Jou Korona-Kronieke

May 11, 2020 in Uncategorized

As die onwerklikheid van ons werklikheid dreig om te veel te raak … gryp jou naaste pen of jou rekenaar se toetsbord, en draai oop daardie skryfkraantjie. Dis in hierdie onseker tyd minstens een van die min ankers wat ons het. En veral in tye van krisis is skryfterapie die wonderlikste terapie om die onsekerheid en angs in woorde te kan uitdruk.

So, vat jou pen en papier, of gaan sit voor jou rekenaar. En ja, te midde van allerlei fopnuus oor wonderkure (daar is nie), is skryfterapie nie ’n wonderkuur nie, maar, gewaarborg, ’n uitlaatklep vir die siel. Dit gaan nie hierdie virus laat verdwyn nie, maar dit gaan jou tog ’n bietjie meer in beheer laat voel. En dit kos boonop niks.

Begin jou Korona-Kroniek (Foto: Izak de Vries)

Begin sommer dadelik met jou dagboek. Noem dit jou Korona-Kroniek. ’n Oorlogsdagboek, terwyl geen skoot geval het nie, maar met onvoorstelbare humanitêre en ekonomiese tragedies, dag ná dag.

En veral met ons inperkingsmaatreëls kan skryfterapie vir jou vleuels gee. Dink bietjie aan wat die jong Anne Frank tydens die Tweede Wêreldoorlog geskryf het toe sy en haar familie in die Achterhuis daar in Amsterdam versteek was … en voordat hulle ontdek is en so te sê almal in konsentrasiekampe gesterf het. Haar woorde: “Ek kan alles van my afskud terwyl ek skryf; my hartseer verdwyn, my moed word nuutgebore.” Kyk hoe dagboekhou – jou persoonlike korona-kroniek – jou hartseer laat verdwyn en vir jou nuwe moed gee.

Dis dalk die oer-terapie wat bestaan, van ons prehistoriese voorouers wat hul tekeninge op rotse agtergelaat het as ’n soort “hier was ek”, tot ons Victoriaanse grootjies wat in ’n dagboekie, daardie tyd letterlik met ’n slotjie, hul gedagtes neergeskryf het.

Nou, die tyd het aangebreek dat ook jy begin dagboek hou. Die modewoord is “journaling”, om ’n joernaal te hou. Die woord se oerstam kom uit die Latynse diurna – jy kan daarin die woord joernaal, ook joernalistiek, die “storie van die dag”, herken. En laat niks jou keer om jóú storie van die dag te skryf nie. Laat al jou vrese, angste en kommer, hulself in woorde vind. Dit word dalk ’n familie-erfstuk vir ’n kind of kleinkind oor hierdie tyd toe die aarde ophou draai het, in die greep van ’n virus: Dis wat jy gedink het, dis hoe jy gevoel het, dis hoe jy deur hierdie grendeltyd gekom het.

Iemand het gesê skryfterapie is “creative, cathartic, curative” – kreatief, ’n katarsis, helend. Druk deur, dit gáán eendag ’n familiekroniek wees.

’n Paar wenke: Moenie dink aan wat ander van jou skryfwerk gaan dink nie. Skryf net. Moenie probeer beïndruk nie. Gebruik gewone woorde, gewone taal. Maak ’n wye draai rondom ’n cliché, hulle is sommer net ruimtestelers, gebruik liewer jou eie woorde om iets te beskryf, van hoe jy dit self ervaar het. Alles tesame: ’n testament van jou ervarings.

As jy in hierdie tyd ekstra angstig is, gaan dit jou ook help om bietjie verligting te bring. Natuurlik vervang skryfterapie nie die professionele hulp van ’n psigiater of sielkundige, of jou medikasie nie; maak seker jy gaan voort daarmee. Maar gee vir jouself terapie deur oor jou angstigheid te skryf. Gee dit lug en lig, dat al daardie benoudheid en donkerte kan ontsnap.

Onthou: Daar is nie ’n reg of verkeerd nie. Dis jy en jou ervarings wat jy neerskryf, en dis bemagtigend. Om dagboek te hou, help jou om jou emosies uit te druk: Wat sneller hulle, hoe kan jy reageer? En veral: hoe verstaan jy jou gedagtes, en jouself, beter? Ernest Hemingway, manjifieke meester van die woord, het geskryf: “If he wrote it, he could get rid of it. He had gotten rid of many things by writing them.”

Hy het dalk na homself verwys, en daardie swart hond wat hom so meedoënloos gejaag het. Gun ook jouself ’n bietjie bemagtigende skryfterapie, veral in die tyd van die virus. Begin jou Korona-Kroniek.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *