‘n Nuwe skets geskryf vir (en gepubliseer deur) Litnet

Oom Toon en tannie Rienie

1982. Dit is die jaar wat ek oom Toon en tannie Rienie ontmoet. Dit is ook die jaar wat my bababoetie gebore is. Die twee gebeurtenisse is vir ewig aan mekaar verbind, maar dit is die oom en die tannie oor wie ek wil praat.My broer se geboorte was die begin van die einde vir my familie. RB is met ’n defek gebore en moes inderhaas Bloemfontein toe vir rugoperasies, breinoperasies en weke en weke in die hospitaal. Die dokters het (verkeerdelik) voorspel dat hy ’n 100% normale lewe sou lei. Etters.

Daar was nie geld in die familietjekrekening vir weke en weke se verblyf in Bloem nie. Ook het ons niemand in Bloem geken nie. My ma was egter vriende met die hele Kroonstad. (Sy bel absoluut almal op hul verjaarsdae. Of jy nou al afgeskei is, moeilikheid gemaak het, of lelik was met haar, sy sal jou op jou verjaarsdag bel.) Kort voor lank vind ons uit ons ken wel iemand in Kroonstad wat iemand in Bloem ken. Ja, oom Toon en tannie Rienie.

Kort na my boetie Bloem toe is, kom my ma dus te stane voor die voordeur van onbekende vriende hoog aanbeveel deur bekende vriende. Toon en Rienie neem haar in en gee vir haar blyplek, kos, tannie Rienie se kar en hul albei se vriendskap. No questions asked.

Halfpad deur die drama word ek en my sussie ingelig ons moet gaan groet. RB is sterwend. So kom ons ook te staan voor Toon en Rienie se voordeur. Ek onthou daardie eerste kuier soos gister. (By the way, my bababoetie het dit toe deurgehaak.)

Oom Toon was ’n panel beater wat na jare sy eie panel beating-besigheid kon begin. Hy was vir my negejarige brein ’n sewe voet lange reus. Sy hare was teruggekam met grease, sy vel opgevreet deur porfirie, maar daar was drie ander dinge omtrent oom Toon wat my eindeloos beïndruk het: (1) Die tatoe van ’n meisie in ’n baaikostuum op sy voorarm! (2) Volgens legende is sy bynaam Toon oor sy groottoon af is. Die legende het nie vertel hoe hy die toon verloor het nie. (3) Sy sagte glimlag as hy hulle TV-speletjies vir hierdie armgatkind moes opstel. Ek het hulle Pacman op, op gespeel.

Tannie Rienie was kort en koeëlrond en ’n huisvrou van formaat. As sy op ’n kleur vir ’n kamer besluit, het sy besluit. Dan was alles, van die lakens tot die mat, van die mure tot die meubels, pers en net pers. Ek het ’n paar benoude oomblikke gehad, laat in die nag, wanneer ek moes kamerverlaat en alles is pers in die pers kamer of groen in die groen kamer. Dit kon oorweldig.

Tannie Rienie het nie gespeel met ontbyt nie. Die tafel moes wankel. (Jare later het ek verneem die vrygewigheid was nie ’n uitsondering nie. Nico, hul enigste, en Toon het elke dag so geëet.) Daar was spek en eiers. Wors en tjops. Pap natuurlik. Sampioene, tamaties, en ek verbeel my aartappel ook. Alles het gedryf in botter of vet. Ons was bepaald naar na so ‘n ontbyt, want jy kan nie ongeskik wees en nie iets van alles probeer nie.

Oom Toon en tannie Rienie was groot aanhangers van Cora Marie. My ouers was meer Rina Hugo-, Gé Korsten0tipes. Tog as ons in die sitkamer sit en Toon en Rienie die Cora Marie-plate uithaal, het my ma en pa met erns saam geluister. Laat ek net waag om my oë te rol, dan kry ek ook daardie kyk van my ma wat sy al die buurtkinders mee banggemaak het.

In elk geval, mettertyd moes my ma terugkom Kroonstad toe. Ek en my sussie het vermoedelik my pa mal gemaak. My ma kon met ’n geruste hart kom kuier, want Rienie het ingestaan vir haar. Na werk het sy RB elke dag in die hospitaal gaan bad en vir hom die skoon kleertjies aangetrek wat sy gewas, gestryk en gebring het. Wanneer sy by die huis kom, het sy dadelik gebel en verslag gelewer oor watter pakkie hy dra, hoe pienk hy was en of hy al enigsins gereageer het op enigiets.

Oor die jare was daar talle opvolgondersoeke in Bloem. Ons het nooit weggery van die plot af sonder ’n kattebak vol groente nie. Nooit het die twee mense enigiets in ruil daarvoor gevra of verwag nie. Dit sou inderdaad ’n belediging, asook ’n onbegonne taak, wees om hulle te probeer vergoed vir hulle vryheid van gees.

Oom Toon en tannie Rienie is Sondagaand vermoor. In die plaashuis wat hulle gehuur het. Vir ’n bakkie. Miskien ’n TV.

‘n Kortetjie

Vir die neef wat ek so sleg ken

 

Ek het polisiefamilie. Familie wat in die polisie is. My oom en tannie is al afgetree. Volgens oorvertelling kon my tannie ʼn konstabel met die plathand oor ʼn lessenaar klap. Alhoewel ek dit nie met my eie oë gesien het nie, het ek dit as wys beskou om nie met haar skoor te soek nie.

My twee niggies, verstaan ek, doen nogal goed. Hulle is die tipe mense wat ons in die polisie wil hê. Dit is nie net ʼn job vir hulle nie. Hulle glo in reg en geregtigheid. My nig in die berede eenheid het twee dae gery op soek na ʼn kleuter wat uit ʼn township uit verdwyn het. Die vreugde was groot toe hulle haar, bietjie gedehidreer, maar lewendig opspoor.

Hulle kleinboet is ʼn trokdrywer. Hy kan enige trok enige plek in reverse. Hulle skills sal iets beteken in ʼn oorlog.

Nou stel julle voor hoe verskil ons wêrelde van mekaar. Ek stal foto’s, en nou ook video, uit in galerye in die noordelike voorstede van Johannesburg en skryf tans aan ʼn tweede queer roman wat hopelik weer by die Stellenbosch Woordfees bekendgestel sal word. Ek resenseer kunsfilms en is ʼn vrou getroud met ʼn vrou. Ek Tweet, Instagram en verkoop my boek op Amazon. Ahem.

Tog het ons ʼn wedersydse respek vir mekaar. Hulle verwelkom my en my vrou by enige familiefunksie. Ek weet as ek 3uur die oggend in groot moeilikheid is, bel ek hulle. Maak nie saak hoe lank terug ons mekaar gesien het nie. Hulle is die tipe mense wat sakke inkopies aflaai, toe my ma in die nood was. Hulle is die tipe wat op ʼn Sondag opdaag en genoeg vleis saambring én braai om my ma en boetie die hele week te hou. Op polisie en trokdryf salarisse. Sout van die aarde, is wat ek hulle noem.

 

Vir my niggies en tannie ken ek die beste. In 1981 het my oom hulle, saam met hul koffers, in die middel van die nag by ons afgelaai in Kroonstad. Dit was oor tussen hom en my tannie. Hy het terug Laingsburg toe vertrek.

Ek was 8 jaar oud. Wat het ek verstaan van hoe misplaas hulle moes gevoel het? Ek en my ouer sussie, wat dalk beter moes geweet het, het my niggies gas gegee. My kwaai tannie het ons gereeld hieroor ingeklim. Vir haar en haar stem (en die gerugte van die plathand aksie) was ek vrek bang. Sy het wel eendag daardie selfde stem verhef toe my sussie se seunsvriende, vier jaar ouer as ek, my onder die water hou in die swembad. Die laities se swembroeke het gebewe en vir die res van die dag kon ek hulle terroriseer nes ek wil. Ek het back up gehad.

Kort na hulle by ons gedeponeer is, het ʼn ligte Karoo reëntjie groot hartseer veroorsaak. Die samevloei van die Baviaans en Buffelsrivier het ʼn ses meter hoë muur van water deur Laingsburg gestoot. Volgens familie legende het my tannie-hulle se huis weggespoel. As hulle tuis was, was hulle dood. My oom het hulle weer kom haal. Dit was ʼn wonderwerk, het my ma gesê.

My neef, wie se bynaam Swartkop is al het hy rooi hare en sproete, is gebore na hulle verblyf by ons. Dus ken ons mekaar die slegste van almal.

Die sterkste herinnering wat ek aan Swartkop het, is die dag voor my pa dood is. Hy en my tannie het diens gedoen, want dit is wat familie doen, om langs ʼn bewustelose man te sit sodat hy nie alleen doodgaan nie.

Swartkop en sy vrou het natgereën op pad tehuis toe. Swartkop het eenvoudig die knope oor sy Afrikanerboepensie losgemaak, sy hemp uitgetrek en oor die voetenent van my pa se sterfbed gehang. Dit is dan nat. Voor ons kon keer het hy die kleine handdoekie uit die gastetoilet gehaal en begin om sy kort, stewige lyf daarmee af te droog. Dit is nou nie wat ek of my groepie noordelike voorstedelinge sou doen nie, maar nou ja, dit is prakties as jy logies daaraan dink. En baie snaaks.

 

Ek en Swartkop het mekaar gister vir die eerste keer in jare gesien. Alhoewel ek hom die slegste ken, niks, maar niks van kerk hou nie en boonop geen clue het wat om vir hom te sê nie, het ek die begrafnis bygewoon van sy ses maande oue seuntjie wat eenvoudig ʼn paar dae terug ophou asem haal het.

Want is dit nie wat jy doen vir ander nie? Jy trek jou beste skinny jeans en oorle ouma se serp aan en kry jou ma op pad Vanderbijlpark toe. Jy druk nou neef in die parkeerarea tot hy ophou huil, jy druk jou niggies en tannie. Jy maak dit deur die NG diens en jy koek en tee na die tyd in die kerksaal tot meeste mense gegroet het.