Betty Boob trilogie: nommer laaste

Maart 5, 2012 in Sonder kategorie

Boobs is ‘n groot ding in ons familie. Letterlik. Met twee oumas wat goed gesëen was en al hul oordadige gene na my en die Student (tot begin van die jaar toe nog bekend as Teenage Queenie) toe aangepaas het sonder veel aarseling, wéét ons van swaartekrag en die newe effekte van draf en derglike fisiese aktiwiteite.

Ons weet ook van die nodigheid van die regte soort ondersteuning. Anders as kort Oumatjie met die korset, het ons gelukkig nie as weeskinders grootgeword en ooit nodig gehad om die rondborstigheid met tuisgemaakte bra’s in toom te hou nie.  Tuisgemaakte stukkies lap in die laatnag aanmekaar gestik uit laventel sakdoekies of uitgewaste meel sakke.

Nee, òns het die Bra Oom.

Naas die grootste en oudste rooi-baksteen gebou in die Suidelike Halfrond, die Midmar-myl, die begin van die Duzi, en die Comrades, spog ou Sleepy Hollow ook al vir jare lank met die Bra boutique bo die Spar se drankwinkel.

Terwyl ander, meer moderne en ‘with it’ plekke nou so oral op web-blaaie begin adverteer en spog met hul bra boutiques waar die moderne vrou vir haar ‘n nommerpas buustelyfie kan gaan laat afmeet en aanpas, pronk ons alreeds ‘n generasie of twee lank met puntige borste wat soos goeie hoofligte ‘vorentoe, in die regte rigting’ pryk.

En dit alles te danke aan ons Bra Oom.

Jip, ‘n OOM.

Na my soveelste sport bra nie die toets van die tyd deurstaan het nie, kom ek eendag, so ‘n paar jaar gelede, moedeloos tog hoopvol, op die blinkwit trappe langs die drankwinkel te staan.  Op na bo, soos na die hemel, strek die wit trappe na die plek van die verlossing van hang tieties….

Die groot glasdeure met die naam in goue letters op uitgeskryf, lyk soos die poorte na die beloofde land. Mens moet ‘n knoppie druk en jou teenwoordigheid oor die interkom aankondig. Wanneer die slot ‘kliek’ en die deur geruisloos oopswaai, roep ‘n koel vertrek met sagte beligting en rye en rye bra’s van enige grootte, vorm en kleur jou binne.

En dan spring die Oom agter die toonbank uit, en jy skrik jou alie af…..

Oom knip en naai sy eie skeppinge aanmekaar in die agterste kamertjie, terwyl Tannie Bra glad niks met bra’s te doen het nie  –  sy boer op die plaas saam met die seuns.

My eerste besoek was nogal ‘n prettige een.  Na ek ewe dramaties verklaar het ek kan nie meer langer saamleef met die twee hangende verskynsels nie, takseer Oom my so ‘n halwe minuut aandagtig aan, en gaan haal toe summier ‘n paar items van die rak af. Sonder dat ek ‘n woord ge-uiter het oor ‘n 32, 34, 36 A, B of C…..hy wéét sommer.

Ek word in die eerste aantrekhokkie ingeboender met die bevel:  try it on and let me know when you are ready.

Uhm, ready? Reg vir wat?

Maar ek pas aan en verstel hier en trek daar, en draai nog so al in die rondte voor die spieël met die eerste een toe Oom sommer net hier agter die gordyn vra of ek reg is, of hy maar kan inkom.

Inkom?!  My gedagtes vlieg in vyfde rat weg en ek sien die koerant opskrifte:  ‘vrou betas, aanvaller verwurg met onderklere gevind’

Maar oudergewoonte neem my mond oor, en voor ek kan keer sê ek, ja, kom maar in.

En daar staan ek, buuste omhoog, en oom al peinsende na die twee inboorlinge en staar.

Nee, sê Oom, dit gaan nie deug nie, hulle sit nie reg nie. Ek giggel en trap rond soos ‘n hoender voor voertyd.  Oom se hande beweeg boontoe en maak sulke bak vorms oppad na my bors toe, beweeg dan weer af, en frustreerd probeer hy beduie die hoofligte skyn weerskante van die pad verby, nie reguit vorentoe soos dit moet nie…. Ek druk maar my hand in eie boesem en probeer die skade herstel, maar Oom is nog lank nie tevrede nie.  Ek sweet al van die inspanning, maar Betsy en Louise wil nou eenmaal net nie lê soos Oom beduie nie.

Desperaat vra Oom:  ‘Can I fix them?’

Moedeloos sê ek:  ‘Ja Oom, gaan maar aan…”

En daar druk Oom die sagste twee hande voor by die bra in en verskuif die obsternaat boesems na ‘n meer vleiende posisie. En daar, in die klein aantrekhokkie agter die swaar gordyn, kry ek vir die eerste keer in my lewe ‘n behoorlike les oor hoe om ‘n bra aan te trek en die inhoud sò te skuif dat hulle nie soos pampoentjies onder my kennebak vasklou, of soos wegloop kinders onder my kieliebakke probeer inklim nie!  En dit deur ‘n middeljarige Oom sonder tieties…..

Ek was alweer ‘n paar keer daar.  Die Bra Oom geniet sy werk, en ek geniet my regop tieties.

19 antwoorde op Betty Boob trilogie: nommer laaste

  1. Daan2409 het gesê op Maart 5, 2012

    Hel as ek vroer geweet het van so ‘n joppie het ek dalk myself daar gaan inskryf as ‘n eppie.Maar ja spyt kom altyd te laat.Dink hierby ons is heelwat dames wat by so ‘n plek kan baat vind. Ek en droomvrou was nou net by die wimpy en daar stap ‘n redelik goed bedeelde dame in wat almal skoon see siek maak soos wat sy bounce en skommel. My skoon van my milkshake afgesit.

  2. lora2me het gesê op Maart 5, 2012

    Niks wat ‘n selfbeeld so kan poets soos goeie, ondersteunende onderklere nie. Hoe op aarde het die Bra Oom sy vrou oortuig dat hy hierdie werk gaan doen? Dis soos ‘n goeie ginekoloog – as hy sy werk ken, gee jy nie om of sy naam Johannes is nie.

  3. Poepskroef het gesê op Maart 5, 2012

    hahaha, meer gekarringde botter as melkskommel…!

  4. Poepskroef het gesê op Maart 5, 2012

    Dis gewis! En die Oom kan maar vat en rondskuif, want hy maak beslis ‘n verskil aan die selfvertroue.

  5. Modigliani het gesê op Maart 5, 2012

    O heng, ek weet nie wat ek sou doen met so ‘n omie nie!!! Alhoewel, dit klink asof hy sy werk baie ernstig opneem en baie professioneel is!

    Lekker gelees hier by jou (soos altyd).

  6. Poepskroef het gesê op Maart 5, 2012

    Dankie Jeanne! Die oom is so ‘n regte ou bleeksiel, die vrouens hier rond vrek oor hom 🙂

  7. Hierdie oom het ‘n liefde vir die saak….hehe. Dis nou ‘n man met waardering vir die vrou se rondings, wat sommer hand bysit wanneer dinge skeefloop. En watter vrou sal nie met blydskap hierdie beeldhouer aan haar laat werk nie.

  8. HeavyHenry het gesê op Maart 5, 2012

    Nice – as dit werk, dan werk dit!

  9. Poepskroef het gesê op Maart 5, 2012

    Jy praat! Kon dit darem nog net nie heeltemal reg kry om my meisiekind soontoe te vat nie, hiehie!

  10. Poepskroef het gesê op Maart 5, 2012

    🙂 Ons Oom is ‘n oom met visie…

  11. TS het gesê op Maart 5, 2012

    Volpunte vir hierdie blog!

  12. pienkvolla het gesê op Maart 5, 2012

    Puik!

  13. Poepskroef het gesê op Maart 5, 2012

    Baie dankie Tina, dis darem nou ‘n kompliment ‘uit die hoogste gestoeltes’!

  14. Poepskroef het gesê op Maart 5, 2012

    🙂 Baie dankie!

  15. frandr het gesê op Maart 5, 2012

    Ek dink met erkentlikheid aan my eerste onderklere-raadgewer – so ‘n streng vrou wat ook haar meet en pas geken het. Ek gaan nou teruglees op die trilogie…

  16. HeavyHenry het gesê op Maart 6, 2012

    🙂

  17. lekker gelees! groete aan die Oom

  18. Poepskroef het gesê op April 3, 2012

    haha, ek sal hom so sê volgende keer as ek daar ‘uithang’!

  19. Retha73 het gesê op Julie 17, 2012

    Dit was heerlik om jou blog te lees. Jy het ‘n groot talent (nie die borste nie) jou skryfkuns. Jy kan maar skryf

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.