Grootmaat en die Wors

17/04/2012 in Sonder kategorie

Kry nou een aand vir Grootmaat in die drie letters, droomverlore oor ’n Kaapse lekkertetjie! As Grootmaat so sit en droom, moet jy weet hier kom ‘n wysheid of twee en ek los hom, wink net so af en sorg dat sy glas volbly.


Seg maat, hy dink vandag so aan sy kinderdae, aan al die lekkerte maar ook so bietjie aan die swaarkry, net so ‘n bietjie, want daar was baie. 

Nou praat Grootmaat laat ons hoor, por ek hom en laat gooi weer ‘n ou ietsie. 

Nee, sê maat, hy dink vandag aan die klere aanpassery tussen die kinders, jy moet weet, ek was van die laastes en teen die tyd as die goed by my uitkom, kon jy al deur hulle kyk. (Grootmaat is een van dertien kinders wat doer in die afgeleë Kalahari grootgeword het.) Jy moet weet ons het so swaar gekry ek het my eerste verdomde onderbroek vir my matriek afskeid gekry.  

Die slagtery in die winter was nou ‘n lekker besigheid. Jy weet dan kom al die kinders ‘n slag huistoe, ons slag ‘n bees of vyf, kuier hond uit ‘n bos en as almal huistoe gaan, vat elkeen ‘n groot karmenaadtjie saam – lekker jong!! 

Ewenwel, ons kom weer een jaar bymekaar op die familie plaas en daar word voorberei vir die slagtery. Jy moet nou weet, daai jare was die bees wild en ons moes uitry na hulle en daar waar jy hulle kry word hulle geskiet en net daar bewerk. So is ons toe een more uit veld toe met worsstoppers, meulens, kruie, derms, tafels, skottels de lot. 

Jong en was ons die dag gelukkig, ons dryf die bees teen ‘n lyndraad en daar val drie pragtige tollies. Die slagtery begin en dis ‘n hele besigheid soos die vrouens roei met die vleis. Gelukkig is ons teen die lyndraad en soos die vrouens wors maak hang ons die stringe wors sommer so oor die draad. 

Hel man, daai middag se oorlidde pa “ Nee wat kerels vanaand slaap ons by die huis, die vrouens het die ou drie tolietjies gewen, ek proe al ‘n ou soetigheidjie teen die mangel.” 

Jy gaat my nou nie glo nie, maar so waar as wat ek hier sit kom steek daar mos n weer op en daar slaat n donderweer  blits so 10 myl van ons af op die lyndraad, al daai donnerse wors op die draad gaar, ons sit vir veertien dae by daai kamp voor ons ou spul al daai wors opgeëet het, tot vandag eet ek nog nie wors nie. 

 

Renoster Horing

11/04/2012 in Sonder kategorie

Die renosterhoring stropery ruk nou totaal hand uit.

Word vanoggend wakker met n horing en glo dit as jy wil, so wragtig klap daar drie skote deur my kamervenster!

Grootmaat en die padblokade

24/01/2012 in Sonder kategorie

 
Grootmaat vertel my dat hy eenkeer ‘n vriend van hom in die assuransie besigheid vergesel het na ‘n boer anderkant Piet Plessis vir sake.
Hy sê hulle is douvoor dag die Saterdagmore uit Vryburg met ‘n hengse dors. Daar word kort-kort gestop en ‘n ietsie gebruik en aangesien hulle mekaar lanklaas gesien het word die vrienskapsbande lekker styf getrek.
 
Net voor Piet Plessis kry hulle ‘n bord wat lees “ Polisie Padblokade 500m” Hulle stop dadelik en laai die bord op want op die godsverlate pad het hulle nog nooit so iets gesien nie en hulle dog die polisie het dalk die bord daar vergeet. Nadat hulle weer ‘n ietsie gebruik het sit hulle die reis voort en wragtig toe hulle om die draai kom staan die plaaslike polisie in die pad besig met ‘n hengse padblokade. Hulle ken egter die manne en daar word oor en weer gegroet en gesels alvorens hulle die reis weer voortsit.
 
Toe hulle Piet Plessis inkom sien hulle daar is ‘n hengse bedywigheid by die boeresaal en hulle stop daar net om agter te kom dit is ‘n dans . Grootmaat se vriend vat die bord agter van die bakkie af en stap die saal binne met die bord voor hom, dit veroorsaak ‘n groot konsternasie toe die mense in die saal die polisie bord sien, tot die orkes hou op speel! Op daardie staduim laat sak hy toe maar die bord en skree, Ok moenie worry nie dit is net ek!
 
Grootmaat sê, toe is die hel los. Die vrinne in die saal sleep hulle drie letters toe en strafdoppe word toegeken en gebruik vir ‘n vale.Grootmaat sê na ‘n lang kuier word die rit voortgesit en naderhand bereik hulle uiteindelik hulle bestemming. Die kuier word voortgesit oor ‘n lekker vuur met n vleisie op die kole.
 
Volgende oggend word die besigheid gou afgehandel en die terugreis aangepak met ‘n kopseer wat ‘n normale mens sal bangmaak. Kort voor lank sê maat hulle moet stop en gou die koppe oopskiet anders gaan hulle dit nie vandag maak nie. Maat sê hulle stop en doen ook so en dit gaan sommer dadelik beter, soveel so dat hulle besluit om die polisie bord, wat hulle steeds het, uit te sit in die pad en kuiertjie van die geleentheid te maak.

Dit was ook nie lank nie of daar kom ‘n donkiekar met ‘n perd en ‘n donkie voor die kar aan, ‘n waardige ou man agter die leisels, opgetof vir die Sondagoggend se kerkdiens.  
 
Soos ‘n wetsgehoorsame burger stop hy by die padblokade, Grootmaat sê, toe dink sy vriend op sy voete en gryp ‘n plastieksak agter van die bakkie af en druk ‘n stuk tuinslang in die sak en stap nader. Donkiekar man word meegedeel dat dit ‘n roetine ondersoek is en aangesien Suid-Afrika se paaie so vol dronkbestuurders is doen hulle vanoggend alkohol toetse op alle padgebruikers. Nee, maar dit is reg meneer, ek drink gladnie en is op pad kerk toe so u is welkom om u toetse uit te voer, word hulle beantwoord.

Grootmaat sê die bestuurder word laat blaas aan die tuinslang en meegedeel dat sy toets negatief is. Sy maat sê toe, maar hulle sal moet die diere ook moet toets vir alkohol, nee, dit is reg meneer, gaan maar voort. Die tuinslang word onserimonieel in die donkie se mond gedruk en sy toets is ook negatief, dit is toe maat met die toets apparaat omstap na die perd, wat die ou man op die kar geiriteerd raak.
 
Meneer, laat ek nou vandag vir jou iets sê, hierdie donkie sal nog ‘n kans vat en‘n dop drink, maar my perd sal nooit sy mond aan drank sit nie!

Vandag of more se son

16/01/2012 in Sonder kategorie

Ek vra vandag een van die ouens wat vir my werk om my stukkende aircon te rapporteer aangesien ek n dringende vergadering moet bywoon. Mens funksioneer nie so lekker by temperature van 40 grade plus nie.

Met my terugkeer vra ek hom wanneer die onderhouds ouens die ou sal kom herstel?

Hoor toe hierdie pragtige uitdrukking – Nee Oom, hulle het nie gese of dit in vandag of more se son sal wees nie.

Repeat

13/01/2012 in Sonder kategorie

Jare geleer koop ek ons eerste CD speler. Synde my kleinspan redelik harthandig met van my goed kon werk word hulle die dood voor die oe gesweer as hulle aan die CD speler vat.

Daar die Vydag aand gaan sy na n ooievaars tee toe saam met n vriendin, kinders na maatjies toe en vriendin se man kom drink n paar doppe by my. Na so n paar glasies wil ek hom my nuwe pronkstuk wys (Weet self nie mooi hoe die ding werk nie en besit ook net een cd) Druk toe per ongeluk n knoppie wat ek nie geweet het bestaan nie maar kry die ding toe darem aan die gang en daar gaan Steve met die Blou Bul song. Ons is beide Blou Bul ondersteuners en geniet die lied sommer baie. Gaan skink maar weer n ietsie en toe ons terug kom is Steve steeds besig, kom naderhand agter as die song klaar is begin Steve sommer van self weer van voor af, hel dis nou nice reken vriend. Na nog n paar sopies arak dit tot vir ons bietjie erg en begin ons ondersoek instel maar kry die ding om die dood nie om verder as die Blou Bul song te gaan nie. Ek onthou my dreigemente aan die kinders en besluit summier dat ek in my besope toestand die ding gebreek het. Ons besluit om liewer aftesit en die volgende oggend in n meer stabiele toestand die probleem te soek.

Staan die volgende oggend baie broos op en hoor Steve sing al weer maar nou sing hy ander songs.

Verneem so skaamkwaad
by die span of dit my CD is, natuurlik se vroulief waar sou ons so vroeg in die oggend n ander cd gekry het, en moet asb nie weer in die vervolg die ding op repeat los nie!

My ma het opgehou lag

10/01/2012 in Sonder kategorie

Ou Dok vertel my dat hy gedurende sy hospitaal
jaar in die laat sestigerjare in Kaapstad geleer het jy nooit die komiese moet verwar met die werklikheid nie.

Hy se die betrokke Saterdag middag maak al hulle jong hospitaal jaar dokters reg om te luister op die draadloos na Curriebeker eindstryd tussen WP en Transvaal. Die ouens wat van diens af is het iets sterker en hulle wat op roep is moet maar volstaan met n koeldrankie.

Hy se net voor die afskop word hy geroep, as n vurige WP ondersteuner is hy uit die aard van die saak bitter teleurgesteld maar plig roep. By die wagkamer gekom kry hy n ma en haar dogter wat so pas vanaf Springbok gearriveer het. Die dogter is baie bekommerd oor haar ou moeder en deel hom mee dat haar ma opgehou lag het! Ou Dok se hy kon ontplof maar hou hom in en begin die tannie ondersoek om te kyk waar haar lag nou heen is. Ten einde laas word na haar pupille gekyk en sien hy Hier is groot fout, die Tannie moet n hengse drukking op haar brein he want die pupille is baie vergroot. Hy verduidelik aan hulle dat die spesialiste wat met die klas goed werk eers Maandag beskikbaar sal wees en dat hulle haar moet opneem tot die slim manne Maandag na haar kan kyk.

Die Maandag ontdek hulle n hengse gewas op haar brein wat toe in due course verwyder is en daar het die Tannie haar lag terug!

Ek vra vir ou Dok wie het toe die Curriebeker gewen maar hy kon om die dood nie onthou nie.