Vredefort, Vredelief en die Duifmoordenaar

Junie 29, 2010 in Sonder kategorie

Vredefort en Vredelief (nie hul regte name nie) is onlangs eers getroud en hulle is ‘n gawe jong paartjie wat welvarend en met ambisie en entoesiasme hulle toekoms saam aanpak. Hulle woon in ‘n lekker ruim ou huis in een van die beter buurte van Johannesburg en alles is op die oog af rustig en vreugdevol.

 

Maar Vredefort (VF) het ‘n ertjie wat hom kielie as hy in die aande sy kop gaan neerlê. Want sien, saam met die ruim huis het hulle ook ‘n manjefieke tuin gekry, met ‘n grasperk (groot genoeg om jou golfswaai op te oefen) en ‘n tamaai swembad en die pragtigste mooi groot inheemse bome. En soos dit nou maar in Afrika gaan word die tuin en die bome bewoon deur ‘n magdom van voëls. Daar is mossies en tinktinkies en kwikstertjies en hadeda’s en Indian Mynahs en in die somer maak selfs ‘n paar swaeltjies nes onder die dakkappe. En dan is daar die torries – (tortelduiwe, vir die van julle wat nie die afkorting ken nie.) Tortelduiwe word so genoem omdat hulle tortel. En alhoewel die duiwe se gekoer heel strelend en rustig kan wees op ‘n soel Sondagmiddag as VF en VL met ‘n glas koue wyn langs die swembad sit, is dit ‘n ander storie as hulle saans wil gaan slaap. Want die torries het ook lêplek gekry onder die dakkappe en soos duiwe maar maak gesels hulle land en sand aanmekaar soos ‘n span oujongnooiens op ‘n blommekongres in Bloemfontein. En die geslesery hou tot diep in die nag aan. VF het al probeer skree en raas, maar dit onstig net die bronstige voëls en dan raas hulle nog meer en nog langer. Toe’t hy probeer om die duiwe toegang tot die dakkappe te belet met allerlei drade, fuike en lokvalle. Maar dit was asof die duiwe dit bloot as aansporing gesien het om nog meer van hulle maters te nooi om VF se lewe te vergal.

 

VL kuier toe eendag ter plaatse hier in die Jakarandastad en wil by my weet wat ek doen om die duiwe in my tuin te bekamp. Ek lig haar toe in dat ek in vrede met my omgewing saam leef en dat my ou maat Os my geleer het om net met die duiwe te praat en dan verkas hulle vanself. (Os is ‘n afgetrede lugmagoffisier wie se dagtaak dit was om die aanloopbaan by Waterklooflugmagbasis skoon te hou van tarentale en ander geveerdes) VL keer toe terug huis toe gewapen met my goeie raad maar sy en VF het gesmeek en mooi gepraat en die duiwe het net meer geraas en op hulle stoep getjorts.

 

Eindelik en ten laaste beroep VF hom toe op Vaaltuin. Vaaltuin is ‘n man van die veld. ‘n Jagter. ‘n Ware Nimrod. Al probleem is dat hy sy daaglikse boord verdien deur as rekenmeester by die ontvanger te werk, en hy kom nie so gereeld op die ongerepte savanna as wat hy sou wou nie. Sy lewensmaat, die Blonde Hollander, wat baie goed in ‘n oranje mini sou vertoon, het al gou besef dat sy vir haar ‘n gefrustreerde bosveldbul nader gehark het, en sy doen moeite hom hom gereeld in die veld te kry sodat sy kriewelrige siel tot rus kan kom.

 

Toe Vaaltuin die oproep kry gaan haal hy dadelik sy windbuks uit die kluis en begin skoonmaak en poleer. (Ek gebruik die term “windbuks” baie losweg, want Vaaltuin se windaangdrewe missielwerper is toegerus met ‘n teleskoop, etlike ombouings en aanbouings en ‘n spesialis verflaag wat dit bykans onsigbaar maak as sou mens nou in die bos daarmee gaan loop.)

 

Die groot dag breek toe aan en Vaaltuin is sommer voeg op, en gestewel en gespoor in sy kamoefleer pakkie en jagstewels. Die Blonde Hollander lig hom in dat hulle eers moet gaan inkopies doen, maar hy hy weier en gaan sit in die bakkie met sy geweer in ‘n kevlar tas langs hom. Die meisie van die nederlande laat haar egter nie rondstoot nie en sy klim in haar kar en ry Woolies toe om proviand in te lê, terwyl Vaaltuin in die bakkie sit en wag en homself geestelik voorberei met jobsgeduld.

 

Ek is ook ‘n genooide en daag by VF en VL se woning op, gewapen met my messe, ‘n voorskoot en ‘n paar uitgesoekte resepte vir duifpastei. Ek kom daar aan en VL vat my kombuis toe waar ek solank my gereedskap uitpak en regmaak vir die werk wat voorlê.

 

‘n Halfuur later trek Vaaltuin se bakkie ook in en hy klim uit met ‘n veraf kyk in sy oë. Die Blonde Hollander sluit by my en VL in die kombuis aan en Vaaltuin en VF gaan tuin toe.

 

‘n Minuut of twee later is VF terug met twee lekker vet torries – albei deur die kop geskiet. Die Blonde Hollander gril en gaan sit in die tv kamer waar sy na die Amazing Race of iets kyk. Ek wys vir VL hoe mens ‘n duif ontveer en ons spring aan die werk. Na ‘n ruk is VF terug met nog drie dooie duiwe. En toe later met nog vier en toe weer twee en toe sommer ses en toe roep ek halt.

 

Hoeveel torries gaan julle skiet?” wil ek weet.

 

Almal”, lig VF my in en storm weer na buite.

 

VL praat mooi maar my moermeter begin nou lekker in die rooi intrek. Ek bedoel, ‘n grap is ‘n grap, maar ‘n krom stok in ‘n reguit man se dinges is nie snaaks nie. Ons staan naderhand met twaalf skoongemaakte duiwe en nog ‘n hoop van bykans twintig waaraan ons nog nie geraak het nie. As VF weer die kombuis inkom met twee handevol dooie duiwe stuur ek hom summier om vir Vaaltuin te gaan haal.

 

Vaaltuin kom na ‘n ruk saam met VF in. Hy’t ‘n wilde kyk in sy oë wat hom laat lyk soos Rambo. En die stuk lap om sy kop en die kamoefleerverf oor sy gesig dra mooi by tot die prentjie. Ek tel my grootste mes op en beduie vir Vaaltuin dat hy nou eers ‘n bietjie moet werk voor hy weer kan gaan moor. Hy brom iets en draai sy rug op my. Ek vererg my en in ‘n oomblik van onbeheersde woede (of waansin… Wie sal weet?) gooi ek my baie duur Wüsthoff slagtersmes na sy rug toe. Gelukkig is ek nie baie goed met mesgooi nie en die lem steek langs Vaaltuin se kop in die deurkosyn vas, waar dit vir ‘n paar sekondes heen en weer dril. (Net soos in die moewies) Vaaltuin gee ‘n klein gilletjie en lig dan sy hande, met die geweer krampagtig in sy regtervuis vasgeklem. Ek beweeg nader en verlos hom van die windkettie. Dan beduie ek na die kombuistafel. Vaaltuin skuifel soos ‘n gehipnotiseerde na die hoop dooie duiwe toe en as hy vir ‘n oomblik na my kyk asof hy wil weier, pluk ek my mes uit die deurkosyn uit. Hy vries, en ek stap nader en stop ‘n dooie duif in sy hande.

 

Stadig begin hy vere uittrek en ek beduide na ‘n ruk dat dit baie makliker gaan wees as hy dit met behulp van warm water probeer. VL beduie met haar kop en VF spring ook aan die werk.

 

Ek het op ouderdom agt, my eerste hoender gepluk toe ons almal gaan Kersfees hou het by my oom op die plaas. Sederdien het ek al baie soorte voëls van hulle vere verlos voor ek hulle gebak en geëet het. En dis ‘n reël dat hoe kleiner die voëltjie is, hoe moeiliker pluk hy.

 

‘n Uur later is ons deur die hoop duiwe. Hulle is almal skoongemaak – binne en buite – en reg vir die pan(ne). Ek gee vir Vaaltuin sy geweer terug en sê hy kan maar weer gaan skiet, met die voorbehoud, dat alles wat hy skiet, hy self moet skoonmaak.

 

Vaaltuin kyk na sy hande. Hulle is rooi geskaaf en twee van sy vingerpunte bloei selfs. VF se hande lyk nie veel beter nie. Hy mompel iets van ‘n koue bier en die twee verkas kroeg toe.

 

Ek en VL verpak meeste van die duiwe in plastieksakkies en pak hulle in die vrieskas vir as die rewolusie kom. Dan braai ek ses van die duiwe mooi egalig bruin en laat hulle eenkant om te rus. Intussen maak ek ‘n lekker botter blaardeeg en sit dit ook eenkant. Ek stop die duiwe se ingewande vol met ‘n mengsel van broodkrummels, tiemie, varkwors-stopvleis, sout en peper en jenewerbessies. Dan pak ek hulle styf ‘n oondbak, gooi ‘n lekker dik uiesous bo-oor en bedek die spulletjie met die uitgerolde blaardeeg. Die bak gaan oond toe en dan gooi ek vir myself en vir VL ‘n glas wyn.

 

Na ‘n ruk drentel die Blonde Hollander die kombuis binne en wil weet wat ek met haar Vaaltuin gedoen het, want die man is so depro asof hy ‘n paar maande laas die bruin stof van Afrika onder sy voete en in sy neusvleuels gevoel het. Ek glimlag maar net en sê dat ek bloot vir Vaaltuin die reëls verduidelik het; As jy wil jag, moet jy slag!

 

Vaaltuin het nog nooit weer duif gejag nie. Die torries is die moer in vir VF en hou hom nou eers wakker, maar VL sê hy’t nou al geleer om met oorpluisies te slaap. Die Blonde Hollander wonder steeds wat ek aan haar bosveldbul gedoen het en VL is besig om ‘n duifresepteboek saam te stel. Ek vermoed sy gaan my vra om die voorwoord te skryf…

 

 

19 antwoorde op Vredefort, Vredelief en die Duifmoordenaar

  1. plankloper het gesê op Junie 29, 2010

    Dankie. Bly jy’t dit geniet

  2. goeie genade maar jy het omtrent ‘n interessante lewe – kan jy nou meer – duifpastei – is dit lekker?

  3. hoe sal dit nou omsit in “dating”? as jy die girl wil jag……..moet jy haar slag??????

  4. louisna het gesê op Junie 29, 2010

    Pragtig geskryf. Sterkte met die voëlwoord.

  5. Puik skrywe Plankloper!

  6. kerneelsie het gesê op Junie 29, 2010

    Ek het voorheen al genoem dat ek nie duif sal eet nie, maar het ook onlangs gehoor dat ek dit(en haas, en tarentaal) in ‘n wildspastei al geëet het. En al die jare het ek gedink wildspastei is maar net diere wat baie kwaad gemaak is voor hulle geslag is… hehe

    “Hoeveel torries gaan julle skiet?” wil ek weet.

    “Almal”, lig VF my in en storm weer na buite.

    Ek het sommer lekker geproes lag. Kan die prentjie sommer in my kop sien afspeel.

    Goed geskryf, soos altyd.

    Lekker gelees.

  7. plankloper het gesê op Junie 29, 2010

    Dankie!

  8. plankloper het gesê op Junie 29, 2010

    Presies!

  9. plankloper het gesê op Junie 29, 2010

    Vir jag en slag? of vir eet?

  10. plankloper het gesê op Junie 29, 2010

    Dankie 2

  11. plankloper het gesê op Junie 29, 2010

    VOORwoord Ouboet. VOORwoord…

  12. plankloper het gesê op Junie 29, 2010

    Sies man! Ons werk hier met kos!

  13. plankloper het gesê op Junie 29, 2010

    Heerlik, maar die vleisies is maar min so jy moet baie versigitg qwees om die nie droog te bak nie.

  14. louisna het gesê op Junie 29, 2010

    OK. Dis net dat ek ‘n voëlvriendelike landskap raakgelees het. Dalk ‘n paralaksfoutjie van my kant af.

  15. plankloper het gesê op Junie 29, 2010

    Ek stem saam!

  16. wynvdm het gesê op Junie 29, 2010

    Goed vertel! Lekker gelees!

  17. plankloper het gesê op Junie 30, 2010

    Dankie Flenters

  18. plankloper het gesê op Junie 30, 2010

    Bly jy’t dit geniet.

  19. plankloper het gesê op Julie 1, 2010

    Dankie Therina!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.