Jy blaai in die argief vir 2012 Januarie.

Vraat vir die lewe

Januarie 12, 2012 in Sonder kategorie

Ek het hom maar net ‘n kort maand gelede ontmoet toe hy met sy selfversekerde houding en dié openingswoorde langs ons tafel kom staan het: ‘So ladies, I have this pick-up line…’

 

So het hy met sy deurmekaar blonde hare, diep bariton stem en sterk hande in my lewe ingewals.

Hy is sewe jaar jonger as ek, maar die jare verdwyn soos mis voor die son as ons bymekaar is. Hy het my weer leer lééf. Sonder onnodige inhibisies, sonder my self-opgelegte reëls, oor die grense heen van die gewòne. Vry, ten volle.

 

Saam het ons gaan skinny dip, en ek het nie eens een keer gewonder oor my maskara wat sekerlik in swart strepe teen my gesig afloop nie. Het glad nie skaam gekry toe my beenhare stekelrig groei van die koue water nie. Nie geworry oor die bra-lose boobs wat hang toe ek uitklim nie.

Net geléwe en gewees. En dit gate uit geniet.

 

Ek het my vergaap aan sy eetlus: vir kos én vir die lewe. Styf het ek teen sy bors gesit, met ons bene deurmekaar gevleg, sy stem deur my wese voel fibreer toe hy sê: ‘Suze, you don’t belong here. You need to go somewhere where you can find a man who will look at you the way I do now.’

 

Later het hy, kop voor-oor gebuig, die mooiste melodieë uit sy kitaar opgetower. Ek het verdrink in die soet klanke.

Die aand toe ons gaan lag het vir die ander wat karaoke sing, het my lag skielik opgedroog toe hy stip vir my kyk en ‘n baie goeie weergawe van Rob Thomas se “I think I’ve already lost you” sing.

 

Oppad huistoe het hy sy skoene uitgetrek, en deur die venster bo-op die kar se dak geklim. Ek het al laggende aanhou bestuur en by die hoek darem bietjie stadiger om die draai gegaan. Ons het gegiggel en lag tot die trane loop. Deur die oop venster aan my kant het hy van bo sag oor my wang gestreel en gesê: ‘Suze, this is the most fun I’ve had in a long time!’

Ek ook.

 

Toe kom die aand wat hy vir my die boodskap stuur: ‘I’ve come to respect and like you more as time has gone on, it’s just our timing that is wrong.’ ‘In a different life things would’ve been different between us.’

 

En nou gaan hy weg. Oor twee weke is hierdie bol energie, my muse, vir ewig uit my lewe.

Sy tasse staan gepak, hy is oppad Australië toe om die kuns van kook te gaan bemeester.

 

Johnnyboy, jy het eenkeer oor ‘n koppie koffie gepraat van die drie soorte mense in die lewe: dié wat energie géé, dié wat deel daarin sonder om dit minder te maak, en dié wat dit steel en vat sonder om terug te sit. Jy was my gewer, my bron van energie, my deler sonder om dit te steel. Saam het ons die lewe gedans in ‘n poel van wit lig.

En jy is reg, ‘n ander tyd, ‘n ander lewe, was ons uiteinde anders, was die laat los nie so gou nie, dalk nooit.

Hierdie was jou geskenk aan my Johnnyboy, jy het vir my lewe gebring in ‘n dor seisoen. Jy het gemaak dat ek myself deur jou oë sien, mooi oë.

 

Al moet jy gaan, in my hart sal jy vir ewig ronddans!