Betsy en Louise

Oktober 19, 2011 in Sonder kategorie

Toe ek in die army was, het die sersant na die girls se boobs as Betsy en Louise verwys.  Jou naamplaatjie moes altyd net so effens bo Betsy se perky punt pryk.

Onlangs loop ek saam met Teenage Queenie in die winkel, en ek hou haar ongemerk dop. Dit verskaf my jare se pret om te sien hoe sy haar skouers so effens optrek, vir Betsy en Louise op en uit druk en dan die mondjie so half onwillekeurig pruil wanneer sy by ‘n spieël verybstap, of ‘n sexy jongman iewers in ‘n 20 myl radius is…..haar weergawe van haar maag intrek, het ek agtergekom. 🙂

Die koffie drinkery saam met die ander vroulike verteenwoordigers in die familie, ontaard toe in ‘n goedige gespot van Queenie se bates…..en sommer almal s’n op die ou end!

En weereens kan die familie nie sê ek steek lyf weg (of boobs, for that matter) wanneer dit kom by naam gat maak nie.

Jare gelede het ek by ‘n makelaar gewerk wat jaar na jaar die prys vir beste makelaar in ons dorpie gewen het. Dié prestasie is dan elke keer tydens ‘n spoggerige kaas-en-wyn geleentheid in die naby geleë weermagkamp se grênd Offisierskroeg gevier.

Die eerste jaar wat ek daar werk is ek dan nou ook deel van dié feesvieringe.

Maar ek het nie ‘n rok nie, en niks smart om aan te trek nie.  (Ons was nog jonk en brand arm ok…) 

Kleinsus kom kuier gelukkig daardie einste naweek van waar sy kuns swot in Pretoria, en bring ‘n blinkerige rok saam.  ‘n Eenvoudige rok, maar ‘n mooie rok.  My ma het hom self gemaak.  Baie reguit lyne, met bande oor die skouers en ‘n breë band wat oor die boobs moet kom, en dan verder A-lynerig reguit af met twee laaaaang slits aan die kante.  Van die mooiste blinkerige diep blou sagte lap met helder rooi en groen blompatrone op.

Ek lyk heel feestelik in die rok, maar my bra se bandjies bly uitsteek…..

Nou kyk, na twee jaar se melkkoei speel vir ‘n dorstige suigeling, is swaartekrag nie my beste vriend nie.

Maar ek en Kleinsus is altwee gesëen met redelike groot borskaste (sou gedink het ons kon beter swem dan…), en sy sê as ek my asem diep intrek en vir Betsy en Louise uitstoot, sal die band oor die boobs styf span en vanself bo bly, en het ek nie die bra nodig nie.  So gemaak.

En die res van die aand praat ek net in kort sinne, want as ek te veel asem uitblaas, glip die boobs onder die band in, en squish dit vir Betsy en Louise heeltemal suid, en lyk ek soos ‘n afgesuigde hoenderborsie.

Dit het gewerk tot ons begin Tequila drink het.

Ek het te lui (of onvas op die voete) geraak om elke keer badkamer toe te gaan as die ‘glippery’ begin, so toe ek weer voel dat Louise so onder die band begin deurloer, en ek seker so lopsided soos ‘n afwiel donkiekar gelyk het, gryp ek haar sommer net daar, reg langs die kroegtoonbank, aan die boonste velle, en pluk haar sonder seremonie weer in orde.

Maar Tequila maak mens sterk, en ek pluk haar toe per ongeluk uit….ten aanskoue van almal wat op daardie stadium per toeval in die helse spieël agter die kroeg gekyk het.

Die volgende jaar is ek weer genooi, maar dié keer het ek ‘n’ broekpak gedra.

10 antwoorde op Betsy en Louise

  1. TS het gesê op Oktober 19, 2011

    eish…

  2. Modigliani het gesê op Oktober 19, 2011

    Ek lag nou so dat die trane loop!!!!!!!!!!!!

  3. Poepskroef het gesê op Oktober 19, 2011

    🙂 Dink nie ma het heeltemal DIT bedoel toe sy ons geleer het: if you’ve got it, flaunt it…

  4. NATUURLIK WORD JY WEER GENOOI

  5. Poepskroef het gesê op Oktober 19, 2011

    En dit was dieselfde kroegman…ek moet bieg, ek hét flinke diens gekry… 🙂

  6. vygie het gesê op Oktober 19, 2011

    En daar le my russian op my keybord soos ek lag.

  7. Poepskroef het gesê op Oktober 19, 2011

    :-), die prentjie was nogal iets om oor te skater!

  8. Mwahahahaha! Amper val ek van my stoel af, Rooilippie!

  9. avega het gesê op Oktober 19, 2011

    hahaha. Ek wens ek kon myne so rondskuif, maar hulle het te min vashouplek.

  10. umhlanga het gesê op Oktober 24, 2011

    Haha toe word Louise sommer ‘n uitspattige dame! 🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.