Jy blaai in die argief vir 2011 Julie.

Lekkerbekkigheid

Julie 18, 2011 in Sonder kategorie

“Kissing don’t last, good cookin do” was die woorde op die geraamde teëltjie in my ma se kombuis toe ons klein was. Ek kon my vergaap aan die vrolike vet vroutjie in die prentjie. Teëltjie het egter later onverklaarbaar in die wasgoedkamer opgeindig, so min of meer dieselfde tyd toe ons oud genoeg was om agter te kom dat Moeder van Vele se kos altyd half ‘gekarameliseer’ was (‘gebrand’ is ‘n tog so ‘n bittere ou woord….).

Toe reeds het my verwondering oor die effek wat kos op mense se gemoedelikheid gehad het, soos muf in bloukaas deel van my eie ek geword.

So sit ek Saterdagoggend alleen in die Griekse koffieshoppie by die meer en ontbyt eet terwyl ek wag dat hulle klaar kry met die nuwe bande op my kar. Dit voel mos maar altyd asof die gesellige pare vir jou kyk en dink ‘ag shame’ as jy so alleen sit en eet, so eers peuter ek woes met die selfoon om tog besig te lyk, en bekyk toe die ganse op die meer ewe aandagtig asof ek ‘n National Geographic storie moet skryf oor die geveerdes se swempatrone. Gelukkig kom die kos gou, en ek was regtig honger. Verslind ek die spek en eiers dat die tamatiesous so spat. Met die dat ‘n stukkie eier amper op my kennebak beland, begin ek dink aan mense se eetgewoontes. Hier om my, kom ek so tussen die happe deur agter, sit ‘n paar smulpape van formaat. Twee tantes met lang neuse trotseer die koue by die buitenste tafeltjies, en het elkeen ‘n stuk koek en warm drinkgoed met sulke bolle room op bestel. Vir ontbyt… ‘n Ander paar het na my ingekom maar is woerts warts deur hul kos en al klaar weer oppad uit: die etery net nog ‘n dagtaak. Terwyl die ronde ou by die venster weer sy ekstra porsie spek lustig aanval. Die vrou oorkant hom drink rustig aan haar koffie en praat aanmekaar. Meeste mense hierbinne bietjie aan die ronde kant, mesomorfe, maar gesellig.

Toe wonder ek nou:  geniet vet mense hul kos meer? Maak kos hulle vriendeliker?

Het op varsity ‘n vriendin gehad wat alles met oorgawe gedoen het, van kakpraat en dronk word tot eet en vry (en laasgenoemde weet ek, want ons het haar een aand deur ‘n skrefie in die gordyn afgeloer….hiehie).  Sy’t gelééf. Soms bietjie te veel na haar prim-en-proper vriendinne se sin.

Eet vier van ons een aand in die Spur (ja, vir studente was dit cool!) en gooi flikkers vir ‘n vale vir die groepie army manne by die tafel agter ons. Vriendin het so ‘n lae hals rok aan en dit maak ‘n wille cleavage tussen die twee sagte koeksisterdeeg bollendes. Ons eet chocolate mousse uit wynglase, en die langsteel lepel is ‘n aanvalswapen in Vriendin se hand, die mousse die vyand wat terstond uitgewis moet word. Die army manne het uiteindelik reageer en omgedraai vir ‘n geselsie. Maar net toe verloor Vriendin die kosbare vrag oppad mond toe, al tuimelende in die Vallei van Cleavage af. Nie een om so ‘n lekker happie te mors nie, word die langsteel lepel agterna ingejaag om die mousse op awol te gaan uitdiep.

Ons ander het gestik, geproes en gegiggel, en nooit weer van die army manne gehoor nie….

Een van my meer volronde pelle, ou Dikseun, maak die lekkerste kos.  Gooi room, knoffel en hompe kaas in alles. Divine! Kamma vreeslik gesteld op sy eie soort etiket, vat net sulke kleinvoëltjie happies wanneer hy eet. Maar eet alles. Die bord blinkskoon, die eetgerei ook. Druk die mes tot by die hef weg in sy groot pienk mond om elke laaste lekkerte nog af te lek…

Graatjie-maer Middelsus weer se bord het altyd oorskiet op – mes en vurk dra die oorblyfsels van kos wat met dun lippies half afgelek is, en sy doen alles gejaag:  eet vinnig, praat vinnig en leef vinnig.

In die kombuis van die lewe is sy die moderne spierwit yskas met die designer kos in. Dikseun is die geelhout kombuistafel waarby jy wil aansit en vertoef tot jou boude lam gesit is en jou pens knuppeldik geëet is.

My eie wille wulpse Tienerbloedjie is die warm verf op die mure:  nooi jou in en laat jou tuis voel. Om haar dop te hou wanneer sy eet is soos om na ‘n simfonie konsert te luister – meesterlik. Elke hap word delikaat en met ‘n tere benadering mond toe gebring. Sy neem haar tyd. Sy behandel die kos soos ‘n ou vriend wat ingenooi en gekoester moet word. En wanneer sy haar vingers aflek, kry jy lus vir moskonfyt op vars warm plaasbrood. Mens kan behoorlik proé hoe haar smaakkliere juig. Om vir haar te kyk wanneer sy eet maak my altyd honger.

Gaan nou nie op hierdie blou Maandag my kop op ‘n blok sit om te sê ronder mense is nicer mense nie, maar dat hulle geselliger as hul brandmaer ewe knieë voorkom, is nietemin.

En ek is alweer honger….

Die Paaldans petalje

Julie 8, 2011 in Sonder kategorie

In my vorige lewe was ek Mata Hari se understudy. Was eers ‘n fan van Calamity Jane, want ons het so saam met die gewere en skietgoed grootgeword en ek like nogal daardie rybroeke met die fraaings aan wat die cowboys altyd gedra het. Sexy. Maar toe onthou ek nou weer ek weet boggerol van perdry af.

En anyway, Calamity het haarself desmoers gesuie aan vaatjies vol van die Wille Weste se beste whisky, terwyl Mata Hari darem ewe ladylike met wit handskoentjies en al voor die vuurpeleton inmekaargesak het…..

Nou hoekom het ek nou juis ‘n ding vir dié twee? Want hulle was cool!  In die rerige lewe was albei van hulle ewe kleurvolle, indrukwekkende vroue. Albei het wandaderige goed gepleeg ter wille van volk en vaderland. Beide was in ‘n soort geheimsinnigheid gehul met die ou vaaljapies wat aanmekaar geskinder het oor hul doen-en-late. Albei was hul eie tyd ver vooruit wat eksotiese (en erotiese) lewenswyses aanbetref, en voor albei se skoonheid het die manne behoorlik geswymel. Veral die groot kokkedore in uniform….beslis my soort girls. (Ag ok, ek het ‘n ding vir ‘n uniform ook.)

(Synde dit vrotsige maniere is om oor ander se dinge skryf, amper soos skinder, en ek dan nou wel ‘n gewoonte het om my naam self hel geredelik plat te slaan, gaan ek nou maar bietjie oor my eie eskapades verslag doen hier. Jammer vir die wat opvoedkundige leesstof verwag het, hiehie!)

Nou ja, aangesien ek toe nou nie bloots op ‘n perd se rug die niet kon injae nie, en darem so ‘n sweempie van ritme besit, besluit ek toe maar om in Mata Hari se voetspore te volg en die meer eksotiese danse aan te leer as verleidingstegniek.

Begin ek en Kleinsus (wat langer as ek is…) met paaldanse.

Ag wat ‘n gedoente!

Daardie ou paaltjie laat hom nie sommer so ligtelik aanvat nie. Dis glad en glibberig en werk nie verniet af grond se kant toe nie…

Maar ons gym mos altwee al jare lank en spog met bolletjies biseps en stywe dye, so die gepaalswaaiery behoort soos soetkoek af te gaan.

Hmm, ja, afgegaan het dit:  my boude, dye en useless spiere, alles grond toe. Keer op keer.

Ou paaltjie word gedoop Long John Silver, maar tenspyte van dié eerbenoeming het ou langes boggerol gevoel vir my edele pogings om sensueel die ‘fireman’s pose’ te vervolmaak. Ter aarde is ek neerbestel na elke dappere poging. Die aanlope het langer geword, die swetsery meer en die verleidelike nimf is in ‘n blik gedruk.

Daar is tere deeltjies aan my lyf wat nog nooit die son gesien het nie, wat potblou was soos dit keer op keer hardhandig met ou LangJan kennis gemaak het in ‘n poging om die res van my kurwes na bo te loots.

Nie al die blou spirits of die botteltjies vol Mum wat ek op my hande uitgerol het kon my laat vasklou nie….

En dit terwyl Kleinsus soos verlmuis se eie kind ewe sexy rondflenter en sommer kop-onderstebo aan een been hang na die derde les al.

Nog ‘n paar stywe spiere (ja, dis HARDE werk!) en bloukolle later het ek opgegee. Hierdie Mata Hari is beslis nie in die wieg gelê om pale te bestyg nie.

My brose ego en sensuele welbelustigheid gelyktydig moertoe, sit ek toe maar die drome van die Majoor in sy uniform so op ware Mata Hari-styl verlei saam met die seer hande op ys.

Ag wel, daar is darem nog die bellydanse….