‘n Nuwe skets geskryf vir (en gepubliseer deur) Litnet

Oom Toon en tannie Rienie

1982. Dit is die jaar wat ek oom Toon en tannie Rienie ontmoet. Dit is ook die jaar wat my bababoetie gebore is. Die twee gebeurtenisse is vir ewig aan mekaar verbind, maar dit is die oom en die tannie oor wie ek wil praat.My broer se geboorte was die begin van die einde vir my familie. RB is met ’n defek gebore en moes inderhaas Bloemfontein toe vir rugoperasies, breinoperasies en weke en weke in die hospitaal. Die dokters het (verkeerdelik) voorspel dat hy ’n 100% normale lewe sou lei. Etters.

Daar was nie geld in die familietjekrekening vir weke en weke se verblyf in Bloem nie. Ook het ons niemand in Bloem geken nie. My ma was egter vriende met die hele Kroonstad. (Sy bel absoluut almal op hul verjaarsdae. Of jy nou al afgeskei is, moeilikheid gemaak het, of lelik was met haar, sy sal jou op jou verjaarsdag bel.) Kort voor lank vind ons uit ons ken wel iemand in Kroonstad wat iemand in Bloem ken. Ja, oom Toon en tannie Rienie.

Kort na my boetie Bloem toe is, kom my ma dus te stane voor die voordeur van onbekende vriende hoog aanbeveel deur bekende vriende. Toon en Rienie neem haar in en gee vir haar blyplek, kos, tannie Rienie se kar en hul albei se vriendskap. No questions asked.

Halfpad deur die drama word ek en my sussie ingelig ons moet gaan groet. RB is sterwend. So kom ons ook te staan voor Toon en Rienie se voordeur. Ek onthou daardie eerste kuier soos gister. (By the way, my bababoetie het dit toe deurgehaak.)

Oom Toon was ’n panel beater wat na jare sy eie panel beating-besigheid kon begin. Hy was vir my negejarige brein ’n sewe voet lange reus. Sy hare was teruggekam met grease, sy vel opgevreet deur porfirie, maar daar was drie ander dinge omtrent oom Toon wat my eindeloos beïndruk het: (1) Die tatoe van ’n meisie in ’n baaikostuum op sy voorarm! (2) Volgens legende is sy bynaam Toon oor sy groottoon af is. Die legende het nie vertel hoe hy die toon verloor het nie. (3) Sy sagte glimlag as hy hulle TV-speletjies vir hierdie armgatkind moes opstel. Ek het hulle Pacman op, op gespeel.

Tannie Rienie was kort en koeëlrond en ’n huisvrou van formaat. As sy op ’n kleur vir ’n kamer besluit, het sy besluit. Dan was alles, van die lakens tot die mat, van die mure tot die meubels, pers en net pers. Ek het ’n paar benoude oomblikke gehad, laat in die nag, wanneer ek moes kamerverlaat en alles is pers in die pers kamer of groen in die groen kamer. Dit kon oorweldig.

Tannie Rienie het nie gespeel met ontbyt nie. Die tafel moes wankel. (Jare later het ek verneem die vrygewigheid was nie ’n uitsondering nie. Nico, hul enigste, en Toon het elke dag so geëet.) Daar was spek en eiers. Wors en tjops. Pap natuurlik. Sampioene, tamaties, en ek verbeel my aartappel ook. Alles het gedryf in botter of vet. Ons was bepaald naar na so ‘n ontbyt, want jy kan nie ongeskik wees en nie iets van alles probeer nie.

Oom Toon en tannie Rienie was groot aanhangers van Cora Marie. My ouers was meer Rina Hugo-, Gé Korsten0tipes. Tog as ons in die sitkamer sit en Toon en Rienie die Cora Marie-plate uithaal, het my ma en pa met erns saam geluister. Laat ek net waag om my oë te rol, dan kry ek ook daardie kyk van my ma wat sy al die buurtkinders mee banggemaak het.

In elk geval, mettertyd moes my ma terugkom Kroonstad toe. Ek en my sussie het vermoedelik my pa mal gemaak. My ma kon met ’n geruste hart kom kuier, want Rienie het ingestaan vir haar. Na werk het sy RB elke dag in die hospitaal gaan bad en vir hom die skoon kleertjies aangetrek wat sy gewas, gestryk en gebring het. Wanneer sy by die huis kom, het sy dadelik gebel en verslag gelewer oor watter pakkie hy dra, hoe pienk hy was en of hy al enigsins gereageer het op enigiets.

Oor die jare was daar talle opvolgondersoeke in Bloem. Ons het nooit weggery van die plot af sonder ’n kattebak vol groente nie. Nooit het die twee mense enigiets in ruil daarvoor gevra of verwag nie. Dit sou inderdaad ’n belediging, asook ’n onbegonne taak, wees om hulle te probeer vergoed vir hulle vryheid van gees.

Oom Toon en tannie Rienie is Sondagaand vermoor. In die plaashuis wat hulle gehuur het. Vir ’n bakkie. Miskien ’n TV.