Woorde as omhelsings

October 14, 2020 in Uncategorized

Dit was pas dag 200 sedert diepgrendel se fase 5. Sedertdien het ’n gulsige swartgat – laat dit maar so droewig gevaarlik klink soos dié waarvan die astrofisici praat – ’n hele ses maande ingesluk. ’n Halwe jaar. Van middel-Maart, toe ons op Sondagaand 15 Maart daardie veelbewoë Ides of March-toespraak van onse president aangeluister het. Toe nog ’n week of wat grasie, kans vir almal om hul ding gedoen te kry. Ook dié van ons wat maar net nie kon help om aangesteek te word deur daardie ander erge aanstekerige ding nie: aapraap. Die gees en vlees is mos maar swak, ons laat ons maklik op sleeptou neem. En as ander die winkelrakke wil leegraap, dan doen ons hartlik mee. Immers: Solank ons weet die koskaste kreun, het ons darem een sekerheid vir die onseker tyd wat voorlê. O ja, om nie te vergeet nie. Veral ook die Beste van die Boland in ’n Bottel was deel van die aapraap. Baie Belangrik. As die gees en vlees swak is, het ons darem ’n bietjie troos ook nodig.

Nou’s dit ’n halwe jaar later en ons vra mekaar: Waar is die tyd heen?

Ja, wat het intussen gebeur? Die antwoord kan jy in statistieke kry. Op Dag 200 lees dit so:

Totale aantal gevalle: 692 471.

Die laaste 24 uur: 1 575 nuwe gevalle.

Sowat 623 765 mense het herstel, en op Dag 200 is daar altesame 50 926 “aktiewe” gevalle. In gewone taal: Mense wat siek is.

Maar 17 780 het hul lewens verloor. Iemand se ma, pa, kind, man, vrou, broer, suster, tante. Of vriendin, vriend, kollega of kennis.

***

Verlies, verdriet, verslaentheid. En dankbaarheid dat dit nie erger is nie. Veral ook dankbaarheid vir ons wonderwerkers in die hospitale: Julle verdien almal medaljes. Ja, ’n medalje sit nie brood op die tafel of gee tyd terug wat vir altyd verlore is nie. Maar minstens is dit ’n dankbare Suid-Afrika wat jul toewyding en harde werk onder sulke verskriklike moeilike omstandighede erken en eer.

En danksy julle is ons darem nou op fase 1. Nie asof ons maar kan laat waai nie. Die boodskap bly: Asseblief, wees verantwoordelik. Moenie jou virus-waaksaamheid verslap nie. Doen getrou die driepas: Afstand, Masker, Handhigiëne. Die gevaar is steeds dieselfde.

Ons is op fase 1 nie omdat dit veilig is nie, maar om iets van die ekonomie te red. Iets van so baie mense se inkomste. Iets van ’n lewe. Die virus het nie wonderbaarlik verdwyn nie. Dis nie in virusse se aard nie; veral nie hierdie submikroskopiese stukkie RNA wat so klou aan oppervlakke en in die lug rondom ons bly hang nie. Die nuus is juis dat die Wes-Kaap se getalle al weer aan die styg is. En as dit ’n herhaling is van wat in die Noordelike Halfrond gebeur, moet ons weet: Gordel vas. Riller-wipwaentjierit Weergawe 2 warm op.

***

Maar intussen, o intussen, het ons aan die begin van Maart laas vir mekaar omhels. Volwasse kinders vir hul bejaarde ma’s. Kleinkinders vir hul ouma’s. Ons het, o ons het, so ’n behoefte aan aanraking. Want ons moet, o ons moet, velkontak hê. Ons is tropdiere. Ons moet aanmekaar raak, en dikwels, soos wat ons elke dag saam met tyd die toekoms in beweeg. Ons mis mekaar so. Sosiale saamwees, wat ons so vanselfsprekend aanvaar het, moes plek maak vir inperking, isolasie en eensaamheid. Dit maak van ons vervreemde wesens. Ons het nodig om bymekaar te kom en spontaan te kan omhels. Maar nou mag ons nie. Ter wille van ons bejaarde ma’s en ons kleinkinders se oumagrootjies. En ook onsself, want niemand is immuun nie.

Wat kan ons intussen doen in die plek van omhels?

Hier is iets: Wat van ’n woordomhelsing?

Skryf vir jou bejaarde ma hoe lief jy haar het. Hoe dankbaar jy is vir alles wat sy vir jou gedoen het, en alles wat sy vir jou opgeoffer het sodat jou generasie kon hê wat haar generasie nie gehad het nie. Skryf hoe dapper sy was, en is, hoe jy haar bewonder dat sy teen al die aanslae van die lewe so staande gebly het.

Skryf daardie woordomhelsing. Laat ’n agterkleinkind vir ’n oumagrootjie ’n “briefie” skryf vol hartjies en soentjies en blommetjies en ’n helder son wat skyn.

’n Woordomhelsing kan nie hierdie virus ongedaan maak nie, maar dis ’n sigbare, vatbare erkentenis van ’n omhelsing.

In my kombuis hang ’n Duitse versie wat onder meer sê dat ons vir mekaar baie meer blomme gedurende die lewe moet gee, want op grafte is hulle tevergeefs. Ons het ook veel meer omhelsings gedurende hierdie lewe nodig; dat geliefdes weet presies hoe geliefd hulle is. En as hierdie virus maak dat ons mekaar nie mag omhels nie, laat ons dan vir mekaar woordomhelsings skryf.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *