Jy blaai in die argief vir 2011 Oktober.

Speaking foreign

Oktober 31, 2011 in Sonder kategorie

Ek het aanvanklik begin blog want ‘n vriendin het gedink dit sal ‘n goeie idee wees.  Sy sê ek het die vreeslikste stories oor my internet dating wedervaringe te vertel….ek kan soveel skandes en skandale nie vir myself hou nie, dis ‘n sonde. 

Ek was in alle erns van plan om gereeld oor die internet vryery verslag te lewer, maar toe ek na een rampspoedige ‘date’ naweek deur die arme man aangesê word om tog nou nie oor sy ‘privates’ te loop staan en blog nie, het ek die idee maar eers op ys gesit.

Maar vanoggend het ek hierdie juweeltjie raakgeloop in die doolhof van ‘people shopping’ waarna die oningewydes as internet dating verwys:

Boet is van Brazilië, vir die afgelope jaar woonagtig in Suid-Afrika, in Gangsters’ Paradise.  Sê dis vir hom lekker, dis ‘n mooi land en hy soek ‘n ernstige verhouding met ‘n girlie binne ‘n 250km radius. Die engels is maar beperk.

Hmm, ja. Ek val (gelukkig) effe buite sy skietgebied, maar boet gesels immer voort.

Ek vra aanmekaar hoekom ‘n Brazilian wax dan nou so genoem is.  Maar geen antwoord, net passievolle geskrifte terug met ‘You are an angel’-goeters. 

Toe vra ek maar of hy kan Tango.  En die jolige antwoord kom ‘Yes, 30%!’

Vra ek ewe tong-in-die-kies hoe dans hy dan nou die ander 70%?

Kom die antwoord:  ‘RAPE DANCING’

Is jy seker vra ek, R-A-P-E dancing……?

‘OH BABY’ antwoord boet.

Al wat ek kan sê is:  you speak funny foreign dude!

Waar is daardie bleddie ‘probe’?

Oktober 27, 2011 in Sonder kategorie

Ek kon alweer nie vanoggend wakker word nie.  Daardie ‘snooze’ knoppie ses keer gedruk, en my kop is so dof soos na twee bottels van Nederburg se beste Special Late Harvest.  Maar ek het gisteraand niks gedrink nie…..

Ek het wel weer gedroom ek sien ligte soos verskietende sterre, en die volgende oomblik is die plat, verligte alien-skippies soos groot glimmende disco-bane bo ons koppe.

Hierdie keer het hulle soos mense gelyk, ekstra laaaang mense.  En ek moes hulle voer. En die tyd het so staaaadig verby gegaan  –  twee dae vir ons is maar een vir hulle.

Het weer mooi gesoek in die stort vanoggend, maar ek kan om die dood net nie die plek kry waar hul die probe ingeplant het nie…..

Dit gaan bakgat, dankie

Oktober 26, 2011 in Sonder kategorie

Aan al daardie arrogante, selfvoldane ex-ietse wat hulself so aanmatig om one-liner sms’e of emails te stuur met die indringer vraag,  ‘Hallooooooo, hoe gaan dit nog?’, net hierdie ou direkte verkoopstegniek rëeltjie:

Earn the right to the conversation arsehole!

Betsy en Louise

Oktober 19, 2011 in Sonder kategorie

Toe ek in die army was, het die sersant na die girls se boobs as Betsy en Louise verwys.  Jou naamplaatjie moes altyd net so effens bo Betsy se perky punt pryk.

Onlangs loop ek saam met Teenage Queenie in die winkel, en ek hou haar ongemerk dop. Dit verskaf my jare se pret om te sien hoe sy haar skouers so effens optrek, vir Betsy en Louise op en uit druk en dan die mondjie so half onwillekeurig pruil wanneer sy by ‘n spieël verybstap, of ‘n sexy jongman iewers in ‘n 20 myl radius is…..haar weergawe van haar maag intrek, het ek agtergekom. 🙂

Die koffie drinkery saam met die ander vroulike verteenwoordigers in die familie, ontaard toe in ‘n goedige gespot van Queenie se bates…..en sommer almal s’n op die ou end!

En weereens kan die familie nie sê ek steek lyf weg (of boobs, for that matter) wanneer dit kom by naam gat maak nie.

Jare gelede het ek by ‘n makelaar gewerk wat jaar na jaar die prys vir beste makelaar in ons dorpie gewen het. Dié prestasie is dan elke keer tydens ‘n spoggerige kaas-en-wyn geleentheid in die naby geleë weermagkamp se grênd Offisierskroeg gevier.

Die eerste jaar wat ek daar werk is ek dan nou ook deel van dié feesvieringe.

Maar ek het nie ‘n rok nie, en niks smart om aan te trek nie.  (Ons was nog jonk en brand arm ok…) 

Kleinsus kom kuier gelukkig daardie einste naweek van waar sy kuns swot in Pretoria, en bring ‘n blinkerige rok saam.  ‘n Eenvoudige rok, maar ‘n mooie rok.  My ma het hom self gemaak.  Baie reguit lyne, met bande oor die skouers en ‘n breë band wat oor die boobs moet kom, en dan verder A-lynerig reguit af met twee laaaaang slits aan die kante.  Van die mooiste blinkerige diep blou sagte lap met helder rooi en groen blompatrone op.

Ek lyk heel feestelik in die rok, maar my bra se bandjies bly uitsteek…..

Nou kyk, na twee jaar se melkkoei speel vir ‘n dorstige suigeling, is swaartekrag nie my beste vriend nie.

Maar ek en Kleinsus is altwee gesëen met redelike groot borskaste (sou gedink het ons kon beter swem dan…), en sy sê as ek my asem diep intrek en vir Betsy en Louise uitstoot, sal die band oor die boobs styf span en vanself bo bly, en het ek nie die bra nodig nie.  So gemaak.

En die res van die aand praat ek net in kort sinne, want as ek te veel asem uitblaas, glip die boobs onder die band in, en squish dit vir Betsy en Louise heeltemal suid, en lyk ek soos ‘n afgesuigde hoenderborsie.

Dit het gewerk tot ons begin Tequila drink het.

Ek het te lui (of onvas op die voete) geraak om elke keer badkamer toe te gaan as die ‘glippery’ begin, so toe ek weer voel dat Louise so onder die band begin deurloer, en ek seker so lopsided soos ‘n afwiel donkiekar gelyk het, gryp ek haar sommer net daar, reg langs die kroegtoonbank, aan die boonste velle, en pluk haar sonder seremonie weer in orde.

Maar Tequila maak mens sterk, en ek pluk haar toe per ongeluk uit….ten aanskoue van almal wat op daardie stadium per toeval in die helse spieël agter die kroeg gekyk het.

Die volgende jaar is ek weer genooi, maar dié keer het ek ‘n’ broekpak gedra.

Vrolike oomblikke

Oktober 19, 2011 in Sonder kategorie

Vanoggend het die sonstrale ‘n helder rooi roos langs die hek so mooi van agter af verlig. Toe my oog die kleur ontploffing met die goue ‘halo’ van sonstrale vang, vermoed ek dit gaan ‘n geseënde dag wees.

Oppad werk toe moes ek amper stop vir die beeswagter om sy troppie bontes oor die pad te jaag na die groener weivelde, maar ek het vinnig die gap gevat en was hierdie keer net 5 minute laat.  Hoe salig dat die grootste verkeersknope in hierdie agter-wêreld veroorsaak word deur trekbeeste en geroeste bakkies wat kreun onder die blinkgroen koolkoppe…..

Maar nou is die son weg agter die wolke.

En die enigste man in die kantoor poep al klaar ‘n stofwolk los in sy hoek…..

‘n Potion-tjie hier, ‘n toorwoordjie daar, en Siedaar!

Oktober 12, 2011 in Sonder kategorie

Hell hath no fury like a woman who’s stuff gets stolen….(eie vrye weergawe 🙂 )

My bediende kom een keer ‘n week op ‘n Dinsdag, maar ek vertrou die dame nie veel nie. Sy en haar familie plak in ‘n ou huis hoër op in ons straat en sy en die man drink baie.  Regte drama queen.
Maar ekk kry hulle jammer so ek gee maar werk en kos en klere en goed, want sy praat tog te mooi afrikaans, en dis baie skaars in hierdie zoeloe-wêreld. Sê dan glad eendag vir my toe ek vra hoe dit gaan, dat haar ‘depressie vlakke’ maar hoog is….

Gisteraand toe ek by die huis kom is alles mooi netjies en skoon, maar skielik fluister die duiwel in my oor, en begin ek angstig soek na my versameling half edelgesteentes wat ek jare gelede gekoop het toe ek nog op ‘n skip gewerk het.
Ek kry dit nêrens!  Nie een van die wegsteekplekke lewer enige buit op nie. En natuurlik dink ek die dame het dit gesteel….

Dis nou alles gisteraand elf-uur wat dit gebeur. Krap my huis omtrent om opsoek na die gekleurde klippies, maar kry boggerol. En ek wil moor!

Wil my hande om haar dun nekkie slaan en druk en druk en druk.  Maar dis mos nou bietjie teen die wet.

My vreeslike aktiewe verbeelding maak toe maar ‘n ander plannetjie….ek en my pa besluit om vanoggend vroeg na haar huis toe te wals. Opsie nommer twee is om haar te laat dink dat ek haar getoor het. Sy moenie kan eet of slaap nie, sy moet in vrees en bewing lewe as ek klaar is met haar…..

In die middernagtelike ure maak ek potions aan (by gebrek aan duiwelsdrek was dit toe staaldruppels en maizena….).  Grou my ou verstandtande wat al vir jare in ‘n botteltjie gebêre is uit, saam met allerhande vere en skrikwekkende paraphenalia om haar die skrik op die lyf mee te gaan jaag.  Het tot ‘n rympie in Latyn uitgedink om haar mee te ‘toor’!

En ek het beplan hoe ek elke paar dae ‘n dooie hoender op haar stoep gaan gooi….
En vir haar kinders koekies met brooklax gaan ingee….jajajaja, die arme onskuldige kinders, ek weet…..

Net voor ek toe nou uiteindelik aan die slaap raak, bid ek maar mooi dat die Here my moet maak onthou waar die klippies is as ek dit dalk self op ‘n ander plek gebêre het en net nie kan onthou nie.
En wragtig, net toe my oë toe gaan, toe onthou ek dit is in my pa se kluis! 
Dame se geluk, anders het sy vandag gedink sy is getoor deur die amper-Sangoma van Maritzburra….

Vruggies virrie vlees

Oktober 5, 2011 in Sonder kategorie

Skaterlag nou-net te lekker oor Ultramel se Rooipeper, so terwyl ek terselfdertyd met ‘n ‘dating website’ vrint sit en suggestiewe nonsense praat….

Anders as die Rooipeper pille, het ons gesprek oor dadels gegaan….

Boet sit iewers tussen die sandduine in die Midde Ooste, en kry klaarblyklik elke keer ‘n hengse vrag dadels van die plaaslike sjeik af om te verorber so vyf dae voor hy huistoe kom.

Want, sê die sjeik, dit sit lood in sy potlood.

Nou kyk, ek vrek oor dadels.

En net daar tref die besef my:  dis oor ek so blerrie baie dadels verorber dat ek altyd opeindig om oor suggestiewe goed te praat, al begin die gesprek met iets dood onskuldig soos posseëls!

En die praat lei noodgedwonge een of ander tyd tot doen…

Boet sê hy voer ‘n vrag vol dadels in tuisland toe. Ek sê ek staan beslis voor in die ry met die uitdeel slag.

Met die potlood se uitdeel ook vra hy?

Hmmm, so in my dadelbelustige gedagtes dink ek toe: as jy vir my dadels bring sort ek jou potlood tjop-tjop uit, maar sal dit dan nou nie ‘n aardsonde wees om die vruggies van die vlees uit te deel vir ‘n hand vol woestynvruggies nie….?