Rowe op die siel

Junie 30, 2011 in Sonder kategorie

(vir die perdeman)

 

 

 

Die woede het gebrand soos ‘n bol vuur in my. Dit het my verstand oorgeneem, my siel verteer.

 

Toe kom die pyn, die binne-toe kyk, die verwyt. En uiteindelik die aanvaarding.

 

Liefde.

 

Die woord word so ligtelik gebruik. So sonder aansien, sonder gevoel daarvoor.

“Ek is lief vir jou” sê hy na twee weke en wag vol verwagting dat ek iets moet terug sê. Maar dit kom nie, dit kan nie, dis nog te gou sê my verstand. Pasop! skree my hart.

 

So hou ons aan vir weke, hierdie kat-en-muis spel van twee dansers in ‘n ritme vasgevang waar hul net-net nie aanmekaar raak nie. ‘n Voet vorentoe, ‘n systap, die terugdeins, vorentoe beur, die teenaanval. So vol passie, so alles-seggend leeg.

 

Die weke het verby gevlieg, die spel het verdaag, ek het lief gekry. Maar vir jou het die musiek ophou speel.

 

Die verraad was so groot. So onverstaanbaar groot. Dit was nie jou wegbly, jou leuens of jou trou aan ‘n ander beminde wat gebrand het soos warm staal op my teer vel nie. Dit was die glò in jou wat die grootste verraaier was, die glo in jou goedheid. Die glo in jou binneste, in die klein seuntjie wat daar skuil en die wêreld met blink oë en ‘n breë glimlag aankyk en wag om uitgeroep te word. Nie die verraaier en ontroue leuenaar wat met grootmens geweld my glò verpletter het nie.

 

Ek het verloor, sy het gewen.

 

Dit was ‘n harde pad, die stof nog klewend aan my lyf; ek, uitgemergel deur die skreiende son, lippe gebars, die leed rou in my gemoed.

 

Ek dans weer solo.

 

Ek sal oorleef.

5 antwoorde op Rowe op die siel

  1. Modigliani het gesê op Junie 30, 2011

    Dit is seer.
    xxx

  2. Poepskroef het gesê op Junie 30, 2011

    Jip, maar wat sal ons nou sonder ‘n paar letsels wees né?

  3. Modigliani het gesê op Junie 30, 2011

    As jy vir iemand spesifiek ‘n “antwoord” op hul kommentaar wil gee, kliek op die “antwoord knoppie” dan kry hulle ‘n email ook wat se jy het geantwoord.
    As ek enigsins sin maak….

  4. Modigliani het gesê op Junie 30, 2011

    En dan is hy ook so effens “indented”

  5. Poepskroef het gesê op Junie 30, 2011

    En so leer ek elke dag! Cool, dankie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.