Jy blaai in die argief vir 2012 Maart.

Die maplotters ploeter voort

Maart 7, 2012 in Sonder kategorie

Die inwoners van hierdie werf is te lief vir pampoen in enige vorm en kleur om ooit enige pampoene na die dak te verban.  Wat is dan nou lekkerder as ‘n pampoentert met so ‘n krakerige kaneelsuiker-kors, vars pampoenbrood met ‘n strepie neutmuskaat of Sondagmiddag-pampoenpoffers met ‘n dun karamelsousie?  Pampoen kan beslis nie op die dak gemors word nie.

Maar wat ons wel het, is skottels BINNE in die dak….

Die sikloon wat ons die naweek so ‘n veeg met sy stert kom gee het, het welkome reën vir ons dorre lappie aarde gebring, maar dit het ook ‘n bietjie konsternasie op die maplotter werf veroorsaak. 

Salig sit ek, Moeder van Vele en Middelsus nog Sondagmiddag ‘n stokou fliek na middagete en bekyk, toe Middelsus die gedrup op die voorportaal se teël vloer hoor, net om sekondes later te ontdek die plafon maak al sulke dik nat strepe op die lasplekke….

Die herinnering aan die gebarste geyser van ‘n maand gelede nog vars in haar geheue, uiter Moeder ‘n paar onwelvoeglike woorde so in die verbygaan. Iemand moet in die dak op en gaan kyk wat aangaan. As dit wéér die vergalste geyser is…..dreig sy so in die niet.

So word die lendelam leer ingedra, en gedagtig daaraan dat mens net ‘groei’ wanneer jy jou vrese in die oë staar, vertrek ek op teen die leer wat deur Moeder en Middelsus ge-anker word om te gaan kyk watter goggas en goeters wag vir my daar bo. Dis moeilik om so oor die balke te klouter as jy drie flitse gelyktydig in alle rigtings probeer skyn….

Lang storie kort, Vader met die Krom Knie word wakker van die gelag en sukkel-sukkel ook tot bo. So ontdek ons die beginpunt van die klein watervalletjie, daar doer vêr in die middel van ‘n soliede stuk plaffon waar ek nie mag trap nie, hoe dan nou anders.  Soos ‘n akrobaat wat tot vir Tom Cruise in Mission Impossible soos ‘n beginner laat lyk, bewimpel ek die vorige geyser se opvangplaat en ‘n redelik groot skottel onder die lekplek in, en hoop vir die beste.

Nee sê Vader, die probleem begin buite, ons sal die blare uit die geute moet loop grou, anders dam die reën net nog verder op.  En so klouter ek, Vader en Middelsus buite bo-op die dak vir ons Sondagmiddag-avontuurtjie.  Moeder anker nogsteeds die leer want sy het hoogtevrees. Met die omskuif van die leer om ons aan die ander kant van die huis weer te laat afklim, gly sy. Maar gelukkig, soos ‘n ware Namibiër, ken sy die eierdans, en trap vlugvoetig rond om staande te bly.

Want kon jy nou dink wat sou gebeur as sy geval en bly lê het?

Daar sit ons drie sonder afkom plek, sopnat en yskoud, en binne lê Ouma dowerig en dut, soos net ‘n 94-jarige kan.

Dit sou ‘n wyle wees voor iemand ons ontdek het…..

Nou moet ons nog net die vol skottel een of ander tyd gaan afhaal. Ons wag maar net tot daar meer mense in die huis is….

Betty Boob trilogie: nommer laaste

Maart 5, 2012 in Sonder kategorie

Boobs is ‘n groot ding in ons familie. Letterlik. Met twee oumas wat goed gesëen was en al hul oordadige gene na my en die Student (tot begin van die jaar toe nog bekend as Teenage Queenie) toe aangepaas het sonder veel aarseling, wéét ons van swaartekrag en die newe effekte van draf en derglike fisiese aktiwiteite.

Ons weet ook van die nodigheid van die regte soort ondersteuning. Anders as kort Oumatjie met die korset, het ons gelukkig nie as weeskinders grootgeword en ooit nodig gehad om die rondborstigheid met tuisgemaakte bra’s in toom te hou nie.  Tuisgemaakte stukkies lap in die laatnag aanmekaar gestik uit laventel sakdoekies of uitgewaste meel sakke.

Nee, òns het die Bra Oom.

Naas die grootste en oudste rooi-baksteen gebou in die Suidelike Halfrond, die Midmar-myl, die begin van die Duzi, en die Comrades, spog ou Sleepy Hollow ook al vir jare lank met die Bra boutique bo die Spar se drankwinkel.

Terwyl ander, meer moderne en ‘with it’ plekke nou so oral op web-blaaie begin adverteer en spog met hul bra boutiques waar die moderne vrou vir haar ‘n nommerpas buustelyfie kan gaan laat afmeet en aanpas, pronk ons alreeds ‘n generasie of twee lank met puntige borste wat soos goeie hoofligte ‘vorentoe, in die regte rigting’ pryk.

En dit alles te danke aan ons Bra Oom.

Jip, ‘n OOM.

Na my soveelste sport bra nie die toets van die tyd deurstaan het nie, kom ek eendag, so ‘n paar jaar gelede, moedeloos tog hoopvol, op die blinkwit trappe langs die drankwinkel te staan.  Op na bo, soos na die hemel, strek die wit trappe na die plek van die verlossing van hang tieties….

Die groot glasdeure met die naam in goue letters op uitgeskryf, lyk soos die poorte na die beloofde land. Mens moet ‘n knoppie druk en jou teenwoordigheid oor die interkom aankondig. Wanneer die slot ‘kliek’ en die deur geruisloos oopswaai, roep ‘n koel vertrek met sagte beligting en rye en rye bra’s van enige grootte, vorm en kleur jou binne.

En dan spring die Oom agter die toonbank uit, en jy skrik jou alie af…..

Oom knip en naai sy eie skeppinge aanmekaar in die agterste kamertjie, terwyl Tannie Bra glad niks met bra’s te doen het nie  –  sy boer op die plaas saam met die seuns.

My eerste besoek was nogal ‘n prettige een.  Na ek ewe dramaties verklaar het ek kan nie meer langer saamleef met die twee hangende verskynsels nie, takseer Oom my so ‘n halwe minuut aandagtig aan, en gaan haal toe summier ‘n paar items van die rak af. Sonder dat ek ‘n woord ge-uiter het oor ‘n 32, 34, 36 A, B of C…..hy wéét sommer.

Ek word in die eerste aantrekhokkie ingeboender met die bevel:  try it on and let me know when you are ready.

Uhm, ready? Reg vir wat?

Maar ek pas aan en verstel hier en trek daar, en draai nog so al in die rondte voor die spieël met die eerste een toe Oom sommer net hier agter die gordyn vra of ek reg is, of hy maar kan inkom.

Inkom?!  My gedagtes vlieg in vyfde rat weg en ek sien die koerant opskrifte:  ‘vrou betas, aanvaller verwurg met onderklere gevind’

Maar oudergewoonte neem my mond oor, en voor ek kan keer sê ek, ja, kom maar in.

En daar staan ek, buuste omhoog, en oom al peinsende na die twee inboorlinge en staar.

Nee, sê Oom, dit gaan nie deug nie, hulle sit nie reg nie. Ek giggel en trap rond soos ‘n hoender voor voertyd.  Oom se hande beweeg boontoe en maak sulke bak vorms oppad na my bors toe, beweeg dan weer af, en frustreerd probeer hy beduie die hoofligte skyn weerskante van die pad verby, nie reguit vorentoe soos dit moet nie…. Ek druk maar my hand in eie boesem en probeer die skade herstel, maar Oom is nog lank nie tevrede nie.  Ek sweet al van die inspanning, maar Betsy en Louise wil nou eenmaal net nie lê soos Oom beduie nie.

Desperaat vra Oom:  ‘Can I fix them?’

Moedeloos sê ek:  ‘Ja Oom, gaan maar aan…”

En daar druk Oom die sagste twee hande voor by die bra in en verskuif die obsternaat boesems na ‘n meer vleiende posisie. En daar, in die klein aantrekhokkie agter die swaar gordyn, kry ek vir die eerste keer in my lewe ‘n behoorlike les oor hoe om ‘n bra aan te trek en die inhoud sò te skuif dat hulle nie soos pampoentjies onder my kennebak vasklou, of soos wegloop kinders onder my kieliebakke probeer inklim nie!  En dit deur ‘n middeljarige Oom sonder tieties…..

Ek was alweer ‘n paar keer daar.  Die Bra Oom geniet sy werk, en ek geniet my regop tieties.

The essence of me: ‘n essensie

Maart 1, 2012 in Sonder kategorie

Een van my gunsteling flieks is ‘The scent of a murderer’, van die middeleeuse Franse weeskind wat so ongelooflik goed kon ruik dat hy ménse kon ruik, hul eie ‘essence’ kon uitsnuf.

In die fliek lei sy snoet hom dan ook na agt ‘soete’ dames, en probeer hy hul ‘essence’ in botteltjies opvang. Die dollas dooi ongelukkig in die proses, maar die outjie in die fliek skep ‘n geurtjie in ‘n bottel waarvan net een druppel menigtes mense tot ‘n sinnelose soort verslawing dryf.  Hoe heerlik. Ek vrek self oor die reuk van ‘n man, maar dankie tog my neusgate is nie so bedrywig dat ek sinneloos aan my neus rondgelei word nie….

Die engelsman het wel altyd vir my te vertel gehad dat ek soos karamel ruik, en dat wanneer hy by ‘n vertrek instap, hy dadelik kan uitsnuf as ek daar was.

Dit bring my nou toe by die gedagte:  wat IS mens se ‘essence’, daardie ding wat jou omskryf, maak dat ander jou herken vir wie jy is, dit wat jy is?

Wat is MY ‘essence’? 

Ek lees die boek van Ingrid Betancourt, en daarin vertel sy dat toe sy so deur die rebelle in die oerwoud gevange gehou is, sy net groen om haar gesien het. Net oerwoud. Weg is die samelewing, haar familie, haar vriende, haar werk. Weg was haar menswees saam met dié dinge wat haar omskryf het.

En ek besef, net soos sy, word ek ook omskryf, definieer, deur my familie: die oudste van drie dogters, die jagter en die raakvat-ma se kind.

Deur die plek waar ek groot geword het:  doer in die dorre Noord Kaap waar mense nog aards is. 

Deur dit wat ek geswot het:  die kommunikeerder, die een wat kreatiewe plannetjies kan uitdink.

Deur my werk:  die bestuurder, die een wat aandag gee aan detail en logies dink.

Maar wie is ek regtig, gestroop van al hierdie omgewings faktore?

Kleinsus se dogtertjie van twee kuier anderdag by ouma, en dié is nou net mooi ge-potty train. Maar kom Pop toe met ‘n nuwe slenter:  sy wil STAAN en piepie.  Het vir ouma lank se beraadslaag gekos om haar toe uiteindelik so half hurkende oor die pot haar ding te laat doen.  Meer as net die pot was sopnat, maar Pop is doodgelukkig want sy het daardie dag deur haar eksperiment ‘n stukkie van haar ‘essence’ vasgelê, haarself begin definieer as ‘n avontuurlustige eiesinnige dogtertjie wat dinge wat vir haarself moet ontdek.

Ek beny kinders, hul papirus-rolle lê nog so naak en skoon voor hulle, hulle kan hulself nog ontdek en omskryf na hartelus.

Hoe ouer ons word, hoe meer gebeur daar dinge wat ons eie wese laat wegkwyn, ons reuk laat vervaag. Soos toe ek in die laerskool was en ‘n jaar te jonk vir my standerd probeer inpas het by die ouer kinders. Slim genoeg was ek gewis, maar oud genoeg glad nie.  Dae om al huilend huis toe gegaan omdat niemand met my wou speel nie:  dié in my klas sê ek is te jonk en sal nie verstaan waarvan hul praat nie, die in die jonger standerd sê ek is te ‘groot’. 

Pas nêrens in, word uitgestoot bloot vir dit wat ek is, my ‘essence’.

Amper veertig jaar later besef ek eers, daardie seerkry is die begin gewees van my wegkruip van wie ek regtig is, my leun wat ek terwille van inpas geleef het.

Dis tyd, dis tyd vir my eie geurige essence om te warrel net waar hy wil!  Nie meer oudste dogter, Ousus, skugter boskind in die afrikaanse klas, vryerige student, jong dom ma, of later net dom ma nie. Nie meer die ‘square peg in the round hole’ nie.

Van nou af net ek, myself.

Is ‘n bangmaak gedagte om op so ‘n ongekaarte ontdekkingsreis te gaan, maar ek dink die essence in MY botteltjie gaan ‘n aangename een wees…..wag maar en kyk!