Oor meteoriete, ’n virus, en skryfterapie

September 3, 2020 in Uncategorized

Puinlandskap of pynlandskap?

Toe is die meteoriet wat die aarde getref en alles tot stilstand gebring het al die tyd ’n miniskule klein organisme in die vorm van ’n virus.

Wie sou kon dink.

En nie net ons planeet is in haar wentelbaan gestop nie, maar elke aspek van ons bestaan. Dit wat voorheen vanselfsprekend was, het skielik spesiaal geword. Nie sommer vir indraf by jou Spar vir ’n melktert nie. Nou is dit ’n strategies beplande ekspedisie. So ook die interaksie met geliefde en gewaardeerde kollegas op kantoor. Selfs die normale rit kantoor toe is nou ’n voorreg. Die verwondering dat alles nog so gewoon kan lyk, so mooi kan wees. Bome, berge, boorde. En kuier met familie en vriende, gekoester voorheen, nou veel meer. Inval by mekaar bestaan nie meer nie. Onder Vlak 2 mag ons darem, hoewel net effens. Maar dis Operasie Fyn Beplan. Van Hoeveel Mag Kuier tot Wanneer Raak Dit ’n Risiko?

Maar dan op ’n veel, veel erger skaal: So baie wat skielik uit die ergste droefenis moet sin maak.

Dalk het dit nie eens iets met die virus te make nie. Dalk is dit ’n geval van die lewe wat gewoon sommer net so allervreeslik gebeur het terwyl hierdie virus woed. Waar ook al jy jou op die spektrum bevind in hierdie tyd van die virus: Iewers, en dalk glad nie ver van jou nie, is daar trane en stukkende harte.

Dalk het jy jou werk verloor, is jy nóg ’n slagoffer van die virus-ekonomie. Sommer so van vandag na môre. En daarmee saam is die fondament onder jou uit. Ook jou gevoel van eiewaarde; ons meet onsself mos aan dit wat werk genoem word. Veral ook dit wat jy daarmee verdien. Wat immers liggaam en siel aanmekaar gehou het. Nou is betaaldag ’n verskrikking; jou bankbalans bly net waar hy was. Die Werkloosheidsversekeringsfonds? Ag, vergeet daarvan.

Of op ’n fundamenteel eksistensiële vlak. Die doodsengel, altyd ’n ongenooide gas, hierdie keer met sy Covid-kleed selfs nog meer ongenooid, het onverwags en ongenadig naby jou aangedoen. Of ’n ander tragedie van onsêbare aard. Geliefdes wat eenvoudig op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Die noodlot, so genadeloos, wat toegeslaan het. Of daardie ander werklikheid: Die geweldspiraal wat die geliefde land meedoënloos in ’n diep donkerte aftrek.

Opgesom: ’n Geval van die lewe wat net nie is soos ons ons dit voorgestel het nie. Ligjare verwyderd van die lewe-is-’n-lied soos wat jy nog altyd gedink het. En gesê het, vir almal wat wou hoor. Nou moet jy herfraseer. Die lewe ís ’n lied. ’n Treurlied.

En al waarvan jy seker is, verdwaas in die aangesig van die storm van tragedies rondom jou, is ’n vraag sonder ’n antwoord: Wat volgende?

Viktor Frankl, die psigo-analis wat die Tweede Wêreldoorlog se Nazi-konsentrasiekampe oorleef het, het sy logoterapie op drie elemente gebou, soos beskryf in sy boek wat in dosyne tale vertaal is. In Engels is dit Man’s Search for Meaning en in Afrikaans Waarom lewe ek? Frankl se drie elemente is om iets te hê om te doen, om lief te hê en liefgehê te word, en om sin in lyding te vind.

Die eerste twee is “maklik”. Jy kan sorg dat jy iets het om te doen, of dit ’n vaste werk is, of ’n stukkie breiwerk vir ’n kinderhuis. Selfs al het jy nie meer ’n formele werk nie, kan jy steeds iewers iets doen wat sin maak en sin gee, soos om in hierdie tyd kospakkies te help pak vir mense wat minder as jy het. So maak jy ’n verskil én glo jy weer in jouself en jou eiewaarde.

Frankl se tweede element: Ja, ons weet mos daar is mense wat vir ons omgee en ons liefhet, en mense vir wie ons omgee en liefhet.

Maar die derde: Om sin te maak uit lyding?

Hoe? Hoekom?

Dis waar skryf inkom. Ja, om daardie 26 skribbeltjies van wat ons die alfabet noem, vir jou te laat werk. Daar is soveel moontlikhede om hulle aanmekaar te las sodat hulle soos verskillende DNS-spiraaltjies kan vertel van ons hier en nou en hierdie tyd wat ons beleef.

Jy sug. Daardie onmiddellike: Maar ek kan mos nie skryf nie!

Nee, jy kán.

En jy kan probeer om sin te maak uit hierdie lyding in die tyd van die virus deur neer te skryf wat jy beleef. Soos Frankl skryf: Elke krisis is ’n geleentheid om jou mensheid as mens te bewys.

En weer Frankl: Om nie te vra wat verwag ek van die lewe nie. Eerder: Wat verwag die lewe van my?

So eenvoudig soos wat dit klink, probeer dié eenvoudige ou vragie as ’n skryfterapie-oefening te beantwoord. Jy kom dalk, al skrywend, by ’n paar bakens uit wat vir jou nuwe rigting kan gee. Danksy die aanmekaar las van 26 eenvoudige lettertjies.

Ja, ons beleef ’n grenstyd, ’n oorgang tussen die oue wat verbygegaan het, en die nuwe, waar niemand weet wat wag nie. En jy kan dit neerskryf vir die geslagte ná jou. En daarmee pas jy ’n klein bietjie skryfterapie op jouself toe.

Span daardie 26 lettertjies in en kyk of jy vir jouself ’n nuwe lewensroete kan karteer, ondanks al hierdie onsekerhede, vrese en bekommernisse. Al het jy geen idee wat die bestemming kan wees nie, kan dit jou minstens help om dalk van ánderkant die hier en nou, van ’n groter afstand, ’n wyer blik op die horison te kry.

Ja, en kan jy dalk ’n nuwe roete na jouself probeer oopskryf. Dalk word dit selfs ’n nooit voorsiene ontdekkingsreis, op ’n nooit voorsiene landskap, al is dit een waar hierdie meteoriet in die vorm van ’n virus ’n puinlandskap – dalk pynlandskap – agtergelaat het.

Skryf, dit kan jou help om tot verhaal te kom.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *