Jy blaai in die argief vir 2011 Junie.

Rowe op die siel

Junie 30, 2011 in Sonder kategorie

(vir die perdeman)

 

 

 

Die woede het gebrand soos ‘n bol vuur in my. Dit het my verstand oorgeneem, my siel verteer.

 

Toe kom die pyn, die binne-toe kyk, die verwyt. En uiteindelik die aanvaarding.

 

Liefde.

 

Die woord word so ligtelik gebruik. So sonder aansien, sonder gevoel daarvoor.

“Ek is lief vir jou” sê hy na twee weke en wag vol verwagting dat ek iets moet terug sê. Maar dit kom nie, dit kan nie, dis nog te gou sê my verstand. Pasop! skree my hart.

 

So hou ons aan vir weke, hierdie kat-en-muis spel van twee dansers in ‘n ritme vasgevang waar hul net-net nie aanmekaar raak nie. ‘n Voet vorentoe, ‘n systap, die terugdeins, vorentoe beur, die teenaanval. So vol passie, so alles-seggend leeg.

 

Die weke het verby gevlieg, die spel het verdaag, ek het lief gekry. Maar vir jou het die musiek ophou speel.

 

Die verraad was so groot. So onverstaanbaar groot. Dit was nie jou wegbly, jou leuens of jou trou aan ‘n ander beminde wat gebrand het soos warm staal op my teer vel nie. Dit was die glò in jou wat die grootste verraaier was, die glo in jou goedheid. Die glo in jou binneste, in die klein seuntjie wat daar skuil en die wêreld met blink oë en ‘n breë glimlag aankyk en wag om uitgeroep te word. Nie die verraaier en ontroue leuenaar wat met grootmens geweld my glò verpletter het nie.

 

Ek het verloor, sy het gewen.

 

Dit was ‘n harde pad, die stof nog klewend aan my lyf; ek, uitgemergel deur die skreiende son, lippe gebars, die leed rou in my gemoed.

 

Ek dans weer solo.

 

Ek sal oorleef.

Engelse sout vir die hart

Junie 30, 2011 in Sonder kategorie

Kan nie onthou of hierdie ‘n grappie was en of my niggie op die plaas dit vir my oorvertel het as ‘die reine waarheid’ nie, maar daar was hierdie beplooide ou tante wat al jare lank op die plaas gebly het, en eendag kom vra sy toe as die ‘mies’ dan nou weer dorp toe gaan moet sy asseblief tog vir haar ‘n pakkie Epsoms saambring.  Nee maar reg, sê die mies, sy maak so, maar hoekom het die ou tannie dit dan nodig?  Want, sê sy doodernstig, dis om vir die ou oom by een van die ander krale te gee. Hoekom? Is hy dan siek, vra ‘mies’ weer, bekommerd.  Nee, sê die ou tannie, dis sodat hy op haar kan verlief raak, want sy het mos nou al gehoor hoe praat die mense van ‘Epsoms (absence) makes the heart grow fonder’…….

So wens ek toe nou ook ek het meer Epsoms in boet se koffie gegooi toe hy nog by my geplak het. Ag ja, ek het ‘n ding oor mans. Ek hou van die onsinnige goed. Partykeer te veel, en dan breek hulle my hart.

Soos hierdie laaste een:  die perdeman.  Sulke mooi blou oë en bultende biceps van pure outydse harde werk het ek lanklaas gelyktydig in een lyf beleef.  Hy was ‘n hoefsmit, en het boonop sy sit bo-op ‘n perd geken. So romanties. In sy stywe jeans en wit T-shirt so al galoppende op die perd was hy lekker sag op die oog…..wys my die girl wat nie gaan swymel voor so ‘n prentjie nie!

Kort voor ek boet ontmoet het, het die lewe hom bietjie stief behandel, en die ewige samaritaan in my (én my buggered-up ‘mans radar’ soos Middelsus dit noem) maak toe ewe belustiglik vir hom plek in myne…..en voor ek my oë kon uitvee, staan hy op my voorstoep en kom trek in.  My sexy plakker.

Dinge word nou nie heeltemal so gedoen in ons stoere boere ou familietjie nie, en die Moeder-van-vele het haar beste koue skouer voor gesit.  Maar wille kind hier was verlief met hoofletters, en daardie duiwelse blou oë het my blind gemaak vir die plakker se manewales.  Vir die opgebruik van die koffie en my beste wit blokkies suiker (fancy nogal, né), die waspoeier, die toiletpapier, my geld, my hart.

Dit het so maklik oor sy lippe gekom: Ek is lief vir jou.  Met die aanhoor van hierdie gevleulde woorde, trek ek toe mos nou weer oudergewoonte kleinkoppie soos ‘n trofee aan ‘n kopjagter se belt.  Kyk, verlief is een ding, maar LIEF, na net ‘n paar weke is ‘n perd van ‘n ander kleur.

Maar boet hou aan sê (en hy soen nog boonop so lekker ook) so ek glo hom later.  Glo hom soveel dat ek begin dink ek moet dit terug sê…….

So gaan ek en Middelsus vir ‘n paar dae oorsee, en wragtig, verraderlik glip die woorde uit my mond so met die afskeidsgroet.

Helaas, in plaas van nonsens praat, moes ek toe eerder die Epsoms nader gesleep het, want met die terugkom skaars tien dae later, het boet sak-en-pak by ‘n perde-girl ingetrek…..wens haar stywe rybroekie skaaf haar binneboude nerf af.

Dalk sal Epsoms help vir rowe op die siel ook.

ps:  hahaha, toe ek uiteindelik die laaste van sy gereedskap (wat ek gevange gehou het tot ek al my geld wat hy geleen het terug gekry het) eergister vir hom teruggee, het die hond so lekker in die een boksie gepiepie!  Ek het vir die dierbare ou dierasie ‘n ekstra been vir aandete gegee…..

Ok, so hy het ‘n six-pack gehad…

Junie 29, 2011 in Sonder kategorie

En so kom my Jo’burg trip toe ook tot ‘n einde. Ek haat Johannesburg. So wat het ek daar loop soek, vra jy?

 

‘n Man natuurlik. Tipies.

Soos meeste van my wandade, wille dade en ongure doen-en-late, is hierdie jongste ekskursie ook geïnspireer deur ‘n man.

 

‘n Pragtige jong dingetjie dié keer. Met sy nege-jaar-jonger-as-ek lyf het hy my tydens ‘n vinnige vakansie-romanse skoon begogel.

Jonger mans maak my nog altyd vreeslik opgewonde. En die opwindende vooruitsig om my eie katelknaap te hê, was die begin van die sondeval vir my.

 

Maar die belustigheid byt my toe ook sommer aan die gat, want in plaas van dolverlief en eindeloos gelukkig, was ek verveeld, omgekrap en in trane. Die velde vol wit lelies waardeur ek spreekwoordelik moes dans, het in ‘n mynveld van kaktusse verander. Skielik sit ek yskoud op Johannesburg se lughawe en wag vir die vliegtuig huistoe. Onvergenoegd, onvervuld en ontevrede. In ‘n emosionele toestand wat wipplank ry tussen selfbejammering en verligting.

 

Die selfbejammering want ek het besef die vere maak nie die voël nie. Dis nou my vere, en sy voël.

Al die rome van die afgelope twee maande om te ontrimpel, op te ferm en verbruin, en glad en sexy te word, het boggerol gehelp. Om die visvang gereedskap reg te kry vir sy naderende kompetisie was blykbaar sexier…vishoeke het ek geslyp tot ek nààr was! Helaas, ek kon kaalgat die rieldans doen en boet sou dit nie eens agterkom nie. En ek het ook. Die reëndans gedoen. Kaalgat al om die swembad, nege uur op ‘n Sondagoggend. Die bure het beslis iets gehad om oor kerk toe te gaan!  Maar wat doen Seun? Hy snork rustig voort, onbewus daarvan dat die son al oor Sondag en een frustreerde vroumens gebreek het. Nie al die flirtasie in die wêreld kon vir Boet beweeg nie.

 

Maar die gruwelike frustrasie opsy geskuif (en vir ‘n vrou op 39 wat wil hê wat sy wil hê, is dit ‘n aansienlike frustrasie…), is daar ook die ‘enlightenment’.

 

Want ek besef ook: die vere maak inderdaad nié die voël nie. Dis nie hoe ek lyk wat saak maak nie, dis wie ek is.

En ek is 39, ouer en wyser, vol lewenslus met ‘n gruwelike ondeunde streep, en vry om te doen wat ek wil. Ek is dolgelukkig met my ‘enkel’ status – Enkel ouer, Enkel vrou. Ek net nie ‘n man nòdig nie, want alles wat hy kan doen kan ek net so goed self regkry.

 

Ek wil ‘n man hê, omdat ek hom wil hê. Een wat my brein kan laat sidder en my lyf kan laat tintel. Een wat saam met my kan drink en dans, of na die sonsondergang sit en kyk. Een vir wie ek my donkerste geheime kan vertel sonder dat hy weghardloop. Een wat kan aanvaar dat ek terselfdertyd stuitig, verantwoordelik, skaam en befoeterd kan wees.

 

Dis sò ‘n man wat ek wil hê, eendag. Nie die katelknaap nie. Maar tot daardie eendag aanbreek, gaan ek vir eers die selfbejammering opsy skuif en die rit geniet. En as die pad my dalk lei na nog ‘n katelknaap of twee, gaan ek nie huil nie, maar my beste swart bra aantrek, rooi lipstiffie aansit en jolig om die sitkamertafel dans….

Hello world

Junie 29, 2011 in Sonder kategorie

This is a sample post on your brand new blog. You can edit this post by clicking the button above, or delete it the same way, or even start an entirely new post by clicking the create button on the right of this page.

Have fun blogging.