Fanie (die poepol…)

Mei 31, 2010 in Sonder kategorie

 

Fanie was nooit ‘n seun, en later man, wat jou laat dink het hy’t ‘n oormaat testosteroon nie. Ons was saam in ‘n groot seunskool en mens moet jou man kan staan want die boelies is baie en hulle ruik die swakkeling in die trop sommer gou-gou uit. En as jy nou nog ‘n pokkel is soos Fanie… Nou ja! Maar met die jare het Fanie homself geleer om te oorleef in die oerwoud en hy’t verskeie tegnieke gebruik om die boelies van sy lyf af te hou.

 

Eerstens het hy grappe begin vertel. Nes ‘n boelie hom gryp, het hy een of ander kwinkslag gelos wat die boelie dan tot lag dwing en dan kon Fanie die hasepad kies.

 

Tweedens het hy pelle gemaak met van die groter ouens in ons klas sodat hy meeste van die tyd darem agter ‘n groter ou kon wegkruip.

 

Maar Fanie se beste raad teen boelies was sy kosblik. Hy’t sommer gou-gou besef die koshuis seuns sal mekaar vermoor vir ordentlike toebies, en die grootse en lelikste boelies het uit die koshuis gekom. Fanie se kosblik was ‘n juweel. Hoe hy sy ma oorreed het om die lekkernye in te pak, wat hy saam skool toe gebring het, sal g’n mens weet nie. Maar selfs die gehardste boelie kon nie sy kos weerstaan nie. Die toebroodjies het die eksotieste vulsels gehad. Hy’t pizza skool toe gebring voor enige van ons nog geweet het wat pizza was. Eenkeer het hy self sushi skool toe gebring…

 

Ek het hom daaroor uitgevra en hy’t net gesê sy ma is die kok by ‘n luukse ouetehuis vir Jode ooms en tannies. Sy pa is dood toe hy klein was en dis maar oorskiet van die ouetehuis af.

 

Toe breek die einde van ons matriekjaar aan en ek gaan Vloot toe. Dag een op die stasie loop ek my toe weer in Fanie (die poepol…) vas. Hy is toe saam in die trein, saam in my kompartement en uiteindelik saam in my slaapsaal en in dieselfde dubbeldekkerbed as ek, maar ek het seker gemaak ek slaap bo.

 

Ek was in daai dae ‘n kranige trompetspeler en het dus in die orkes beland. Fanie het gesê hy’s die simbaalspeler en het op die manier ook in die orkes beland. Saam-saam is ons basies deur, en as ons buddy pt moes doen was die pokkel Fanie my buddy… (die poepol)

 

Na basies skei ons paadjies want Fanie was regtig nie uitgeknip om ‘n matroos te wees nie. Hy land toe in sjefskool en ek gaan my gang na die meer avontuurlike afdelings in die Vloot.

 

So dan en wan het ek hom in Simonstad raakgeloop en Fanie het net vetter geword. Hy’t sy sjefkursus gedoen en in Rhodesia by the Sea opgeland. Dit was, en is nog steeds, die offisiersmenasie. Hier het Fanie vir hom naam gemaak. Die offisiere het hom op die hande gedra want ou Fanie kon toor in die kombuis. En so het Fanie se kosblik hom ook heelhuids deur die oorlog gebring, want hy is opgepas soos ‘n kosbare kleinnood en enige suggestie dat hy dalk op ‘n skip, of vir die Mariniers op die grens moes gaan kook, is onmiddelik in die kiem gesmoor.

 

Fanie het self ‘n lekker ekstra inkomste verdien deur op sy afdae vir privaat funksies kos te maak. En so maak ons klaar met die Vloot, en ek en Fanie se paadjies skei. (Uiteindelik – die poepol…)

 

15 jaar later hou ons reünie by die skool. Ek’s is teen die tyd goed gevestig in my gekose kunsrigting en kom met een van die beter motors daar aan. (Ek weet dis nie belangrik nie, maar dit WAS ‘n seunsskool en in ‘n seunsskool is die een met die mooiste en beste speelgoed die wenner…) Maar ons almal se bekke hang oop toe Fanie (die poepol…) met ‘n splinternuwe Porsche daar in ry. Hy hy rol uit die kar uit en waggel om en maak die deur oop vir ‘n meisie wat ruim 8 duim langer as hy is. En haar rokkie is kort, en haar bene lank en haar hare wat lyk soos klatergoud skitter in die son en haar borste… Ai, jai, jai, jai, jaaaaai…. En die twee kom hand aan hand aangestap. En as sy vir hom kyk kan jy sien sy is mal oor hom. Maak nie saak dat sy ‘n kop langer as hy is nie en maak nie saak dat hy amper so breed is as wat hy lank is nie… Die meisie is verlief op Fanie. En hy swel van trots as hy na die boelies van 15 jaar gelede kyk en hulle vaal, oorgewig vroue en meisies sien. En hy lag vir hulle tweedehandse bakkies en hy kry lekker.

 

Ek en Fanie deel toe ‘n tafel – op sy aandrang. En die meisie se naam is Samantha en sy’s vriendelik met my want ek is Fanie se pel. Ek het meisieloos daar aangekom want ek wou. Maar na 5 minute in Samantha se geselskap begin ek wegholkans soek. G’n mens het die reg om so mooi te wees nie. G’n mens het die reg om so oulik te wees nie en ek raak dadelik smoorverlief op Fanie (die poepol… ) se meisie. Maar ek byt vas en selfs toe sy my vra om te dans hou ek kop en doen niks simpel soos om my onsterflike liefde aan haar te verklaar nie.

 

Fanie vertel sy storie. Hy’s die trotse eienaar van verskeie restaurante. Bly op Clifton, saam met Samantha en hulle gaan een van die dae trou. Sy ma is oorlede en dis met die erfgeld wat sy vir hom gelos het dat hy sy eerste restaurant kon begin. Hy kyk nou ook oorsee, na London, om daar moontlik ook ‘n eetplek oop te maak.

 

In ‘n stadium sien Fanie een van die boelies van vervloë jare en hy staan op om hom te gaan treiter. Ek vra vir Samantha hoe sy en Fanie ontmoet het en sy vertel dat sy as student vir hom gewerk het as kelnerin. Hy is ‘n ware heer, kook soos ‘n engel en dra haar op die hande. Wat meer kan ‘n meisie vra? (Vir my! Vir my! Vir my!…)

So teen elfuur begin die paartie afskaal en Fanie neem Samantha se hand en stap groetend uit. Ek stap saam, ruil nommers en adresse uit en belowe om te kom kuier as ek weer in Clifton se omgewing is.

 

Samantha glip met ‘n simfonie van bene en hare en borste in die Porsche in en hulle verdwyn straat af met my hart in haar hande.

 

Ek loop terug na my ander maters toe en al waaroor almal praat is Fanie en Samantha…

 

Hoe de donner het hy dit reggekry,” wil een van die boelies verontwaardig weet.

 

Onthou jy hoeveel keer hy vir jou uit sy kosblik uit gevoer het sodat jy hom nie moet bliksem nie?” vra ek onskuldig.

 

Wat het dit met die prys van eiers te doen?”

 

Daai girl is agter Fanie se kosblik aan…”

 

Hulle kyk my verdwaas aan. Niemand is bereid om te glo dat Fanie gewen het nie. Hy’t die duurtse en begeerlikste kar. Hy’t loshande die mooiste en begeerlikste meisie. Hy bly in Clifton. Hy besit suksesvolle restaurante.

 

En in ‘n seunskool is die een met mooiste en duurste speelgoed die wenner. En dis Fanie. (Die poepol…)

32 antwoorde op Fanie (die poepol…)

  1. lindiew het gesê op Mei 31, 2010

    Ek het dit regtig baie geniet. Dit was goed geskryf!!! Een van die stukkies wat ek vir ‘n rukkie nog gaan onthou!

  2. Ha,ha wel dan het Fanie die poepol uit en uit gewen!

  3. Moeder Raaf het gesê op Mei 31, 2010

    Ek hou van sulke ‘feel-good’ stories.

    In ‘n deurmekaar wêreld soos die een waarin ons leef, het ons nog sprokies nodig. Hierdie is ‘n sprokie en inderdaad sooks Modderkoekie sê ‘n lag met ‘n traan.

  4. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Oor ek hom moes beskerm, oor ek hom moes dra in buddy pt, oor hy die girl gekry het…

  5. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Sprokie? Hmmm… Dis ‘n goeie beskrywing, behalwe elke woord is waar!

  6. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Pra’jy dan nou!

  7. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Dis nie altemit nie.

  8. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Dankie vir die inloer!

  9. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Dankie.

  10. louisna het gesê op Mei 31, 2010

    Fanie, jou yster. Affies het baie presteerders opgelewer. Toevallig was ek ek die huidige hoof saam opTukkies. Nou die dag het ons weer raakgeoop en BAIE lekker oor die ou dae gesels.

  11. Na alles toe nié ‘n poepol nie….

  12. ludwig.heuer het gesê op Mei 31, 2010

    Hierdie is nou bakgat geskryf. Die storie doen dit vir my … baie goed gedoen … bravo …

  13. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Dit was Helpmekaar. Nie Affies nie.

  14. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Wys jou net ne…

  15. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Baie dankie. Komende van jou, high praise indeed.

  16. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Bly jy’t geniet!

  17. louisna het gesê op Mei 31, 2010

    Sorry. Ek was in ‘n gemengde skool met sy uitdagings en beproewings.

  18. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Kan nou nog nie besluit of die seunsskool ding my geknak of gehelp het nie!

  19. louisna het gesê op Mei 31, 2010

    Dit het jou ten minste oor girls laat droom sonder oortredingsgeeenthede in skooltyd.

  20. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Aldus het ek matriek deurgekom…

  21. heng. lekker storie & lekker geskryf.

  22. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Dankie

  23. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Dankie!

  24. plankloper het gesê op Mei 31, 2010

    Nes jy se…

  25. plankloper het gesê op Junie 1, 2010

    Dankie Ghaap!

  26. fanjan het gesê op Junie 2, 2010

    Ek was ongemaklik dat jy my naam so ydellik gebruik, maak toe eindig dit darem goed.

  27. plankloper het gesê op Junie 2, 2010

    Jammer Fanie!

  28. kerneelsie het gesê op Junie 4, 2010

    Ek het NOU DIE DAG al die gelees, en nou kan ek nie dink dat ek nie kommentaar gelos het nie.
    Briljant geskryf!

    (Skies dis so laat)

  29. plankloper het gesê op Junie 4, 2010

    Komplimente is nooit te laat nie. Baie dankie!

  30. plankloper het gesê op Junie 7, 2010

    Die wliel draai ne! Bly jy’t dit geniet!

  31. Sanseveria het gesê op Junie 7, 2010

    Jy’s nou loshande voor in my top tien! Ek geniet ook al jou kommentare op ander blogs.

  32. plankloper het gesê op Junie 7, 2010

    Baie dankie. Dis ‘n groot kompliment!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.