Hamba Kahle, ewige reisiger

June 23, 2020 in Uncategorized

Selfs nie-lesers weet wie Elsa Joubert was. Mos die skrywer van die Poppie-boek? Die een en enigste. Sy, wat ’n leeftyd se medereisiger van so baie was, is skielik nie meer nie. Sy, wat die ongemaklike vrae gestel het; mense in hul gemaksones laat rondskuif het. Sy, wat tot op die einde ’n stem vir die broosstes onder die broses was. Daardie pleidooi dat kinders tog vir hul bejaarde ouers in sorgsentrums mag gaan kuier. Dat kinders en kindskinders ’n ma se lewensdraad is. Ek kan my net voorstel hoe dit vir oues moet wees, wie se spertyd so bewustelik nader kom. En toe was juis sy een van hulle wat in hul laaste drie maande sedert die Covid-inperking die aanraking van geliefdes moes ontbeer, die koestering van die kring van naastes. Vir hulle was sy geliefde ma, ouma en oumagrootjie. Vir ons, so veel verder van haar, voel dit óók soos ’n persoonlike verlies.

Sy was poolster en unikum; ’n morele kompas oor dit waaróór sy geskryf het. Maar ook oor skryf self het sy rigting gegee. Soos hierdie besinning: “Hoe sal ek weet wat ek dink as ek nie sien wat ek geskryf het nie?”

En hoe skryf ons minderes oor iemand wat so met woorde kon omgaan? Watter woorde kan ’n mens uit ons alfabet saamsmee wat hierdie woordsmid waardig is?

Miskien dan maar die verhaal van een bevoorregte bewonderaar se verbintenis met haar. Ek was ’n Standerd Sessie, nou Graad Agt, toe sy aan die einde van daardie jaar die spreker by ons skool se prysuitdeling was. Sy, die oudleerder en seleb-skrywer. Ek, verwonderd, vir die eerste keer sien ek ’n régte skrywer.

Sedertdien was sy daardie poolster. Vir die gewete, maar ook vir skryfstyl. Haar skryfwerk wat tegelykertyd iets byna onmoontliks reggekry het: So sober, maar so liries. Haar skryfwerk wat ook ’n meesterklas vir joernaliste inhou: Só neem jy waar, met al vyf jou sinne. En dan nog die sesde ook. Sien, hoor, ruik, proe, voel. Maar veral die sesde sintuig wat die fynste trillings waarneem van dit wat nie sintuiglik kan resoneer nie.

Met ons skool se 150ste viering, in 2010, het Elsa en ek ’n verhoog gedeel. Sy, die gevierde skrywer, maar die immer nederige, so effe onseker op die verhoog van die Hoër Meisieskool La Rochelle daar aan die voet van die Paarl se manjifieke granietrots. Ek, die een wat glad nie in dié swaargewig-geselskap hoort nie; nóg meer onseker van myself.

Maar ek kon darem vir haar sê dat Reisiger, die tweede deel van haar outobiografie – ons het toe nog nie geweet daar kom ’n meesterlike derde nie – vir my die vorige jaar met sy verskyning ’n tenk suurstof was. Daarsonder sou ek nie daardie jaar oorleef nie. Hoe sy geskryf het van haar reise die Limietberge oor. Die Limietberge, die berge anderkant die Paarl en Wellington, wat nooit haar limiet kon wees nie. Die soekende siel moes weet wat was ánderkant daardie limiete, letterlik en figuurlik. En hoe sy ons saam met haar oor daardie limiete laat reis het. Hoe ons ons eie limiete moes oorsteek. Al wou ons omdraai en vlug.

* * *

Elsa, ewige reisiger. Dit was die goue draad deur al haar werk. Die reis van mens tot mens, maar ook, veral, van buite af binne toe. Die soeker, letterlik en figuurlik. Die bloedjong 26-jarige vrou wat die ongekende – in haar tyd ongeoorloofde en ongehoorde – gedoen het deur met boot en trein van die suidpunt van Afrika tot in Europa te reis.

Elsa, die reisiger wat nuwe wêrelde letterlik en figuurlik voor haar sien oopgaan het in haar reis deur Afrika. Ook haar latere reise waar sy die broosheid en weerloosheid van die mens, gevang in brutale politieke stelsels, met ’n nugterheid kon oopskryf wat die krop van die maag getref het.

’n Ruk ná daardie dag in 2010 het ’n brief deur die pos opgedaag. Van Elsa. Sy wou net sê hoe sy my skryfwerk in die media volg, hoe dankbaar sy is vir die lans wat ek breek oor psigiese gesondheid, hoe nodig dit is, hoe ons met ’n ander taal oor psigiese gesondheid moet praat. Ek het met verwondering, en verwonderd – steeds die grootoog-standerdsessie – vir haar teruggeskryf. Elke woord versigtig gekies en weer geweeg. Dit Was Immers ’n Brief Aan Elsa Joubert. Dit moes foutloos in formulering en sinsbou wees.

En so ontstaan ’n korrespondensie, op die ou manier, met briewe deur die pos. Totdat dit vir die poskantoor maande begin neem om ’n brief van die Kaap tot op Stellenbosch te kry. Daarna het ek ’n e-pos of wat geskryf, wat haar versorger vir haar gelees het.

En toe die hoogtepunt van Spertyd. Ek was geëerd om onder die gaste te wees, daar in Berghof aan die hang van Tafelberg, waar die stroompie met sy kwaker-eendjies onder haar woon-woonstel teen die hang af klater, en waar sy in haar werk-woonstel oorkant die gang ’n uitsig het op die manjifieke moederberg.

En nou het die reisiger die limiet van haar lewensjare bereik. Maar wat ’n erflating het sy agtergelaat. Mag dit ook vir jou inspireer om met woorde nuwe landskappe na jouself te karteer.

Hamba kahle, ewige reisiger.

1 response to Hamba Kahle, ewige reisiger

  1. Lieflike woorde, Lizette.
    Ons het vlugtig ontmoet circa 83 via Mattie Kruger (Hough) by wie ek vreugde/vrugtevolle tye in Hys Mys in Murraystraat deurgebring het. Ek dink julle was saam in die joernalistiek Honneurs klas by Prof. Piet Cillié of Prof. Grosskopf?
    My vrou het sonder om jou boek tot haar beskikking te gehad het, voortspruitende uit jou seun se dood, na ons psigiese welstand omgesien, waarvan Elsa gewag gemaak het sedert Oktober 2006 met windpompevygies.wordpress.com. Ek was bevoorreg genoeg om Elsa en Klaas in Onrus te kon ontmoet in die laat 80s/vroeg 90s.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *