Betty Boob trilogie: nr 1

November 11, 2011 in Sonder kategorie

My twee oumas was altwee gesëen met groot boobs.  Size DDD groot. Dit skip toe ‘n generasie, en stu weer rondborstig voort in die kleinkinders, alhoewel effe afgewater en nie meer heeltemal so ruim nie.

Meeste van die kleinkinders in elk geval.  Die jongste een van dié tak van die familie het aan die agterspeen gesuig toe dié ekstra stukkies lyflikheid uitgedeel is, en betreur haar lot met net ‘n A-grootte handjie vol….

Ten minste kan sy haar lyf boesman hou en lang afstande tjop-tjop kafdraf, sonder om haar te veel te kwel oor die ‘bodily harm’ wat sulke oorgrote aanhingsels aan mede drawwers en die eie skelet kan aanrig…..

Dieselfde geld egter nie vir haar twee ouer susters nie.  Ons is ruimer geseën.  En die twee vleeslike rondinge het dikwels ‘n lewe van hul eie, tot vermaak van menige onskuldige omstander.

So gebeur dit toe dat ek op ‘n jeugdige ouderdom uitvind die ooievaar het kom besoek aflê, en ek word ‘n dierbare klein dogtertjie ryker.  So tussen die swottery deur om my graad klaar te kry, staan ek soms 2 uur in die oggend en winde uitvryf terwyl ek een (slaperige) oog op die handboek hou, want 8 uur skryf ek eksamen.  Ek was jonk, dom, arm en ver van my ma af, en by ‘n tydelike gebrek aan enige common sense, was lapdoeke en ‘nappy liners’ die klein dame se voorland.  Na ‘n gesukkel met die swaar rooi doek-emmer wat my skouerblaaie uit potjie getrek het, en die voorraad Sterinappi wat allewig instand gehou moes word, was bottels uitkook en steriliseer net een te veel vir my brose gemoed.

Ek borsvoed toe.

Vir twee jaar.

Want ek was lui, en dit was gerieflik.  Die melk was net die regte temperatuur, altyd. Daar was altyd volop voorraad vir ‘n dorstige suigeling. Dit kon nie suur word nie, en ek het nie nodig gehad om enigiets te steriliseer en te kook nie. (Net koolblare was nou en dan ‘n dringende noodsaaklikheid om die melkkoors weg te hou as madampie nie lus was vir drink nie…)

En dit het my maer gehou.

Ons kon ver op reis gaan en op die ingewing van die oomblik gaan kuier, want geen voorbereiding van bottels en ‘formule’ was nodig nie.

Ek kon net nie vir vyf ure aanmekaar klas draf nie, want dan het die wit druppeltjies kosbare vloeistof op my skoenpunte begin drup…..

En juffer was gruwelik bederf, want sy het nooit honger gely nie.

Tot daardie een dag in die kerk.  Ons het by my ma-hulle gaan kuier, en die trotse familie het soos orrelpypies in die kerkbank ingeryg.  Almal moes inwurm, want dis mos lekker om die uitgebreide kroos af te show.  Dit was egter nie lank nie of dame raak kriewelrig.  G’n fopspeen of ‘n gesus of gepaai het gehelp nie.  Die duiwel was los daar in die agterbanke en sy was onmoontlik. Bang vir die ou ooms wat ons so van onder woeste grys ooghare aangluur, trek ek en madam toe maar moederskamer toe.

Heel agter in die kerk, so agter ‘n dik venster.

Ons is die enigste twee daar, en omdat ek brand om na die preek te luister, besluit ek dat as juffrou se mond vol is, sy sal stilbly en ek kans sal kry om te luister.

Maar die uitrusting wat ek aan het is ‘n nagmerrie van lap en die buit is nie so maklik bekombaar nie.  Nou aangesien dit net ons twee daar is, en die venster van eenrigting spieëlglas is, besluit ek om van bo-af in te gaan, en tuimel die tot-barstens-toe vol vlesigheid sommer bo by die hals uit.  Ek sit salig terug en luister na die dominee se rustige diep stem terwyl juffer ewe rustige suig-geluidjies maak.

Behalwe, die dominee se stem het weggeraak.  En sy woorde gefalter.

Want dit was toe nié eenrigting glas nie……

11 antwoorde op Betty Boob trilogie: nr 1

  1. TS het gesê op November 11, 2011

    oooooo siestog…

    Dankie vir die lekker lees

  2. ‘n Dominee moet darem ook sy oomblikke hê om oor te blog! Ek glo jy het sy dag gemaak…

  3. Plesier!

  4. Gelukkig het hy ‘n sin vir humor ook gehad!

  5. Dankie! 🙂

  6. Baie goed geskryf.

  7. louisna het gesê op November 12, 2011

    Mooi storie meesterlik vertel. Dominee is ook maar net mens.

  8. Jou storie baie geniet

  9. Great geskryf!

  10. bonty het gesê op Januarie 16, 2012

    wees trots

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.