Profile photo of pollie1

by pollie1

Sokkie die Stormer-ondersteuner se sekslose naweek toe net die Bulls gewen het

Maart 1, 2010 in Sonder kategorie

My vriend, wat ek graag Sokkie noem, omdat hy my in sy diepe lewenswysheid aan Sokrates herinner, het ‘n aanval van depressie. Hy het die naweek rugby gekyk en is nie ‘n Bulls ondersteuner nie.


Sy vrou, bevryd, het boonop besluit sy gaan met haar twee vriendinne vir Vrydag, Saterdag en Sondag na ‘n plekkie in Kampsbaai en hy, terwyl hy die rugby kyk, moet na die kinders kyk. Sy gun haarself nou en dan “eie”-tyd. En sy voel hy moet ook iewers, soos sy, ure lank met die kinders deurbring. Nie dat hy kan sien wat sy alles moet verduur nie, vertel sy hom, maar sodat daar ‘n hegte vaderlike band tussen hom en sy kinders kan ontwikkel.

Sokkies, wat origens mal is oor sy vrou, het dus ook sy tydjies van teenspoed – soos almal van ons. Omdat hy ook graag bevryd wil wees, en hoewel hy verkieslik in minder-veeleisende sake bevryd sou wou leef, moes hy dus die hierdie drie naweek-dae tussen die rugby en neppies-omruil deurbring.

Die eise is groot: Hy is ‘n verstandige ouer en drink dus net een bier die hele dag voor die kassie deur – so sippie vir sippie asof daar nog net hierdie een bier in sy yskas oor is. En een van die redes waarom hy sy vrou so intens lief het is omdat sy gewoonlik nie juis vir hom vra om neppies om te ruil nie. Dat hy nou oor drie dae ‘n hele hoop moet omruil is vir hom ‘n beproweing. Elke neppie van geur is vir hom ‘n dubbele straf.

Die rampspoed het hom dus begelei van die eerste oomblik af toe die Stormers Vrydagaand aangejaag het.


Intussen is sy vrou met haar volgepakte rooi tassie en haar mooi lyf saam met haar twee vriendinne onder hom uit. Hy kon nie eers Saterdagaand na al die patetiese rugby ‘n lekker verfrissende pousetjie geniet en ‘n bietjie troos kry nie. Daar sit hy vinger-alleen terwyl hulle drie tussen die winkels en die flieks en die restaurants rondflenter.


Hy sou, vertel hy, darem ‘n bietjie minder omgegee het as hulle opheffingswerk saam met iets lofliks soos Habitat for Humanity gaan doen het, maar vir humanity het daardie drie sekerlik vere gevoel toe hulle die Kaap ingevaar het. En daardie vere het hulle veral gevoel vir hul eie humanity by hul eie huise.


Dis nie, erken hy verder verstandiglik, dat dit hom so erg en baie pla nie. Hy het immers die vorige maand ook ‘n afnaweek gehad toe hy saam met vier pelle gaan jag het. En hulle kon ook lekker praat oor al die komplikasies van die lewe. En ook oor vroumense, sodat hulle teen die einde van die naweek graag na hul warm liefdesnessies teruggejaag het. Hy gun sy beminde niks minders as wat hy vir homself gun nie.


Maar, kla hy. Sy vrou het ‘n upside oor hom gehad as dit by sy naweek teenoor hare kom. Sy het die oomblik toe sy hoor hy sit af jagplaas toe, haar ma oorgenooi om te kom kuier. Om een of ander rede is daar ‘n heel normale moeder-dogter verhouding tussen haar en haar dogter – iets wat hy nog nooit in sy getroude bestaan goed kon peil nie. Hy het niks teen moeder en dogter liefde nie, maar hy het soms gevoel daardie liefde was nooit so breed en hoog en lank dat hy daarby ingesluit sou word of ten minste met goedgunstigheid behandel sou word nie.

Toe hy en sy pelle aan die begin van die jag-naweek dus in die motor klim, was haar ma, nog uit die onbevryde geslag, met haar beady eyes en stewige, selfs imposante gestalte dus in die rondte. Sy, het hy aangevoel, kon nie wag dat hy onder hulle voete uitkom nie sodat sy haar regmatige plek oor haar dogter en haar dogter se kinders kon inneem. En sy was sigbaar teenwoordig om met ‘n deurborende kyk op te check wat alles in daardie sleepwa agter hulle 4×4 gepak was. Daardie kyk het hy eers halfpad na die jagplaas afgeskud gekry voordat hy met sy pelle oor die groot, lekker en baie lekker dinge in die lewe kon praat en kla. Maar die tjerrie was toe hy na die jag-naweek by die huis kom en ‘n ligte pik-soentjie op sy ruwe, manlike twee-dae versigtig-gekweekte liefdesbaard kry. Hy het hy die, weereens stink, vermoede gehad sy vrou en haar moeder het ‘n koninklike tydjie gehad, waarskynlik veral sonder hom en dat hy na hulle beste gevoelens maar nog ‘n dag of twee kon weggebly het. Wat is dit dan, wonder hy, hierdie ding oor ma’s wat so ‘n houvas, selfs op bevryde, dogters kan uitoefen.

Gelukkig, met haar ma later uit die pad, het hy en sy liefling weer hul liefde gevind en het sy jag-naweek in hogere sfere tot afronding gekom.


Nou, vertel hy, depressief, dit is swaar om bevryd te wees en ‘n naweek neppies om te ruil, veral omdat jy dan skielik geen netwerk van ondersteuning het nie. Sy pelle was die naweek skielik verskriklik besig met allerhande belangrike verpligtinge. Hulle wou graag by hom ‘n draai maak, maar dit was nou maar net een van daardie tye, het hulle vertel nadat hulle gehoor het skatjie is sonder die kinders vort en hy pas huis op. Hy kon nie eers sy pa, ook onbevryd, sover kry om saam met hom die rugby te kom kyk nie. En hy was seker sy skoonma met die beady eyes sou nie oorkom om die kinders se neppies om te ruil nie. As sy wel by sy huis sou opdaag, sou dit wees om te kom kyk hoe hy die neppies omruil.

Daar sit Sokkie nou, sy naweek in sy maai, die rugby van die volk in sy maai en sy vriendskappe onder kwaai druk. Sakkie is depressief. En wat kan ‘n mens nou vir hom vertel wat hom uit daardie donker bui gaan kry? Daar is mos darem perke op vriendskappe – en een daarvan is dydelik, dydelik bybies met goor doeke.



Profile photo of pollie1

by pollie1

Dialogus Interruptus op ‘n Valentynsaand

Februarie 27, 2010 in Sonder kategorie

Op Valentynsdag sit ek langs die see, so agter ‘n duin. Ek geniet die saligheid van alleen-wees, hier teen skemeraand langs die laat-Februarie laag gety. Daar is nie ‘n briesie in die lug nie. So af en toe hoor ‘n mens ‘n brandertjie plons of ‘n seemeeu gelukkig gil by die vreugdevolle aanskouing van ‘n enkele vis wat nog iewers in ons ontvisde waters swem. 


Om die draai hoor ek skielik twee mense begin praat. Hulle het hulle so pas daar neergevlei. Met piekniekmandjie en al. Want jy hoor glase klink, doppies spat en borde rinkel.


Sy: “Dis vandag drie jaar gelede dat jy my vir die eerste keer gesoen het.”


Hy: “Ek?”


Sy: “Ja, daar voor my pa se huis in die kar. Toe jy my kamtig gegroet het.”


Hy: “In die kar?”


Sy: “Jy het aspris so entjie agter die garage geparkeer.”


Hy: “Agter die garage?”


Sy: “En jy het gesweet.”


Hy: “Ek?”


Sy: “En jou hande het gebewe.”


Hy: My hande?


Sy: “En jy het aanmekaar die sleutel in die slot gesit en uitgehaal en weer teruggegesit.”


Hy: “Die sleutel?”


Sy: “En jou asem het gejaag.”


Hy: “Gejaag?”


Sy: “En ek kon sien jy was opgewonde?”


Hy: “Hoe?”


Sy: “Jy was orig.”


Sy brei. Maar desondanks is daar nie ‘n oomblik van huiwerling nie. Die “oogig” glip verleidelik en glad uit.


Hy: “Orig?”


Sy: “Orig, ja.”


Hy: “Hoe orig?”


Sy: “Baie, soos in rooi-ore orig.”


Gooi-oge ogig, hoor ek.


G’n wonder hy giggel diep nie, maar so dat ‘n mens kan hoor dit wil uitlok.


Hy: “Hoe kon jy dit sien?”


Sy: “Jy het jou trui afgetrek.”


Hy: “Afgetrek?”


Sy: “Oor jou broek.”


Hy: “Oor my broek?”


Sy: “Dat ek nie kon sien nie.”


Hy: “Wat kon sien nie?”


Sy: “Jou origheid.” Hierdie keer is dit bietjie uitgerek, so soos op die plaas as ‘n mens oor ‘n lekker tert praat: ooogigheid.


Hy: “Maar hoe weet jy dan ek was orig?”


Sy: “Ek weet.”


Hy: “Hoe?”


Sy: “Maar ek het ook gesien.”


Hy: “Wat gesien?”


‘n Oomblik van besinning bring die gesprek tydelik tot stilstand. ‘n Prop word afgedraai en ek hoor hoe ‘n glas gloeg-gloeg volgemaak word. En dan, tot my verslaentheid, neem die gesprek sy onvermydelike wending na groter erotiese hoogtes.


Sy: (haar stem raak heserig): “Daar was ‘n monster wat uit die dieptes wou loer…”


Weer ‘n stil oomblik, berekend stil. Ek kyk onwillekeurig op my horlosie – bed-toe gaan tyd.


Hy: “Het hy jou met ‘n kwaai oog banggemaak?”


Sy: “Ja.”


Hy: “En toe?”


Sy: “Ek dog ons moet maar dan seker die monster tem en tot bedaring bring.”


Hy: “Tem?” (Sy stem raak heserig).


Sy: “Maar ek het geweet dit gaan tyd vat.”


Hy: “Tyd?”


Sy: “Dit was ‘n groot monster en hy was baie keer maar baie kwaai.”


Hy: “Hoekom het jy nie weggehardloop vir die monster nie?”


Sy: “Hy was darem nie altyd so kwaai nie.”


Hy: “Nie altyd nie?”


Sy: “Partykeer was hy baie lieflik.”


Hy: “Partykeer.”


Sy: “Meestel as dit laat donker nag was. En hy sy bui uitgewoed het.”


Hy: “Was hy lelik dan as hy so buierig was?”


Sy: “Nee, nie lelik nie.”


Hy: “Mooi?”


Sy: “Sy pruik was nie juis geperm en gepoeier nie.”


Hy: “Pruik?”


Sy: “En sy oog het verleidelik geblink…”


Dis asof ek kan hoor hoe sy haar mond met tuit-lippe pruil.


Hy: “Het hy jou dan bang gemaak as hy so kwaai was?”


Sy: “O neee.” Haar stem is nog meer heserig.


Hy: “Het hy jou dan kwaad gemaak?”


Sy: “O neeee.” 


Dit is ‘n meer speelse nee as die vorige een.


Hy: “Het hy jou aangeval en gepik, jou dapper muis?”


Langs my, ook agter die duin, sit ‘n ou salig aan sy sigaretjie en trek. Uitgelewer aan die soet-spulse liefdesmurmureringe, het hy al ten minste drie keer sy wenkbroue amper verby sy kroontjie gerek.


Maar met die monster gereed om te pik, besluit albei van ons om in die pad te val. Jy kan op die oop sand net soveel sweet talk vat.


Laat val hy lakoniek met die wegloop ‘n skor lag: “Ek gat nou ieder die gladiators op die tiewie kyk… Djy kan da at least die oeg sien blink.”


Later besef ek waarom ek nog oor die storie ‘n storie moet maak – ons het toe nooit by die soenery teruggekom nie.


Dit kom nou van dialogus interruptus.

Profile photo of pollie1

by pollie1

Winternag

Februarie 22, 2010 in Sonder kategorie

Somertye is son-, bly-tye wanneer ‘n mens in die helder lig van die goeie dinge lewe.


Maar dit was in die middel van die hoogsomer, net voor kersfees, wat my vriend se vriend gehoor het hy het net ses maande van sy lewe oor.


Ons sit en praat daaroor langs die see, wat vanaand stil en roerloos weg van die strand gaan skuil het, asof dit terugskrik vir ons gesprek.


Dit is ebgety, boonop dooie gety. Donkermaan-tyd wanneer die see lam ver agter die hoogwatermerk retireer.


Daar hang ‘n stilte oor ons praat. Dit vleg in ons woorde in en maak dit lig en lig.


Ses maande.


Hy het saam met sy twee seuntjies groot geword. Baie dae het hy hulle veldjie toe geneem vir die bal rondgooi, vir die wilde geduik, die sierlike kriekethoue. En hy het hulle saamgeneem na al die wedstryde, die groot stadium, die rasende skares, die groot helde aan die speel. Hulle drie. En as hulle by die huis kom, het hulle eers vir geduldige-ma ‘n druk gegee en dan ‘n braai gebraai en elke Saterdagaand 9h00 het hy hulle in die bed gesit. Hy het vir hulle laat bid, sy lag ingehou as hulle treurig vra dat die Stormers nie weer sal verloor nie. Hy het hulle die eerste dag skool toe geneem. En elke jaar, jaar na jaar, was daar die duisende rituele – die eerste wiskunde les. Die eerste wisseltand. Die eerste fiets. Die eerste langbroek. Die eerste meisie, alles tot by die matriek-afskeid, die uit-die-huis-gaan, die oupa-word. Hy het alles met hulle beleef.


En toe hoor hy die winter-nuus. 


En hy het geweet dis waar. En dat die groot-word nie meer sou gebeur nie. Dat hy ses maande het om nog by hulle te wees…


Sy liggaam het dit vir hom bevestig.


En in daardie ses maande het hy sy sake reg gekry. Alle papiere afgehandel. Selfs sy begrafnisdiens uitgeskryf.


Maar dit het hy gedoen as die twee seuntjies geslaap het, warm, knus in hul beddens na die dag se dinge en gewoel. En terwyl sy vrou haar dag afgerond het, die seuns se skooldinge afgehandel het, hulle tassies gepak het, hulle klere uitgesit het, hulle brekfis reggesit het.


Hy en sy het hulle skool toe geneem en gaan haal. By die huis het hulle stil bymekaar in die sonnige, helder lig werkskamer gesit totdat die seuns se skoolwerk klaar was. Dan het hy en sy hulle geneem, in die motor gelaai en al die mooi plekke van die aarde opgesoek.


Hulle het elke dag ‘n ander dorp besoek, ‘n halfuur of so se ry weg. En na ‘n tydjie weer ‘n ander plek in die dorpies waar hulle al was. Hulle het gaan kyk na die sokker-wedstryde en die krieket-wedstryde en die rugby-wedstryde. Hulle het al die animasie-flieks gaan sien. En hulle was by die see. Of het ‘n stukkie-wandelpad geloop. Of hulle het gaan voëls kyk. Of hulle het …


Hy het stadiger begin loop. Die asem het gouer begin jaag. Soms het hulle gesien hoe hy onwillekeurig ruk.


Maar hy het bly praat oor Manchester United, die Stormers, kabeljoue, branderplanke, Jona in die walvis, Rietfontein se leidam, Haas Das, Koningin Willhelmina, Princess Di, De la Rey, die voortrekkers, Frans Steyn, die Hurricanes, die wereldbeker, gebed, bed-opmaak, huiswerk-doen, ma help in die huis, pa se liefde onthou, grootword, naby aan die Here bly…. En dan het hulle weer oor Oupa Danie, die Kruger-wildtuin, biltong, Mannetjies Roux gesels.


En daarna het hulle weer in die motor geklim en al geselsende so bietjie gaan kuier. En hy het vir hulle gaan wys waar ma groot geword het, oor en oor, waar ma skool toe is en waar pa orals met sy vriende gekuier het toe die stad nog nie so groot was nie.


Hy is op 21 Junie dood.


Nadat hy die aand 9h00 hulle lig afgesit het, hul stamelende moeg maar gelukkige gebedjies se woorde nog aan die weerklink in die gang as, is hy reguit kamer toe. Hy en sy het op die bed gelê toe hy sy wasbleek, uitgedorde hand in hare sit. Hy het na haar gekyk. En gesterf.


Hoe lig kan woorde en lewens tog wees…  ook in wintertye. Hoe stil kan alles word wanneer die winter ook somer is.

Profile photo of pollie1

by pollie1

Heling

Februarie 16, 2010 in Sonder kategorie

Sy was die heel dag stillerig, amper dromerig. Daar was ‘n bietjie valerigheid in haar oë, so bietjie verdriet soos sy altyd kry wanneer sy ‘n afknouerigheid ervaar het.


Ek weet dat sy dan weggaan, haar gemoed laat wegdobber, grenslose ruimtes in. Dan reis sy weer terug na almal vir wie sy lief gehad het. Haar pa by wie sy sommer kon gaan sit het, net ‘n vinnige piksoen en druk kon gee. En hy wat, met ‘n lekker-kry laggie oor die onverwagte liefde, vir haar ‘n gesellige kykie gee en haar bly langs hom laat sit. Of haar ma, al woelende in die kombuis, wat vir haar ‘n stukkie van die braaiende wors afknyp sodat sy solank kan proe. Of sy het in haar sonhoekie weer gaan wegkruip, brakkie teen haar laat vaskruip en haar boek in salige rus gelees.


Sag, sag het sy gereis, weg van die verniel af, terug in haar eie plek van self-wees. Droom sy dan minute na minute, tye na tye.


Hoe harder die knou was, hoe meer tyd het sy nodig. Ek laat haar droom, maar bly naby.


En so, altyd weer so, gaan die dou van die tye op haar verleptheid lê.


As sy dan uiteindelik na my kom, ongeërgd, ‘n kombers van stilte oor haar verdriet getrek, laat ek niks val nie. Ek het niks gesien nie. Dit is haar heel-word wat ek moet afwag.


Dan, wanneer sy na my kom met haar nog wegkyk-oë, iewers nog nie heeltemal terug van haar droom-tog, gee ek my vir haar. In die plek van die drome, in die ruimtes van die oop tuiste, bring ek vir haar myself. Groter as die afknou is hierdie liefde. Tasbaarder as al die drome, is ons saam-wees. In my arms, by my word sy weer haar self.

Profile photo of pollie1

by pollie1

Diie liefde wat lente-geur is en die geur van lente wat die liefde is.

November 5, 2009 in Sonder kategorie

Ek was nou ‘n rukkie weg en het laatlente en somer op ‘n ander, vreemde, ongewone plek deurgebring. Maar daar was die heel tyd en altyd iets wat vir my bly haper het  aan die uitlandse sonnigheid – so asof dit nie regtig somer was nie, daar waar ek in die annerland was, weg van vertroude plekke en dae. En tog was dit warm en ons het heerlik gewandel en geswem en die anderlandse somer voluit ervaar, selfs geniet. Maar altyd haper iets nogtans.

En toe kom ek terug na ons ou dorpie met al sy smarte, sondes, gesukkel en geseendhede darem ook daarby. En sowaar ek is so lucky, dis sommer dadelik met ons instrapslag, dog ek eers, sommer al voluit somer. Ek is baie tevrede. Maar ook treurig. En nou loop en smart ek vanmiddag so bietjie omdat ek dan nou kwansuis die lente gemis het, dink ek in ‘n swaar Laurika Rauch-Edith Piafse smartlap-bui. En ek stap so alleen in die geen-reendag en wonder wat ek nog kan raaksien wat my smart nog ondraagliker kan maak.Want ek is lief vir die somer, maar amper nog meer lief vir die lente. Om dit te skiep is bietjie soos ‘n onvoltooidheid. Dit gaan sit in jou kop en jou wonder altyd daaroor.

En toe word ek heel vreemd en ru van my smart ontneem. Ek loop nog so en smart toe ‘n ou bekende lente-gevoel my soos ‘n onbeplande swangersskap oorval. En ek wonder skielik heel verbouereerd, van my sentimentele smart beroof, waarom ek daardie bekende gevoel so intens beleef.

En toe: Ewe skielik besef ek wat ek nou al vir jare lank as lente beleef het, maar nooit ooit gaan sit en uitpluis het nie. Dit het net iewers in my onderbewuste rondgehang, nooit ge”out” nie. En toe weet ek wat nou eintlik vir my lente is: Nie net in ons ou sondige, sukkelende maar geseende ou plekkie nie, maar ook in die vorige holte van my voet – daardie ander plek waar ek ‘n stukkie van my lewe kon slyt en altyd weer lente as die beste tyd van die jaar gevoel het.

Dit strike my skielik toe ek dit ruik en ‘n swoele weldadigheid in my insak. En meteens kom daar baie lentedae terug in my geheue, blye dae, lieflikhede oor die soetheid van lente en die somersoelheid van ons Afrika-plekkie. Dis, besef ek, wat eintlik vir my lente is: want dit is die eenvoudige, talmende, digte geur van jasmyn wat ek so in my rondlopery ruik. En toe weet ek: dis die bloeiselreuk van baie blomme en plante wat vir my lente is, wat nog altyd vir my die tyd van nuutheid en lewe laat ervaar het as goed en nodig. En ek weet dit is wat ek in annerland gemis het, want daardie geure is anders en kom nie in my hart inkruip nie.

Maar toe ek deur die geurwolk stap, weet ek ook, van almal en alles wat lentegeure gee, is dit jasmyn wat altyd lente laat piek vir my. En toe weet ek ook waarom die liefde soos die jarmyn van lente is. Die vrou is in jasmyn, in bloeiselgeure. Dit is die een wat jy hart-uit bemin, wat uit die bad klim en saam met haar parfuum-geur verby jou loop en jy weet sy laat kom jou met die klam geur van die lierde. Dit is die gevoel wat jy kry as sy by jou kom inkruip, langs jou in die bed, laataand as alles stil raak vir julle bymekaar kom en wees: sy wil jou lyf voel en jy wil haar neem en lank by jou hou en heeltemal net by haar wees en haar bemin en bemin deur die soel somernag gevul met liefdesklanke en passie en oneindige eenheid, maar steeds en altyd so lig soos die lente en so skoon soos ‘n lentedag en so bedwelmend swoel en skoon soos die soet geur van jasmyn. En as jy haar in jou arms hou en sy is by jou en een met jou en dit is lente en alles is een en die liefde is in jasmyn en in haar en teen haar sagte, so sagte, so sagte vel met die fyn geur van jasmyn en bloeisels, dan is alles volmaak en die tyd moet nooit verder verbytik nie. Alles is genoeg. Ewige lente.

Dit is ‘n vreemdheid: die liefde wat lente-geur is en die geur van lente wat die liefde is.

Profile photo of pollie1

by pollie1

Speenvarkie en seks

November 5, 2009 in Sonder kategorie

Ek lees in ‘n blog hier op ons heilige litnet van ‘n blogger wat liries raak oor ‘n girl se oemfie as dit in ‘n paar dae oud kondisie is. Hy het dit nou nie so ordentlik gestel soos ek dit nou hier in pure christelikheid doen nie. Die pervert vertel dat watter turn on hierdie turn-off kondisie vir hom is. Sies. Wat my laat dink, dadelik aan ander mense wat aangedraai word deur liggaamlik welbedeeldes. Hulle is glo ook bekend as chubby chasers. Pollie diskrimineer teen niemand nie, dus wie is ek om kommentaar te lewer op iemand se perversies. Wat my toe laat dink aan speenvarkies. Heerlik. So ‘n speenvarkie wat vars gebraai uit die oond kom op ‘n warm krismisdag as jy nou net van die oseaan af gekom het waar jy in die dieptes van genot gebaai het en nou smul aan sagte, heerlik gebraaide speenwarkievleis. Maar waar koop jy dan ook deesdae so ‘n speenvarkie? Nog nooit stap jy in ‘n slaghuis in en hier hang ‘n ry varkies waaruit jy die beste een kies nie. Jy moet maande voor die tyd ‘n slagter met ‘n kontak gaan soek en hy bestel dan vir jou ‘n speenvarkie van ‘n boer wat hy ken. Daardie boer, dink ek toe mos verder, moet dan al sy sommetjies fyn maak sodat hy net voor krismis ‘n ses weke oue speenvarkie kan deliver. Dan moet hy op die bestemde dag die valdeur oopmaak tussen die hok van Ms Piggy sodat Mnr Piggy op haar kan klim en kan kleintjies maak. Maar terwyl ek nou hierdie heerlikhede van speenvarkievleis op die krismistafel sit en bedink, word ek wreed gesteur deur die gedagte dat Mr Piggy waarskynlik of beslis ook ‘n pervert is en verkies dat Ms Piggy ook ‘n paar dae oue kondisie aan haar oemf sal dra. En nou is ek skoon af van my krismis plesier. Skoon af. Dit lyk my of ek nou ‘n vegetarier gaan word. En dit alles net omdat daar soveel varkerigheid hier op Litnet se blogs geduld word.

Profile photo of pollie1

by pollie1

Somer, son en namiddagseks

September 7, 2009 in Sonder kategorie

Een van die dae is dit weer daardie lui, lui dae van somer as jy oor die krismistye strand toe gaan en net loop neerplak op jou handdoek en braai, braai, braai in die son wat hoog in die helder blou, blou hemel sit en smile, smile, smile van blydskap oor al die aanbidders van warmte met hul getinte boddies en dan opstaan en lekker lam in die kuite strompel na die warm woelige waters van die oseaan waar jy gaan baai en draai in die branders met wit skuim op hulle koppe en met al die mooi mense om jou, maar ook die dikkes en die vettes en die langes en die lelikes en die gawes en die loerendes en die wat per ongeluk teen jou vasswem en dan kom jy na ‘n rukkie uit en gaan vlei jou weer neer op jou handdoek en al die sand in jou ore en jou hare en jou boude en jou nat nawel en dan word jy droog van die bakkende son daar bo in die blou, blou hemel en jy loop huis toe en drink ‘n lekker koel coke en eet ouma se koffiekoekies daarna saam met lekker moerkoffie en dan gaan klim jy in die bed vir ‘n middagslapie na ‘n heerlike lammakende sekssessie en later staan jy weer lam op en gaan plons weer in die see en kom terug vir ‘n braai, braai, braai met karoovleis en aartappelslaai en jou hart pieng-sing van desember-bldyskap. en laataand klim jy weer in die bed en van pure dingesgeid begin alles van voor af, van vooraf.

Profile photo of pollie1

by pollie1

Die loodgieter in ‘n honger harem

September 4, 2009 in Sonder kategorie

Dink net, voel ek vanaand sommer so uit die bloute, as ek in ‘n harem kon werk. Dit moet ‘n ryk, ryk sjeik se harem wees waar daar tweehonderd vrouens woon. Mooies, want sjeiks het genoeg geld om mooies te trou.

Hulle dra in die harem sulke rokkies van deurskynende net wat van hulle skouers af oor ‘n swart mini-slippie hang oor hulle knieee en tot op hulle tone. Daardie rokkies van gaas wat James Bond se girls altyd dra as hulle op die bed wag dat hy by hulle kamers moet inbreek.

En hulle dra nie bra’s nie, want dit is teen die natuur in Arabie en ook te warm. Hulle dra net twee sulke klein blink silwer sterretjies wat kort-kort afdop en wat hulle dan giggel-giggel tussen hulle duim en hulle wysvinger optel en terug plak op hul arabiese heuweltjies. En hulle wimpers is donker swart wapperend terwyl hulle met hulle blou oe na jou loer, onder hulle wimpers deur.

Ek meen, elke harem het tweehonderd badkamers, toilette en bidet’s en hulle breek dikwels stukkend want dis woelige meisies wat baie bad en ander dinge doen. Die sjeik kan ook mos maar net een keer in ‘n lang, lang tyd by elkeen van sy 200 vroutjies uitkom. Dan is hulle seker vol verlange.

Ek gaan my inskryf vir ‘n loodgieterskursus en aansoek doen by so ‘n harem. As ek dan met my stywe spanner daar opdaag, gaan die gort sommer van die eerste dag af gaar wees. Ek vermoed hulle gaan gedurig vir my buikdanse wil perform. Dan rol hulle sommer my spanner so in hulle maag. Ek kies dan die een wat my die meeste beindruk.

‘n Duisend en een nagte.

Profile photo of pollie1

by pollie1

Boring, boring evolusie en die Bybel

Julie 25, 2009 in Sonder kategorie

Daar is net een ding wat my ‘n groter pyn in my donker suidekant gee as mense wat so eindeloos in die koerante karring oor die Bybel en evolusie.

Dit is dat hulle hulle so opwerk daaroor dat niemand aan die ander kant hulle wil glo nie. Mens sou sweer hulle fight die derde wereld-oorlog.

Nee wag, daar is nog iets wat my laat krap: dit is dat hulle almal so seker weet dat God nie aan die ander kant kan wees nie.

Who cares? Who de hell cares? Wat tel is nie wat verby is nie of wat nog kom nie. Wat tel is wat de hel jy nou met jou lewe aanvang. En what a waste om dit te spend op ‘n bakleiery oor die past, as ek dit in sulke mooi, suiwere, Bybelse Afrikaans kan stel…..

Profile photo of pollie1

by pollie1

Casper oor ons moeders

Julie 24, 2009 in Sonder kategorie

Casper de Vries het ‘n knipsel oor Die Mammie wat ons volksmoeders, maar ook ons flieke met ons eie megaster Arnold V. paslik gedenk. Dis nie soos daardie stories van die flou fannies wat op Kyknet opgewarmde kos opdis nie.

Dit begin waar die Afrikaner moeder haar twee kindertjies pamperlang om hulle kossies lekker te eet, terwyl hulle, soos in menige Afrikanerhuis allerhande stories het, mekaar aanrand en weier om al Mammie se opdraggies uit te voer. Boetie vertel eers ‘n perd en ‘n koei wei in sy kamer, waarop Mammie vriendelik antwoord hy moet sy pappies eet en nie stories vertel nie. Daarna word dit al hoe heavier, met kindertjies wat mekaar takel, gil hulle wil nie dit of dat doen nie, totdat Mammie omdraai, haar kop laat sak en dan afgemete, afgemete uit die duisternis haar woorde laat hoor. Dan leer ons haar ken soos ons elkeen van ons se moeders leer ken het: “Julle het my gesoek, julle het my gesoek en julle het my gekry…” kom haar so-bekende, geliefde volksspreuk uit haar mond.

Goddank vir moeders wat hul voete kan neersit wanneer dit saak maak. Dit het menige een van ons weer terug op die goeie pad geplaas.

Kyk self by http://www.youtube.com/watch?v=hwQ7CjRmBVM