Petrol pirouette

Mei 28, 2010 in Sonder kategorie

 

Die motorfiets enjin hier agter my rug se gebrom verander in ‘n geskree soos Strat hom trap. Hy klink naderhand soos ‘n kat op hitte en ek ruik rook. Die digitale horlosie staan regs voor my en tel die sekondes af. As ons tien sekondes oor het, begin ek hardop vir Strat aftel. Die afsetter begin op vyf saam aftel en dan lig hy sy vlag.

Die Jianshe vlieg weg soos ‘n kat wat terpentyn onder sy stert gekry het, en ons is op pad. Sestig meter na die wegspring is daar ‘n sloot en ek maak reg vir ‘n harde stamp, maar die veerstelsel eet die sloot vir brekfis. Nou kom ‘n lekker lang slap draai na regs en ons gly sywaarts in die draai in. Strat druk die stuurwiel net vinnig heen en weer en dan tref ons die volgende sloot. Hierdie een is bietjie erger en ons karretjie spring met al vier wiele in die lug. Dan is ons deur die hek en op grond.

Niks in jou normale gebruik van ‘n motor berei jou voor vir veldwedrenne nie. Die geraas is oorweldigend. Die wind kom deur die plek waar daar gewoonlik ‘n voorruit sou gewees het. Die sitplek gordels werk hard om jou in jou sitplek te hou – ek het gewoonlik blou kolle op my slouers na ‘n wedren soos die gordels my druk.

Die Atlas Copco Sugarbelt 400 is een van die beste wedrenne in ons kampioenskapsreeks. Dit wiggel-waggel deur suikerlande en boomplantasies in twee groot sirkels van honderd kilometer elk. Dag een ry ons vir ‘n wegspring posisie op Dag twee. Ons ry die eerste sirkel so vinnig ons kan en dit bepaal dan ons wegspringplek vir dag twee. Op dag twee ry ons weer die eerste sirkel en dan die tweede sirkel twee keer.

Die plase waaroor ons jaag se eienaars doen die roetemerk vir die wedren en dit bring partykeer nogal probleme mee. ‘n Waarskuwing word aangedui deur ‘n wit bord met ‘n uitroepteken op. Twee uitroeptekens beteken jy moet wakker loop en drie beteken jy moet weet waar die briek is. Ek het al gesien hoe van die groot veldwedrenvoertuie soos die Bats, Porters en Zarko’s hulle hele voorste onderstel afry omdat hulle nie betyds genoeg gebriek vir die drie uitroeptekens nie. Maar hier in Natal is een man se uitroepteken ‘n ander man se aflag. Daar is nie konsekwente waarskuwing nie en ons is nooit seker of ons kan jaag of moet briek nie. Gelukkig het byde ek en Strat goeie oë en ons werk saam om die verskillende waarskuwings te interpreteer.

In die verlede het ek en Strat saamgery in ‘n sewe liter Jeep en die manier om so ‘n monster te hanteer is deur hom met die petrolpedaal op te stel vir ‘n draai of ‘n sloot. En ou Strat was die meester daarmee. Nou sit ons ‘n ‘n karretjie wat so groot is soos ‘n ou Mini, met ‘n sewehonderd cc enjin en dit verg ‘n heeltemal ander bestuurstyl.

Ek verkyk my aan Strat se vernuf. Per slot van rekening is my lewe in sy hande. Maar hy mag maar.

Ons karretjie is die ontwikkelingsprojek wat ek en Strat aangepak het namens ‘n Sjinese vervaardiger. Motorsport bestaan nie in Sjina nie, maar Jianshe, Sjina se derde grootste maatskappy, het ‘n teewoordigheid in Suid Amerika, waar die Dakar wedren deesdae plaasvind. Hulle het ons genader om een van hulle voertuie voor te berei vir die Dakar. Ons het hulle baie diplomaties ingelig dat hulle nie een voertuig het wat die Dakar sal kan aanpak nie, maar hulle het toe vir Strat ingetrek om hulle te help met die ontwerp en bou van ‘n voertuig wat die Dakar wel sal kan takel en voltooi. Aldus jaag ek en Strat nou in die SA Veldwedrenreeks met ‘n karretjie wat lyk soos ‘n speelding.

Die Super Lightweight Class in die Dakar se reëls is baie eenvoudig. Die enjin mag nie groter as agthonderd cc wees nie. Net een skokbreker per wiel word toegelaat. Wiele moet die wiele wees wat op kwads pas, en die wiel se loopvlakpatroon moet ook die van ‘n nutsvoertuig wees. Die motor moet met gewone brandstof werk, m.a.w. jy mag nie hoë oktaan resiespetrol gebruik nie. Die motor kan enkel of dubbelsitplekke hê.

Ek het Strat het op die dubbelsitplek konfigurasie besluit omdat mens in die Atacamawoestyn dalk iemand gaan nodig kry om te help grawe as jy vassit.

Maar terug by die Sugarbelt 400…

Ons begin sommer gou gou van die ander motors verbysteek en ek lê gereeld op die screamer. Nou die sreamer het niks met die donker daad van die nag te doen nie. Dis ‘n stukkie toerusting wat jou waarsku as ‘n vinniger motor van agter af by jou wil verbykom en jy kan dit op jou beurt gebruik om ouens voor jou te waarsku dat jy op hulle stert sit. Verder het ek ‘n gps wat die roete bevat en ek hou vir Strat darem oor die algemeen op die pad.

Die roete word aangedui deur klein rooi papiertjies wat so elke honderd meter aan die linkerkant van die roete aangebring word. ‘n Groen papiertjie beteken jy mag nie daar indraai of afdraai nie. In Natal doen die manne hulle werk goed en die roete is duidelik en maklik om te volg.

Na ‘n honderd kilometer kom ons moeg en vuil by die kuipe aan. Daar is heelwat instandhouding wat aan die motorjie gedoen moet word en Strat sit dadelik vir Dito, ons Mosambiekse werktuigkundige, aan die werk. Ek gaan spring in ‘n stort en as ek terugkom begin ek kos maak. (Ek’s ‘n useless mechanic, maar boeta, kan ek kook!)

Die volgende oggend is daar probleme met die tye wat aan ons toegeken is en Strat wil eers baklai, maar ons besluit dan ons kan dit na die tweede dag se verrigtinge uitsorteer.

Weer vlieg on weg maar die keer gaan dit nie so goed soos die vorige dag nie. Twee papwiele later kom ons by die kuipe aan na rondte nommer een. Ons ruil ons pap wiele vir ander en vlieg weer weg. Dertig kilo’s op rondte twee gee ons ratkas die gees.

Ons moet volgens Dakar reëls van ‘n CVT ratkas gebruik maak. CVT staan vir Constantly Variable Transmission en as jy gelukkig genoeg is om ‘n nuwe Audi te ry het jy een van hulle onder jou enjinkap. Dis nie ‘n outomatiese ratkas nie, maar dit voel soos een. Kortom word die krag van die enjin na die wiele toe gevat deur middel van ‘n rubber en staal aandryfband. Die band pas om ‘n keël en hoe hoër jou enjin se toere hoe hoër ry die aandryfband teen die keël op en hoe vinniger ry jy. Met die Kawa enjin waarmee ons nou ry kan ons so tussen 7000 en 7500 toere kry. Met die Rotax 800cc enjin waarmee ons in die Dakar gaan jaag gaan ons tot 13000 toere kan kry want die Rotax is ‘n vliegtuig enjin en hardloop teen baie hoër rewolusies.

Ons stop in die suikerriet en haal die vervrommelde ou aandryfband af. Dan sit ons die nuwe een aan wat met ‘cable ties’ aan die buisraam vas is vir presies so ‘n noodgeval. Sommer gou gou is ons weer in die pad en nou begin die harde werk weer om al die ouens wat by ons verby is terwyl ons kar reggemaak het, van voor af in te haal en stof te laat vreet.

Dan tref die onheil ons.

Die nuwe wiele wat ons agter opgesit het is kleiner as die wat ons die vorige dag mee gejaag het. Ons kom om ‘n draai, sien die wit bord met een uitroepteken, sien die sloot, besluit dis ‘n vulletjie en storm nader sonder om briek aan te draai.

Die kleiner wiele verander die manier waarop die veerstelsel werk en as ons deur die sloot bliksem wip die karretjie se agterkant die lug in. Soveel so, dat die karretjie op sy neus gaan staan. Vir ‘n ysige oomblik dink ek ons gaan gat oor kop rol, iets wat ek al van te vore gedoen het, en iets wat ek geen begeerte het om weer te doen nie. Die karretjie maak egter ‘n sierlike pirouette na regs en kom met ‘n moerse slag weer op sy wiele te lande. Strat probeer ry, maar die karretjie wil niks weet nie. Ek maak gordels los en klim uit. Die regter agterwiel se naaf het heeltemal uit die wielraam uitgebreek. En ons lê plat op ons pens in die suiker.

Ons kry dit reg om die agterwiel om te ruil en val weer in die pad. Maar ons pirouette, en die daaropvolgende landing, het iets in die Kawa enjin losgeskud en die enjin vrek elke keer as ons na regs draai. Ons stop weer en probeer noodhulp maar die probleem word net al erger…

Na ‘n paar kilo’s van sukkel kom ons by ‘n teerpad en ons besluit om tou op te gooi.

Terug in die kuipe probeer Dito en Strat die oorsaak van die probleem vind terwyl ek gaan stort, maar tevergeefs. Ek gryp maar weer die kospotte en na ‘n paar koue moute eet ons en hou nabetragting oor ons wedren.

Dalk nie klaargemaak nie en beslis niks gewen nie (To finish first, you first have to finish!) maar ons het baie van die kar geleer en begin lyste maak van goed wat ons wil verander… (Uit die 90 inskrywings het skaars 24 voertuie klaargemaak.)

17 Julie 2010 is ons in Sun City vir die volgende rondte van die kampioenskap… Kan nie wag nie!

 

 

 

7 antwoorde op Petrol pirouette

  1. UNPOCO het gesê op Mei 28, 2010

    Sterkte met die 17de Julie en geniet!

  2. adoonsie het gesê op Mei 28, 2010

    EK hou daarvan om jou goed te lees. Jy skryf lekker. Dankie.

    As julle eendag dalk hier in PE omgewing kom rondjaag , laat my weet – Dalk kan ek vir julle n klompie fotos neem.

  3. louisna het gesê op Mei 28, 2010

    Pragtig. Ek was eenkeer op ‘n groot bike. ‘n Pel het my vir ‘n spin gevat op sy Kawa 900. Ons was albei liggies af van skaam af. Toe hy 160km/h oor ‘n rooi robot in kerkstraat ry toe waarsku ek hom ‘n briekstreep op die seat is in aankoms.

  4. plankloper het gesê op Mei 28, 2010

    Ken van…

  5. plankloper het gesê op Mei 28, 2010

    Ons het altyd ‘n wedren daar gehad, maar vir een of ander rede het die ding weggeval.

  6. plankloper het gesê op Mei 28, 2010

    Tx!

  7. louisna het gesê op Mei 29, 2010

    Lekker

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.