Ok, so hy het ‘n six-pack gehad…

Junie 29, 2011 in Sonder kategorie

En so kom my Jo’burg trip toe ook tot ‘n einde. Ek haat Johannesburg. So wat het ek daar loop soek, vra jy?

 

‘n Man natuurlik. Tipies.

Soos meeste van my wandade, wille dade en ongure doen-en-late, is hierdie jongste ekskursie ook geïnspireer deur ‘n man.

 

‘n Pragtige jong dingetjie dié keer. Met sy nege-jaar-jonger-as-ek lyf het hy my tydens ‘n vinnige vakansie-romanse skoon begogel.

Jonger mans maak my nog altyd vreeslik opgewonde. En die opwindende vooruitsig om my eie katelknaap te hê, was die begin van die sondeval vir my.

 

Maar die belustigheid byt my toe ook sommer aan die gat, want in plaas van dolverlief en eindeloos gelukkig, was ek verveeld, omgekrap en in trane. Die velde vol wit lelies waardeur ek spreekwoordelik moes dans, het in ‘n mynveld van kaktusse verander. Skielik sit ek yskoud op Johannesburg se lughawe en wag vir die vliegtuig huistoe. Onvergenoegd, onvervuld en ontevrede. In ‘n emosionele toestand wat wipplank ry tussen selfbejammering en verligting.

 

Die selfbejammering want ek het besef die vere maak nie die voël nie. Dis nou my vere, en sy voël.

Al die rome van die afgelope twee maande om te ontrimpel, op te ferm en verbruin, en glad en sexy te word, het boggerol gehelp. Om die visvang gereedskap reg te kry vir sy naderende kompetisie was blykbaar sexier…vishoeke het ek geslyp tot ek nààr was! Helaas, ek kon kaalgat die rieldans doen en boet sou dit nie eens agterkom nie. En ek het ook. Die reëndans gedoen. Kaalgat al om die swembad, nege uur op ‘n Sondagoggend. Die bure het beslis iets gehad om oor kerk toe te gaan!  Maar wat doen Seun? Hy snork rustig voort, onbewus daarvan dat die son al oor Sondag en een frustreerde vroumens gebreek het. Nie al die flirtasie in die wêreld kon vir Boet beweeg nie.

 

Maar die gruwelike frustrasie opsy geskuif (en vir ‘n vrou op 39 wat wil hê wat sy wil hê, is dit ‘n aansienlike frustrasie…), is daar ook die ‘enlightenment’.

 

Want ek besef ook: die vere maak inderdaad nié die voël nie. Dis nie hoe ek lyk wat saak maak nie, dis wie ek is.

En ek is 39, ouer en wyser, vol lewenslus met ‘n gruwelike ondeunde streep, en vry om te doen wat ek wil. Ek is dolgelukkig met my ‘enkel’ status – Enkel ouer, Enkel vrou. Ek net nie ‘n man nòdig nie, want alles wat hy kan doen kan ek net so goed self regkry.

 

Ek wil ‘n man hê, omdat ek hom wil hê. Een wat my brein kan laat sidder en my lyf kan laat tintel. Een wat saam met my kan drink en dans, of na die sonsondergang sit en kyk. Een vir wie ek my donkerste geheime kan vertel sonder dat hy weghardloop. Een wat kan aanvaar dat ek terselfdertyd stuitig, verantwoordelik, skaam en befoeterd kan wees.

 

Dis sò ‘n man wat ek wil hê, eendag. Nie die katelknaap nie. Maar tot daardie eendag aanbreek, gaan ek vir eers die selfbejammering opsy skuif en die rit geniet. En as die pad my dalk lei na nog ‘n katelknaap of twee, gaan ek nie huil nie, maar my beste swart bra aantrek, rooi lipstiffie aansit en jolig om die sitkamertafel dans….

5 antwoorde op Ok, so hy het ‘n six-pack gehad…

  1. SHUTIN het gesê op Junie 29, 2011

    🙂

  2. Modigliani het gesê op Junie 29, 2011

    Hallo daar en welkom by Blogland!

    Ek het nou baie lekker gelees hier by jou 🙂
    Meeste van die Afrikaanse mensies hang maar daar by Litnet rond. Kom loer gerus in!

  3. Modigliani het gesê op Junie 29, 2011

    Ek sien jy het geskuif 🙂
    Welkom by Litnet!

  4. Poepskroef het gesê op Junie 29, 2011

    Dankie Jeanne, vir die hulp en aansporing en hartlike verwelkoming 🙂

  5. Modigliani het gesê op Junie 29, 2011

    Plesier.

    Omdat jy geskuif het na jou inskrywing, wys hy nou ongelukkig nie op die blog”roll” nie.
    Maar, die volgende een wat jy opsit sal wel wys en dan sal meer mense jou kom groet 🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.