Die Paaldans petalje

Julie 8, 2011 in Sonder kategorie

In my vorige lewe was ek Mata Hari se understudy. Was eers ‘n fan van Calamity Jane, want ons het so saam met die gewere en skietgoed grootgeword en ek like nogal daardie rybroeke met die fraaings aan wat die cowboys altyd gedra het. Sexy. Maar toe onthou ek nou weer ek weet boggerol van perdry af.

En anyway, Calamity het haarself desmoers gesuie aan vaatjies vol van die Wille Weste se beste whisky, terwyl Mata Hari darem ewe ladylike met wit handskoentjies en al voor die vuurpeleton inmekaargesak het…..

Nou hoekom het ek nou juis ‘n ding vir dié twee? Want hulle was cool!  In die rerige lewe was albei van hulle ewe kleurvolle, indrukwekkende vroue. Albei het wandaderige goed gepleeg ter wille van volk en vaderland. Beide was in ‘n soort geheimsinnigheid gehul met die ou vaaljapies wat aanmekaar geskinder het oor hul doen-en-late. Albei was hul eie tyd ver vooruit wat eksotiese (en erotiese) lewenswyses aanbetref, en voor albei se skoonheid het die manne behoorlik geswymel. Veral die groot kokkedore in uniform….beslis my soort girls. (Ag ok, ek het ‘n ding vir ‘n uniform ook.)

(Synde dit vrotsige maniere is om oor ander se dinge skryf, amper soos skinder, en ek dan nou wel ‘n gewoonte het om my naam self hel geredelik plat te slaan, gaan ek nou maar bietjie oor my eie eskapades verslag doen hier. Jammer vir die wat opvoedkundige leesstof verwag het, hiehie!)

Nou ja, aangesien ek toe nou nie bloots op ‘n perd se rug die niet kon injae nie, en darem so ‘n sweempie van ritme besit, besluit ek toe maar om in Mata Hari se voetspore te volg en die meer eksotiese danse aan te leer as verleidingstegniek.

Begin ek en Kleinsus (wat langer as ek is…) met paaldanse.

Ag wat ‘n gedoente!

Daardie ou paaltjie laat hom nie sommer so ligtelik aanvat nie. Dis glad en glibberig en werk nie verniet af grond se kant toe nie…

Maar ons gym mos altwee al jare lank en spog met bolletjies biseps en stywe dye, so die gepaalswaaiery behoort soos soetkoek af te gaan.

Hmm, ja, afgegaan het dit:  my boude, dye en useless spiere, alles grond toe. Keer op keer.

Ou paaltjie word gedoop Long John Silver, maar tenspyte van dié eerbenoeming het ou langes boggerol gevoel vir my edele pogings om sensueel die ‘fireman’s pose’ te vervolmaak. Ter aarde is ek neerbestel na elke dappere poging. Die aanlope het langer geword, die swetsery meer en die verleidelike nimf is in ‘n blik gedruk.

Daar is tere deeltjies aan my lyf wat nog nooit die son gesien het nie, wat potblou was soos dit keer op keer hardhandig met ou LangJan kennis gemaak het in ‘n poging om die res van my kurwes na bo te loots.

Nie al die blou spirits of die botteltjies vol Mum wat ek op my hande uitgerol het kon my laat vasklou nie….

En dit terwyl Kleinsus soos verlmuis se eie kind ewe sexy rondflenter en sommer kop-onderstebo aan een been hang na die derde les al.

Nog ‘n paar stywe spiere (ja, dis HARDE werk!) en bloukolle later het ek opgegee. Hierdie Mata Hari is beslis nie in die wieg gelê om pale te bestyg nie.

My brose ego en sensuele welbelustigheid gelyktydig moertoe, sit ek toe maar die drome van die Majoor in sy uniform so op ware Mata Hari-styl verlei saam met die seer hande op ys.

Ag wel, daar is darem nog die bellydanse….

9 antwoorde op Die Paaldans petalje

  1. HeavyHenry het gesê op Julie 8, 2011

    Lees jou nou eers raak. Het gou opgevang. Welkom hier, en doet so voort!

  2. Poepskroef het gesê op Julie 8, 2011

    Dankie! Leer nog lekker hier tussen die ander se groot geskrifte.

  3. HeavyHenry het gesê op Julie 8, 2011

    Jy hoefie terug te staan nie – jou goed is nice!

  4. Poepskroef het gesê op Julie 8, 2011

    Komende van jou is dit ‘n lekker kompliment dankie.

  5. eros01 het gesê op Julie 8, 2011

    Lekker geskryf!Ek het ook eenmaal daai paal ding probeer met dieselfde gevolge.Welkom en geniet die blogging xR

  6. Poepskroef het gesê op Julie 8, 2011

    Dankie Roosmaryn! Hmm ja, pale is gevaarlike goed… 🙂

  7. Modigliani het gesê op Julie 8, 2011

    Hie hie.
    Ek het nou lekker gegiggel!!!

  8. umhlanga het gesê op Julie 11, 2011

    Haha, dit was ‘n aangename verrassing om jou blog te ontdek. Lekker gesmile op ‘n Blou Maandag dankie 🙂

  9. Poepskroef het gesê op Julie 11, 2011

    Dankie, is beslis my plesier.

Los ’n antwoord vir Poepskroef. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.