Jy blaai in die argief vir 2010 Desember.

Vanoggend

Desember 14, 2010 in Sonder kategorie

Vanoggend…

Het ek in die spieel gekyk.

En my pa gesien.

(Magtag! Maar hy’t oud geword.)

Om te huil

Desember 5, 2010 in Sonder kategorie

Dis kwart voor een op ‘n Sondagoggend. My foon biep-biep om aan te dui dat daar ‘m sms deurgekom het. Ek sukkel regop kry my bril in die hande en sit dit op. Dan laat ek die foon eers ‘n slag val voor ek die regte knoppie gebruk kry. Dis van my ma af. “Sy’s huistoe”.

Ek le stil in die donker met die foon in my hand. Ousus is dood. Huistoe. My sussie. My ouer suster.Dood.

Ek le lank en dink en dan sit ek die foon weer op die bedkassie neer, rol om en le met oop oe die dag en inwag. Teen vyf dertig kan ek nie meer nie. Ek staan op, tap ‘n bad vol warm water en le vir ‘n ruk en week. Dan trek ek aan en gaan sit voor die rekenaar. Die huis is doodstil en nie eers die honde kla by die deur soos wat hulle gewoonlik doen as hulle hoor ek is wakker nie.

Op Facebook lees ek die doodsberig van my sussie se oudste dogter af. Daar is foto’s van haar en reeds ‘n magdom boodskappe van vriende, kenisse en kollegas.

Sy was ‘n briljante vrou wat ‘n redelik nuttelsose graad by RAU verwerf het en dit deur die jare gebruik het om haarself beter te bekwaam totdat sy as wereldkenner gereken is in haar gekose vakgebied. As professor by die Universiteit van Alabama in Tuscaloosa, VSA het sy die wereld platgereis om gaslesings te gee. Haar tesisse en skripsies het oral bewondering afgedwing.

As ma van drie dogters het sy haarself ook bekwaam in die fyner kunsies van koskook, kinders grootmaak, haar man gelukkig te hou en naald- en breiwerk te doen. Haar grootste lekker-kry was die Amerikaanse “Chilli Cook-Off” wat sy gewen het met haar eie Kaapse Kerrie en rys.

Sy was ‘n uitmuntende musikant met “Perfect pitch” en sy kon enige ding met ‘n klawerbord speel. Haar mezzo-sopraan stem het my menige kere laat huil met die emosie wat sy kon weergee in haar musiek.

Sy was lief vir fliek en het veral van die ou musiekblyspele gehou. Nelson Eddy en Jeanette MacDonald was haar gunstelinge.

In Amerika het sy ook ‘n liefde vir Amerikaanse Voetbal ontwikkel en soos met alles in haar lewe ‘n kenner geword op die gebeid van die Crimson Tide – Alabama U se kampioenspan. Ek moes gereeld e-posse van haar verduur oor die span se statistieke en wen pogings.

Ek hoor hoe die Rooikop begin beweeg en gaan maak vir haar tee. Ek vertel haar van die sms en sy hou my lank vas. Dan stoot ek haar weg en gaan sit in die sitkamer. Ek staar dofweg na die muur en wonder hoekom ek niks voel nie. Na ‘n ruk gaan ek kombuis toe en maak vir myself koffie, maak die deur oop en voer die honde. Luna die wit Alsation/Husky teef lek aan my hand, iets wat sy nooit doen nie. Ek vryf haar kop en gaan sit weer voor die rekenaar. Op Facebook stroom die boodskappe steeds in.

My oudste seun kom staan in die deur en maak keelskoon. Ek staan op en hy sit sy arms om my. Dan vir die eerste keer huil ek soos ‘n baba.