Jy blaai in die argief vir 2011 November.

Betty Boob trilogie: nr 2

November 22, 2011 in Sonder kategorie

‘If you’ve got it, flaunt it’ sê my ma altyd. En dis presies wat Middelsus op die Balju se kerspartytjie gedoen het.

 

Dit begin so: ons ‘brother from another mother (en father)’ is ‘n eksentrieke bokboer van beroep, maar ‘n sosiale vlinder van geaardheid. Hy ken al wat leef en beef, en word gereeld in die geselskap van die meer gesiene burgers van ons ou dorpie gesien. So gebeur dit dan nou ook ‘n jaar of wat gelede dat hy genooi word na dié funksie van die jaar, die plek waar al die ‘who’s who’ mekaar half nugter kan aanstaar – die Balju se kerspartytjie.

 

Maar Bokram wil nie alleen gaan nie, en besluit om vir my en Middelsus saam te sleep. Ons is mos nou single, en synde dit Desember is, is al die vetjies langs die swembad uitgebraai, en lyk ons heel skaflik bruin en vakansierig.

Soos gewoonlik werk Bokram se verbeelding oortyd, en kom hy met ‘n juweeltjie vorendag: ons moet sy verleidelike vroulike ‘body guards’ vir die aand wees, soos ‘Men in Black’, net ‘Chicks in Wit’…..

Ons laat ook nie ‘n kans verbygaan om amok te maak nie, en belê summier in twee wit gewade vir dié grootse geleentheid. Middelsus s’n het so ‘n lae hals wat die bollende boobs net-net sedelik hou. Sy moes die nippeltjies met pleisters toeplak om die gedoente wettig te hou. Viva Elastoplast!

 

Ons daag ewe vernaam effens laat op. Almal staan al met voggies in die hand in die kroeg en om die swembad rond toe Bokboer met elkeen van ons aan ‘n arm deur die voordeur ingesweef kom. Toé draai die koppe. En rek die oë. Die tantes met hul styf gespuite hare gluur en frons. Die ooms trek hul boepies in en probeer regopper staan. En Bokboer smile van oor tot oor en spin soos ‘n kat wat room gesteel het.

Die manne staan behoorlik tou om vir Bokboer te kom groet en kamma te hoor wat die vleispryse dan nou hierdie jaar maak. Ek en Middelsus het ook geen tekort aan drinkgoed nie, want die nuuskierige manne sorg mooi…..hul oë al dwalende na Middelsus se twee sondaars. En Middelsus laat nie op haar wag nie. Sy het ‘n party trick.

 

Van al die jare se ure en ure van masserings doen, is haar borsspiere baie goed ontwikkel. En haar sin vir humor net so. Ou Jopie se oë dwaal weer so ‘n slag terwyl hy ewe gemaak ernstig met haar oor die stand van die apteke in die dorp probeer gesels. Ek en Bokboer kan ons lag nie meer hou nie, en gee die geheime teken. Sonder om te blik of bloos, of enige inspanning te toon, wikkel sus haar spiere so effens, en voila!, daar vorm die mooiste cleavage wat enige lewende wese nog ooit gade geslaan het!

Die vallei van vrede lê oop! En dit ry vir ou Jopie bloots. Hy stotter en stik, en begin rondtrap soos ‘n skoolseun wat met witwarm gedagtes oor die biologie juffrou uitgevang is. Met dié voeter hy in die swembad. Wit broek en al.

 

Die ander manne het vir Middelsus staande toegejuig en tannie Balju het haar ingetekende ooghare amper plat geskrik.

 

Nie ons of Bokboer is toe ooit weer genooi nie.

Betty Boob trilogie: nr 1

November 11, 2011 in Sonder kategorie

My twee oumas was altwee gesëen met groot boobs.  Size DDD groot. Dit skip toe ‘n generasie, en stu weer rondborstig voort in die kleinkinders, alhoewel effe afgewater en nie meer heeltemal so ruim nie.

Meeste van die kleinkinders in elk geval.  Die jongste een van dié tak van die familie het aan die agterspeen gesuig toe dié ekstra stukkies lyflikheid uitgedeel is, en betreur haar lot met net ‘n A-grootte handjie vol….

Ten minste kan sy haar lyf boesman hou en lang afstande tjop-tjop kafdraf, sonder om haar te veel te kwel oor die ‘bodily harm’ wat sulke oorgrote aanhingsels aan mede drawwers en die eie skelet kan aanrig…..

Dieselfde geld egter nie vir haar twee ouer susters nie.  Ons is ruimer geseën.  En die twee vleeslike rondinge het dikwels ‘n lewe van hul eie, tot vermaak van menige onskuldige omstander.

So gebeur dit toe dat ek op ‘n jeugdige ouderdom uitvind die ooievaar het kom besoek aflê, en ek word ‘n dierbare klein dogtertjie ryker.  So tussen die swottery deur om my graad klaar te kry, staan ek soms 2 uur in die oggend en winde uitvryf terwyl ek een (slaperige) oog op die handboek hou, want 8 uur skryf ek eksamen.  Ek was jonk, dom, arm en ver van my ma af, en by ‘n tydelike gebrek aan enige common sense, was lapdoeke en ‘nappy liners’ die klein dame se voorland.  Na ‘n gesukkel met die swaar rooi doek-emmer wat my skouerblaaie uit potjie getrek het, en die voorraad Sterinappi wat allewig instand gehou moes word, was bottels uitkook en steriliseer net een te veel vir my brose gemoed.

Ek borsvoed toe.

Vir twee jaar.

Want ek was lui, en dit was gerieflik.  Die melk was net die regte temperatuur, altyd. Daar was altyd volop voorraad vir ‘n dorstige suigeling. Dit kon nie suur word nie, en ek het nie nodig gehad om enigiets te steriliseer en te kook nie. (Net koolblare was nou en dan ‘n dringende noodsaaklikheid om die melkkoors weg te hou as madampie nie lus was vir drink nie…)

En dit het my maer gehou.

Ons kon ver op reis gaan en op die ingewing van die oomblik gaan kuier, want geen voorbereiding van bottels en ‘formule’ was nodig nie.

Ek kon net nie vir vyf ure aanmekaar klas draf nie, want dan het die wit druppeltjies kosbare vloeistof op my skoenpunte begin drup…..

En juffer was gruwelik bederf, want sy het nooit honger gely nie.

Tot daardie een dag in die kerk.  Ons het by my ma-hulle gaan kuier, en die trotse familie het soos orrelpypies in die kerkbank ingeryg.  Almal moes inwurm, want dis mos lekker om die uitgebreide kroos af te show.  Dit was egter nie lank nie of dame raak kriewelrig.  G’n fopspeen of ‘n gesus of gepaai het gehelp nie.  Die duiwel was los daar in die agterbanke en sy was onmoontlik. Bang vir die ou ooms wat ons so van onder woeste grys ooghare aangluur, trek ek en madam toe maar moederskamer toe.

Heel agter in die kerk, so agter ‘n dik venster.

Ons is die enigste twee daar, en omdat ek brand om na die preek te luister, besluit ek dat as juffrou se mond vol is, sy sal stilbly en ek kans sal kry om te luister.

Maar die uitrusting wat ek aan het is ‘n nagmerrie van lap en die buit is nie so maklik bekombaar nie.  Nou aangesien dit net ons twee daar is, en die venster van eenrigting spieëlglas is, besluit ek om van bo-af in te gaan, en tuimel die tot-barstens-toe vol vlesigheid sommer bo by die hals uit.  Ek sit salig terug en luister na die dominee se rustige diep stem terwyl juffer ewe rustige suig-geluidjies maak.

Behalwe, die dominee se stem het weggeraak.  En sy woorde gefalter.

Want dit was toe nié eenrigting glas nie……