Pietie, die gekookte kuiken

Augustus 25, 2011 in Sonder kategorie

Anderdag ry ek op die N3 oppad huistoe, en op so ‘n slegte draai in die pad sien ek hoe die trokke en bakkies voor my skielik verwoed uitswaai vir iets wat in die middel van die linkerbaan lê. Iets groot.

 

Ek verwag die ergste, want hier is baie lobolla beeste en bokke wat los langs die pad rondloop, maar effe nader aan die ding lyk dit meer soos ‘n groot Alsatian wat uitgestrek die dood ingegaan het. En ek raak yskoud, want my gemoed kan nie die arme dooie diere op die pad hanteer nie. Maar net voor my oë begin opdam van die trane, sien ek dis net ‘n kombers wat van ‘n bakkie ‘n ent vorentoe afgewaai het.

 

‘n Stupid kombers.

 

Dáárvoor sal almal uitswaai en amper in mekaar vasneuk, maar ‘n lewendige onskuldige dier sal hulle vrek trap sonder om eens ‘n oog te knip. Donnerse kombérs……waar is ons nasie se waardes heen?

 

Diere lê my na aan die hart, en ek kan ‘n boek skryf oor ons familie en die diere wat al ons pad gekruis het. Die Sirkus het al iets van alles gehad: van witmuise wat skelm huis toe gedra is en in die nag die yskas se drade afgevreet het, tot by konyne wat ons slaapsakke sopnat gepiepie het as ons buite wou slaap….van ‘n ponie wat klippetie-klop om die huis geloop het en waarvoor die buurt se kroos 50c moes betaal om op te ry, tot by honde, katte, voëls, ‘n steenbok, ‘n boerbok, ‘n gans, ‘n kalf in die kombuis, en verkleurmannetjies op Teenage Queenie se kop toe sy nog klein was.

 

Jare gelede, toe die Sirkus nog sterk in aanwas was daar ver in ‘n ander dorp, het die familie-prosessie op ‘n goeie Sondagmiddag soos volg in die strate verby gewandel: ek, heel voor op my rooi-en-geel driewiel, Ma en Pa agterna met middelsus in die stootkar, Kolliehond agter hulle, twee Toipoms in gelid daarna, en laaste maar nie die minste, die gans. Die bok moes by die huis bly, want hy het die tannies lang die pad se blomkoppe afgevreet.

 

So het ons maar saam met die gediertes grootgeword. En so het al ons diere familie ook tydig en ontydig tot hul einde gekom, en in die diere begraafplaas in die kamp agter die huis ‘n rusplek gevind. Met gebede, gesange, geboë hoofde en al, is hul onder die kluite toegegooi. In die Heilige Akker. Die spokerige akker volgens ou Alfred wat al veertien jaar in die kaya langs die kamp bly….

 

Maar een spokie tjirp nie dáár rond nie – Pietie.

 

Dit was in die jare toe Teenage Queenie nog ‘n kleuter was. My pa glo ‘n plaaswerf is nie ‘n werf sonder ‘n paar hoenders nie, en soos dit maar gaan, is daar ook altyd ‘n paar kuikens wat leer skrop. Partykeer, op onverwagse koue oggende, het ons die kleinste kuikentjies verkluim en half dood in die hok opgetel, en in ‘n skoendoos met watte en ou lappe in die lou oond gesit om te ontdooi. Dan is hul later in die dag weer in die hok by die hen gesit om al tjirpende verder te oorleef.

Nou tipies kleuter, het Queenie hierdie reddingstegniek soos ‘n spons ingeneem. En so gebeur dit dan een middag dat sy en middelsus ‘n verlepte kuiken in die hok optel. Maar dis al middag, en kiep is lankal oorlede. Queenie wil dit egter nie aanvaar nie. Kuiken word in klein sagte handjies rondgedra en terstond ‘Pietie’ gedoop. Pietie word moederlik gevryf en aangepor om tog sy ou ogies oop te maak, maar helaas, niks gebeur.

 

En Queenie maak ‘n plan….’n moderne, VINNIGE plan.

 

Ek sal nooit daardie verslae, benoude gesiggie vergeet toe ek in die kombuis ingestap kom, en juffrou met ‘n poeding bakkie met watte en vol van Piétie voor die oop mikrogolf staan nie…..

 

“Mammie, hier kom sous by sy oë uit!”

 

Ons het maar vir Pietie in ‘n aparte graffie onder die boom begrawe – na al die grootmense ophou skaterlag het om die hoekie.

11 antwoorde op Pietie, die gekookte kuiken

  1. no way!!! hahahahahaha!!!

  2. hmm, ja, gelukkige was hy klaar gedooi voor hy die mikrogolf betree het!

  3. zephur het gesê op Augustus 25, 2011

    Ag shame man sy wou help…ek sou wat wou gee om daai gesiggie van haar te kon sien.

    Ek huil weer kwaai as ek ‘n hond moet groet wat al jare oud geword het langs my sy…

  4. LMGA!! Ek kan die gesiggie sien!! ha ha ha

  5. Aaaaw! Dis tragies!

  6. Ek is terselfdetyd baie jammer vir Pietie en Teenage Queenie, en ek wil huil ook. Sy het tog so goed bedoel. (Ek het toe ek klein was bietjie te lief geraak vir ons troetelkonyn. Hom ‘n stywe drukkie gegee. So ietwat te styf. Arme Konyn het dit toe nie gemaak nie, en ek voel nou nog horrible daaroor.)

  7. Ek was net so lief vir my oupa se klein gansies…en ek is baie trots op Queenie, sy is ‘n ‘tree hugger’ van formaat nou!

  8. Ken daai huil, dis een van die grootste huile wat daar is.

  9. Dankie!

  10. Cute!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.