Jy blaai in die argief vir 2011 Januarie.

14 Januarie

Januarie 14, 2011 in Sonder kategorie

Ek kan nou nie eintlik dink dat die dag vir enige ander rede bekend moet wees nie, maar vir my en my familie is dit die eerste verjaardag wat ons sonder my geliefde Ousus moet vier. Ek’s verbaas oor die gebrek aan trane. Ek mis haar. Ek mis haar vreeslik, maar ek huil  nie meer nie. En dis ‘n goeie ding.

Die kunstefeeste, Letterdash en Facebook

Januarie 11, 2011 in Sonder kategorie

Ek probeer al van gister af om te reageer op Kelly se skrywe oor die kunstefeeste en Afrikaans. Letterdash wil my nie toelaat nie. Donnerse Letterdash. Op Facebook het die vermoe verloor om foto’s te sien . (Nee, ek het nie blind geword nie, ek het seker die verkeerde knoppie gedruk) Donnerse facebook. En nou die “feeste” en Afrikaans.

 

Hier gaan ons.

 

My probleem met die debat is dat die sogenaamde “Kunstefeeste” bona fide teater in die land doodgewurg het. Mense wat voorheen tien of twaalf keer ‘n jaar teater toe gegaan het -hetsy Staatsteater of elders – besoek nou ‘n “fees”, sien 12 stukke in een week en gaan vir die res van die jaar nie weer teater toe nie. (Die regering se ontrekking van subsidies aan die streeksrade het natuurlik ook ‘n groot bydrae gelewer tot die chaotiese toestand.)

Die ander probleem is dat nuwe werk – hetsy Afrikaans, Engels of watter ander landstaal ookal – nie meer buite die “feeste” kan bestaan nie. Dit word meestens 10 keer opgevoer, by KKNK, Aardklop en Inniebos en daarna kraai g’n haan weer nie. Andersins word die stuk keer op keer, jaar na jaar, by die “feeste” opgevoer – ‘Betesda’ is een voorbeeld. (Daar is baie ander)

Die feesorganiseerders se moeilikste taak is om mense te trek en nog steeds te lyk asof hulle nie net op winsbejag uit is nie. Hulle moet darem gesien word om iets te doen vir ons “kultuur” Afrikaanse popmusiek het vir hulle die perfekte uitkoms gegee. Dit en vlooimarkte. “Dis mos ons taal en ons mense…” Waar’s die nuwe drama’s, opera’s, musiekblyspele? Die groot borge gooi enorme bedrae geld na die feeste toe, maar probeer ‘n bydrae kry tot nuwe werk… So sit ons nou ons dae om in die gesellige, geborgde tente en luister na een Afrikaanse “sanger” na die ander. DIS mos kultuur!

Ja, meeste lande wat teater pleeg het ‘n teater publiek wat slegs 4 of 5 % van die samelewing beslaan, met enkele uitsonderings na – Duitsland, Frankryk, Japan… Selfs in Engeland kan teater nie bestaan sonder subsidies nie en die eertydse gesubsidieerde repertoriumteater op die Engelse platteland bestaan nie meer nie want daar is eenvoudig nie meer geld nie. (In London spot kunstenaars dat dit net Jode en gays is wat teater ondersteun, en as hulle almal by jou produksie was is dit tyd om te sluit.) Maar daardie 4 of 5% is gewoonlik die mense met die meeste koopkrag. ‘n Goeie mark om te betrek as jy wil adverteer met ‘n borgskap of twee.

Die “feeste” doen nie veel vir ons Afrikanerkultuur nie. Die biertuine, dronk tieners, dronk mans met boeppense (ek is een van hulle), luide musiek uit die geborgde tente en lee sale by goeie produksies teken ons as ‘n spul boertige bullebakke wat nie die verskil tussen Shakespeare en Steve ken nie.

Nou’t ek klaar gal gebraak. Sien julle by KKNK>