik egter bloed, en alles wat daarmee saamgaan, bloot as een onderdeel van ’n goedgeoliede stoomtrein. Die brandwonde en snye is belangrik – dit dui tog op die deelnemers se vermoë om te kan vlug of baklei en dra by tot die spanningslyn – maar daar is baie meer aan die film as ’n bietjie bloed, ’n klomp lemme wat rondgeswaai word. Die bloeiende wonde oorskadu nie die emosie, die aksie, die storie of die enigmatiese Jennifer Lawrence nie. (Winter’s Bone (2011) was toe net die begin van haar loopbaan.)

Dit bring ons dan by die onnodige, die oordrewe, dié films wat nie beskik oor enigiets anders om die gehoor mee te vermaak as ’n groot gat in iemand se kop nie, die stuk been wat dwars uitsteek of die derms wat uithang. As die derde slagoffer in alle erns onthoof is en die lyk kop eerste na die kamera toe val om die rugstring, senuwees en polsende bloed vir die gehoor te wys, is ek eerstens afgestomp en tweedens verveeld. Ek bly so ver weg van hierdie tipe film af dat ek nie eers ’n voorbeeld kan oproep nie. Julle weet tog waarvan ek praat.

Dit beteken nie uiters aggressiewe, bloederige films is alles gemors nie. O nee. Ek het nogal ’n teer plekkie vir ’n film waar die bloed/geweld ’n essensiële bestandeel van die film is, wanneer dit net so belangrik is soos die kamerawerk, die dialoog en die toneelspel, wanneer dit amper ’n ekstra akteur in die film is.

Wie onthou True Romance (1993)? Patricia Arquette se verpletterende pak slae deur die toe nog onbekende James Gandolfini (Tony Soprano) is ’n noodsaaklikheid in die film. Dit is die punt waar die gehoor besef die prostituut het ’n hart van goud en ’n onwrikbare lojaliteit teenoor die held. Haar geswelde, stukkende gesig verteenwoordig haar stukkende lewe, maar haar ystere wil is haar toekoms.

Die onlangse Drive (2011) het ’n soortgelyke tema. Ryan Gosling speel die stil, sterk, sensitiewe held, wat egter nie sal skroom om iemand se skedel te vergruis met sy cowboy boots nie. Die geweld is aanhoudend en eksplisiet en word deur almal gepleeg – die crooks en die held. Die verskil is hulle motivering. Die crooks moor wie hulle wil, wanneer hulle wil en meestal vir geld. Die held gebruik geweld om geweld te stop, om die meisie te beskerm, maar steeds sonder enige skuldgevoelens. En jy hou nogal duim vas vir die man.

Die koning van polsende, emmers vol bloed is natuurlik Quentin Tarantino. In die bebloede Kill Bill: Volume 1 en 2 (2003/4), die uiters slick wraakfilm, vorm die gebruik van samoeraiswaarde, afgekapte ledemate en bloed-“sproeiers” deel van Tarantino se huldeblyk aan Oosterse en Westerse aksiefilms. In Reservoir Dogs is daar die afgesnyde oor, in Pulp Fiction die leftover stukkies brein. Dit is snaaks, dit is treffend en gekoppel aan ’n skerp draaiboek, Tarantino-monoloë en Uma Thurman in ’n geel ou sweetpakkie.

 

My gunsteling-gebruik van bloed in ’n film is die afwesigheid daarvan, die suggestie dat daar net links van die kamera iets grotesk aan die gebeur is, of dat ons dit gemis het en nou na die nagereg, of voorgereg, tot die hoofmaal van geweld kyk.

Wat my bang maak, maak jou nie noodwendig bang nie. As ’n regisseur ’n bloederige handafdruk op ’n muur skiet, of jou net die boks wys wat aan Brad Pitt in Seven (1995) aflewer word en nie die inhoud nie, dan word jy aan jou eie verbeelding oorgelaat. Meestal reik jy dan na dit wat jou bang maak. Dit beteken ons is almal bang!

Die eerste film wat my met dié tegniek beïndruk het, was Alien (1979). Stel jou voor, ’n alien-film sonder aliens of bloed! Een van die beste moordtonele in die klassieke film is waar die moeder-alien die eienaar van ’n kat vermoor. Die gehoor sien die hele moord in die refleksie in die kat se oog! Jou verbeelding neem oor, en soos ek reeds genoem het, is jou eie verbeelding soms meer vreesaanjaend as die regisseur s’n. (Behalwe in die geval van Guillermo del Toro: waar hy sy visuals vandaan kry, weet geen siel nie. Die langvinger-man in Pan’s Labyrinth(2006) met die oë in die palms van sy hande gaan my nog eendag tot terapie dryf.)

In die Sweedse vampierfliek Let the Right One in (2008) is die sterkste verwysing na bloed die 12-jarige meisie-vampier se vuil vingernaels! Ek gril sommer weer. Koppel dit aan haar kinderlike onskuld en behoefte aan geselskap van haar eie ouderdom, en jy het ’n meesterlike film.

Ek sluit af met ’n toneel uit die TV-reeks Dexter. Dit was nie eers die volle episode wat my op hol gejaag het nie, maar die voorskou van wat volgende week wys. Jy’t nie die voorgereg gesien nie – die vang van onskuldige mense, die versamel van winkelpoppe, die aankeer van die perde en ’n brutale slagting. Jy sien dit wel alles in jou verbeelding. Maar wat laat jou daaraan dink? Fllitsende beelde sonder geweld of bloed van ’n perd wat drafstap deur die strate van Miami. Op sy rug is ’n makabere ruiter – half-mens, half-winkelpop, netjies aanmekaar geryg. Ja, onderbeen is menslik, bobeen plastiek, voorarm menslik, boarm plastiek, ens.

My nekhare rys.

Resensie van ‘Oktober’!

Foto’s wat boekdele spreek in debuut

2012-03-25 21:54


Wanneer die boek klaar is, is ’n mens spyt om van Jo Bester afskeid te neem. Sy, en Warrington, voeg ’n nuwe, sterk stem tot die Afrikaanse boekewêreld, skryf Nicole Jaekel-Strauss.


Ons ontmoet Jo Bester een Saterdagoggend met haar kop in haar kussing in haar woonstel in Johannesburg. 

Ons eien haar onmiddellik as iemand met haar voete plat op die aarde en sonder veel pretensies; iemand wat ons ken, wat ons graag beter sal wil leer ken. 

Ons stap saam met haar deur die boomryke strate van Parkwood … “verby die klipwerkhuisie met die krom paadjie voordeur toe, wit lakens wat op die draad wapper en drie afskeeppotplante op die stoep … verby die rankplanthuis, met sy grys wolfhonde, glasvensters wat smelt van ouderdom en die koperkatel se kopstuk wat sigbaar is in die voorste vertrek … die skinhead in swart geklee met ’n pikante brakkie op ’n leiband …” tot by die Jozi Food Market. 

Ons reis saam met haar Londen toe, maak ’n draai in New York. Ons kyk na haar foto’s.

Jo Bester is die eerstepersoonsverteller en hoofkarakter van Réney Warrington se debuutroman, Oktober, wat pas by Protea Boekhuis verskyn het. En sy kán vertel. 

Sy vertel so oortuigend dat die leser uit die staanspoor nie kan help om te wonder of dit Jo, die verteller, of Warrington, die skrywer, is wat die foto’s geneem het wat in hierdie boek verskyn nie. 

Elke hoofstuk word ingelei met ’n afdruk in swart en wit en in die middel van die boek pryk ’n versameling foto’s pragtig in volkleur. 

Want net soos Jo Bester is Warrington ’n begaafde fotograaf. 

Op haar webtuiste vind jy ’n versameling uitsonderlike foto’s; Jo Bester s’n vul weer ’n kontemporêre galery in Londen. 

Die leser beleef saam met Jo die spanning rondom ’n solo-tentoonstelling. 

Ons sien foto’s wat aan die mure van die galery hang, alleenlik vergesel deur die titel van die werk, maar in die teks vertel Jo die stories wat agter die foto’s lê, en daarmee saam haar eie verhaal. 

Onder meer verskyn die foto “Binnehof”. 

“Binnehof – ’n Stuk van die binnehof se leiklipvloer. ’n Leiklippaadjie kronkel van daar af deur my ma se bergvarings. Aan die regterkant van die foto loop ’n kraak deur die leiklip van onder tot bo. My ma het my verdedig. Ek, sy en Brian eindig aan die smal kant van die foto op, die res aan die ander kant van die skeur.”

Maar die foto’s is net deel van die verhaalteks en terwyl dit aanvullend is daartoe en ’n bonus vir die leser is om ook só visueel in die verhaal betrek te word, is die geskrewe teks nie daarvan afhanklik nie en staan dit stewig as die primêre bousteen van hierdie boek. 

Die verhaal begin by ’n swaar verlies wat op ’n dag in Oktober ly. Sy probeer die verlies verstaan, verwerk. 

Sy vertrek Londen toe en raak nege maande later betrokke in ’n verhouding, maar dit is ’n verhouding met ’n caveat: ’n vervaldatum. 

Die vervaldatum is weer Oktober, ’n jaar ná die begin van die roman. Op die agterplat van die boek verskyn die aanhaling dan ook: Wat is die punt van ’n verhouding met ’n vervaldatum? Om die eensaamheid te verlig, antwoord ek. 

Saam met die karakter Leigh leer die leser Jo ken, en dit is met ’n eer­like en treffende pen wat Warrington haar karakter ontbloot en laat groei. 

Jo se aweregse sin vir humor word uitstekend oorgedra ondanks haar stukkende gemoed, haar frustrasie te midde van die onregverdige verlies wat sy ly en haar soeke na die herwinning van haar vermoë om ander mense toe te laat om naby haar te kom en persoonlik by haar betrokke te raak. 

Eensaamheid, die verlede en hoe dit ’n mens vorm, die pyn van afskeid en verlange, familietwis en -vervreemding, die weerloosheid van verhoudings en van die mense wat binne verhoudings staan, is alles temas wat in dié roman ondersoek word. 

Die invloed van ouers op hul kinders se lewe word op verskillende vlakke bekyk. 

Soms is daar ontknoping. Soms nie. 

Die vraagstuk rondom die verwerping van gay lede van ’n familie word in die soeklig geplaas – dit is inderdaad deel van die verhaallyn. 

Die onderwerpe is swaar en ons leer die karakters se hartseer deeglik ken, maar die boek is nie donker nie; dit behou ’n ligtheid te midde van die swaarkry. 

Dit beeld pyn en wroeging uit as ’n onlosmaaklike deel van menslike bestaan en die leser sien hoe die verskillende karakters elkeen met sy of haar eie hartseer leer leef.

Wanneer die boek klaar is, is ’n mens spyt om van Jo Bester afskeid te neem. 

Jy vermoed jy gaan haar mis. Sy, en Warrington, voeg ’n nuwe, sterk stem by tot die Afrikaanse boekewêreld en ’n mens hoop om in die toekoms weer van Warrington te hoor. 

Ten slotte bly die vraag of dit die fotograaf is wat skryf, of die skrywer wat die foto’s neem? 

Réney Warrington se storie het ’n duidelik filmiese karakter (sy is nie verniet ’n gesiene fliekresensent nie) en haar foto’s spreek boekdele. 

Sy kry dit klaarblyklik reg om albei te wees.

 

Nicole Jaekel-Strauss is die wenner van verlede jaar se Eugène Marais-prys en UJ-debuutprys vir haar kortverhaalbundel, Maal. 

www.reneywarrington.co.za

twitter

Reeltime Movie Column

Nirox

Hannelie Coetzee