Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

Vredefort, Vredelief en die Duifmoordenaar

Junie 29, 2010 in Sonder kategorie

Vredefort en Vredelief (nie hul regte name nie) is onlangs eers getroud en hulle is ‘n gawe jong paartjie wat welvarend en met ambisie en entoesiasme hulle toekoms saam aanpak. Hulle woon in ‘n lekker ruim ou huis in een van die beter buurte van Johannesburg en alles is op die oog af rustig en vreugdevol.

 

Maar Vredefort (VF) het ‘n ertjie wat hom kielie as hy in die aande sy kop gaan neerlê. Want sien, saam met die ruim huis het hulle ook ‘n manjefieke tuin gekry, met ‘n grasperk (groot genoeg om jou golfswaai op te oefen) en ‘n tamaai swembad en die pragtigste mooi groot inheemse bome. En soos dit nou maar in Afrika gaan word die tuin en die bome bewoon deur ‘n magdom van voëls. Daar is mossies en tinktinkies en kwikstertjies en hadeda’s en Indian Mynahs en in die somer maak selfs ‘n paar swaeltjies nes onder die dakkappe. En dan is daar die torries – (tortelduiwe, vir die van julle wat nie die afkorting ken nie.) Tortelduiwe word so genoem omdat hulle tortel. En alhoewel die duiwe se gekoer heel strelend en rustig kan wees op ‘n soel Sondagmiddag as VF en VL met ‘n glas koue wyn langs die swembad sit, is dit ‘n ander storie as hulle saans wil gaan slaap. Want die torries het ook lêplek gekry onder die dakkappe en soos duiwe maar maak gesels hulle land en sand aanmekaar soos ‘n span oujongnooiens op ‘n blommekongres in Bloemfontein. En die geslesery hou tot diep in die nag aan. VF het al probeer skree en raas, maar dit onstig net die bronstige voëls en dan raas hulle nog meer en nog langer. Toe’t hy probeer om die duiwe toegang tot die dakkappe te belet met allerlei drade, fuike en lokvalle. Maar dit was asof die duiwe dit bloot as aansporing gesien het om nog meer van hulle maters te nooi om VF se lewe te vergal.

 

VL kuier toe eendag ter plaatse hier in die Jakarandastad en wil by my weet wat ek doen om die duiwe in my tuin te bekamp. Ek lig haar toe in dat ek in vrede met my omgewing saam leef en dat my ou maat Os my geleer het om net met die duiwe te praat en dan verkas hulle vanself. (Os is ‘n afgetrede lugmagoffisier wie se dagtaak dit was om die aanloopbaan by Waterklooflugmagbasis skoon te hou van tarentale en ander geveerdes) VL keer toe terug huis toe gewapen met my goeie raad maar sy en VF het gesmeek en mooi gepraat en die duiwe het net meer geraas en op hulle stoep getjorts.

 

Eindelik en ten laaste beroep VF hom toe op Vaaltuin. Vaaltuin is ‘n man van die veld. ‘n Jagter. ‘n Ware Nimrod. Al probleem is dat hy sy daaglikse boord verdien deur as rekenmeester by die ontvanger te werk, en hy kom nie so gereeld op die ongerepte savanna as wat hy sou wou nie. Sy lewensmaat, die Blonde Hollander, wat baie goed in ‘n oranje mini sou vertoon, het al gou besef dat sy vir haar ‘n gefrustreerde bosveldbul nader gehark het, en sy doen moeite hom hom gereeld in die veld te kry sodat sy kriewelrige siel tot rus kan kom.

 

Toe Vaaltuin die oproep kry gaan haal hy dadelik sy windbuks uit die kluis en begin skoonmaak en poleer. (Ek gebruik die term “windbuks” baie losweg, want Vaaltuin se windaangdrewe missielwerper is toegerus met ‘n teleskoop, etlike ombouings en aanbouings en ‘n spesialis verflaag wat dit bykans onsigbaar maak as sou mens nou in die bos daarmee gaan loop.)

 

Die groot dag breek toe aan en Vaaltuin is sommer voeg op, en gestewel en gespoor in sy kamoefleer pakkie en jagstewels. Die Blonde Hollander lig hom in dat hulle eers moet gaan inkopies doen, maar hy hy weier en gaan sit in die bakkie met sy geweer in ‘n kevlar tas langs hom. Die meisie van die nederlande laat haar egter nie rondstoot nie en sy klim in haar kar en ry Woolies toe om proviand in te lê, terwyl Vaaltuin in die bakkie sit en wag en homself geestelik voorberei met jobsgeduld.

 

Ek is ook ‘n genooide en daag by VF en VL se woning op, gewapen met my messe, ‘n voorskoot en ‘n paar uitgesoekte resepte vir duifpastei. Ek kom daar aan en VL vat my kombuis toe waar ek solank my gereedskap uitpak en regmaak vir die werk wat voorlê.

 

‘n Halfuur later trek Vaaltuin se bakkie ook in en hy klim uit met ‘n veraf kyk in sy oë. Die Blonde Hollander sluit by my en VL in die kombuis aan en Vaaltuin en VF gaan tuin toe.

 

‘n Minuut of twee later is VF terug met twee lekker vet torries – albei deur die kop geskiet. Die Blonde Hollander gril en gaan sit in die tv kamer waar sy na die Amazing Race of iets kyk. Ek wys vir VL hoe mens ‘n duif ontveer en ons spring aan die werk. Na ‘n ruk is VF terug met nog drie dooie duiwe. En toe later met nog vier en toe weer twee en toe sommer ses en toe roep ek halt.

 

Hoeveel torries gaan julle skiet?” wil ek weet.

 

Almal”, lig VF my in en storm weer na buite.

 

VL praat mooi maar my moermeter begin nou lekker in die rooi intrek. Ek bedoel, ‘n grap is ‘n grap, maar ‘n krom stok in ‘n reguit man se dinges is nie snaaks nie. Ons staan naderhand met twaalf skoongemaakte duiwe en nog ‘n hoop van bykans twintig waaraan ons nog nie geraak het nie. As VF weer die kombuis inkom met twee handevol dooie duiwe stuur ek hom summier om vir Vaaltuin te gaan haal.

 

Vaaltuin kom na ‘n ruk saam met VF in. Hy’t ‘n wilde kyk in sy oë wat hom laat lyk soos Rambo. En die stuk lap om sy kop en die kamoefleerverf oor sy gesig dra mooi by tot die prentjie. Ek tel my grootste mes op en beduie vir Vaaltuin dat hy nou eers ‘n bietjie moet werk voor hy weer kan gaan moor. Hy brom iets en draai sy rug op my. Ek vererg my en in ‘n oomblik van onbeheersde woede (of waansin… Wie sal weet?) gooi ek my baie duur Wüsthoff slagtersmes na sy rug toe. Gelukkig is ek nie baie goed met mesgooi nie en die lem steek langs Vaaltuin se kop in die deurkosyn vas, waar dit vir ‘n paar sekondes heen en weer dril. (Net soos in die moewies) Vaaltuin gee ‘n klein gilletjie en lig dan sy hande, met die geweer krampagtig in sy regtervuis vasgeklem. Ek beweeg nader en verlos hom van die windkettie. Dan beduie ek na die kombuistafel. Vaaltuin skuifel soos ‘n gehipnotiseerde na die hoop dooie duiwe toe en as hy vir ‘n oomblik na my kyk asof hy wil weier, pluk ek my mes uit die deurkosyn uit. Hy vries, en ek stap nader en stop ‘n dooie duif in sy hande.

 

Stadig begin hy vere uittrek en ek beduide na ‘n ruk dat dit baie makliker gaan wees as hy dit met behulp van warm water probeer. VL beduie met haar kop en VF spring ook aan die werk.

 

Ek het op ouderdom agt, my eerste hoender gepluk toe ons almal gaan Kersfees hou het by my oom op die plaas. Sederdien het ek al baie soorte voëls van hulle vere verlos voor ek hulle gebak en geëet het. En dis ‘n reël dat hoe kleiner die voëltjie is, hoe moeiliker pluk hy.

 

‘n Uur later is ons deur die hoop duiwe. Hulle is almal skoongemaak – binne en buite – en reg vir die pan(ne). Ek gee vir Vaaltuin sy geweer terug en sê hy kan maar weer gaan skiet, met die voorbehoud, dat alles wat hy skiet, hy self moet skoonmaak.

 

Vaaltuin kyk na sy hande. Hulle is rooi geskaaf en twee van sy vingerpunte bloei selfs. VF se hande lyk nie veel beter nie. Hy mompel iets van ‘n koue bier en die twee verkas kroeg toe.

 

Ek en VL verpak meeste van die duiwe in plastieksakkies en pak hulle in die vrieskas vir as die rewolusie kom. Dan braai ek ses van die duiwe mooi egalig bruin en laat hulle eenkant om te rus. Intussen maak ek ‘n lekker botter blaardeeg en sit dit ook eenkant. Ek stop die duiwe se ingewande vol met ‘n mengsel van broodkrummels, tiemie, varkwors-stopvleis, sout en peper en jenewerbessies. Dan pak ek hulle styf ‘n oondbak, gooi ‘n lekker dik uiesous bo-oor en bedek die spulletjie met die uitgerolde blaardeeg. Die bak gaan oond toe en dan gooi ek vir myself en vir VL ‘n glas wyn.

 

Na ‘n ruk drentel die Blonde Hollander die kombuis binne en wil weet wat ek met haar Vaaltuin gedoen het, want die man is so depro asof hy ‘n paar maande laas die bruin stof van Afrika onder sy voete en in sy neusvleuels gevoel het. Ek glimlag maar net en sê dat ek bloot vir Vaaltuin die reëls verduidelik het; As jy wil jag, moet jy slag!

 

Vaaltuin het nog nooit weer duif gejag nie. Die torries is die moer in vir VF en hou hom nou eers wakker, maar VL sê hy’t nou al geleer om met oorpluisies te slaap. Die Blonde Hollander wonder steeds wat ek aan haar bosveldbul gedoen het en VL is besig om ‘n duifresepteboek saam te stel. Ek vermoed sy gaan my vra om die voorwoord te skryf…

 

 

Chuck en Bakkies

Junie 25, 2010 in Sonder kategorie

Ek wou ‘n diep en introspektiewe stuk skryf oor my liedeslewe, my siening van die werled waarin ons leef en verskeie ander dinge waarvan ek weet julle sal hou.

Maar toe kom ek op hierdie wysheid af.

Geniet die naweek!

DIS hoe mens jou geskiedenis herskryf!

Junie 21, 2010 in Sonder kategorie

Pel van my wat destyds ‘n Nasional Party kabinetsminister se reputasie moes oppas, stuur vir my die… Hy vermoed dis die toppunt van “spin”.

POLITICAL SPIN THE AUSTRALIAN WAY
 
No matter what side of the AISLE you’re on, THIS is FUNNY and VERY telling! It just all depends on how you look at same things.

Judy Rudd an amateur genealogy researcher in southern Queensland’s, was doing some personal work on her own family tree. She discovered that Prime Minister Kevin Rudd great-great uncle, Remus Rudd, was hanged for horse stealing and train robbery in Melbourne in 1889. Both Judy and Kevin Rudd share this common ancestor.

The only known photograph of Remus shows him standing on the gallows at the Melbourne Gaol:  on the back of the picture Judy obtained during her research is this inscription: ‘Remus Rudd horse thief, sent to Melbourne Gaol 1885, escaped 1887, robbed the Melbourne-Geelong train six times. Caught by Victoria Police Force, convicted and hanged in 1889.’

So Judy recently e-mailed Prime Minister Rudd for information about their great-great uncle, Remus Rudd.
Believe it or not, Kevin Rudd’s staff sent back the following biographical sketch for her genealogy research:

“Remus Rudd was famous in Victoria during the mid to late 1800s. His business empire grew to include acquisition of valuable equestrian assets and intimate dealings with the Melbourne-Geelong Railroad.

Beginning in 1883, he devoted several years of his life to government service, finally taking leave to resume his dealings with the railroad.
In 1887, he was a key player in a vital investigation run by the Victoria Police Force. In 1889, Remus passed away during an important civic function held in his honour when the platform upon which he was standing collapsed.”

NOW That’s how it’s done, Folks!

That’s real POLITICAL SPIN.

Die toeriste het nog NIKS gesien nie!

Junie 15, 2010 in Sonder kategorie

Viva BAFANA BAFANA, Viva!!!!!

Die blonde oomblik

Junie 12, 2010 in Sonder kategorie

 

En voor almal my uittrap! Ek weet alle blondines is nie dom nie en doen nie aanmekaar dom goed nie, maar ek gebruik die term bloot omdat die heldin van hierdie verhaal inderdaad blond was (is) en omdat die “blonde oomblik” ‘n uitdrukking is wat goed in die volksmond gevestig is.

 

Okei?

 

En ek is by voorbaat jammer as ek ‘n blondine (of haar man of haar vriend of haar pa) aanstoot gee, maar die storie, soos almal wat ek vertel, is waar. 100% waar. Ek belowe.

 

Vanoggend wys ‘n vriendin vir my foto’s wat sy van ‘n troue geneem het. Nogal ‘n imposante storie met baie blomme, strooimeisies, limo’s, kos en drank. O, ja… En ‘n bruidegom iewers agter die bruid en haar ma weggesteek…

 

Deel van die foto’s wat my vriendin moes neem, was van die voorbereiding van die bruid met hare en grimering ens, wat noukeurig gedoen en op film vasgelê word. (Ek gebruik die benoeming ‘film’ baie losweg – deesdae is dit mos hardeskywe.)

 

Alle geval….

 

Een van die foto’s is van die voornemende bruid, waar sy poedelnakend in die bad sit, met een fyn handjie oor die tepeltjie en ‘n kyk in haar oë wat vir die voornemende bruidegom groot beloftes inhou en dit laat my toe dadelik dink aan die troue wat ek eenkeer op video moes verewig.

 

‘n Vriendin van ‘n vriendin, bel my en vra of ek die video van ‘n derde vriendin se troue sal doen. Hulle vra my nie omdat ek soseer professioneel met die klas van ding omgaan nie, maar omdat hulle uit opsies (en geld) uitgeloop het, en ek skuld hulle ‘n guns. (Meer daaroor in ‘n ander blog!) Ek stem toe in, veral toe sy sê, sy het nog ‘n bottel Glefiddich Single Malt iewers wat ek kan kry as ek die ou gunsie sou doen. So gesê en so gedaan. Ek leen ‘n kamera, reël vir redigeringsfasiliteite en gaan om die gelukkige paartjie te ontmoet.

 

Sy is mooi, pragtig mooi, en hy is ‘n tipiese yuppie wat sy pad oopveg in die korporatiewe wêreld, met die nodige blink horlosie, slap kar en modieuse skoene en klere. Hulle gaan trou by een van die trouplase in die Muldersdrift omgewing met al die nodige fasiliteite op een plek. Ons bespreek hulle behoeftes en ek daag toe, op die groot dag, op die groot dag op, met my kamera, videobande, ‘n netjies pak klere, ligte ens.. Eerste gaan besoek ek die (teen hierdie tyd) baie senuweeagtige bruidegom, gesels bietjie en neem ‘n paar skote van hom wat sy klere regsit en kwinkslae uitruil onder sy strooijonker en ander aanhangers.

 

Hierna verkas ek na die anderkant van die kompleks en gaan klop aan die deur van die bruid se suite. Daar is ‘n geskarrel van ‘n ander wêreld met vriendinne, ma, grimeerkunstenaar, haareman en ander. Ek hou my klein en neem die proses af so goed ek kan. Gelukkig is dit ‘n helder sonskyndag en ek het nie nodig om ligte op te stel nie. Dan gryp die moeder my aan die arm en sê hulle het bsluit om haar dogter af te neem terwyl sy aantrek vir die groot geleentheid. Ek is bok vir die bietjie ekstra skietwerk, maar dan verduidelik mammie dat ek nie by kan wees as haar dogter aantrek nie. Ek wil eers teëstribbel, maar moeder is steng. Ek moet die kamera opstel, aanskakel en buite gaan wag tot sy van so ‘n aard aangetrek is dat ek weer kan inkom. Ek kan sommer sien dat ek nie aan enige argument gaan kan dink om die tannie om te praat en nie stel toe maar op.

 

Langs die badkamer se deur is ‘n lekker breë spasie, langs die bed. Ek stel op, gaan my klank en beligting na en gee die bruid streng instruksies om net tussen die badkamer se deur en die bed rond te beweeg. En toe rol ek en gaan sit buite en wag. Na so omtrent vyftien of twintig minute word ek weer ingeroep en die pragtige bruid is nou in haar rok. Ek neem nog ‘n paar skote en toe is dit tyd.

 

Eers in die perdekar, toe na die kapelletjie toe en toe die diens en toe die onthaal, en toe kry ek al die pelle om op video gelukwensinge uit te spreek en toe is alles verby. Die bruid se pa stop my ‘n bol note in die hand en gee my skouer ‘n bewoë druk en daar gaan ek.

 

My pel, by wie ek die kamera geleen het, het gesê ek kan sy redigeer toerusting gebruik mits ek dit oor naweke of na-ure doen. So… Vroeg Sondag sit ek agter die masjiene en begin sny.

 

Teen twaalfuur gaan soek ek ‘n hamburger en ‘n bier en toe is ek terug. Teen 13h45 kom ek by die band waarop die aantrek toneel verewig is. Ek sit die band in die masjien en sit terug. Vir ‘n hele ruk gebeur daar niks behalwe vir ‘n bietjie agtergrond gegiggil. Dan loer die bruid se blonde koppie om die deur en sy jaag almal wat in die vertrek agter die kamera staan uit, want sy “gaan ‘n boodskapie opneem net vir Dewald!” (Dewald synde die bruidegom.)

 

Dit raak stil.

 

Dan loer die blonde koppie weer om die deur. En dan tree sy die vertrek binne. Poedelnakend kaal. Soos die dag wat sy gebore is. En sy gaan staan voor die kamera en neem haar borsies in haar hande en bied hulle vir Dewald aan. Sy vryf oor haar heupies en belowe hùlle vir Dewald, en dan vat sy aan haar apie en belowe vir Dewald hy gaan die nag van sy lewe hê! Dan begin sy sensueel haar kouse en kousband aantrek. Dan die kousophouers wat sorgvuldig vasgeknip word en dan die korset. Dan trek sy die rok oor haar kop sonder om ‘n broekie aan te trek, ‘n puntjie wat sy skalks aan Dewald noem. Daarna roep sy na buite en die vrouens kom in en begin toerits en vasmaak en die dinge doen wat mens seker doen as jy ‘n bruid help aantrek. Dan noem iemand dat hulle “seker die kamera ou moet kry”, en in die agtergrond hoor ek hoe moeder my roep….

 

Ek sit lank na die dooie skerm en staar en haal dan die band uit. Ek sit hom eenkant en gaan aan met die snywerk. Teen elfuur die aand is ek klaar en heel gelukkig met my poging. Ek sit titels op, meng die musiek op die klankbaan en maak die nodige kopieë wat hulle bestel het. Ek verpak dit met etikette en sit dit eenkant op ‘n hoop. Dan druk ek weer die blondine se aantrekband in die masjien. Ek sny die voorste gedeelte waar niks gebeur nie af, maak die klank so ‘n bietjie skoon en maak dan een VHS kopie wat ek saam met die meesterband in ‘n koevert sit en verseël.

 

Die gelukkige paartjie laat my weet toe hulle terug is van Mauritius af en ek gaan laai die bande by hulle af. Dewald gee vir my nog ‘n bottel Glenfiddich, skud my hand en kyk dan na die bruin koevert wat ek steeds vashou. Ek gee dit vir hom en sê hy en sy moet dit liewers alleen kyk voor hulle die familie wys. Ek kan sien hy verstaan nie, maar ek verduidelik nie, blaas net vinnig die aftog. Ek het op die VHS band ook ‘n etiket gesit waarop ek duidelik geskryf het dat dit net vir hulle oë bedoel is.

 

Die volgende dag omtrent 11 uur bel die blondine my en wil weet of ek na die band gekyk het. Ek hap eers ‘n paar keer na my asem, maar dan belowe ek plegtig dat ek nie het nie, en sy slaak ‘n sug van verligting. Sy vertel my dat Dewald dit baie geniet het, maar dat hy dalk vies sal wees as hy sou dink dat ek dalk daarna gekyk het. Ek belowe weer dat ek nie daarna gekyk het nie, want ek het mos geweet sy wil nie hê ek moet dit sien nie. Met die sê sy dankie en lui af.

 

Ek gooi vir my ‘n laaang Glenfiddich en gaan staan by die venster. En ek wonder hoe lank Dewald dit gaan uithou as die eerste opwinding van die huwelik verby is en hy ‘n regte gesprek met sy bruid moet voer.

 

Die pou

Junie 7, 2010 in Sonder kategorie

 

Verlede naweek kom kuier Reinet en Hammies uit die Kaap. Dis ‘n heerlike weersiens en Hammies het oudergewoonte twee kiste van die Kaap se beste saamgebring. Ene vir my om te hou en een vir ons om te geniet. Heerlik.

 

So sewe jaar gelede op ‘n intieme verjaardag partytjie waarheen ek en die Rooikop net so ‘n honderd van ons beste vriende genooi het, het ek vir Hammies, ‘n ou losloper drinkebroer van my, voorgestel aan Reinet, ‘n twee maal geskeide vriendin van die Rooikop. Die twee het land en sand gesels en nie lank nie toe gaan eet hulle uit en na nog ‘n rukkie begin hulle oorslaap bymekaar en toe ons ons oë uitvee toe is die twee ‘n paartjie.

 

Hammies is/was ‘n baie suksesvolle internet entrepeneur en Reinet ‘n lektor by die universiteit. Saam, saam het die twee besluit hulle wil nie meer doen wat hulle doen nie en met ‘n vakansie in die Kaap, koop hulle ‘n plek in Somerset Wes en ‘n kombi. Reinet gee kennis by die universiteit, Hammies bou ‘n mooi webwerf en toe ons weer sien het hulle twee kombi’s en ‘n florerende besigheid wat toeriste rondry in die moiste Kaap.

 

Ek moet erken ek was nie so seker oor die storie nie, maar albei van hulle lyk gelukkiger as wat ek hulle in jare gesien het en die enigste donker wolkie op die horison is dat ons mekaar so min sien. Maar hulle maak darem gereeld plan om by ons uit te kom en as ons daar onder is gaan bly ons altyd ‘n dag of twee by hulle oor.

 

Die twee is nogal ‘n snaakse paar. Hy is die rustigheid vanself, lank en groot en rooi van hare en van gelaat. Sy is klein en fyn met donker hare en het ‘n turbine wat nooit gaan staan nie. So rustig as wat hy is, so besig is sy.

 

Een keer was ek in die Kaap met ‘n sakebesoek en sy’t my op die lughawe ontmoet. Sommer gou is ons met die minibus op die N2 op pad na my afspraak toe. Die plan is dat sy ‘n paar draaie sal ry en my weer na my afspraak sal oppik waarna ons Somerset Wes toe sou gaan vir die aand. So gesê en so gedaan.

 

Op pad na hulle huis toe kom ek agter dat ons gemiddelde spoed darem dêm hoog is. Ek sien sy pomp pomp so nou en dan aan die briek maar los dit maar daar. Ek is per slot van rekening ‘n outjie wat myself op ‘n gereelde basis in ‘n renmotor vasgespe en in die veld gaan resies jaag, so ‘n klein fyn meisietjie in ‘n kombi gaan my nie bang ry nie.

 

Na ‘n ruk begin sy vroetel in haar handsak en sy skakel ‘n nommer. Sy knyp die selfoon tussen haar skouer en oor vas terwyl sy die kombi tussen die verkeer deur stuur.

Bollie!” Dis haar naam vir Hammies. “Die kombi se brieke werk nie, wat moet ek doen?”

 

Ons het darem heelhuids by die huis uitgekom waar Hammies ‘n stywe dop vir my reggehou het.

 

Julle kry die idee…

 

Nou kuier hulle by ons en Hammies vertel stories. Stories oor die toeriste wat hulle moet rondkarwei, stories oor die Stormers en hulle ondersteuners, wat nogal snaaks is, want Hammies is ‘n stoere Blou Bul. En toe skielik vra hy wat die snaakste ding is wat ek nog ooit geëet het. Reinet probeer stil maak, maar hy beur voort.

 

Die ding het so gebeur…

 

Reinet was weer in een van haar haastige buie op pad na ‘n wynplaas om ‘n klient se bestelling op te laai. Met die gejaag op die grondpad, sien sy die pou te laat en ry hom poer des merdes. Lekker groot mannetjiespou morsdood in die grondpad. Terwyl sy staan en wonder wat om te doen kom die Duitse tannie, aan wie die plaas behoort, daar aan. Sy sien die pou en gaan dadelik gal af in ‘n mengsel van Duits, Engels en geradbraakte Afrikaans. Die pou was haar man se verjaardag geskenk en as Reinet nie so roekeloos was nie het die pou nog geleef en Reinet gaan eendag nog ‘n mens doodry en wat dan ens, ens, ens… Uiteindelik haal sy asem en teen die tyd is die arme Reinet al baie naby aan trane. Die Duitse antie sien Reinet voel na behore sleg, gooi haar arms wawyd oop en sê: “Und now ve hug!” En met die gooi sy haar arms om Reinet en druk amper haar ribbes af.

 

Reinet kom by die huis en vertel vir Hammies alles. Hammies is ‘n goedgemanierde man en hy gaan koop ‘n tamaai bos blomme wat hy en Reinet toe later die aand by die Duitsers gaan aflewer. Hulle word gul ontvang, ‘n drankie in die hand gestop en genooi vir ete. Die omie flankeer met Reinet en sê hy het ook al per geleentheid te vinnig gery, sy moenie sleg voel nie. Met die word Reinet kombuis toe gensleep en die antie maak met groot gebaar haar groot pot oop en vra wat Reinet dinkl?

 

Hoender? Nee, te groot. Gans? Ok nie. Swaan, dalk?! Nee lag die antie. Dis die pou. Mens moenie mors nie!

 

Ek wil weet hoe die pou gesmaak het en Reinet word bleek en vlug huis in. Hammies lag hom byna dood. “Nie sleg nie, net bietjie taai…” En hy kraai weer van die lag. Dit het lank bevat voor Reinet weer by ons aangelsuit het.

 

En Hammies? Hy was in die spesmagte en het in die oorlog geleer om alles te eet! En om dit te geniet!

 

Te streng se julle. Glimlag nie genoeg nie…

Junie 6, 2010 in Sonder kategorie

 

Hier’s my paspoort weergawe en die grote. En sien! Ek glimlag…

 

 

Anha se foto’s

Junie 4, 2010 in Sonder kategorie

Ahum…

Bafana Bafana Needs YOU!!!