Badkamer Geloof

Augustus 15, 2011 in Sonder kategorie

Ek hou van badkamers. Die toilet spesifiek. Maar ‘n stort ook. Dis sulke ‘salige’ ruimtes….so asof al die goeie karma, pienk aura’s en wot not’s van sielerus juis dáár bymekaarkom.

 

Neem nou maar die stort: elke oggend wanneer ek skuins beneuk is omdat ek moet opstaan, en ek die deure oopskuif en in klouter, is die stywe, koue krane eers ongenaakbaar koud en hard op my hande en is dit soos ‘n tweede wake-up call, ‘word wakker girl, die dag wag!’ Maar dan volg die salige warm water soos druppels van genade oor my, en ek staan, en staan, hande asof biddend voor die bors saamgedruk, en laat die saligheid oor my vloei. ‘n Vredige verposing. Dis dan wanneer die brein in rat kom, en die wonderlikste gedagtes en oplossings vir knellende probleme skiet my te binne. Skielik weet ek waar die R100 heen is wat ek verloor het, watter skoene ek eerder by die swart broek moet dra om my bene langer te laat lyk, hoe ek die oefening in die gym moet doen om my boudspiere beter te oefen, wat ek vir Teenage Queenie kan koop vir haar verjaarsdag, en hoe ek die konflik by die werk moet oplos. Dis daardie ‘Aha!’ oomblik waarna die ghuru’s dikwels verwys, wanneer alles net sommer skielik sin maak en jy nie kan weet hoekom jy dit nie lankal geweet het nie…

En dit was my aura skoon – maak dit weer skitterwit na die nag se worstel-drome en gister se doringdrade wat laasnag saam in die bed ingerol het. Dis my eie Viagra vir ‘n moeg brein, hierdie klein toegeboude vierkantjie met sy blinkwit teëls.

 

 

Maar my gunsteling bly nog die toilet. Die troon van die huis: dis daar waar ek dikwels die Here ontmoet. Nie aspris nie, want dit voel so half oneerbiedig om in die teenwoordigheid van die Allerhoogste te sit met ‘n kaal agterent, maar dit gebeur sommer net. Seker omdat ek niks anders het om te doen terwyl ek wag vir moeder natuur om haar gang te gaan nie. Nou speel ek maar saam met my gedagtes wat begin dwaal, en dwaal, en dwaal…. Want mens kan net soveel keer die blokke op die vloer tel, of paadjies maak met die teels teen die muur, of die skewe gesig wat die hout se grein agterop die deur maak, probeer mis kyk. Dan raak die berekende gedagtes op, dis soos hipnose. Ek vermoed sterk daar is ‘n bio-psigiese verband tussen die ‘vryheid’ van die anatomiese ‘onderdele’, en die vryheid wat die brein homself toe-eien, so gesetel op die toilet.

Dis die lekkerste om so half vooroorgebuk te sit, skouers wat rustig hang, hande stil in die skoot, en net vorentoe te staar. Sonder gedagtes, sonder om die oë te knip. Dis dan wanneer die Here antwoorde gee, want dis dan dat ek vra sonder om te dink. Wanneer die hart praat, en nie die brein nie. Wanneer ek saggies huil oor my stukkende hart, oor die mooi man wat nie ‘n goeie man was nie, oor die dooie hondjies langs die pad, oor die skoolkinders wat nie boeke en klere en toebroodjies vir hulle kosblikke het nie, oor ek ‘n huis en warm komberse het en ander nie, hoekom ek by die werk moet sit en nie liewers vreemde wêrelde kan verken nie. Dis dan wat die Here langs my kom staan en my troos. Dis dan wanneer hy langs my buig en saggies in my oor fluister om rigting of raad te gee. Dis dan wanneer dit vir my die lekkerste tyd en plek van die hele dag word.

Dikwels hoor ek ek sit en droom op die troon, maar ek maak of ek nie hoor nie. Want hulle is halfpad reg. Dis MY tyd, die een plek waar telefone, werk en ander goed my nie gaan pla nie. Of aanjaag nie. Tot ek moet in- en uitklok vir toiletbreuke, sal ek my agterent met grasie op die wit porselein troontjie neervlei en laat vertoef vir ‘n wyle, want wanneer ek opstaan en broek vasmaak, is ek ‘ligter’, van vlees én gees, is die konstipasie van die siel genees.

 

En dis hoekom ek hóú van badkamers….

9 antwoorde op Badkamer Geloof

  1. Hallo daar!
    Jy was lanklaas hier – lekker om jou weer te lees!

  2. Hallo vrou! Ja jong, so ‘n ligte aanval van gemoedsbekakking gehad, maar nou weer op die ball!

  3. Ek is bly 🙂

  4. TS het gesê op Augustus 15, 2011

    hehehehe… ok hieroor sal ek moet dink!

    welkom terug!

  5. Dankie! 🙂 Het maar ‘n kans gevat met die ‘annerste’ gedagte, hiehie

  6. Nice geskryf.

    Snaaks weet jy, as ek so sit, dan rus ek my elmbo-e op my bene, en ondersteun my kop so deur my wangbene op my handpalms te rus – as dinge talm, dan kom ek met sulke drukmerke op my gesig daaruit!

    🙂

  7. en dis die lekkerste sit denkbaar daardie! 🙂

  8. lora2me het gesê op Augustus 16, 2011

    Badkamers is vir sommige mense soos meditasievertrekke vir ander is. Ek geniet my stortoomblikke vir daardie afwen en ontspanning wat dit bring.

  9. Ek stem 100% saam!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.