The essence of me: ‘n essensie

Maart 1, 2012 in Sonder kategorie

Een van my gunsteling flieks is ‘The scent of a murderer’, van die middeleeuse Franse weeskind wat so ongelooflik goed kon ruik dat hy ménse kon ruik, hul eie ‘essence’ kon uitsnuf.

In die fliek lei sy snoet hom dan ook na agt ‘soete’ dames, en probeer hy hul ‘essence’ in botteltjies opvang. Die dollas dooi ongelukkig in die proses, maar die outjie in die fliek skep ‘n geurtjie in ‘n bottel waarvan net een druppel menigtes mense tot ‘n sinnelose soort verslawing dryf.  Hoe heerlik. Ek vrek self oor die reuk van ‘n man, maar dankie tog my neusgate is nie so bedrywig dat ek sinneloos aan my neus rondgelei word nie….

Die engelsman het wel altyd vir my te vertel gehad dat ek soos karamel ruik, en dat wanneer hy by ‘n vertrek instap, hy dadelik kan uitsnuf as ek daar was.

Dit bring my nou toe by die gedagte:  wat IS mens se ‘essence’, daardie ding wat jou omskryf, maak dat ander jou herken vir wie jy is, dit wat jy is?

Wat is MY ‘essence’? 

Ek lees die boek van Ingrid Betancourt, en daarin vertel sy dat toe sy so deur die rebelle in die oerwoud gevange gehou is, sy net groen om haar gesien het. Net oerwoud. Weg is die samelewing, haar familie, haar vriende, haar werk. Weg was haar menswees saam met dié dinge wat haar omskryf het.

En ek besef, net soos sy, word ek ook omskryf, definieer, deur my familie: die oudste van drie dogters, die jagter en die raakvat-ma se kind.

Deur die plek waar ek groot geword het:  doer in die dorre Noord Kaap waar mense nog aards is. 

Deur dit wat ek geswot het:  die kommunikeerder, die een wat kreatiewe plannetjies kan uitdink.

Deur my werk:  die bestuurder, die een wat aandag gee aan detail en logies dink.

Maar wie is ek regtig, gestroop van al hierdie omgewings faktore?

Kleinsus se dogtertjie van twee kuier anderdag by ouma, en dié is nou net mooi ge-potty train. Maar kom Pop toe met ‘n nuwe slenter:  sy wil STAAN en piepie.  Het vir ouma lank se beraadslaag gekos om haar toe uiteindelik so half hurkende oor die pot haar ding te laat doen.  Meer as net die pot was sopnat, maar Pop is doodgelukkig want sy het daardie dag deur haar eksperiment ‘n stukkie van haar ‘essence’ vasgelê, haarself begin definieer as ‘n avontuurlustige eiesinnige dogtertjie wat dinge wat vir haarself moet ontdek.

Ek beny kinders, hul papirus-rolle lê nog so naak en skoon voor hulle, hulle kan hulself nog ontdek en omskryf na hartelus.

Hoe ouer ons word, hoe meer gebeur daar dinge wat ons eie wese laat wegkwyn, ons reuk laat vervaag. Soos toe ek in die laerskool was en ‘n jaar te jonk vir my standerd probeer inpas het by die ouer kinders. Slim genoeg was ek gewis, maar oud genoeg glad nie.  Dae om al huilend huis toe gegaan omdat niemand met my wou speel nie:  dié in my klas sê ek is te jonk en sal nie verstaan waarvan hul praat nie, die in die jonger standerd sê ek is te ‘groot’. 

Pas nêrens in, word uitgestoot bloot vir dit wat ek is, my ‘essence’.

Amper veertig jaar later besef ek eers, daardie seerkry is die begin gewees van my wegkruip van wie ek regtig is, my leun wat ek terwille van inpas geleef het.

Dis tyd, dis tyd vir my eie geurige essence om te warrel net waar hy wil!  Nie meer oudste dogter, Ousus, skugter boskind in die afrikaanse klas, vryerige student, jong dom ma, of later net dom ma nie. Nie meer die ‘square peg in the round hole’ nie.

Van nou af net ek, myself.

Is ‘n bangmaak gedagte om op so ‘n ongekaarte ontdekkingsreis te gaan, maar ek dink die essence in MY botteltjie gaan ‘n aangename een wees…..wag maar en kyk!

12 antwoorde op The essence of me: ‘n essensie

  1. TS het gesê op Maart 1, 2012

    Ek lees lekker hier!

  2. Neffertiti het gesê op Maart 1, 2012

    Dit was ‘n goeie fliek, dankie.

  3. sirpsa het gesê op Maart 1, 2012

    Perfume: The Story of a Murderer. Weird fliek daai.

  4. Poepskroef het gesê op Maart 1, 2012

    Dankie! Jy is altyd so vol komplimente, dit word opreg waardeer 🙂

  5. Poepskroef het gesê op Maart 1, 2012

    Julle is reg oor die naam, ek het dit die eerste keer op n dvd onder n ander naam gesien, en toe sommer bietjie ‘digterlike vryheid’ gebruik, maar die naam is inderdaad ‘Perfume’ Weird maar aangrypende storie.

  6. pienkvolla het gesê op Maart 2, 2012

    Baie goeie skrywe!

  7. Modigliani het gesê op Maart 2, 2012

    Lekker om jou weer te lees.
    Mooi skrywe die.

  8. Poepskroef het gesê op Maart 2, 2012

    Baie dankie! En geluk met jou dogter se werk-kry!

  9. Poepskroef het gesê op Maart 2, 2012

    Dankie Jeanne! Lekker om weer terug te wees.

  10. pienkvolla het gesê op Maart 2, 2012

    Dankie SS! Vandag is haar tweede werksdag; ek glo sy sal baie gelukkig wees.

  11. frandr het gesê op Maart 3, 2012

    Halfpad deur die pos wou ek vir jou vertel mens kom uiteindelik weer by jou essensie uit, maar toe sien ek jy besef dit self! Geniet die ontdekkingsreis.

  12. Poepskroef het gesê op Maart 5, 2012

    Ek sal dankie! Ook lekker gelees daar op jou blog, jy het so ‘n lekker warm manier van skryf 🙂
    En met warm bedoel ek die mooi, maak mens se hart warm soort!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.