Om mayonaise te maak.

Februarie 17, 2011 in Sonder kategorie

Dis nie vir sissies nie…

 

Jy begin met ‘n eiergeel of twee. Jy kan ‘n instrumentjie koop wat help om die gele te skei. Dit lyk so bietjie soos ‘n lepel met gleuwe in. Dan breek jy jou eier versigtig in die bol van die lepel in. Die geel bly lê en die wit glip deur die gleuwe uit. Of jy kan die eier eenvoudig van een deel van die dop na die ander oorgooi totdat die geel van die wit geskei is. Maar dis nie maklik nie.

 

Gooi nou jou twee eiergele in ‘n mengbak saam met ‘n knypie sout en ‘n bietjie peper. Dan gooi jy twee teelepels mosterdpoeier by en begin dit klits. Nadat alles goed geklits is kan jy begin om olie by te gooi. Teelepel vir teelepel gooi jy die olie by terwyl jy deurentyd klits. Vat ‘n blaaskans en proe die mengsel. Dis nou tyd vir asyn of suurlemoensap na smaak. Dan klits jy weer en gooi weer olie by. Die mengsel begin naderhand emulsifiseer en dan kan jy die olie bietjie vinniger begin bygooi.

 

So hou jy aan totdat jou mengsel soos mayonaise lyk en proe. ‘n Groot inmaakfles vol mayonaise sal jou omtrent 30 na 40 minute vat om te maak. Dis baie moeite, maar as jy dit eers een keer geproe het sal jy nooit weer winkelmayonaise koop nie.

 

Namate jou tegniek verbeter kan jy ander geure en smake by jou mayonaise gooi om vriende en familie te verras en verheug. Chili, laventel, roosmaryn, tiemie of koljander. Allerlei geure kan by die mayonaise gegooi word en jy sal sommer gou-gou bestellings begin kry van die luies, dommes en onkundiges af. Maar wees gewaarsku. Dis baie werk!

 

En as jy die olie te vinnig bygooi gaan die emulsiefiseringsproses verkeerd loop en die olie gaan skei van die eier. Dan sit jy met ‘n olierige, onsmaaklike gemors wat net goed is vir ‘n baie honger hond of die asblik.

 

Ek het in die week die gier gekry om mayonaise te maak. My geduld het opgeraak en ek moes 45 minute se werk weggooi. My eiers was op, my olie ook; en ek had nie mayonaise nie.

 

Dis amper soos die liefde.

 

Die eerste skamerige ontmoeting van die bestandele. Die saamklits deur dik en dun. Die olie van ervaring en lekkerkry (en swaarkry) en uiteindelik die heerlike, romerige samesyn van twee sielemaats.

 

Maar wees maar geduldig. Die sensitiewe proses kan so maklik skeefloop…

23 antwoorde op Om mayonaise te maak.

  1. Jitte… ek gaan nou dadelik probeer om my eie mayo te maak!
    wat is die hoeveelhede?? ek bedoel die olie ens?

  2. Bedonnerd. Ek wou nog altyd weet hoe om dit te doen maar almal dink ek’s mal as ek vra, en die wat wel die ding kan doen is so blase dat mens wil kots. Weereens dankie. Die vark het vandag iets nuttigs hier opgetel.

  3. En nou? Is dit jou sagte kant vandag? Jy blog te min! Skryf hierdie gou in vir daai LIEFDE wedstryd!

  4. Hi PL hoe gaan dit?
    Baie koel resep, dankie ek het ‘n soortgelyke ritueel met kruie wat ek rooster en fyn maal en lemonade. Lekker dag vir jou.

  5. Ja nee… Sal moet gesels oor daai een.

  6. Het jy nie gewqeet ek het ‘n sagte kant nie… Marshmellow is my middelnaam…

  7. Geduld is die ding. ‘n Handlanger wat stadig olie ingooi terwyl jy klits is die in ding.

  8. Geniet my ou maat. Laat weet hoe suksesvol jy is.

  9. Twee eiergele gaan omtrent ‘n liter olie nodig he om lekker mayonaise te word. Gewone sonneblomolie is reg. Ek ken ‘n ou wat ekstra maagdelike olyfolie gebruik, maar ek dink nie sy mayo is lekkerder as myne nie. Net baie duurder… Verder moet jy maar net gereeld proe tot die smaak vir jou reg is.

  10. NS. Was laanklaas hier… Watter LIEFDE wedstryd?

  11. http://blogs.litnet.co.za/skryf/laaste-kans

    (mal oor die mellow innie marsh…)

  12. El koop liewer, Plankloper.
    En nee, moenie my skeef aankyk nie!

    😀

  13. Ek skeef? Nooit…

  14. Haai Tronkie, sorrie.

  15. Neem dan ‘n foto.

  16. Baie dinge wat in die lewe regtig die moeite werd is vat ‘n bietjie meer as sommer net afskeep tyd.. en die wat geduldig vasbyt pluk gewoonlik die vrugte.. die wat ongeduldig raak verloor soms op baie meer uit as wat hul ooit kon reken..xx

  17. plankloper het gesê op Maart 6, 2011

    Ek hoor jou! (Jammer ek was so lank weg)

  18. FOXY1975 het gesê op Maart 8, 2011

    🙂
    Mooi dag vir jou!

  19. Ek het dit ookal probeer en opgegee. Dis lekker en baue geurig, maar ek is nie lus om risikos te loop en met ‘n gemors te sit as die tyd min is nie.

  20. skurwesan het gesê op Mei 26, 2011

    Hoe lank hou dit in die yskas?
    Ek hoop langer as my eerste verliefderigheid!

  21. plankloper het gesê op Junie 4, 2011

    Weke. Selfs maande. Maar dis so lekker mens eet dit vinnig!

  22. plankloper het gesê op Junie 4, 2011

    Ek hoor jou!

  23. zephur het gesê op Oktober 17, 2012

    Net gou ‘n info stukkie oor die blogs. Vandag en môre is al dae wat oor is voordat volgens hulle die groot skuif gaan plaas vind op die 19de Okt9 (so ons moet ‘n marathon blogsessie nou hou).

    So as jy die afgelope 6 maande nie iets geblog het nie…gaan post sommer gou iets. Of as jy van bloggers weet wat nie die afgelope tyd gepost het nie…laat hulle weet sodat hul ook op hoogte is van die blog situasie.

    Hier onder is die link na Dopper Naomi se post oor die gebeure ivm die blogs

    http://blogs.litnet.co.za/dopperjoris/baie-belangrik-gaan-jou-blog-saam-skuif-en-wat-kan-jy-verloor-16-Oct-2012

    Tot later

    Zeppie

Los ’n antwoord vir robinhawkins. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.