Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

Besoek

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek lê op die nou bedjie in die motel op Baton Rouge, Louisiana in die VSA en dink aan Kris Kristofferson se liedjie.

 

“Freedom’s just another word for nothing left to lose

Freedom ain’t worth nothing but it’s free…

Feeling good was easy, Lord, when Bobby sang the blues

Feeling good was good enough for me…”

 

Dis nie maklik om vannaand goed te voel nie. Die hitte is versengend en die humiditeit is hemelhoog. Om die venster oop te maak help niks, want die briesie koel niks af nie en dit maak die geraas van die straat se kant af net erger. Die lugversorger in die hoek proes en blaas soos ‘n asmatiese ou dieselenjin maar doen ook nie veel aan die kamer se temperatuur nie.

 

Iewers verder in die gang af lê my sussie en haar man. Ek hoop hulle lugversorger werk, want sy is siek.

 

Die oproep was baie onverwags en laat een aand.

 

“Ek’s besig om dood te gaan. Ek wil jou weer eenkeer sien.”

 

Hoe hanteer mens dit?

 

Ek leen geld, reël inderhaas ‘n visum vir die VSA, koop ‘n kaartjie en klim op ‘n Delta Airways vlug na Atlanta. Vyftien en half uur later land ons op die grootste lughawe in die wêreld en ek kry my aansluiting na Birmingham.

 

Birmingham se lughawe is klein en ek sien dadelik my swaer wat my inwag. Ons groet soos vreemdelinge, wat ons eintlik is, want in die agtien jaar wat hulle nou al in die VSA woon het ek hom net drie keer gesien, en een van daardie kere was by my pa se begrafnis.

 

Buite die lughawe slaan die hitte amper my asem weg en ons loop haastig die koel parkeergarage binne waar ons in sy Japanese SUV klim. Die kar se lugversorger werk goed en ons vat die pad Tuscaloosa toe. Dis omtrent ‘n uur se ry en al wat mens sien van die omgewing is die teerpad en die bome wat langs die pad staan.

 

Hierdie bome is ruig en hoog en mens kan niks van die landskap of die dorpies langs die pad sien nie. Net die teerpad en die bome.

 

Ons gesels maar moeilik, want as alles gesê en gedaan is, ken ons mekaar nie eintlik nie. Hy en my sussie het begin uitgaan terwyl ek in die Vloot was en daarna is ek universiteit toe en hulle is getroud en het op ander plekke gaan bly want hy is ‘n sendeling. Hulle eerste besoek aan die VSA was om te studeer, maar toe kry hy ‘n pos as dosent en hulle het nooit weer teruggekeer Suid Afrika toe nie. Ons probeer egter manmoedig om die gesprek gemoedelik aan die gang te hou en vermy die onderwerp van my sussie se kanker.

 

In Tuscaloosa doen ons by hulle ruim huis aan waar ek my sus vir die eerste keer in vyf jaar sien. Ek bars in trane uit as ek haar groet. Sy het vyf en veertig kilogram in die laaste paar maande verloor en sy lyk verwese… Afgetakel.

 

Ek spring deur ‘n stort terwyl hulle die tassse in die kar pak en dan vat ons dadelik weer die pad Houston toe, want in Houston is die MD Anderson Kankerhospitaal en dis waar sy een van die wêreld se voorste kankerdokters moet gaan sien.

 

Ons ry vir vyf ure lank op die eindelose teerpad met die eindelose bome tot op Baton Rouge waar ons in die motel inboek. En hier lê ek en wonder oor die maer vrou wat besig is om dood te gaan in ‘n motelkamer iewers in die gang af.

 

My sussie. Ousus. Speelmaat en mede musikant. Sy’s geseën met “perfect pitch” en kan enigiets met ‘n klawerbord speel. Sy sing ook soos ‘n engel en ek ken haar nie meer nie. Haar Afrikaans is outyds en haar Engels is Amerikaans.

 

Die volgende oggend val ons weer in die pad en druk deur na Houston toe. Weer is die pad met bome beraam en as ons uiteindelik in Houston aankom is dit ‘n verligting om weer beton en geboue te sien.

 

Ons hotel is reg langs die hospitaal en is trouens deur ‘n wandelgang met die hospitaal verbind. Ek kry ‘n rolstoel vir haar en vir die volgende twee dae maak ek dit my werk om haar rond te stoot terwyl haar man ons deur die doolhof van gange navigeer van een afspraak na die ander. Ek hou my lyf hofnar en vertel die een snaakse storie na die ander. Ons skater van die lag en kry snaakse kyke van die ander mense in die gange.

 

Chemoterapie is feitlik die enigste raad teen kanker en oral sien jy mense, mans en vrouens, met kaalkoppe. My sus het nie haar hare verloor nie, maar sy het grys geword, en kroes. Ek jaag resies met ander mense in rolstoele en ons wissel die lang wag tussen afsprake af met grappe en stories oor ons kinderdae.

 

Dis miskien die beste kankerhospitaal in die wêreld maar hulle skedulering is maar power. Elke afspraak wat ons nakom is feitlik met twee of drie ure vertraag. Swaer se moermeter druk naderhand in die rooi in en hy verduidlik baie diplomaties aan die ontvangsdame by een van die menigte toobanke waar ons weereens kortaf aangesê word om te wag, dat sy vrou baie siek is. Sy is nie daar vir ‘n tandarts afspraak nie. Hulle gee vir ons ‘n toestelletjie wat rooi gloei en vrolik biep as hulle jou wil hê, en sê ons kan in die kamer gaan wag.

 

Dit begin beter gaan want sus kan op die bed lê in plaas daarvan om in die rolstoel te sit en as die toestelletjie begin biep vat ons haar na haar afspraak toe. Eindelik is al die toetse klaar en ons kom na elf die aand terug in ons hotelkamers.

 

Die volgende oggend het sy nog een of twee toetse en dan begin die lang wag vir die dokter. Twee en ‘n halfuur na haar afspraak tyd gaan sy in om hom te sien. Die nuus is nie wonderlik nie, maar onder die omstandighede die beste wat ons kan verwag. Volgens die uitslae van al die toetse het die sarkoma’s nie veel gekrimp nie, maar hulle aktiwiteit is baie minder. Met ander woorde die chemo is besig om die kanker tot bedaring te bring. Ek begin sommer weer tjank.

 

Ons pak en ry terug Alabama toe waar my sus ‘n professor is by Alabama U, en ‘n wêreldkenner op haar vakgebied. Die verligting is tasbaar en ons gesels vrolik oor die toekoms, iets wat sy vir maande nie durf doen het nie. Sy begin sommer dadelik beplan aan haar sillabis vir die nuwe semester want die klasse begin ‘n dag of twee nadat ons in weer Tuscaloosa aankom.

 

Ons slaap oor in New Orleans en sus kry dit selfs reg om drie straatblokke saam met ons te loop na ‘n Kreoolse restaurant waar ons smul aan “Blackened Fish” en Abita bier. (Sy eet net ‘n klein stukkie gestoomde vis) Ons vat haar terug hotel toe en sy val dadelik in die bed.

 

Ek vat die strate van die French Quarter en land by een jazz plekkie na die ander op in Bourbon Street. By een Kreoolse kroeg speel ek op uitnodiging saam met die orkes en hulle is verwonderd dat ek so goed regkom. Ek verduidelik van Boeremusiek en die ooreenkomste tussen hulle musiek en ons s’n en kom na menige heildronke laataand in my hotelkamer aan.

 

Ek kan nie slaap nie en gaan luister ‘n keer of wat by hulle deur, om te hoor of daar tekens van lewe is.

 

Die volgende oggend eet ons brekvis en vat weereens die lang boombelaaide pad Tuscaloosa toe.

 

My sus val dadelik in as sy by haar huis kom. Deur middel van Skype en ander soortgelyke middels kan sy klas gee sonder om kampus toe te gaan. Sy doen ‘n fakulteitsvergadering via die Internet, publiseer haar lesings op ‘n klasblog, ontmoet haar studente via Skype en raak laatmiddag, uitgeput, grys en verwese agter haar Apple aan die slaap.

 

Ek kook vir ‘n vale. Boerekos, soos ons ma gemaak het. Melkkos, souskluitjies, pampoenkoekies, begrafnisrys… Alles word in porsiepakkies verpak en gevries vir later. Ek maak sap, beetslaai en bobotie en dek die tafel vir as die predikant kom kuier. Hy’s ‘n Jood wat tot bekering gekom het en nou hulle gemeente met harde werk en deernis bedien. Hy geniet ons kos en, ek dink, ons geselskap ook.

 

Ek kuier saam met my suster se jongste dogter en gaan luister hoe hulle skoolorkes oefen. Ek en Swaer ry rond en hy wys my die wondere van die Tuscaloosa. Ek kom gou agter hy’s ‘n petrolkop soos ek en ons gesels kopstukke oor ons gemeenskaplike passie. En ons eet. Magtag ,maar ons eet! Alabama U se voetbalspan, die Crimson Tide, is die huidige nasionale kampioene en oral waar jy kyk sien jy die passievolle aanhangers van die span. Ons gaan kyk na die universiteit se stadion wat plek het vir eenhonderd en twee duisend mense (die dorp het maar net ‘n aks oor die driehonderd duisend inwoners!) en ry op die kampus rond. Hy mis rugby, maar kan dit darem op die internet kry. My suster daarenteen, het ‘n volslae Crimson Tide ‘groupie’ geword.

 

Saans kuier ek en my sus tot laat in die tv kamer. Ons kyk na amusante programme op die verskeie koskanale en gesels oor alles en nog wat – veral haar kinders en kleinkinders en hoe sy hulle mis. Een dogter bly in Colorado en die ander in San Diego en ons gesels met hulle op Skype en sy sing vir haar kleinkinders – Siembamba en ander liedjies uit ons kinderdae. Die klein Amerikanertjies verstaan seker nie veel nie, maar hulle is lief vir hulle Ouma se pragtige stem. (My sus – ‘n Ouma!) Ek probeer ook bydra met Dapper Muis en Heidi maar hulle verkies Ouma se stem.

 

Later gaan wys Swaer my die luukse gemeenskap op Lake Tuscaloosa waar mense ys in hulle swembaddens gooi om dit swembaar te maak, en waar daar reuse waaiers op die setperke van die gholfbaan is om die spelers af te koel. Selfs die gholfkarretjies het lugversorging in. Hy wys my die huis wat hy en my suster wou koop voor sy siek geword het. Hy vertel hoe al hulle planne op wag gesit is na die eerste diagnose. Hy’s naby aan trane.

 

Dis tyd om huistoe te gaan en ek groet. Soen my suster. Kyk in haar oë, sien die verlange. Ek belowe dat sy my weer sal sien. Groet hulle jongste wat met haar Springboktrui op pad is skool toe. Belowe dat sy by ons kan bly as sy SA toe kom. Klim in die kar, vee trane af.

 

Op pad lughawe toe ry ons weer by die meer verby. Ek maak ‘n opmerking oor die pragtige huise wat hy my gewys het, en hy sê, na ‘n effense stilte: “Ek sal dit alles ruil en weggee as sy net weer gesond kan wees.”

 

“Freedom’s just another word for nothing left to lose,

Freedom ain’t worth nothing but it’s free…”

 

Ek gesels nou elke dag met haar op Facebook.