Jy blaai in die argief vir 2011 Augustus.

‘n Trotse Ma

Augustus 31, 2011 in Sonder kategorie

Ek het hierdie stukkie verlede jaar dié tyd geskryf, vol heimwëe en ‘n betraandheid.

Maar vandag is dit anders, het ek ‘n huppel in my stap, nie net oor dit ‘n pragtige lente dag is nie, maar ook omdat Teenage Queenie die afgelope jaar in so ‘n pragtige amper-grootmens verander het.

En soos sy self sê:  18 ’till I die!

Sweet sixteen

 

                                                                                                            31 Augustus 2010

My kind word môre 17.

 

S e w e n t i e n

 

Vandag is Vlooi se laaste dag om 16 jaar oud te wees.

 

Ek wil nie eens sewentien sê nie, dis so ‘n skerp getal. So vol haakplekke en onafgerond.

Sestien is lekker. Dis rond. Gebalanseerd. Die kleure en vorm wat dit in my gedagtes maak is net reg.

Wens sy kon nog ‘n bietjie langer sestien bly.

 

Die tyd vlieg darem so. Kan dit nog onthou soos gister hoe ek die badkamer van bo tot onder uitgeskrop het die dag voor sy gebore is. Hulle sê mense maak ook soos katte: maak nes skoon vir ‘n vale voor die nuwe kleintjie kom.

….en hoe seer dit was om oor die hobbels in die pad hospitaal toe te ry.

Toe sy nog so klein was en ‘Vlooi’ geword het, het ek so baie drome vir haar gehad. Niks van dit het waar geword nie, maar dis nie skade nie, want wat sy self geword het is baie beter as enigiets wat ek kon opdroom. Sy is ‘n cool kid.

 

Laat my net worry. Want sestien is (veronderstel) om nog so onskuldig te wees. Die laaste van die drempeljare: op die drumpel van grootword, maar nog nie heeltemal nie, nog kind genoeg om te luister as mens raas.

Op die drumpel van probleme en worries wat lê en wag as universiteit, ‘n eie blyplek, rekeninge en verantwoordelikheid kom, maar nog nie heeltemal gepla nie, want bekommer en wakker lê is nog die grootmense se probleem.

 

Sestien is die lekker tussen-in jaar: hoef nie meer aan die kindertafel by troues te sit nie, maar hoef ook nog nie self doktersafsprake te maak nie. Ma sal dit nog doen.

Net genoeg pret, nie te veel verantwoordelikheid.

 

Maar nou is dit klaar vir Vlooi. Dis vanaand haar laaste slapie as sweet sixteen. Hoop sy het die pad hierheen geniet. En dit waardeer.

Want môre as sy haar oë oopmaak, is sy klaar oor die drempel, deur na die grootmens kant. Vannag gaan dinge in haar lewe ‘n klemverskuiwing ondergaan sonder dat sy dit eens weet. As sy haar oë toemaak is sy nog my onskuldige, kostelike, effens emosionele, sorgvrye sestienjarige kind, op die kruin van tiener wees. So vol potensiaal.

As sy môre wakker word is sy onder my uit, oppad om die lewe self aan te vat. En ek kan nie help om te wonder wat sy daarmee gaan doen nie. En te vrees vir dit wat die lewe op sy beurt met haar gaan doen.

 

Al wens ek haar met my hele wese ‘n gelukkige bestaan van haar eie toe, en wag opgewonde om te sien wat sy nog alles gaan vermag, voel ek iewers in my siel so ‘n diep rooi-pers oop-wond soort hartseer om te dink my kind word groot en al hoe verder verwyder van my.

 

Ek wens sy kon nog net een jaar langer sestien bly sodat ék dit meer kon waardeer.

Pietie, die gekookte kuiken

Augustus 25, 2011 in Sonder kategorie

Anderdag ry ek op die N3 oppad huistoe, en op so ‘n slegte draai in die pad sien ek hoe die trokke en bakkies voor my skielik verwoed uitswaai vir iets wat in die middel van die linkerbaan lê. Iets groot.

 

Ek verwag die ergste, want hier is baie lobolla beeste en bokke wat los langs die pad rondloop, maar effe nader aan die ding lyk dit meer soos ‘n groot Alsatian wat uitgestrek die dood ingegaan het. En ek raak yskoud, want my gemoed kan nie die arme dooie diere op die pad hanteer nie. Maar net voor my oë begin opdam van die trane, sien ek dis net ‘n kombers wat van ‘n bakkie ‘n ent vorentoe afgewaai het.

 

‘n Stupid kombers.

 

Dáárvoor sal almal uitswaai en amper in mekaar vasneuk, maar ‘n lewendige onskuldige dier sal hulle vrek trap sonder om eens ‘n oog te knip. Donnerse kombérs……waar is ons nasie se waardes heen?

 

Diere lê my na aan die hart, en ek kan ‘n boek skryf oor ons familie en die diere wat al ons pad gekruis het. Die Sirkus het al iets van alles gehad: van witmuise wat skelm huis toe gedra is en in die nag die yskas se drade afgevreet het, tot by konyne wat ons slaapsakke sopnat gepiepie het as ons buite wou slaap….van ‘n ponie wat klippetie-klop om die huis geloop het en waarvoor die buurt se kroos 50c moes betaal om op te ry, tot by honde, katte, voëls, ‘n steenbok, ‘n boerbok, ‘n gans, ‘n kalf in die kombuis, en verkleurmannetjies op Teenage Queenie se kop toe sy nog klein was.

 

Jare gelede, toe die Sirkus nog sterk in aanwas was daar ver in ‘n ander dorp, het die familie-prosessie op ‘n goeie Sondagmiddag soos volg in die strate verby gewandel: ek, heel voor op my rooi-en-geel driewiel, Ma en Pa agterna met middelsus in die stootkar, Kolliehond agter hulle, twee Toipoms in gelid daarna, en laaste maar nie die minste, die gans. Die bok moes by die huis bly, want hy het die tannies lang die pad se blomkoppe afgevreet.

 

So het ons maar saam met die gediertes grootgeword. En so het al ons diere familie ook tydig en ontydig tot hul einde gekom, en in die diere begraafplaas in die kamp agter die huis ‘n rusplek gevind. Met gebede, gesange, geboë hoofde en al, is hul onder die kluite toegegooi. In die Heilige Akker. Die spokerige akker volgens ou Alfred wat al veertien jaar in die kaya langs die kamp bly….

 

Maar een spokie tjirp nie dáár rond nie – Pietie.

 

Dit was in die jare toe Teenage Queenie nog ‘n kleuter was. My pa glo ‘n plaaswerf is nie ‘n werf sonder ‘n paar hoenders nie, en soos dit maar gaan, is daar ook altyd ‘n paar kuikens wat leer skrop. Partykeer, op onverwagse koue oggende, het ons die kleinste kuikentjies verkluim en half dood in die hok opgetel, en in ‘n skoendoos met watte en ou lappe in die lou oond gesit om te ontdooi. Dan is hul later in die dag weer in die hok by die hen gesit om al tjirpende verder te oorleef.

Nou tipies kleuter, het Queenie hierdie reddingstegniek soos ‘n spons ingeneem. En so gebeur dit dan een middag dat sy en middelsus ‘n verlepte kuiken in die hok optel. Maar dis al middag, en kiep is lankal oorlede. Queenie wil dit egter nie aanvaar nie. Kuiken word in klein sagte handjies rondgedra en terstond ‘Pietie’ gedoop. Pietie word moederlik gevryf en aangepor om tog sy ou ogies oop te maak, maar helaas, niks gebeur.

 

En Queenie maak ‘n plan….’n moderne, VINNIGE plan.

 

Ek sal nooit daardie verslae, benoude gesiggie vergeet toe ek in die kombuis ingestap kom, en juffrou met ‘n poeding bakkie met watte en vol van Piétie voor die oop mikrogolf staan nie…..

 

“Mammie, hier kom sous by sy oë uit!”

 

Ons het maar vir Pietie in ‘n aparte graffie onder die boom begrawe – na al die grootmense ophou skaterlag het om die hoekie.

Badkamer Geloof

Augustus 15, 2011 in Sonder kategorie

Ek hou van badkamers. Die toilet spesifiek. Maar ‘n stort ook. Dis sulke ‘salige’ ruimtes….so asof al die goeie karma, pienk aura’s en wot not’s van sielerus juis dáár bymekaarkom.

 

Neem nou maar die stort: elke oggend wanneer ek skuins beneuk is omdat ek moet opstaan, en ek die deure oopskuif en in klouter, is die stywe, koue krane eers ongenaakbaar koud en hard op my hande en is dit soos ‘n tweede wake-up call, ‘word wakker girl, die dag wag!’ Maar dan volg die salige warm water soos druppels van genade oor my, en ek staan, en staan, hande asof biddend voor die bors saamgedruk, en laat die saligheid oor my vloei. ‘n Vredige verposing. Dis dan wanneer die brein in rat kom, en die wonderlikste gedagtes en oplossings vir knellende probleme skiet my te binne. Skielik weet ek waar die R100 heen is wat ek verloor het, watter skoene ek eerder by die swart broek moet dra om my bene langer te laat lyk, hoe ek die oefening in die gym moet doen om my boudspiere beter te oefen, wat ek vir Teenage Queenie kan koop vir haar verjaarsdag, en hoe ek die konflik by die werk moet oplos. Dis daardie ‘Aha!’ oomblik waarna die ghuru’s dikwels verwys, wanneer alles net sommer skielik sin maak en jy nie kan weet hoekom jy dit nie lankal geweet het nie…

En dit was my aura skoon – maak dit weer skitterwit na die nag se worstel-drome en gister se doringdrade wat laasnag saam in die bed ingerol het. Dis my eie Viagra vir ‘n moeg brein, hierdie klein toegeboude vierkantjie met sy blinkwit teëls.

 

 

Maar my gunsteling bly nog die toilet. Die troon van die huis: dis daar waar ek dikwels die Here ontmoet. Nie aspris nie, want dit voel so half oneerbiedig om in die teenwoordigheid van die Allerhoogste te sit met ‘n kaal agterent, maar dit gebeur sommer net. Seker omdat ek niks anders het om te doen terwyl ek wag vir moeder natuur om haar gang te gaan nie. Nou speel ek maar saam met my gedagtes wat begin dwaal, en dwaal, en dwaal…. Want mens kan net soveel keer die blokke op die vloer tel, of paadjies maak met die teels teen die muur, of die skewe gesig wat die hout se grein agterop die deur maak, probeer mis kyk. Dan raak die berekende gedagtes op, dis soos hipnose. Ek vermoed sterk daar is ‘n bio-psigiese verband tussen die ‘vryheid’ van die anatomiese ‘onderdele’, en die vryheid wat die brein homself toe-eien, so gesetel op die toilet.

Dis die lekkerste om so half vooroorgebuk te sit, skouers wat rustig hang, hande stil in die skoot, en net vorentoe te staar. Sonder gedagtes, sonder om die oë te knip. Dis dan wanneer die Here antwoorde gee, want dis dan dat ek vra sonder om te dink. Wanneer die hart praat, en nie die brein nie. Wanneer ek saggies huil oor my stukkende hart, oor die mooi man wat nie ‘n goeie man was nie, oor die dooie hondjies langs die pad, oor die skoolkinders wat nie boeke en klere en toebroodjies vir hulle kosblikke het nie, oor ek ‘n huis en warm komberse het en ander nie, hoekom ek by die werk moet sit en nie liewers vreemde wêrelde kan verken nie. Dis dan wat die Here langs my kom staan en my troos. Dis dan wanneer hy langs my buig en saggies in my oor fluister om rigting of raad te gee. Dis dan wanneer dit vir my die lekkerste tyd en plek van die hele dag word.

Dikwels hoor ek ek sit en droom op die troon, maar ek maak of ek nie hoor nie. Want hulle is halfpad reg. Dis MY tyd, die een plek waar telefone, werk en ander goed my nie gaan pla nie. Of aanjaag nie. Tot ek moet in- en uitklok vir toiletbreuke, sal ek my agterent met grasie op die wit porselein troontjie neervlei en laat vertoef vir ‘n wyle, want wanneer ek opstaan en broek vasmaak, is ek ‘ligter’, van vlees én gees, is die konstipasie van die siel genees.

 

En dis hoekom ek hóú van badkamers….