Oor meteoriete, ’n virus, en skryfterapie

September 3, 2020 in Uncategorized

Puinlandskap of pynlandskap?

Toe is die meteoriet wat die aarde getref en alles tot stilstand gebring het al die tyd ’n miniskule klein organisme in die vorm van ’n virus.

Wie sou kon dink.

En nie net ons planeet is in haar wentelbaan gestop nie, maar elke aspek van ons bestaan. Dit wat voorheen vanselfsprekend was, het skielik spesiaal geword. Nie sommer vir indraf by jou Spar vir ’n melktert nie. Nou is dit ’n strategies beplande ekspedisie. So ook die interaksie met geliefde en gewaardeerde kollegas op kantoor. Selfs die normale rit kantoor toe is nou ’n voorreg. Die verwondering dat alles nog so gewoon kan lyk, so mooi kan wees. Bome, berge, boorde. En kuier met familie en vriende, gekoester voorheen, nou veel meer. Inval by mekaar bestaan nie meer nie. Onder Vlak 2 mag ons darem, hoewel net effens. Maar dis Operasie Fyn Beplan. Van Hoeveel Mag Kuier tot Wanneer Raak Dit ’n Risiko?

Maar dan op ’n veel, veel erger skaal: So baie wat skielik uit die ergste droefenis moet sin maak.

Dalk het dit nie eens iets met die virus te make nie. Dalk is dit ’n geval van die lewe wat gewoon sommer net so allervreeslik gebeur het terwyl hierdie virus woed. Waar ook al jy jou op die spektrum bevind in hierdie tyd van die virus: Iewers, en dalk glad nie ver van jou nie, is daar trane en stukkende harte.

Dalk het jy jou werk verloor, is jy nóg ’n slagoffer van die virus-ekonomie. Sommer so van vandag na môre. En daarmee saam is die fondament onder jou uit. Ook jou gevoel van eiewaarde; ons meet onsself mos aan dit wat werk genoem word. Veral ook dit wat jy daarmee verdien. Wat immers liggaam en siel aanmekaar gehou het. Nou is betaaldag ’n verskrikking; jou bankbalans bly net waar hy was. Die Werkloosheidsversekeringsfonds? Ag, vergeet daarvan.

Of op ’n fundamenteel eksistensiële vlak. Die doodsengel, altyd ’n ongenooide gas, hierdie keer met sy Covid-kleed selfs nog meer ongenooid, het onverwags en ongenadig naby jou aangedoen. Of ’n ander tragedie van onsêbare aard. Geliefdes wat eenvoudig op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Die noodlot, so genadeloos, wat toegeslaan het. Of daardie ander werklikheid: Die geweldspiraal wat die geliefde land meedoënloos in ’n diep donkerte aftrek.

Opgesom: ’n Geval van die lewe wat net nie is soos ons ons dit voorgestel het nie. Ligjare verwyderd van die lewe-is-’n-lied soos wat jy nog altyd gedink het. En gesê het, vir almal wat wou hoor. Nou moet jy herfraseer. Die lewe ís ’n lied. ’n Treurlied.

En al waarvan jy seker is, verdwaas in die aangesig van die storm van tragedies rondom jou, is ’n vraag sonder ’n antwoord: Wat volgende?

Viktor Frankl, die psigo-analis wat die Tweede Wêreldoorlog se Nazi-konsentrasiekampe oorleef het, het sy logoterapie op drie elemente gebou, soos beskryf in sy boek wat in dosyne tale vertaal is. In Engels is dit Man’s Search for Meaning en in Afrikaans Waarom lewe ek? Frankl se drie elemente is om iets te hê om te doen, om lief te hê en liefgehê te word, en om sin in lyding te vind.

Die eerste twee is “maklik”. Jy kan sorg dat jy iets het om te doen, of dit ’n vaste werk is, of ’n stukkie breiwerk vir ’n kinderhuis. Selfs al het jy nie meer ’n formele werk nie, kan jy steeds iewers iets doen wat sin maak en sin gee, soos om in hierdie tyd kospakkies te help pak vir mense wat minder as jy het. So maak jy ’n verskil én glo jy weer in jouself en jou eiewaarde.

Frankl se tweede element: Ja, ons weet mos daar is mense wat vir ons omgee en ons liefhet, en mense vir wie ons omgee en liefhet.

Maar die derde: Om sin te maak uit lyding?

Hoe? Hoekom?

Dis waar skryf inkom. Ja, om daardie 26 skribbeltjies van wat ons die alfabet noem, vir jou te laat werk. Daar is soveel moontlikhede om hulle aanmekaar te las sodat hulle soos verskillende DNS-spiraaltjies kan vertel van ons hier en nou en hierdie tyd wat ons beleef.

Jy sug. Daardie onmiddellike: Maar ek kan mos nie skryf nie!

Nee, jy kán.

En jy kan probeer om sin te maak uit hierdie lyding in die tyd van die virus deur neer te skryf wat jy beleef. Soos Frankl skryf: Elke krisis is ’n geleentheid om jou mensheid as mens te bewys.

En weer Frankl: Om nie te vra wat verwag ek van die lewe nie. Eerder: Wat verwag die lewe van my?

So eenvoudig soos wat dit klink, probeer dié eenvoudige ou vragie as ’n skryfterapie-oefening te beantwoord. Jy kom dalk, al skrywend, by ’n paar bakens uit wat vir jou nuwe rigting kan gee. Danksy die aanmekaar las van 26 eenvoudige lettertjies.

Ja, ons beleef ’n grenstyd, ’n oorgang tussen die oue wat verbygegaan het, en die nuwe, waar niemand weet wat wag nie. En jy kan dit neerskryf vir die geslagte ná jou. En daarmee pas jy ’n klein bietjie skryfterapie op jouself toe.

Span daardie 26 lettertjies in en kyk of jy vir jouself ’n nuwe lewensroete kan karteer, ondanks al hierdie onsekerhede, vrese en bekommernisse. Al het jy geen idee wat die bestemming kan wees nie, kan dit jou minstens help om dalk van ánderkant die hier en nou, van ’n groter afstand, ’n wyer blik op die horison te kry.

Ja, en kan jy dalk ’n nuwe roete na jouself probeer oopskryf. Dalk word dit selfs ’n nooit voorsiene ontdekkingsreis, op ’n nooit voorsiene landskap, al is dit een waar hierdie meteoriet in die vorm van ’n virus ’n puinlandskap – dalk pynlandskap – agtergelaat het.

Skryf, dit kan jou help om tot verhaal te kom.

Jou Covid-dagboek

August 6, 2020 in Uncategorized

As jy ook nou al so ietwat moeg is om te hoor hoe almal Die Pes van Albert Camus aanhaal (hy was joernalis, filosoof, skrywer én tweede jongste ontvanger van die Nobelprys vir letterkunde, in 1957, op ouderdom 44)? Stop net daar. En begin om jou eie storie te skryf.

Ja, jou eie Die Pes. Hou dagboek. Jou kleinkinders gaan eendag in verwondering lees hoe jy hierdie dae van ’n pes – goed, ’n virus – in die 21ste eeu beleef het.

Dagboeke is fassinerende leesstof, want dit gee mense ’n intieme binnekyk op iemand anders se lewe en ervarings. Veral in hierdie grensverskuiwende tyd hier in die eerste jaar van die derde dekade van die 21ste eeu, hierdie 2020 wat so vol belofte was, kan jy jouself verbaas oor hoe jy daardie skryffonteintjie aan die vloei kan kry. Skryf van hoe ons treur oor alles wat was. Tot ietwat meer mundane dinge. Soos hoe piesangbrood nooit weer so gewild sal wees soos in die grendeltyd nie. Hoe almal later tog maar iets meer uitdagend as net ’n roerbrood probeer het. Wat weer veroorsaak het dat selfs die supermark se pakkies suurdeeg op ’n kol uitverkoop was.

Boweal: Hoe alles wat ons so vanselfsprekend aanvaar het, ewe skielik besonders en buitengewoon geword het. Soos om net na jou kantoor te kan gaan. Die verlang na werkplekke met hul kameraderie rondom ’n goeie koffie. Om dus nie te praat van die gat in almal se persoonlike lewens omdat kinders nie by ouers mag kom nie, en grootouers nie vir kleinkinders stories kan lees nie. Of hulle vir wie daar nou ’n “vir altyd” is: Dat ’n geliefde aan hierdie virus gesterf het. Hoe alles skielik so verskriklik anders geword het toe ons planeet gekantel het.

Want wat normaal was, is verby. Nou is daar die “nuwe normaal”, ’n nuwe manier van doen. Gits, net om te gaan inkopies doen, is nou ’n dapper daad. En as jy, mindere held, met jou inkopies by jou voordeur aangeland het, ontsmet jy jouself en elke item met vasberade verbetenheid om tog net seker te maak jy bring nie daai virus die huis binne nie.

Een van die name in die wêreld van woorde, Daniel Defoe, geleef van 1660 tot 1731 – eintlik net Daniel Foe, maar hy het homself adellik gemaak deur De vooraan sy naam te voeg – het ook oor die pes geskryf. As stigter van die eerste tydskrif in Engeland word hy as baanbreker beskou. En natuurlik, dis ook hy wat Robinson Crusoe geskryf het. Sy eerste prototipe tydskriffie het hy boonop so te sê uit die tronk gepubliseer, weliswaar tydens ’n kort verblyf, want ja, hy was ook die soort ou wat gereeld alles en almal rondom hom uitgedaag het.

Maar hier gaan dit nou oor sy pesdagboek. Sy A Journal of the Plague Year is eintlik misleidend. Hy het die pes wat daardie tyd deur die mensdom geswiep het, nie self beleef nie. Dit was ook ’n anderste soort pes as die pandemie wat ons nou ervaar. Daardie een was die builepes, deur vlooibyte oorgedra. Nou beveg ons ’n onsigbare virus, hoewel dit oorspronklik ook van diere na mense oorgedra is.

Maar terug na Defoe se Journal wat nie regtig sy eie joernaal was nie; hy het eenvoudig ander se werk gebruik om sy “dagboek” te skryf. Daar was baie publikasies oor daardie tyd se pes-uitbrake, want daar was baie wat hulle gewend het tot skryf om die tragedies rondom hulle te probeer verstaan – soos ons ook maar. Onder die skrywers was van godvresende puriteinse predikers wat gesê het dis God se straf op die drinkende, vloekende mensdom (Thomas Vincent se God’s Terrible Voice in the City, vandag nog te kry) tot ’n medikus wat sy beskrywing van die pes in Latyn geskryf het. Hy was Nathaniel Hodges; sy boek Loimologia is in 1672 gepubliseer en eers in 1720 in Engels vertaal. Defoe het blykbaar heerlik veral uit Hodges se boek “geleen” oor die buile (daarom builepes), so groot soos hoendereiers, wat op slagoffers se lyf uitslaan, die kruise op mense se deure om die pes af te weer, en hoe die mensdom met hul vreesaanjaende snawelmaskers gedink het hulle sal daarmee nie die pes inasem nie. Ons is toe nou nie die eerste generasie van Gemaskerde Wonders nie; ons kom al aan deur die eeue, in all shapes and sizes.

Maar van Defoe en sy nagemaakte pes-joernaal na jy en jou eie, egte Covid-dagboek.

Ons pes is ’n onsigbare vyand wat in menslike speeksel, en daarom ook luglangs, versprei. En hier sit ons, soveel maande later, soos verslaafdes gefikseer op die getalle: Waar styg dit, waar daal dit? Wat sê die viroloë? Wat sê die epidemoloë? (En is daar al pandemoloë?) Wanneer, dalk, is daar ’n entstof teen hierdie dodelike ding wat ons van ons so gewone, so alledaagse, so wonderlike lewe beroof het?

Daarom, om te help om al die angste te besweer, skryf. Hou dagboek.

Benader dit selfs as ’n “positiwiteitsdagboek”. Ja, daar is so iets ook. Met ten doel om jou uit hierdie negatiewe put te help grawe. Terug na die lug en die lig.

Hoekom ’n positiwiteitsdagboek? Omdat dit jou sal help om ’n ander perspektief te kry. Om die klein vreugdes te herontdek. Om jou só op te lig uit jou put van virusverdriet dat jy dalk sélf ’n verskil wil maak. Want elkeen van ons kán bydra tot daardie “Bou Beter Terug” in ons gemeenskappe met hul so groot nood en ons land met haar nog groter nood.

Buitendien: Wat is die alternatief?

Maar sal ’n dagboek jou help om jou lewe te verander? Miskien tog. Dit gaan beslis vir jóú help om na jouself en dit wat ons beleef, op ’n ander manier te kyk.

Hoe begin ’n mens? Een stukkie raad is natuurlik om met ’n postiewe gedagte te begin, al is dit net een woord. Al voel jy ook hoe negatief. Kyk hoe daardie woord vir jou inspireer om nóg woorde rondom daardie positiewe draad te vleg.

Natuurlik is dit nie ’n towerstaffie wat jou gaan help om van al die negatiwiteit ontslae te raak nie. Maar een positiewe woord lei tot ’n volgende, en ’n volgende. Hier is ’n webwerf met wenke wat jou aan die gang kan kry as jy vashaak in jou labirint van gedagtes: https://www.healthyplace.com/self-help/positivity/why-keep-a-positivity-journal. Onder die raad is hierdie maklike een: Skryf neer waarvoor jy dankbaar is. Tot effens moeiliker uitdagings, soos om hierdie sin te voltooi: “Vandag gee ek myself verlof om …” Of skryf ’n paar van jou bekommernisse neer en kyk of jy oplossings kan vind.

Want dís die pad wat woorde vir jou uitstippel: Hoe jy oplossings kan vind – maak nie saak hoe groot of hoe klein die bekommernis is nie. Begin jou eie Covid-dagboek, sommer nou.

Hamba Kahle, ewige reisiger

June 23, 2020 in Uncategorized

Selfs nie-lesers weet wie Elsa Joubert was. Mos die skrywer van die Poppie-boek? Die een en enigste. Sy, wat ’n leeftyd se medereisiger van so baie was, is skielik nie meer nie. Sy, wat die ongemaklike vrae gestel het; mense in hul gemaksones laat rondskuif het. Sy, wat tot op die einde ’n stem vir die broosstes onder die broses was. Daardie pleidooi dat kinders tog vir hul bejaarde ouers in sorgsentrums mag gaan kuier. Dat kinders en kindskinders ’n ma se lewensdraad is. Ek kan my net voorstel hoe dit vir oues moet wees, wie se spertyd so bewustelik nader kom. En toe was juis sy een van hulle wat in hul laaste drie maande sedert die Covid-inperking die aanraking van geliefdes moes ontbeer, die koestering van die kring van naastes. Vir hulle was sy geliefde ma, ouma en oumagrootjie. Vir ons, so veel verder van haar, voel dit óók soos ’n persoonlike verlies.

Sy was poolster en unikum; ’n morele kompas oor dit waaróór sy geskryf het. Maar ook oor skryf self het sy rigting gegee. Soos hierdie besinning: “Hoe sal ek weet wat ek dink as ek nie sien wat ek geskryf het nie?”

En hoe skryf ons minderes oor iemand wat so met woorde kon omgaan? Watter woorde kan ’n mens uit ons alfabet saamsmee wat hierdie woordsmid waardig is?

Miskien dan maar die verhaal van een bevoorregte bewonderaar se verbintenis met haar. Ek was ’n Standerd Sessie, nou Graad Agt, toe sy aan die einde van daardie jaar die spreker by ons skool se prysuitdeling was. Sy, die oudleerder en seleb-skrywer. Ek, verwonderd, vir die eerste keer sien ek ’n régte skrywer.

Sedertdien was sy daardie poolster. Vir die gewete, maar ook vir skryfstyl. Haar skryfwerk wat tegelykertyd iets byna onmoontliks reggekry het: So sober, maar so liries. Haar skryfwerk wat ook ’n meesterklas vir joernaliste inhou: Só neem jy waar, met al vyf jou sinne. En dan nog die sesde ook. Sien, hoor, ruik, proe, voel. Maar veral die sesde sintuig wat die fynste trillings waarneem van dit wat nie sintuiglik kan resoneer nie.

Met ons skool se 150ste viering, in 2010, het Elsa en ek ’n verhoog gedeel. Sy, die gevierde skrywer, maar die immer nederige, so effe onseker op die verhoog van die Hoër Meisieskool La Rochelle daar aan die voet van die Paarl se manjifieke granietrots. Ek, die een wat glad nie in dié swaargewig-geselskap hoort nie; nóg meer onseker van myself.

Maar ek kon darem vir haar sê dat Reisiger, die tweede deel van haar outobiografie – ons het toe nog nie geweet daar kom ’n meesterlike derde nie – vir my die vorige jaar met sy verskyning ’n tenk suurstof was. Daarsonder sou ek nie daardie jaar oorleef nie. Hoe sy geskryf het van haar reise die Limietberge oor. Die Limietberge, die berge anderkant die Paarl en Wellington, wat nooit haar limiet kon wees nie. Die soekende siel moes weet wat was ánderkant daardie limiete, letterlik en figuurlik. En hoe sy ons saam met haar oor daardie limiete laat reis het. Hoe ons ons eie limiete moes oorsteek. Al wou ons omdraai en vlug.

* * *

Elsa, ewige reisiger. Dit was die goue draad deur al haar werk. Die reis van mens tot mens, maar ook, veral, van buite af binne toe. Die soeker, letterlik en figuurlik. Die bloedjong 26-jarige vrou wat die ongekende – in haar tyd ongeoorloofde en ongehoorde – gedoen het deur met boot en trein van die suidpunt van Afrika tot in Europa te reis.

Elsa, die reisiger wat nuwe wêrelde letterlik en figuurlik voor haar sien oopgaan het in haar reis deur Afrika. Ook haar latere reise waar sy die broosheid en weerloosheid van die mens, gevang in brutale politieke stelsels, met ’n nugterheid kon oopskryf wat die krop van die maag getref het.

’n Ruk ná daardie dag in 2010 het ’n brief deur die pos opgedaag. Van Elsa. Sy wou net sê hoe sy my skryfwerk in die media volg, hoe dankbaar sy is vir die lans wat ek breek oor psigiese gesondheid, hoe nodig dit is, hoe ons met ’n ander taal oor psigiese gesondheid moet praat. Ek het met verwondering, en verwonderd – steeds die grootoog-standerdsessie – vir haar teruggeskryf. Elke woord versigtig gekies en weer geweeg. Dit Was Immers ’n Brief Aan Elsa Joubert. Dit moes foutloos in formulering en sinsbou wees.

En so ontstaan ’n korrespondensie, op die ou manier, met briewe deur die pos. Totdat dit vir die poskantoor maande begin neem om ’n brief van die Kaap tot op Stellenbosch te kry. Daarna het ek ’n e-pos of wat geskryf, wat haar versorger vir haar gelees het.

En toe die hoogtepunt van Spertyd. Ek was geëerd om onder die gaste te wees, daar in Berghof aan die hang van Tafelberg, waar die stroompie met sy kwaker-eendjies onder haar woon-woonstel teen die hang af klater, en waar sy in haar werk-woonstel oorkant die gang ’n uitsig het op die manjifieke moederberg.

En nou het die reisiger die limiet van haar lewensjare bereik. Maar wat ’n erflating het sy agtergelaat. Mag dit ook vir jou inspireer om met woorde nuwe landskappe na jouself te karteer.

Hamba kahle, ewige reisiger.

Om te skryf in die tyd van korona. Of wag. Eers nie.

May 31, 2020 in Uncategorized

Dis goed om te skryf in ’n tyd van onsekerheid. Dit help om daardie ooraktiewe breingolwe effens tot bedaring te bring. Jy sien op die skerm voor jou, of op die bladsy onder jou skryfhand, presies wat dit dit is wat jou – ons – lewe so gewelddadig kom versteur het. Hierdie ding wat ons planeet tot ’n skrikwekkende kantelpunt gedwing het.

Ons treur, globaal, oor ’n tyd wat verby is. Grootouers wat nie ’n kleinkind kan sien nie. Werkkamerade wat nie in kantore bymekaar kan kom nie. Veel erger: Werkplekke wat toemaak. Mense wat hul inkomste verloor het. Broodlyn wat letterlik ’n lyn vir brood geword het. ’n Humanitêre en ekonomiese ramp van onmeetlike omvang.

Ons treur oor ’n tyd vóór hierdie koronavirus se Covid-19, toe ons mekaar spontaan kon omhels. Nou is daar ’n slimfoon- of rekenaarskerm tussen ons. En ’n post-Covid-19 is nog lánk nie in sig nie. En wanneer ons dalk, oor ’n jaar of twee – selfs dalk drie, sê die mense wat weet en eerlik is en sê hulle weet eintlik níé – hierdie virus in bedwang het, is daar reeds weer nuwes wat toustaan om onse wilde mensdom in die bek te kom ruk. Ons het mos gedink ons kan selfs ook met die natuur maak soos ons wil.

Daarom, dalk veral, voel ’n mens in hierdie tyd nie na skryf nie.

Dis ook goed. Miskien daarom dat ’n troostee eers die antwoord is.

***

Toe ek klein was, kon ek nooit verstaan hoe ketels sommer so begin sing die oomblik dat ons by iemand oor die drumpel stap vir ’n kuier nie. Asof almal se lewens afhang van daardie o so noodsaaklike koppie tee. En hoe ons agies met die groot ore grondlangs gespeel en geluister het hoe die tantas gesels. Ja, want daardie tyd het die ooms apart gekuier, met hul tiermelk, en die vroue, mooi soet met hul teetjies, eenkant.

Maar ek weet al lankal watter troos daar in ’n koppie tee is. En gelukkig het ons nou ’n veel groter keuse as daardie tyd se twee keuses. Ceylon-tee, of rooibos? En niks keer jou om jou eie tee te maak nie. Die brouseltjie in die teeglas op die foto het juis getrek op fyngebreekte kaneel, klein stukkies gedroogde appel, vars gerasperde gemmer, ’n paar vars skyfies suurlemoen, vinkel, kamille, groen kardamomsade, naeltjies, gedroogde lemoenskil, swart peper en rooibostee. Jy kan eintlik maar sommer in jou kruie- en speseryelaai invaar en wild na smaak in jou teekan se filtertjie gooi. As jy gewone tee byvoeg, kan jy dit nie te lank op die mengsel laat trek nie, want teeblare maak dit ná ’n ruk bitter. Vir die somer afgekoel, met ’n bietjie sodawater en ysblokkies, het jy ’n heerlike ystee.

Of hoe lyk dit met ’n Indiese chai wat van binne warm maak? Chai is Indies vir tee. As ons praat van chai-tee, is dit toutologie, ’n verdubbeling van woorde – ons sê dan tee-tee.

Jy kan op die internet kyk vir resepte, maar hier is een soos wat my jogaplek maak. Die geheim lê in die infusie van geure. Afhangend van vir hoeveel jy maak, is die mates in elk geval na smaak. In ’n potjie op die stoof, ongeveer een derde melk en twee derdes water. Voeg by: ’n sakkie of twee rooibos of gewone tee (afhangend van vir hoeveel jy maak), plus in ’n vysel gestampte heel kaneel, vars gemmer, naeltjies, kardamomsade, steranys, vinkel en peper. Bring rustig tot kookpunt. Tradisioneel word chai versoet met suiker, maar as jy nie van suiker in tee hou nie, kan jy ook ’n bietjie heuning inroer vir daardie soete saligheid wat ’n chai oor ’n mens bring. Skink deur ’n siffie, verkieslik in ’n kommetjie wat jy met albei hande kan vashou sodat die warmte ook in jou lyf kan intrek.

Môre, of volgende week, kan jy weer dink aan skryf.

Jou Korona-Kronieke

May 11, 2020 in Uncategorized

As die onwerklikheid van ons werklikheid dreig om te veel te raak … gryp jou naaste pen of jou rekenaar se toetsbord, en draai oop daardie skryfkraantjie. Dis in hierdie onseker tyd minstens een van die min ankers wat ons het. En veral in tye van krisis is skryfterapie die wonderlikste terapie om die onsekerheid en angs in woorde te kan uitdruk.

So, vat jou pen en papier, of gaan sit voor jou rekenaar. En ja, te midde van allerlei fopnuus oor wonderkure (daar is nie), is skryfterapie nie ’n wonderkuur nie, maar, gewaarborg, ’n uitlaatklep vir die siel. Dit gaan nie hierdie virus laat verdwyn nie, maar dit gaan jou tog ’n bietjie meer in beheer laat voel. En dit kos boonop niks.

Begin jou Korona-Kroniek (Foto: Izak de Vries)

Begin sommer dadelik met jou dagboek. Noem dit jou Korona-Kroniek. ’n Oorlogsdagboek, terwyl geen skoot geval het nie, maar met onvoorstelbare humanitêre en ekonomiese tragedies, dag ná dag.

En veral met ons inperkingsmaatreëls kan skryfterapie vir jou vleuels gee. Dink bietjie aan wat die jong Anne Frank tydens die Tweede Wêreldoorlog geskryf het toe sy en haar familie in die Achterhuis daar in Amsterdam versteek was … en voordat hulle ontdek is en so te sê almal in konsentrasiekampe gesterf het. Haar woorde: “Ek kan alles van my afskud terwyl ek skryf; my hartseer verdwyn, my moed word nuutgebore.” Kyk hoe dagboekhou – jou persoonlike korona-kroniek – jou hartseer laat verdwyn en vir jou nuwe moed gee.

Dis dalk die oer-terapie wat bestaan, van ons prehistoriese voorouers wat hul tekeninge op rotse agtergelaat het as ’n soort “hier was ek”, tot ons Victoriaanse grootjies wat in ’n dagboekie, daardie tyd letterlik met ’n slotjie, hul gedagtes neergeskryf het.

Nou, die tyd het aangebreek dat ook jy begin dagboek hou. Die modewoord is “journaling”, om ’n joernaal te hou. Die woord se oerstam kom uit die Latynse diurna – jy kan daarin die woord joernaal, ook joernalistiek, die “storie van die dag”, herken. En laat niks jou keer om jóú storie van die dag te skryf nie. Laat al jou vrese, angste en kommer, hulself in woorde vind. Dit word dalk ’n familie-erfstuk vir ’n kind of kleinkind oor hierdie tyd toe die aarde ophou draai het, in die greep van ’n virus: Dis wat jy gedink het, dis hoe jy gevoel het, dis hoe jy deur hierdie grendeltyd gekom het.

Iemand het gesê skryfterapie is “creative, cathartic, curative” – kreatief, ’n katarsis, helend. Druk deur, dit gáán eendag ’n familiekroniek wees.

’n Paar wenke: Moenie dink aan wat ander van jou skryfwerk gaan dink nie. Skryf net. Moenie probeer beïndruk nie. Gebruik gewone woorde, gewone taal. Maak ’n wye draai rondom ’n cliché, hulle is sommer net ruimtestelers, gebruik liewer jou eie woorde om iets te beskryf, van hoe jy dit self ervaar het. Alles tesame: ’n testament van jou ervarings.

As jy in hierdie tyd ekstra angstig is, gaan dit jou ook help om bietjie verligting te bring. Natuurlik vervang skryfterapie nie die professionele hulp van ’n psigiater of sielkundige, of jou medikasie nie; maak seker jy gaan voort daarmee. Maar gee vir jouself terapie deur oor jou angstigheid te skryf. Gee dit lug en lig, dat al daardie benoudheid en donkerte kan ontsnap.

Onthou: Daar is nie ’n reg of verkeerd nie. Dis jy en jou ervarings wat jy neerskryf, en dis bemagtigend. Om dagboek te hou, help jou om jou emosies uit te druk: Wat sneller hulle, hoe kan jy reageer? En veral: hoe verstaan jy jou gedagtes, en jouself, beter? Ernest Hemingway, manjifieke meester van die woord, het geskryf: “If he wrote it, he could get rid of it. He had gotten rid of many things by writing them.”

Hy het dalk na homself verwys, en daardie swart hond wat hom so meedoënloos gejaag het. Gun ook jouself ’n bietjie bemagtigende skryfterapie, veral in die tyd van die virus. Begin jou Korona-Kroniek.

Om in die greep van gesigsmaskers te wees

April 27, 2020 in Uncategorized

Om in die greep van gesigsmaskers te wees: Dis so ongeveer opsommend van die tyd waarin ons ons bevind. Tussen ons en ’n vernietigende virus is ons belangrikste wapenrusting ’n skamele gesigmaskertjie. Buiten al daardie ander dinge wat ons moet nakom. En doen dit, asseblieftog, tot op die letter. Skrop die hande. Hou die afstand. Bly tuis.

Want dis hoe jy beheer kan neem as teenvoeter vir die angs en onsekerheid in hierdie dae van geskei wees van alles wat voorheen vanselfsprekend was.

Daar word gesê die Dene is die gelukkigste nasie op aarde. Sedert die Geluksindeks glo so van die 1970’s af gehou is, was hulle elke keer tops. Een van die redes is dat hulle ’n negatief in ’n positief omskakel deur ’n slegte ding te herinterpreteer. Die Deense woord daarvoor is genfortolkning.

Moenie eens vra hoe daai gefoko-watseding uitgespreek word nie. Maar dit werk. Pleks van om op ’n hopie te gaan sit – hoe gaan dit help? – kyk eerder hoe jy hierdie vrek slegte ding beter kan maak.

Dus laat ons herinterpreteer.

Soos ook in die meesterlike toespraak van ons president nou die aand toe hy gesê het laat ons hierdie katastrofe gebruik om ’n nuwe samelewing te bou. Ondanks die vernietiging, laat ons van voor af begin. Soos iemand gesê het: Dit was so na as demmit aan die “New Deal”-toespraak van die Amerikaanse president Roosevelt van jare gelede. Kom, mense, nou’s ons kans, kom ons bou ons land op uit hierdie as. Kom ons laat die lieflikste feniks verrys.

Natuurlik, realisme sê dit kan nie, en gaan nie, sommer vanself gebeur nie. Maar is daar ’n ander keuse?

En dis nou eintlik die punt wat ek wil maak. Jy wat nou hier lees, wat jou dalk iewers tussen vlaktes van verlatenheid en valleie van verdrietigheid bevind: Waar begin ’n mens?

Die antwoord is daar aan die einde van jou arms. Jou twee hande. Buiten dat hulle kan werk, kan hulle ook skryf. En skryf is ’n bewese terapie om jou op ’n nuwe roetekaart na ’n nuwe toekoms te sit.

Juis in ’n tyd van inperking kan jy vleuels kry danksy woorde. En gelukkig het ons darem almal pen en papier, of ’n rekenaar, in die huis.

Dus: skryf. Skryf oor hierdie tye, vreemder as die ergste wetenskapsfiksie. En begin om jou persoonlike negatief in ’n positief te verander. Wat is daar wat goed is wat hieruit kan kom? Die Middeleeuse Dame Julian van Norwich het in die 14de eeu gesê:

“All shall be well,

and all shall be well

and all manner of thing

shall be well.”

En hier is ons in die 21ste eeu in die greep van ’n wrede virus. Maar herhaal dit as jou mantra: Alles sal goed wees. En begin om dit beter te maak. Deur te begin skryf.

Lizette Rabe

April 24, 2020 in Uncategorized

Lizette Rabe was ’n bekende en gerespekteerde skrywer en joernalis, ook die redakteur van die tydskrif Sarie, waarna sy in 2001 as professor en hoof van die nagraadse departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch aangestel is.

Toe spat haar gekoesterde kring in duisende stukke met die dood van haar een seun. Al wat vir haar oorgebly het, was om met woorde te worstel. Woorde moes haar help om sin te maak uit dit wat geen sin meer gemaak het nie.

In haar boek Om tot verhaal te kom help sy ander om ook, soos sy, die proses van skryf te volg om weer tot verhaal te kom.

Om tot verhaal te kom

April 24, 2020 in Uncategorized

Probeer sin maak met sinne wat nie wil sin maak nie; dit is die wese van skryfterapie – in Engels bekend as journalling. Dit is waarmee hierdie boek wil help: om jouself te vind.

Skryfterapie is ’n bewese manier om deur verlies en trauma te werk, ongeag wat die aard of omvang van jou trauma is. Die titel is beskrywend – om “tot verhaal te kom” is waarmee die boek jou sal help, selfs al dink jy dat jy nie kan skryf nie.

Het jy jou werk verloor? Moes jy deur ’n egskeiding worstel? Was jy die slagoffer van misdaad? Is jy met ’n ernstige siekte gediagnoseer? Het jy ’n geliefde verloor? Die antwoord oor die pad vorentoe lê in jouself; dit is waar skryfterapie inkom.

Om te skryf is boonop iets wat jy in jou eie tyd kan doen, en op verskillende maniere; van ’n dagboek op papier, net vir jou eie oë bedoel, tot openbare ’n digitale dagboek, soos ’n aanlyn blog. Party mense dig, ander krabbel op papier… Jy kan dalk selfs jou memoires skryf. Alles help jou “om tot verhaal te kom”.

Dit is die eerste boek in Afrikaans oor skryfterapie, Om tot verhaal te kom verskaf praktiese wenke oor hoe om te skryf en verskaf ook inspirasie uit die werk van ander skrywers.

Koop dit op Kindle.

Koop dit by LAPA.